could have fooled me,” mompel Clare. Maar sy forseer ’n glimlag en tot haar verbasing grinnik Boegoe ook, asof hy haar respekteer vir haar astrantheid.
“Watse vliegtuig is dit dié?” vra sy.
“Ons noem dit ’n Caravan,” sê Boegoe. “Dis ’n enkelprop en kan tien passasiers en ’n bietjie cargo vervoer. Dis meesal bedoel vir safarigroepe vervoer, maar niemand gaan safari nou in Sierra Leone nie.”
“Word jy maklik lugsiek?” vra Spies.
Clare skud haar kop. “Het nog nooit. Solank Boegoe nie loop the loop nie, behoort ek oukei te wees.”
Boegoe grinnik weer breed vir haar.
Spies het alles gereël, paspoorte inkluis, en dit vir haar só maklik gemaak dat sy nie weet hoe sy sonder hom sou klaargekom het nie. Hy is egter ’n ou hand, wat nog smokkel ook. Sy wil haar nie daaroor bekommer nie, want sy het ’n missie waarop sy moet konsentreer, en dit is om Nick en Louis te vind. Alle ander dinge is bysaak.
Nadat alles afgehandel is en klaring vir vertrek verkry is, klim sy in die vliegtuig. Sy gaan sit reg agter Boegoe en Spies en maak haar veiligheidsgordel vas. Hulle is die enigste passasiers. Binne is dit nie luuks nie, maar gemaklik genoeg. Dis vir seker nie eersteklas nie.
Die vliegtuig ry na die aanloopbaan en met ’n vreeslike gedreun styg dit op, draai ’n slag oor Tafelberg en mik na die noorde. Die bal is nou aan die rol en vir omdraai is daar nie meer kans nie, dink Clare, half verlig, half benoud.
“Jy gaan NGO-ouens soek wat die militêre nie gewoonlik goedgesind is nie,” praat Spies hard met Clare oor sy skouer om bo die dreuning gehoor te word. “As ons patrollies deur die dorpies gedoen het, of by die klinieke aangedoen het, het die MSF-ouens ons nie verwelkom nie. Hulle werk mos kastig uit idealisme, en hulle vertrou nie gewapende mense nie, selfs nie die VN-vredesmagte nie. Toegegee, mens kan die vredesmagte ook nie altyd vertrou nie. Almal stroom na daardie klinieke met hulle siektes, peste en oorlogbeserings en word met ope arms verwelkom, maar as ons militêre ouens daar aankom, word ons weggejaag.”
“Daar is niks kastigs omtrent die MSF se idealisme en opoffering nie,” praat sy hard terug. “Daardie mense gee alles prys om hulle medemens te dien, en hulle word maar swak betaal. Hulle is nie daar vir die diamante en plundery nie. Ek kan verstaan dat daar tussen die MSF en troepe wrywing kan wees, want die troepe wond en beseer en die dokters moet die mense heelmaak. Die Hippokratiese Eed sê dat jy selfs jou vyande, alle mense van alle oortuigings, moet help.”
Sy bly ’n rukkie stil voor sy vervolg: “Jy is nie bereid om my te help net oor jou hart vir my en Nick bloei nie, Spies, en jy vra my ook nie ’n plaas se geld nie. Daar is vir jou gewin in die ding, wat niks met my te doene het nie.”
Hy grinnik oor sy skouer. “Kom ons sê ek werk aan my pensioen, my mansion, my seiljag, my Ferrari en my harem. Wat ek alles doen, hoef jy nie te weet nie. Dit sal veiliger wees as jy nie uitvra nie. Ek sal jou help, maar jy moenie nuuskierig raak nie. Oukei?”
Ek gee jou ’n heerlike geleentheid om jou smokkelbedrywighede voort te sit, dink sy. “Oukei, ek sal nie my neus insteek waar dit gebyt kan word nie.”
Clare skrik wakker toe Spies haar skouer skud en vir haar ’n kospakkie en Coke aangee.
“Ons is ’n halfuur van Freetown-Lungi-lughawe af. Dis die Royal Air Force- en siviele lughawe. Ek het landingsregte, en ons bly altyd in ’n hotel aan Lungi se kant. Om in Freetown te kom, neem mens ’n boot oor die rivier. Dis nou nag en gevaarlik. Iets kan altyd uit die donker in jou rigting vlieg.”
Clare eet en drink vinnig en maak haar reg vir die landing. Sy kyk by die venster uit en sien net donkerte, maar gou bespeur sy ’n lig of twee wat flikker. Spanning laai in haar op. Wat as iemand na die vliegtuig skiet? Mens kan enigiets in Sierra Leone te wagte wees. Maar as sy eers haar voete op die aarde het, weet sy dat dit net afstand is wat haar van Louis en Nick skei. Sy wil nie eens daaraan dink dat hulle dood of in lewensgevaar kan wees nie. Nee, dis net kommunikasie wat onmoontlik geraak het, oortuig sy haarself.
