Fanie Viljoen

Onderwêreld


Скачать книгу

jou, Greg,” sê Nicole, op daardie sagte, soel manier waarop sy soms kan praat. Ek trek my bene op na my bolyf en draai op my sy. “Gisteraand – ek het van jou gedroom.”

      “O, ja? Wat?”

      “Nuuskierig!”

      “Komaan, was dit iets naughty?” terg ek. Hoop ek eintlik.

      “Mmm,” fluister sy.

      “Ek het dit geweet! Vertel, toe.”

      Nicole lag. “Ek het gedroom my pa-hulle hou hierdie party by die huis. Jou pa-hulle was ook daar. Groot storie. Party planners, caterers, die works. Ek en jy tease mekaar die hele aand. Jy vat aan my as jy dink niemand kyk nie. En toe dit te veel word, glip ek en jy weg. Swembad toe. Alleen. Ligte af.”

      Ek maak my oë toe, probeer my die scene indink. “Ja?”

      “Ons trek uit. Ek vir jou. Jy vir my. Duik in die water in. Jy soen my. Oopmond. Jy druk jou onderlyf teenaan myne …”

      Ek kreun.

      “Toe sit iemand die swembadligte aan. En die hele spul mense wat my ma-hulle genooi het, staan op die rand van die swembad en kyk vir ons!”

      “Oh, come on!” roep ek en begrawe my kop in die kussing. “Is jy ernstig?”

      “My pa was bleek geskrik. En my ma – dit was so snaaks – my ma sê: ‘Nicole, moet Mamma vir jou ’n kondoom bring, my kind?’ ”

      Ek lag. Dis tipies Nicole se ma. “Is sy nog so bekommerd dat jy haar ouma gaan maak?”

      “Jy weet mos! Ek sweer sy voer my al van graadsewe af voorbehoedpille. Seker die huishulp aangesê om dit fyn te maak en in my skool-lunch te verdoesel. Vandat ek op hoërskool is, is sy nie skaam om my die pille te gee nie.”

      “Vir jou vel, Nicksie,” terg ek.

      “Sê sy!”

      Ons lag lekker. Dan val daar ’n stilte. Iewers in die agtergrond hoor ek ’n deur. Haar ma roep na haar. “Ek ko-o-om!” antwoord Nicole haar. Toe terug op die sel. Sag. Bekommerd. “Greg, as … as iets gebeur en … jy weet … sal jy?”

      Ongemak. Ek weet wat sy wil vra. Binne-in my broei daar ook ’n vraag. Ek probeer dit wegdink, maar Jeffreysbaai maak dit moeilik om te vergeet.

      Hoe sal ek weet dat dit mý kind is?

      Sy is daar in Johannesburg en ek hier in ’n godverlate skool in die Drakensberge. Na Jeffreysbaai se dinge … hoe weet ek wat sy in Jozi aanvang? Wat vertel sy my nie? Ek is mos nie stupid nie. Ek weet hoe dinge werk: Een ou, een meisie, honderde kilometers tussenin, en maande wat jy mekaar nie sien nie. MXit, SMS’e, emails en selfoonoproepe maak nie op daarvoor nie.

      “Greg?” vra Nicole ná ’n ruk. Sy wag nog vir ’n antwoord, weet ek.

      “ ’Tuurlik, Nicole, jy weet mos ek sal jou nie drop nie,” sê ek, maar daardie effense huiwering in my stem laat my wonder hoe oortuigend ek klink. “Maar ons hoef mos nie te worry nie. Ons gebruik mos goed.”

      “Ja, seker.”

      “Is daar … iets?”

      “Nee! Greg, is jy nou simpel?”

      “O, ek het net gewonder.” Verligting! “Vrek, jy het my nou amper laat worry daar, girl.”

      “Ons sien mekaar ook so min. Anyway, dis net plante wat sulke dinge met windbestuiwing regkry!” Sy lag senuweeagtig. Skielik is daar weer ’n stilte tussen ons. Ek frommel die laken in my vuis.

      “Love you, Greg. Altyd,” sê Nicole ná ’n ruk. Sag. Afgetrokke.

      “Selfde,” sê ek. ’n Woord sonder veel betekenis, maar een waarmee jy stiltes kan volmaak. Iets om te sê as daar niks meer is om terug te sê nie. Polyfilla.

      Buite is dit al lig. Ek vat die selfoon weg van my oor om te sien hoe laat dit is. “Magtig!” roep ek. “Dis dan al kwart oor sewe! Nicole, ek moet nou gaan. Sorry, ons praat weer. Baai!”

