Jan van Tonder

Is Sagie


Скачать книгу

>

      Is Sagie

      Johann de Lange

      Human & Rousseau

      Opnuut vir Christo en Marietjie

      Vir my pa en broer en susters ook.

      En vir my ma wat van die Klein-Karoo geleef het.

      Een

      “Lat ’n berg nou so mooi kan wees.” Sagie trek sy oë skrefies teen die son. Hy klouter teen die damwal uit en gaan sit wanneer hy bo kom. “Twee sonne,” sê hy. “En twee blou lugge.”

      Daar is ’n effense rimpeling in die spieëlbeeld op die water.

      Hy raak aan die lag. Hy dink aan die beeld wat die berg nou sien: twee Sagies – een regop en een onderstebo. “Lyk ek mooi vir jou?” skreeu hy berg se kant toe.

      Die berg en son spat uitmekaar toe hy ’n plat klip op die water laat wip. Elke sprong word korter totdat die klip feitlik stil hang en dan onder die bruin verdwyn.

      Dit is stil in die vallei. Dwarsrivier se trekkers staan op Sondae. Die boere is kerk toe. As hulle terugkom, gaan hulle eet en dan slaap en dan kuier. Maar niemand sal na húlle toe kom nie. Vandat sy ma dood is, kom hier geen mens meer nie. Selfs na die roudiens moes sy pa die toebroodjies en dinge wat vir die begrafnisgangers reggesit was, vir die plaaswerkers gee.

      Is seker maar oor Pa so beneuks is, het Sagie gedink.

      Hulle het haar sommer hier naby die huis ingespit, hier op die plek waarvoor sy so lief was – onder die Karoobossies se geur, met ’n plat klip uit die rantjies waarop sy pa self sy ma se naam en geboorte- en sterfdatum uitgebeitel het. Bybelteks en al.

      Die dam lê weer glad voor Sagie.

      Dwarsrivier is nie so groen soos gewoonlik dié tyd van die jaar nie. Teen die koppe is daar tekens van gronderosie. Die bossies staan verder uitmekaar as vroeër. Net ’n paar van hulle bokke kan nog in die rante loop, want die weiding raak skaars. Die rivier het ophou loop.

      Sagie haal die garetolletjie met die rek en fietsspeek onder die klip uit waar hy dit weggesteek het. Nou het hy lus vir paddas skiet, Sondag of nie Sondag nie. Solank sy pa net nie weet nie.

      Hy loop al langs die waterkant tot hy ’n platanna op die bodem sien lê. Sagie steek die fietsspeek deur die tol en trek die rek agtertoe. Hy mik en sien al hoe die padda spartel as die speek hom teen die modder vaspen. Sy een oog hou hy styf toegeknyp.

      “Jou pa trek jou velle af as hy jou nou sien.”

      Sagie skiet homself byna in die voet soos hy van die tol probeer ontslae raak. Die padda trek in ’n modderwolk die diepte in.

      “Jissis, Freek, hoe laat jy my nou skrik.”

      “En dan vloek jy ook nog so lelik op die heilige dag.” Freek staan hande in die sakke op die wal. Sagie weet dat hy deur sy hele lyf lekkerkry oor hy hom so laat skrik het.

      “Dis jy wat my leer vloek het – nou kom staan hou jy jou asvaal hier. En jy het my padda ook nog weggejaag. Hy was net so groot,” beduie Sagie terwyl Freek nader stap.

      “Gaan ons swem vanmiddag?” Freek steek sy voet in die water. “Voel net,” sê hy.

      “Jy weet ek mag nie swem op Sondag nie.”

      “Dis g’n sonde om te swem nie.”

      “Op Sondag is dit. Pa sê so.”

      “Maar jy kan vanaand mos net weer vergewenis vra.”

      “Mens kan dit nie doen nie, man.” Sagie kyk ernstig na Freek. “Dan doen jy erger sonde.”

      “Hoe’t jy dan gemaak die kere toe jy saam met my geswem het as dit Sondag is?”

      “Dan het ek gebid en ekskuus gevra.” Sagie dink ’n oomblik na. “Maar dit was anders. Dan het ek eers agterna besluit om te bid. Dan is dit nie sonde nie.”

      “En wat van die padda wat jy nou net wou geskiet het? Dis erger as swem.”

      “Los nou die sonde uit, Freek. Mens moet ver wegbly van die sonde af.”

