Louis plaas ’n hand op haar skouer en druk dit, sy oë simpatiek. Hy verwyder egter vinnig sy hand, asof hy hom bedink.
“Ek kan sien dit onstel jou om dié dinge te sien. Ons ou hande is al byna gewoond daaraan, maar ’n mens raak nie sommer verhard daarteen nie. Ons sit ook met die mense se trauma en sielkundige probleme. Ons wys hulle dat ons nie dink hulle het nou skielik mal geraak oor hulle pyn kry in ’n ledemaat wat nie meer daar is nie. Spookpyn het ’n sielkundige komponent en ons moet die mense leer om dit geestelik te beveg. Hulle kry weer beheer oor hulle lewe as hulle dit regkry. Dis waar iemand met ’n psigiatriese belangstelling soos Nick belangrik is. Hy het my vertel hy beoog om terug te keer na Suid-Afrika en in psigiatrie te spesialiseer.”
“Wil hy? Wel, sy kontrak is ook byna verstreke. Hy kan dalk vir volgende jaar by ’n Suid-Afrikaanse universiteit inskryf. Ons ma sal so bly wees as hy terugkeer. Ek ... hoop ons vind hom gou.”
Louis glimlag vir haar. “Soos ek gesê het, moenie hoop opgee nie. Vertrou.”
Hy sit sy hand op Bernard se skouer en die kind glimlag op na hom met soveel vertroue dat dit Clare se hart tref. Watter wonderlike werk doen iemand soos Louis nie. En dit uit medemenslikheid, nie vir gewin nie. Soos Nick, na wie sy skreiend verlang. Louis help steeds die mense in hierdie plek nadat sy vrou dood is. Hy kon besluit het om alles te beëindig en weg te bly, maar hy het sowaar teruggekeer.
Sy het ’n intense begeerte om hom te troos. Eintlik het sy hom lankal liefgekry, maar tot nou toe het sy geleef met die wete dat hy vir haar verlore is. Sy het gehoop haar liefde vervaag heeltemal, maar noudat sy hom voor haar sien, vlam dit weer op.
Spies het deurentyd nie veel gepraat nie. Hy loop saam en luister. Hy en Louis praat skaars met mekaar, maar Clare sien hoe Spies Louis heeltyd onderlangs krities bekyk.
“Sierra Leone se eie leër is ongelukkig ook korrup,” vertel Louis. “Die soldate word ‘sobels’ genoem – rebelle in die dag, soldate in die nag.”
“Dis juis hulle korrupsie wat hulle omkoopbaar maak,” merk Spies skielik op. “Dit help my om dinge reg te kry wat ek andersins nie sou kon nie. Ken jy vir kolonel Bana Musa?”
Louis frons. “Ek ken van die topoffisiere, soos generaal Julius Moena, wat een van die beteres is, al vertrou ek hulle eintlik nie een nie. Ons moet ongelukkig met hulle saamwerk, in ’n mate. Ek ken egter nie vir kolonel Bana Musa nie. Is hy in jou ... sak?”
“Hy is, tot dusver, want hy is een van die gulsigste mense wat ek al ooit ontmoet het. As ons probleme kry, help hy ons gewoonlik. Terloops, moenie dat iemand agterkom Clare is ’n joernalis nie, want hier is nie iets soos ’n vrye pers nie. Niemand mag weet dat sy boonop hier vir nuus wil rondsnuffel nie. Dit kan lewensgevaarlik wees.”
Hy neem Clare se arm. “Kom, ons moet gaan. Ek sal jou oor twee dae hier besorg om met die MSF saam te gaan.”
Clare trek los en gaan soen Louis eers op albei wange. “Tot dan.”
“A bientôt, mon ami.” Sien jou binnekort, my vriendin.
Sy moet haarself keer om nie verlangend oor haar skouer na Louis terug te kyk toe hulle wegstap nie.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.