nie, so sê sy altyd. Dit was teen die middag, as die ander kinders huis toe kom, dat hy die pad begin dophou het, asof hy verwag het dat Freek oor die nek aangestap sou kom.
Die werk was nogtans nie vir hom soos vroeër nie. Hy het platvoet met die ploegstert in die hande agter die perd tussen die rye fransdruifstokke deur geloop; moeër as gewoonlik geword van bankies gooi vir die natlei.
Mieta het hom vertel, nadat hy lank by haar aangehou het, wat die dag gebeur het toe die polisie Freek kom haal het. Sy het gesê dit was byna soos met Willou die keer toe hy, groot soos hy is, met die kuiermense van oom Gert wat dood is se foksterriërtjie gelol het, toe hy die tefie tjank-tjank agter hom aan huis toe gesleep gebring het. So was dit, het sy gesê. Dis oor Jannetjie vir Sofiatjie so seergemaak het dat Freek hom geslaan het.
Sagie stamp sy kaal voet op die grond. “Hier kom hy, Jakkelien. Sien jy? Is Pa se bakkie wat so stof gooi. Is net Pa wat so woes ry as hy op pad is terug plaas toe. Hoekom lyk jy nie eers bly nie?”
Jakkelien staan gespanne na die pad en kyk. Sy weet nie of die polisieselle iets aan Freek verander het nie. Vir die ander, het sy al gesien, dié wat gereeld vir drink gevang word, maak die toesluit niks, maar Freek was nog nooit daar nie. Sy antwoord Sagie nie.
Maar sy opgewondenheid bly: “Vandag skud ek sy hand skoon af van sy arm af, sê ek jou.”
Die bakkie hou by die hek stil. Freek klim uit. “Dankie, meneer.” Barend ry na die afdak toe.
“Freek!” Sagie gaan na hom toe, maar Freek hou by hom verby en gryp Jakkelien vas. Sagie laat sy hand sak.
Toe Freek hom ’n entjie van die huis af inhaal, sê hy: “Loop liewer terug na Jakkelien toe,” en stap nukkerig verder.
Sagie gee vir ant’ Jopie Jansen ’n kissie De Wets, die eerste van die jaar se vroeëperskes.
“Pa stuur hulle, antie, hy sê is vir die leen van antie se masjien vir die worsmaak. Ons het die bome goed met die kalkswael en koper vir krulblaar gedokter en ordentlik uit-gepluk, en Pa het die manne vanjaar goed laat spuit met die Lebacid solat die vrugtevlieg elders moet gaan vreet het.” Hy verduidelik maar vir die vrou, want hulle het nie lank gelede nie van die stad af die winkeltjie kom koop, en dorpsmense is mos maar anders. “Antie sal nie lekkerder perskes kry nie, antie kan maar op die dorp loop vra, en tot op Riversdal. Ons smous tot daar ook. Antie kan maar vra.” Hy sit sy hoed weer op. “Hierdies is antie sinne.”
Sy luister glimlaggend na hom. Aan sy gesels is sy al gewoond. “Dankie, Sagrys. Laat ek sommer dadelik een proe. Ek moet seker eers afspoel, nè?”
Hy wonder hoe die vrou so min van vrugte af kan weet. “Nee, antie, die Lebacid is al uitgewerk. Is nie meer die ou soort gifte wat net bo-op vassit nie – Pa sê deesdae gaan hulle binne-in die vrugte in en bly daar tot hulle nie meer gif is nie. Eet hom maar, antie.” Hy hou daarvan om dinge gevra te word. Van die trots kry hy hoendervel dat sy armhare regop staan. Sy mond gaan saam met die vrou s’n oop toe sy begin eet.
“Mmm,” sê sy. “Ek kom uit ’n perskewêreld, Sagie, maar tot heden toe het ek nog nooit so lekker geproe nie. ’n Mens sal wens dis aldag dié tyd van die jaar.”
Hy giggel. “Ant’ Jopie moet nog onse Malherbes en Oom Sarels eet. Die voorvye ook, wat my ma so van gehou het.”
“As dit soos dié is, kan jy maar bring, ou seun. Sê vir jou pa baie dankie, hoor.”
“Goed, ant’ Jopie.” Maar hy loop nie.
Sy draai een van die lekkergoedhouers oop en gee hom ’n handvol pennielekkers.
“Dankie, antie. Dan sê ek maar koebaai.”
Dit is kort na uitvaltyd en hy kry sy pa op die stoep waar hy koffie drink.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.