      Ek spring uit die bed dat die beddegoed doer trek, gryp my badkamersakkie en handdoek. Toe ruk ek die koshuiskamer se deur oop. In die gang loop ek my byna kis teen iemand. Thomas-Jean. TJ in kort.

      “Jy’s bietjie laat, bru,” sê hy.

      “Ek weet. Dis Eckardt, die goorgat – hy’t my nie kom wakker maak nie. Kan nie nou praat nie. Sien jou later, TJ!”

      Almal wat ek in die gang teëkom, is al aangetrek: swart broeke, baadjies. Wit hemde, geel dasse. Die skoolwapen met die fakkel op die baadjies se sakke. Bo die wapen is die skool se naam: Lawson Kollege, en onder die wapen die skool se leuse: Lux hominum vita.

      Ek stamp my pad oop deur die bondelende klomp seuns wat op pad is na die eetsaal.

      “Hei, buddy, lekker verslaap,” roep een.

      “Is jy nie aan diens by die graadagts nie?” vra een van die VRL’s.

      Dit ook nog. Ek het vergeet. Ek hoop maar net hulle het nie die plek vanoggend afgebreek nie. En dat almal uit die bed is.

      Nog ’n paar ouens terg, ander wil groet, gesels, vra oor rugby of iets. Maar ek mompel net onhoorbare verskonings. Die verdomde Eckardt, vloek ek weer sag. Ná ’n vinnige stort, skeer en tandeborsel, gaan trek ek aan. Toe sit ek af met die koshuisgang, systap ’n skoonmaker wat my verbaas agternakyk. Eckardt se kamer is net ’n kort entjie van myne af. Ek klop vinnig, pluk die deur oop voor hy kan antwoord. Ruk tot stilstand. Die bed is opgemaak, maar dit lyk of iemand daarop gesit het. Venster oop. Een van die gordyne het opgewaai en hang nou oor die lessenaar waarop Eckardt se laptop staan.

      Waar de hel is hy dan? Eetsaal toe? Die maklikste is om te bel en uit te vind. Ek ruk my selfoon uit my baadjiesak, glip deur die nommers. Eckardt. Bel.

      Oomblikke later klink die bekende ringtone op in die kamer self. Dis ’n ou tune van die Stereo MC’s. Connected. My lyf word skielik koud. Die geluid is dof, asof dit binne-in iets toegemaak is. Die geluid kom van êrens langs my. Dit kom uit Eckardt se kas. Stadig stap ek nader, die handvatsel is koud onder my vingers toe ek die kasdeur oopswaai.

      Daar, op die netjies opgevoude klere, lê Eckardt se selfoon. Op die skerm flits die naam: G-4ce.

      <h2>Log File: Die dag voor die laaste skooljaar begin</h2>

      Die Sterkfonteindam raak agter ons weg. Ons steek die grens oor van die Vrystaat na KwaZulu-Natal, af-af met die Oliviershoekpas, verby Little Switzerland. Daar is ’n legende wat sê dat ’n Boere-pa en sy seun ’n draak hier gesien het; hoog teen die pieke van die berg tussen die wolke. Dis waar die naam vandaan kom. Drakensberg. Maar dit word ook uKhahlamba genoem, want nog ’n legende sê dít is die donderende geluid wat Zulu-krygsmanne se spiese maak as hulle dit op hul koeivelskilde slaan en die eggo’s van die berghange terugkeer.

      Terug op Heilige Grond, dink ek daardie dag toe ek en my ma by Lawson Kollege se skoolhekke inry. Dit is maande voor die dag dat ek Eckardt se selfoon in sy kas kry. Dit is die dag, vroeg in Januarie, toe ek vir Eckardt die eerste keer ontmoet het.

      My laaste skooljaar het aangebreek. Jy dink dit kom nooit nie. Maar dan, op ’n dag, is dit daar en jy besef dit was eintlik bitter gou.

      “Wat is jou planne vir die pylvak?” kom my pa se vraag van die vorige aand weer by my op terwyl ek daar in die 4 x 4 langs my ma sit. Pa se streng oë het my vasgepen.

      “Pylvak?”

      “Donder, tog, Greg, jy is in die beste skool in die land en jy weet nie wat ‘pylvak’ is nie?”

      “Ek weet, dis net …” Ek het my rug reguit getrek. My eintlik vererg.

      “Jy het nie planne vir die jaar nie.”

      “Sal dieselfde wees as verlede jaar. Pa weet tog.”

      “Dis nie goed genoeg nie,” het hy die woorde deur sy lippe geforseer.