Haar hart sit in haar keel toe die vliegtuig uiteindelik op die aanloopbaan neerstamp.
“Ons is terug in die hel,” spot Spies. “Maak julle klaar vir die hitte.”
Dis inderdaad so warm soos die hel toe Clare uitklim, want die temperatuur is veel warmer as wat sy nog ooit beleef het, en die humiditeit is geweldig hoog. Skynbaar koel dit nie hier in die nag af nie. Sy snak eintlik na asem. Reuke van vrot tot diesel oorweldig haar.
Willoos laat sy toe dat Spies haar deur alles kry: doeane, die vyandige of ondersoekende meesal swart gesigte en mense in uniform. Die teenwoordigheid van Britse soldate laat haar effens minder bedreig voel, hoewel hulle haar bekyk asof sy van Mars af kom. Die hitte tap haar energie en haar klere klou aan haar lyf. Sy smag na ’n yskoue Coke.
“Daar’s ons manne,” sê Spies, wat haar aan die boarm beethet en haar na die uitgang stuur.
Twee grinnikende fris mans wag vir hulle in die afgeremde ontvangsarea van die lughawegebou, die een wit en die ander een swart.
“Manne, hier is Clare Rutland,” stel Spies haar voor. “Dis nou Jakes Williams, my ou makker van Spesmagte en EO, en Obed Stevens, die Krio van wie ek jou vertel het.”
Sy skud hulle groot, growwe hande en kyk op in gesigte blink van sweet. Maar hulle is vriendelik, slaan Spies op die rug, lag en verwelkom hulle. Vir Clare is hulle onmiskenbaar militêre tipes, al is hulle in civvies. Sy hou net nie van die betekenisvolle blikke wat hulle wissel nie, asof hulle dink daar is iets tussen haar en Spies wat hom genoop het om haar saam te bring.
“Gaan dinge al gemakliker hier?” wil Spies weet.
“So-so, maar is enigiets hier ooit enige tyd gemaklik?” spot Jakes. “Kom ons kry julle hier uit en by die hotel.”
Clare is steeds moeg ten spyte van haar lang slaap op die vliegtuig. Sy kan nie veel sien van die omgewing nie, al besef sy dis tropies, met digte plantegroei en vreemde reuke, en dat daar palmbome is. Die mans neem hulle na ’n voertuig wat lyk soos ’n gepantserde Land Rover.
Spies laat haar voor langs Jakes sit en hy en Obed klim agter in. Meteens besef sy dat sy nie die mans kan verstaan nie, want hulle praat ’n vreemde dialek. Seker die Krio waarvan Spies haar vertel het. Hulle wil natuurlik nie hê sy moet alles verstaan wat hulle vir mekaar te sê het nie.
Daar is min verkeer in die strate. Die hotel is langs die water en dit lyk ook afgerem. Dit was dalk eens luuks, maar duidelik het dit agteruitgegaan. Dis vol militêre personeel. In die portaal sien sy ’n paar vroue wat lyk soos vroue van die nag. Hulle dra te veel grimering en is te sexy en helderkleurig geklee. Hulle kyk haar nuuskierig maar vyandig aan.
Spies laat haar trappe klim na die derde vloer. “Hier waag ek dit nie in ’n hyser nie. Iemand kan jou vaskeer en probeer keel afsny, of anders kan die krag blaas en dan sit jy. Dis maar dodgy in dié digs, maar dis waar ek altyd bly as ek hier is. Mens moet jou vastrapplekke hê.”
Die hotelkamer was ook eens luuks, maar nou is dit basies en nogal toiingrig, sien Clare. Die badkamer lyk asof die loodgieterswerk twyfelagtig is, maar daar is ’n toilet, ’n wasbak met gevlekte oppervlak en ’n stort sonder gordyne of afskorting. Sy smag na ’n stort.
Daar is ’n sitkamer met ’n bank, stoele, tafel en ’n yskas in die hoek, en ’n slaapkamer met ’n dubbelbed sonder beddegoed – net ’n kaal, gevlekte matras waarop daar ’n opgerolde slaapsak is. Aan die plafonne in al die vertrekke is waaiers wat stadig en onwillig draai en geen verskil aan die hitte maak nie.
“Is jy honger?” vra Spies nadat hy haar rugsak in die slaapkamer neergesit het.
“Nee, dankie, net dors.”
Hy gee vir haar ’n Coke uit die yskas, wat sy vinnig opdrink.
“Jy kan die kamer kry en ek sal op die sitkamerbank slaap,” bied hy vroom aan. “Jy kan maar stort en gaan slaap. Ek en die manne het baie om oor te praat, en ons gaan vannag ’n bottel whisky seermaak.”