Jaco Fouché

Aanspreeklikheid


Скачать книгу

tuin is verlig en drie mense gooi skaduwees daar. Die skaduwees maal om mekaar soos twee van die mense, mans, die derde tot bedaring probeer bring. Dis die vrou wat so skree terwyl sy op en af loop en die arms van haar wegstamp.

      “Loop hier uit! Ek wil julle weghê. Julle misbruik my.”

      “Soraya,” sê die man wat by haar bly. “Soraya, kom tot bedaring.”

      “Moenie vir my sê, kom tot bedaring nie. Jy het my kar gesteel.”

      “Ek is net gou shop toe. Jy het geslaap.”

      “Dis gebruik sonder verlof. Dis diefstal. Jy is uit! Nou.”

      Die mans lag. Een vat haar nogal onsag aan haar voorarms. Ek maak die deur voor my oop en stap in die donker op die balkon uit. Al drie is meteens stil.

      “Wat gaan aan?” vra ek.

      “Oompie, gaan slaap jy eerder,” stel die lang man voor.

      “Hy wil nie weggaan nie,” sê die vrou vir my. “Ek sit hom uit.”

      Die twee mans en die vrou hou my dop. Dis my skuif waarop hulle wag.

      “Los haar uit en kom uit daardie woonstel.” Dit gebied ek.

      Hulle staan. Ek sê: “As julle nie loop nie, sorg ek dat almal, van die opsigter tot die beheerliggaam tot die naaste prokureur, van naderby na julle sakies begin kyk. Ek weet julle is met iets onheiligs besig.”

      “Loop!” sê die vrou. Die man het haar arms gelos en sy stamp hom nou hard teen die bors. Hy tree terug en kyk na sy maat.

      “Kom ons maak soos rokkof,” sê hy en klink kwaad. Hulle voeg my gemene kyke toe, maar gaan die woonstel binne.

      Die vrou bly in die tuin staan, haar aandag by my. Sy lig haar hand na haar gesig en dit lyk asof sy glimlag, hoewel dit moeilik is om in die strak lig te sê wat presies sy aan my te kenne wil gee. Ek kyk af na haar. Sy het ’n wit japon aan, met iets op die rug wat soos ’n geborduurde draak lyk. Daar is iets tussen ons, iets wat ek vir haar gedoen het en wat ek weet sy aanvaar in die een of ander seremonie wat ek nie mooi begryp nie. In die woonstel vloek een van die mans. Die vrou bly staan, haar rug na die deur en haar profiel nou na my. Die hondjie verskyn van onder ’n struik en sy buk by die diertjie. ’n Voordeur slaan toe. Daar is iets finaals aan die klank.

      7

      Sy klop my wakker. Ek maak oop in ’n suwwe T-hemp en kortbroek.

      “Haai,” sê sy soos ’n jong vrou. Sy lyk skoon en nuut, haar hare met blink knippies vasgesteek en rooisel aan haar lippe. Ek moet versigtig wees of ek verkyk my aan haar donker oë. Ek is soos ’n toeris in ’n eksotiese mark, omring deur verkopers, houtblaaie, bakke met kos, maar onseker wat ek kan optel om aan te peusel.

      “Hallo.” Ek probeer binnensmonds praat, verleë oor my oggend­asem.

      “Ek het croissants.”

      “Dis baie deurmekaar hier,” sê ek toe ek eenkant toe staan.

      “Ek vergewe jou.” Haar stem. ’n Melodie soos ’n windklingel.

      Sy tree verby my en kom my heiligdom binne. Ek kan die bottergeur ruik uit die papiersakkie in haar hand. As die vrou iets aan haar lyf gespuit of gesmeer het, ruik dit nie skerp nie. Daar is ’n prikkie aan my gewete omdat ek die vrou so koelbloedig na waarde probeer skat.

      “Het jy koffie?” vra sy vriendelik.

      Ek druk die voordeur toe. “Wat het nog verlede nag gebeur?”

      “Niks. Ek kan dit nie glo nie. Sommer net so en hy is weg. Al sy klere gevat. Dis al wat hy daar gehad het. Reis lig. ’n Man wat lig reis, moet jy nooit vertrou nie. Gee my enige dag liewer een met bagasie. So een sal bly waar hy is, geanker.”

      “Ek hoop nie hy kom terug nie.” Die water is aan die warm word in die ketel.

      “Dan kom druk ek op jou nommer.”

