Jaco Fouché

Aanspreeklikheid


Скачать книгу

ection>

      

      ’n Roman

      Jaco Fouché

      Human & Rousseau

DEEL I

      1

      Ek skat ek is aanspreeklik. Dis ’n lastige vermoede, die soort wat ’n mens voortydig met verwagtinge van verpligting opsaal, en tog ook die soort gedagte wat nie vreemd behoort te wees vir ’n vyftigjarige man nie. Met die jare stapel die slegte gevoelens immers op, saam met die slegte herinneringe.

      Eers het ek nie so gedink nie. Ek was maar net ’n getuie van die lewe, ’n gemaklike omstander, spesifiek in hierdie geval bloot iemand in die omgewing van die tipe gebeurtenis waarmee die wêreld redelik bekend is, niks meer nie. Maar nou word ek meer en meer onseker oor my rol. Om tot bedaring te kom lees ek Spreuke. En sien uit na koeler dae en dan die winter.

      Die vrou bly hier in die woonstelblok, die oorlewende. Soms wan­neer ek met die motor in die parkeerterrein inry, sien ek haar en dan lig ek my hand en klim uit om die motorhuisdeur oop te maak. Sy groet terug en loop na haar woonstel wat skuins onder myne geleë is. Ek verbeel my sy is langer as wat sy was; sy is reeds amper ’n kop langer as ek. Haar hare is ligter: die raafswart is getint met vele grys drade, wat goed lyk teen haar donker gesig. Haar gelaatstrekke bly vir my wit, onkundige oog adellik lyk. Ek het nog min vir haar gesê, net “Môre” of “Middag”. Oor die voorval het ons beslis nie gepraat nie, hoewel ek my verbeel sy kyk nadenkend na my, net ’n oomblik, asof sy eendag die onderwerp gaan aanroer, gaan probeer uitvind wat ek opgemerk het, wat ek gehoor het, wat ek dink van die dood van haar man. Ás dit haar man was. Soveel omtrent die saak is onduidelik vir my, wat swak is vir ’n skrywer, maar ek het nie die moed om ondersoek in te stel nie en tot dusver ook nie die drang om betrokke te raak nie.

      Ek hoor haar wel met ander mense praat. Vir die opsigter het sy ver­tel: “Ek is nou hard-core.” Dit moet oor die koeël wees wat haar getref het, in die skouer, onder die sleutelbeen, of so het ek gehoor. Op die dag self kon ek hulle natuurlik nie sien nie, net hoor rusie maak in die woonstel ter­wyl die tuindeur oopstaan. “Vat jou goed en gaan weg,” het sy driftig gesê. Daarna was dit stil. Toe die slag, verstommend hard. Ek kon nie dink wat maak so nie, maar toe klaar sy die misterie op: “Jy het my geskiet!”

      My oordeel het my geheel en al verlaat. Ek het geweet ek moet iets doen, toe kyk ek maar hoe laat dit is. Kwart voor drie. Ek het geweet ek moet iemand bel en nie geweet wie nie. Die telefoongids was in my hande en ek kon nie onthou wie se nommer ek wou naslaan nie. Paniek het my lamgelê. Gou egter het ek ander stemme gehoor, in die vierkant voor die woonstel. Harde, gesaghebbende stemme. Iemand met gesag het dus opgedaag en my van iets verlos, indien nie die verpligting nie, dan die verwarring.

      Ek het by die balkondeur uitgekyk na die woonstel se tuin. Daar het die man gestaan, hangskouer, van berou miskien, ’n groot pistool in een hand, sy ander hand oor sy gesig. Hy het om hom rondgekyk. Ek het teruggekoes, bedag daarop dat hy in my rigting kon skiet. Toe hoor ek weer ’n slag en die man het uitgeroep en toe ek weer uitkyk, het hy reeds geval en daar was ’n bloedsmeersel soos ’n teken van die tyd teen die tuinmuur en hy het op die gras gelê en dit was sewe minute nadat ek die eerste skoot gehoor het. Hy sou ure daar lê terwyl mense in uniform deur die blok en die woonstel en die tuin beweeg. Teen donker is hy na ’n bakkie met ’n silwer kap gedra.

      Veral die man was gereeld in daardie tuin. Hy het met hout gewerk en die geduldige gesaag of ritmiese gekap sou opstyg na my woonstel. Hy was verby die fleur van sy lewe en het vir my tevrede met homself voorgekom. Weg was besorgdheid oor hoe hy lyk, want sy gryserige hare was altyd te lank en dikwels het sy gesig in die sonlig soos ’n sterrestelsel gegloei van die baardstoppels. Sy klere was oud, sy hemp soms nie heeltemal toe­geknoop nie. Hy was iemand wat in die woonstelblok tuisgehoort het. Sy opinies was nooit sterk nie en hy het sy kop geskud oor hoe ’n mens deesdae ’n vyfrandstuk moet knyp tot sy oë traan.