      Sagie steek die speekkettie op sy plek weg. Hy gee nie om dat Freek weet van die wegsteekplek nie. “Kom help my, Freek, lat ons die koeie kraal toe kry. Kyk net daar hoe staan die goed se pense al gevreet.”

      Hulle hardloop na die lusernlandjie waar die beeste wei – Sagie voor.

      “Sagrys,” skreeu Freek, “jy beter hol, hè. Ek sweer sowaar daai gele gaan loop staan en opblaas. Jou pa het jou hoeka laas byna doodgeslaan toe hy moes steek. Jy weet hoe is hy oor die koeie; erg oor die kontantgeld vir die melk.” Sagie is al so ver voor dat hy nie weet of hy hom nog hoor nie.

      “Kom nou, Freek, lospraat gaan nie die koeie in die kraal kry nie! Hiert, hiert, Kerrieland!” Hy gooi ’n kluit na Caro-line. Hy het sy pa lankal gesê hulle moet die koei verkoop, want sy sit altyd eerste horing by as daar moeilikheid te maak is. Sy is die enigste koei wat gespan moet word by die melkery. “Hiert!”

      Die koeie ken die pad kraal toe. Hulle loop met swaaiende uiers in die stofpad op.

      “Freek, ek het ’n plan.”

      Freek loop en kyk na die ry wit werkershuise wat teen die rantjie staan.

      “Ek sê …”

      “Ek hoor jou.”

      “Maar jy soek so met die oë na Jakkelien, nè. Ek sê jou sommer nie wat my plan is nie.”

      “Jy gaan tog sê.”

      Sagie maak die hek agter die koeie toe. “Lettie is weer reg vir die bul, sy en Bontie was al klimmerig met mekaar vandag. Wat ek wou gesê het, is lat die damme te veel onder Pa se oog is. Maar as ons gaan botterboom ry, sal hy nie sien nie.”

      Freek gaan staan sodat Sagie na hom moet kyk. “Vertel nou vir my, Sagrys, vir wie is dit wat jy bang is oor die swem? Is dit nou vir die Here of vir jou pa?”

      “Ek het nog nooit van Bo af moeilikheid gekry oor swem nie. Dis elke keer Pa wat vir my neuk. Kom nou, man.”

      “Wat van ons klere, hè?” Freek onthou die dag toe Sagie se pa hulle albei gelooi het toe hulle met die gevlekte klere by die huis aangekom het. En dan nog al die kere wat sy eie ma hom oor dieselfde ding gegryp het. “Ek gaat g’n vandag weer botterboom ry nie.”

      Sagie glimlag. “Ons ry, maar ons gaan nie slae kry nie.”

      “Nou hoe dan?”

      “Kaalgat. Sommer so bloots. Ek het laas week probeer – jy moet net bo bly anders is dit nerfaf. Kyk.” Sagie buk en trek sy broek af sodat die een boud wys. Die helfte van die rowe het al afgeval.

      “Ek weet nie so lekker nie. Wat as ’n pendoring jou lat vang? Dan’s dit koebaai. Nee, ek ry nie kaal nie en ek ry nie met klere aan nie.” Freek gaan staan sommer en voel nie eens hoe warm die klip onder sy kaal voete word nie. “Pendoring in die lat,” brom hy, en trap-trap na ’n bossie se skadu toe.

      “Nee, man, ek was ook bang, maar jy houvas die boom so – kyk, met dié hand, en jy keer met daardie hand. So. En as jy afval, dan los jy net die boom, maar met die ander hand hou jy tot jy stil lê.”

      Freek loop agter Sagie aan, maar weet nog nie of hy sal ry nie. Dis lank laas dat hulle dit gedoen het. Hy het lus daarvoor, maar bly wonder of dit ’n goeie plan is.

      Sagie begin lag. Hy staan later krom en wys met die vinger na Freek. “Ek sien jou al,” kry hy gesê.

      “Wassit nou met jou?” Freek hou niks van die laggery nie.

      “Ek sien jou klaar so, met ’n spierwitte pendoring deur daai lat!” Sagie gaan sit tot hy bedaar.

      “Wil jy nou botterbome toe of nie? Vandag ry ek jou bo van die boom af. En ek wens jy los met die verkeerde hand en land in ’n aalwyn.” Dit lyk byna of Freek nou kans sien vir die ding.

      Hulle stap verder. Sagie loop haastig in ’n klofie op.

      “En wat van ons taai lywe as ons klaar is?”