      My gesig vertrek seker, want sy voeg by: “Net ’n grappie. Hulle is weg soos diewe in die nag. Maak nou daardie koffie, man.”

      By gebrek aan ’n eetkamertafel eet en drink ons in die sitkamer. Ek het die boeke en skootrekenaar van die rusbank afgehaal en op die vloer parkeer.

      “So dis wat jy doen, jy maak jou bedags hier tuis en dan skryf jy?” Sy stoot aan ’n volume van die ensiklopedie. “Dis baie oud. Kan jy dit nog gebruik?”

      “Met vrug. Ek skryf oor Joseph Fouché. Napoleon se minister van polisie.”

      Ek vertel. Sy luister.

      “Goeie idee,” sê sy. “Iets uit ’n heel ander tyd. Vandag word slegte nuus net meer, dis al wat jy van ons kan sê. Heeltyd word dit meer. Kyk na die syfers. Heeltyd pas ons aan by die nuwe statistics. En by die wêreld. Op UWC het ons gepraat van statistics. Jy kan die lewe opsom in statistics.”

      Ek luister, onwillekeurig beïndruk. Sal versigtig moet wees dat sy dit nie agterkom nie. “So jy dink nie ek mors my tyd nie?”

      “Jy doen iets wat die moeite werd is,” sê sy. “Jy lewer ’n bydrae wat ’n mens kan vashou.”

      “Jy doen tog sekerlik ook iets?”

      “Ek gaan deur die motions,” sê sy en breek ’n stukkie van haar croissant af sodat ’n skilfertjie deeg bo-op haar donker vinger lê voor sy dit in haar mond druk. “Ek weet ek moet weer werk, maar ek kom nie sover nie. Toe neem ek die twit in om te help betaal aan die verband. Gelukkig was dit my woonstel om mee te begin, want as ek dit nog uit John se boedel moes koop, sou ek moes laat gaan en trek. En ’n mens wil nie weer weggaan van Hermanus af nie. Jy het iets bereik as jy hier kom bly.”

      Ek hap aan die volgende croissant wat sy vir my aanbied. “Dit klink na ’n probleem. Maar jy sal gou ’n ander huurder kry, iemand ordentlik. Baie mense is op soek na blyplek.”

      “Dis nou ’n oulike gedagte. Is dit nie waaroor soektogte gaan nie? ’n Tuiste. Home.” Dit begin voel asof ons skerm, of miskien is dit ons onder­skeie opvoedings. Sy het kennelik iets daarvan en ek waardeer dit.

      “Het jy hier gekoop?” vra sy.

      “Nee, ek huur. Dis net tot tyd en wyl. Ek sal wel weer aanbeweeg. Ek het nog nie my tuiste nie.”

      “Waar het jy al gebly?” vra sy my.

      Ek wei ’n minuut of drie uit oor stede en die platteland. Dis ’n saai geskiedenis: ’n paar jaar by hierdie maatskappy, by daardie agentskap, in so ’n kroeg, in ’n stad, in ’n dorp, ’n paar weke in seisoentyd op ’n plaas.

      “Trek jy wanneer jy klaar oor ’n plek geskryf het?” vra sy.

      Ek lag en skud my kop, maar dit klink vir my nogal skerpsinnig.

      “Dis arty,” sê sy. “Trek net en woon elders. Maar jy kan natuurlik enige plek aan jou boeke werk. En natuurlik vertel jy net bolangs wat in jou lewe gebeur het. Jy noem nie ’n enkele love interest nie.”

      “Wat is daar om te sê? Die liefde kom en gaan soos die fases van die maan. Daar sal altyd nog iemand wees. Ek oordryf,” voeg ek by, drink my koffie klaar en sit die beker seker te hard neer.

      Sy glimlag asof ek nie gaan wegkom nie. “Jy weet van my laaste liefde. Hoe en wie was joune?”

      “Kan skaars onthou.” Ek skuif my kaal voete oor die teëlvloer en skop die kelim se hoek dat hy terugvou.

      “Skuus,” sê sy. “Ek dag ons …” Sy sit haar eie koffiebeker neer, met meer beheer as ek. Sy staan op. “Laat ek weg wees. Ek wou dankie sê vir laas nag.”

      “Plesier. Mens help mos.”

      “Moet jou nou nie skaars hou nie. Ons weet reeds ons het iets vir mekaar te sê.”

      Sy stap na die deur, waar sy skielik omkyk en my vang terwyl ek na haar lyf staar. “Bye,”