Fanie Viljoen

Onderwêreld


Скачать книгу

netwerk van waterafvoerpype wat onder die kollege deurloop. Die stank wat daar binne broei, is soos die asem van die duiwel.

      Dit werk so:

      “Opstaan! Opstaan, Trappers!” dreun ons stemme deur die koshuisgange. Al wat ’n deur is, word oopgestamp en die slapende graadaggies word uit hul beddens getrek. “Trek aan. Skoolklere, Trappers! Geen skoene.” Dan boender ons hulle uit by die deur. Oor die binneplein wat die groep koshuise vorm.

      “Sing vir ons, Trappers!” skree iemand. “Wys ons julle is nie bang nie!” Dit jaag hulle net verder op hol, hulle bewende lywe teenmekaar.

      “Wat … wat moet ons sing?” vra een van die Trappers.

      “Sing die skoollied!” skree ’n matriekseun.

      Dit werk altyd. Op jou eerste dag ken jy nog nie die skoollied nie. Hulle stemme is net ’n deurmekaar dwaal van woorde wat op ’n collision course is met ’n deuntjie wat hulle vaagweg onthou van vanoggend se skoolbyeenkoms.

      “O, julle ken nie eens julle eie skoollied nie!” roep ’n matriekstem.

      “And then you have the nerve to go to bed and sleep!” roep nog een.

      “Ek sê die Trappers moet ’n les geleer word.”

      Deur die warm nag, oor die donkergroen gras wat net plek-plek verlig word, vat ons hulle. Die Trappers probeer weer sing. Party Engels, ander Afrikaans.

      “Try again!”

      “Julle moet saamwerk, Trappers!”

      Dit misluk soos die vorige keer.

      Ons kom by die bos aan die westekant van die skool. Hier staan die geelhout- en witstinkhoutbome dig teenmekaar. Maar voor die lyn bome begin, is daar ’n groot sementblok in die grond, ’n mangat waar al die ondergrondse tonnels bymekaarkom.

      “Waar’s die blinddoeke?” vra ek.

      Iemand stop hulle in my hande. Ek deel hulle uit aan die ander matriekseuns. Elkeen kry ’n Trapper. Ons bind die blinddoeke om hulle koppe vas, begin hulle in die rondte tol. Die hele tyd kan jy die spanning in hulle lywe voel. Die geluide uit hul kele is na aan trane.

      Ek kyk na Kwanele, die onderhoofseun, en ek knik.

      Hy maak die mangat oop …

      “Julle wil deel wees van hierdie skool, nè, Trappers?” skree ek.

      Hulle antwoord flouerig.

      “Ek sê: julle wil blerriewil deel wees van hierdie skool, is dit nie?”

      “Ja …”

      “Ja, wie?”

      “Ja, meneer!”

      “Dit klink nie vir my so nie, Trappers!” skree ek terwyl ek om hulle loop. Opge-psych. “Maar julle kan my verkeerd bewys. Kyk of jy jou pad kan terugkry skool toe, deur die doolhof van pype. Ons sal een van die manholes aan die ander kant oophou. Net een. As jy daar kan uitkom, sal jy ’n Lawson-boy wees. As jy dit nie maak nie, kan jy bly waar jy is. Waar jy hoort!”

      TJ tel die Trappers soos hulle ingaan. Agt en veertig. Hulle stemme eggo deur die donker tonnels, voordat die mangat se ysterdeksel agter hulle toeslaan.’n Effense bangheid gril oor my hart, vir daardie outjies se onthalwe, want ek weet hoe ek gevoel het toe ek ’n Trapper was. Die benoude gevoel van die ander beurende lywe om jou, ingeperk deur die sementpyp. Jou onseker treë. Die vrot reuk onder jou voete. Jy is so vasgevang daardeur dat jy eers later besef dat jy nog jou blinddoek op het. Maar selfs al haal jy dit af, is die duisternis oorweldigend.

      “Geluk, ouens!” roep die matrieks na mekaar.

      “It went well, didn’t it? They’re scared shitless.”

      “Ek is bly dis nie ek nie.”

      Ek klop ’n paar ouens op die skouer. Dit is iets dié waarna jy uitsien van die eerste oomblik dat jy aan die ander kant uit die Tonnel kom: die oorgee van die ritueel.

