wat van Sondag?”
“Dan is dit nie swem nie, man; dan is dit mos bad.” Sagie skud sy kop. “Kom ons gaan ry nou.”
“Ek het nie lus nie. Dis net weer moeilikheid loop soek – jy weet hoe min jy hoef te soek om dit te kry.”
Sagie vervies hom. “Jy is seker nou te groot vir botter-boom ry, noulat jy met Jakkelien deurmekaar is. En jy is ’n kuiken teen my. Tot wanner nog het ons saam gery, en nou is dit nie meer goed genoeg nie.”
Die twee is al tussen die koppe, buite sig van die pad en die huis. Hulle kan die klok van die voorbok êrens ver voor hulle hoor.
“Hulle gat eendag almal myne wees,” sê Sagie.
“Wie is hulle, dié wat jy nou van praat?”
“Die bokke, man. Hoor net daai klok. Eendag gaan ek vir my ’n stoetram koop. Met watse geld weet ek nog nie, maar ek gaan vir hom koop. ’n Goeie ram weet net waar om te loop lat die jakkalse nie die trop bykom nie. Is in sy bloed, sê Pa, om te weet.” Hy steek sy hande in sy sakke. “Ek sê, hulle gat myne wees eendag. Almal van hulle.”
“Ek het jou gehoor.” Freek haal ’n sigaret uit en steek dit aan. Hy trek die rook diep in en blaas dit oor Sagie uit.
“Vanlat jy die Jakkelien het.”
“Wat?”
“Lat jy rook. En dan nogal sigarette ook. Die goeters is sleg vir ’n mens; nie soos kalbaspyp wat mens omtrent niks maak nie. Hulle stink ook. Nee, is nes Pa sê, dis net vir rondkyk om jou om te sien hoe die dinge by vroumense begin. Netnou suip jy ook nog naweke soos Jan Julies en dies. Wag net lat Pa jou sien.”
“As jy jou pa sê ek rook, dan werk ek jou soos laas.”
“Watse laas? Wie’t laas vir wie gewerk?” Sagie bespring Freek en stamp hom teen die grond neer. Hy gaan sit bo-op hom. “Toe, sê.”
“As jy nie afklim nie, dan kan jy alleen botterbome toe.”
Sagie klim af. Hy help Freek op en skud die stof uit sy klere uit.
Freek tel sy sigaret van ’n hopie bokmis af op. “Dis nou so goed ek rook hom deur jou voorbok se hol,” sê hy. “Waar gaan ons soek vir ordentlike bome?”
“Klaar gesoek en reggesit.” Sagie wink Freek agter hom aan. “Vier van hulle.” Hy wys met sy arms: “So dik soos melkkanne.”
Freek is nie beïndruk nie. “Dis maar twee kere se ry vir ons elkeen.”
“Is amper tyd vir Pa om van die kerk af terug te kom, man.”
“O.”
Hulle haal die botterbome onder die taaibos uit waar Sagie hulle weggesteek het, en dra hulle na die skuins klipbanke toe. Die regte takke is klaar afgemaak sodat net twee oorbly vir die vashou. Sagie kap die eerste stam met ’n skerp klip sodat die bas breek en die slymerige sap begin uitloop – reg vir gly teen die helling af.
Hy trek sy klere uit en gaan wydsbeen op die botterboom sit.
“Ons moet eintlik ’n stopklok gehad het soos hulle by die skoolsports altyd het, hè. Gee my ’n stootjie; nie hard nie, want hoe briek ek dan doer onder?”
Hy trek met ’n vaart ondertoe, vinniger as wat ’n mens kan hardloop. Die botterboom word dunner en dunner onder hom sodat hy, voor hy onder is, moet opspring om nie weer sy boude stukkend te skuur nie. Hy hardloop die laaste ent af en kom voor ’n katdoring tot stilstand.
“Lyk my jy weet nie meer van ry nie,” laat hoor Freek van bo af.
Sagie antwoord nie. Nie baie ver van hom af nie kom ’n dogtertjie uit ’n klofie aangeloop. Sy struikel en val. Hy vergeet dat hy kaal is en bly staan, want hy kan haar nou hoor huil. Sy kom tot amper teen hom voordat sy hom raaksien. Verskrik staar sy na Sagie se kaal lyf. Sy begin gil en hardloop in die doringbos vas.
“Freek!” roep Sagie, maar Freek is al by. Hy het sy sussie se stem herken. “Dis Sofiatjie,” sê Sagie. Hy weet nie wat anders om te sê nie.