      Hy het iets van motorwerktuigkunde geweet, want eendag het hy ’n probleem met my motor geëien as ’n fout met die aansitter, en hy was reg. Hy wou nie die geldnoot aanvaar wat ek hom vir sy raad aangebied het nie, maar ons het daarna meer gedoen as net groet in die verbyloop; ons het gaan staan en vinnig iets gesê oor die tuin of remmerke op die plaveisel of daardie stoute kind in nommer 29 wat oumense koggel.

      Daar was ’n bedaardheid aan hom wanneer ek hom met die vrou hoor praat, iets soos berusting of goeie maniere. Hulle het ’n hondjie aange­hou wat nou weer in die tuin is, ’n dier wat, wanneer dit stil is, op die gras­perkie verskyn en wanneer ek uitgaan buitentoe, onder die struike teen die muur inskarrel. Dis die een wese in die woonstelblok wat skugterder is as ek. Ek sou by ander inwoners hoor dat die man ’n oudsoldaat was met verskeie wapens: haelgeweer, Uzi, handwapens.

      Die vrou is weggeneem hospitaal toe.

      Weke lank was sy nie hier nie. Dit is wat ek weet en ek is seker ’n swak buurman om nie meer uit te gevind het nie.

      Maar ek het hier in Sandbaai, vier kilometer van Hermanus af, kom bly om alleen te wees, sover moontlik. Voorheen was daar ander plekke in my lewe; hierna sal daar sekerlik ook wees. Dis hoe dit dan ook meestal is, die alleenheid wat geen eensaamheid is nie, danksy kort ontmoetings, vinnige interaksie, vlugtige kyke in die verbygaan. ’n Stukkie raad wat my pa my gegee het wat my nog altyd bybly, is dat ’n volwasse man nie sy vriendskappe bedryf asof hy nege jaar oud is nie.

      Ek slaap laat omdat ek laat bed toe gaan, verlei deur films, deur in­gewings wat my aan die skryf kry, word gewoonlik soggens gewek deur geraas in die blok: die skoonmaker voor die venster, opknappings­werk aan ’n ander woonstel – hoekslypers wat skree, hamerslae wat val, teëls wat met eentonige reëlmaat uitgekap word, die selfaangestelde nutsman wat hard praat oor die tuin wat hy op die sypaadjie oorkant die straat maak, die kind in nommer 29 wat uitroep, die knorrige man oorkant my wat blykbaar ’n paar maande in die tronk was en sardonies met die wêreld omgaan, weerstandig, uitdagend, vraend. En hy vra hoe is dit dat dit Valentynsdag is en niemand hou partytjie nie. Dis woonstellewe en ’n mens moet seker dankbaar wees jy lei dit naby die see en nie in ’n oorbevolkte middestad iewers die binneland in nie. My boek kon nog somberder gewees het.

      Dis nuus dat dit Valentynsdag is. Ontstig maak ek koffie en berou die romantiese flaters van my jeug voor ek by die lessenaar gaan sit, op­nuut van plan om die minister se lewe te pak en iets daaruit te maak. Dis ’n warm dag al is die ergste somer verby. As ek die venster toe­hou, sal ek binnekort begin sweet. Maak ek dit oop, moet ek egter die harde, on­eerbiedige stem van die gewonde vrou se nuwe vriend en woon­stel­genoot aanhoor. Hulle werk blykbaar nie, in elk geval nie aan iets konvensio­neels nie, is bedags hier en snags bedrywig, braai dikwels, praat oor dwelms en sê onverstaanbare dinge oor lyding en doodgaan en die pyn van nie met jou pa kan gesels nie, sodat ek op my mond geval voel, so opgevoed, so burgerlik, so stemmig, so oud dat ek iets daarvan kan oorkom. Ek het steeds niks vir die vrou te sê nie, nie eens dat hulle raas en hul bure pla nie.

      2

      Minstens een keer per week probeer ek uitgaan vir inkopies. Vanoggend weer. Dis natuurlik Valentynsdag. Miskien moet ek iewers gaan koffie drink terwyl verliefdes om my met hulle voorregte en vreugde spog.

      Om uit te gaan is ’n lastigheid. Ek moet bad, skeer, ’n hemp stryk, die voordeur agter my sluit, afstap na die motorhuis, die motor uittrek, die deur toemaak en dan ry. In die dorp voel ek beter en kan ek nie begryp waarom ek nie meer dikwels soontoe gaan nie. Daar heers ’n vakansiegees, wat jy verwag van ’n kusdorp. Stap ek met die see langs en kyk ek oor die baai uit, vergeet ek die vae gevoel dat ek iets moet gaan doen, kan ek opgaan in die goeie luime van die toeriste op straat en by die eetplekke.

      Maar die plek, hierdie Hermanus, is deurtrek van verval. Soms is die strate toe. Bande brand. Mense protesteer. Ek sien hulle dans en jil en dreig, bewegende figure anderkant die bewende vlamme. Dan word samesprekings gevoer. Die leiers kom nie goed klaar nie; die protes gaan voort. Dan glimlag hulle saam op foto’s in die saal waar hulle verga­der het en neem hulle voor om oor ’n sekere tyd weer te gesels. Intussen, hope­lik, gaan die protes nie voort nie en ek skuif in my motor verby die baie voetgangers op die