      En toe, tussen al die glimlaggende gesigte, val my oë op Eckardt. Ek stap na hom toe. Met ’n stem wat bo die ander ouens se opgewonde pratery uitstyg, sê ek: “Maar hier is mos nog ’n Trapper!”

      Skielik word dit stil. Almal kyk nou na Eckardt.

      “Hoe lyk dit, Eckardt, kan jý die skoollied sing?” vra ek, smalend.

      “Ek sing nie,” sê hy.

      “O, maar dan het ek net die ding om jou tune te verander.”

      Die stilte om ons is oorweldigend. Ek weet alle oë is nou op my.

      “Gee vir my nog ’n blinddoek.” Ek voel die sagte lap in my hande. Span dit tussen gebalde vuiste. Stap om Eckardt. Stadig. Net toe ek die doek oor sy oë wil bind, draai hy sy lyf en stamp my hande weg.

      “Hou hom vas!” skree ek.

      ’n See van hande gryp na Eckardt, anker hom op sy knieë daar voor my. Ek grynslag. Geniet elke oomblik. Trek die knoop styf agter sy kop. Ek hoor sy vinnige asemhaling, sien hoe die spiere in sy nek span. Toe begin ons hom draai. Hy val ’n keer, toe nog ’n keer. Maar hy sê niks nie. Om en om. Hande wat vat, los, vat, los.

      Ek hoor die mangat se deksel oopgaan.

      Eckardt probeer ’n laaste keer loskom. Hy struikel. In die val, skuif die blinddoek van sy gesig af. Een van die ouens se flitslig val oor Eckardt se oë. Die oë wat nou skuins opkyk na my toe, oor sy skouer.

      En skielik voel ek asof al die bloed uit my lyf verdamp en my koud laat.

      Daardie manier van sy gesig draai, die uitdrukking in sy oë.

      Alles presies net soos my broer s’n.

      Net soos John.

      “Stop!” skree ek. “Los hom!” Ek gryp die ouens wat vir Eckardt in die mangat laat sak aan die skouers.

      “What’s wrong?” vra Kwanele. “Are you mad?”

      “Nee! Los hom net.” Ek steek my hand uit na Eckardt. Voel die greep van sy vingers om my polse. Toe trek ek hom self uit die donker gat.

      Ek sien die fronse op die ander ouens se gesigte. Maar ek gee nie om nie. Ek moes dit doen.

      <h5>Die soektog en gerugte van selfmoord</h5>

      Dis Vrydagoggend, die dag ná Eckardt se verdwyning. Die televisie blêr in die Hang-Out. Dis iets van voëlgriep wat twee lewens geëis het in Engeland. Hoe voëlgriep sy oorsprong het in Hongkong en die afgelope maande stadig na die Weste toe oorgewaai het: die Midde-Ooste, Italië, Frankryk, Engeland. Selfs in Noord-Afrika is gevalle teëgekom.

      Skielik word die televisie se klank uitgedoof deur stemme in die koshuisgang. Onderwysers se stemme. Van die matrieks bondel saam in die gang voor my deur.

      “Wat’s dit nou?” vra ek vir die naaste ou.

      “Eckardt is nog nie terug nie,” sê hy.

      “Andersen is in sy kamer saam met ’n paar ander onnies.”

      “Sorry, ouens,” sê ek en beur tussen hulle deur om nader aan Eckardt se kamer te kom. Op daardie oomblik kom die koshuisvader, oom Ian, en ’n paar onderwysers uit. Hulle trek die kamerdeur agter hulle toe.

      “Manne,” sê Boggom, die wiskunde-onderwyser. “Kom gou na die ontspanningskamer toe. Ons moet praat.”

      Ons bondel soos ’n spul Karoo-skape agter hom aan. Fluistervrae vlieg onder die ouens rond. Daar is ’n gevoel van opwinding in die lug. Iets het gebeur, naby genoeg aan ons om die dag te verander.

      Maar vir my het die opwinding ’n donker kant. Vrees.

      Iemand skakel die TV in die Hang-Out af. Boggom moet ons eers weer stilmaak voordat Andersen kan praat. “Ons moet die skoolterrein begin fynkam,” sê Andersen saaklik. Hy trek aan sy pak se mou, stoot sy skouers terug.