Terwyl Freek die dorings uit haar loshaak, huil Sofiatjie. Sy skreeu nie meer nie.
“Wat is dit, Freek? Kyk net hoe lyk die meisiekind van die krapmerke. En daar’s dan bloed daar …” wys hy huiwerig.
“Loop trek jou klere aan, Sagrys.” Freek se stem klink skie-lik anders.
“Wat is dit? Wat het met Sofiatjie gebeur lat sy so lyk?” Sagie gaan agter ’n bos staan waar die kind nie sy lyf kan sien nie.
“Gaan huis toe. Ek vat Sofiatjie na Ma toe.” Freek tel haar op en loop weg van Sagie af.
Sagie praat nie teë nie; hy het Freek se stem nog nooit soos nou gehoor nie. Hy is so nuuskierig oor wat aangaan dat hy nie eens spyt is oor die ryery wat daarnatoe is nie. Hy klim na waar sy klere lê. Die drie ongebruikte botterbome druk hy onder die naaste bos in – hy sal hulle anderdag kom ry.
Hy hardloop huis toe, maar voor hy daar kom, hoor hy die vroue by die werkershuise gil.
Die laaste keer dat hulle so gegil het, was toe sy ma dood is; toe Mieta vroegoggend met die tyding teen die rant aan-gekom het.
Mieta het daardie hele nag by sy ma se bed gesit en haar hand vasgehou; net ’n paar keer opgestaan om vir sy pa te gaan koffie maak. Dié was by die venster op ’n stoel, sonder ’n woord. Teen dagbreek het Mieta na Sagie se kamer toe gekom en die kers langs sy bed opgesteek.
“Jou mamma is dood, Sagrys.”
Hy het ’n ruk in die kerslig voor hom uit gekyk, en toe na Mieta.
“Issie,” het hy gesê. “Issie.”
Van Sagie af is Mieta na haar mense toe om te vertel.
Sagie het lank op sy bed bly sit. Hy het opgestaan toe hy vrouestemme hoor en na sy ma-hulle se kamer toe geloop. Daar het hy sy pa op sy knieë voor die induikdubbelbed sien staan.
Sy pa het gehuil.
Toe hy by die agterdeur uit is om van die huis af weg te kom, was Freek daar. Hulle het saam die kop agter die huis uitgeklim sonder om te praat. Hulle het die son saam sien opkom.
Sagie was dertien en Freek sewe. Byna vyftien jaar gelede.
Hy het toe al geweet van die dood. Van kleins af het hy bygestaan as Jan Julies slag; hy het gesien hoe die honde meerkatte doodbyt; hy het geweet diere wat dood is, kom nie weer terug nie – waar hulle ook al heen is. Mense gaan hemel toe, dié wat gaan, en niemand kom terug nie.
Hy en Freek is later terug ondertoe en het gehelp om die pikke en grawe te dra sodat die gat gegrawe kon word.
En nou gil die vroue weer teen die rant. Sagie weet hy moet huis toe, maar hy besluit om eers by die werkers langs te gaan. Hy draai uit die voetpad weg en kies kortpad deur die veld. In sy haas spring hy oor die bossies. ’n Doringdraad wat aan ’n bos klou, sien hy te laat en die punt krap ’n bloedstreep oor sy kuit.
Daar moet groot fout wees, dink hy, want al die mense drom saam by Jan Julies se huis. Uitasem kom hy daar aan. Jannetjie lê op sy maag, arms langs sy sye, kop skeef. Daar loop bloed by sy neus uit. September en Hubert hou Freek eenkant vas.
Jan Julies staan voor Freek. Hy spoeg in sy gesig. Sagie knyp sy oë toe toe Freek ’n vuishou op die mond kry. Jan Julies gaan kniel by Jannetjie en draai hom op sy rug. “Jannetjie.” Hy klap hom liggies teen die wang. “Hoor jy vir Pa? Here, Jannetjie, hoor tog nou.” Hy laat die seun se kop sak. Terwyl hy by sy deur in loop, sê hy: “Loop haal jou pa, Sagrys.”
Sagie kyk na Freek. September-hulle het hom gelos.
“Pa is nog op die dorp.”
Jan Julies draai terug. “Bel dan die polisie laat hulle daardie ding kan kom haal. Kyk net hoe lê my Jannetjie; kyk net so. Ons wil nie moordenaars hier onder ons hê nie.”
Sagie huiwer. Hy wil nie hê die polisie