“Gebruik die afgekoelde kookwater. Ek wil nie hê jy moet nog die maagloop ook kry nie. Toiletpapier is skaars hier.”
Sy kan nie help om te lag vir die komiese manier waarop hy dit sê nie, en hy grinnik.
“Kom, kom,” jaag hy haar aan nadat albei tande geborsel het. “Obed en Jakes kry ons by die water. Hulle het ’n boot waarmee hulle ons sal oorneem na Freetown.”
Hy trek ’n flak jacket aan en sy sien dat die sakke vol goed is. Aan sy gordel is ’n mes in ’n skede. Sy sit alles wat sy nodig het in die sakke van haar fotograafbaadjie. Spies sluit hulle sakke in die badkamer toe, sluit die buitedeur en steek die sleutels in sy binnesak.
“Hier steel die mense natuurlik vreeslik,” sê hy. “Eintlik moet mens alles vasspyker.”
Toe hulle by die trappe afstap en uitgaan, kry Clare weer die indruk van vyandige, agterdogtige oë wat hulle bekyk. Nou, in die helder daglig, kan sy sien hoe vuil en verniel alles is, hoe versukkeld, aggressief of skelm die mense lyk. Nêrens sien sy ’n vriendelike gesig nie, en dit laat haar innerlik sidder.
Sy bly baie naby aan Spies, vir wie mense met teensinnige respek aankyk. Hy is groter en frisser as die meeste ander mense en hy loop met ’n woeste frons op sy gesig wat te kenne gee dat niemand met hom moet skoorsoek nie.
Die kort ent na die water is geensins aangenaam nie. Spies se twee vriende wag vir hulle by ’n ou boot waarvan die verf afdop, maar wat ’n buiteboordmotor het. Die hitte omgeef Clare soos ’n onwelriekende kombers en sy voel heeltyd omring deur vyandigheid. As iemand haar nou in die rug skiet, sal sy nie verbaas wees nie. Sy is ook die enigste wit vrou en mense staar na haar.
“Môre,” groet die twee mans en sy sien dat hulle haar opnuut opsom, maar sy groet vriendelik terug.
“Wat het van Boegoe geword?” vra sy vir Spies nadat hy haar ingehelp het en Obed die enjin brullend aan die gang gekry het.
“Weg. Hy’s weer oor twee of so weke terug. Teen daardie tyd het ons hopelik iets uitgevind oor Nick. Ons gaan nie maande lank hier kuier nie.”
Clare kyk hom geskok aan. Hy het nie vir haar ’n spertyd gegee nie. Hoe dink hy gaan hulle alles binne so ’n kort tydjie gedoen kry? Sy sal die saak nog met hom moet opneem, maar nou is skynbaar nie die tyd vir redekawel nie.
Die mans kyk behoedsaam om hulle rond. Clare besef nou alte duidelik dat sy in ’n oorloggeteisterde land is. Sy is seker die klimaat maak mense kortgebonde. Die ander bote op die water het soldate in, of is oorlaai met te veel plaaslike mense en hulle bagasie.
“Hierdie land het soveel minerale rykdom, maar kyk hoe lyk dit,” sê sy vir Jakes langs haar.
Hy knik. “Ja, dis die armste land in die wêreld, met ’n paar gulsige ouens wat hulleself verryk. Jy het nog nie gesien hoe erg dit regtig kan wees nie, maar jy sal.”
“Die samelewing het gedisintegreer en brutaliteit het oorgeneem,” vertel Spies haar. “As gevolg van die ewige konflik het Sierra Leone die laagste lewensverwagting in die wêreld – hoogstens ses en twintig.”
“Liewe hemel, dis darem baie laag,” prewel sy geskok.
“Wapens is maklik om in Afrika te bekom,” gaan hy voort. “Veral as ’n land sogenaamde bloeddiamante het wat daarvoor kan betaal, en dit het Sierra Leone in oorvloed. Die verskillende faksies in die land wat die bevolking terroriseer, maak egter op groot skaal van ’n landbou-implement gebruik – die machete of kapbyl. Ek moet jou waarsku dat jy baie mense, kinders inkluis, gaan sien met afgekapte ledemate.”
Clare kyk hom met afgryse aan, al weet sy daarvan. Om met die werklikheid gekonfronteer te word, gaan egter baie ontstellend wees, en sy vrees dit.
Die drie mans by haar lyk almal soos huursoldate, dink sy. Hulle het die soort waaksaamheid en tawwe houding van mans wat weet hoe om hulleself te verdedig. Dis al deel van hulle persoonlikhede. Sy haal haar kamera uit haar binnesak te voorskyn.
“Sit weg daardie ding!” bulder Spies so skielik dat sy wip van die skrik. “Wil jy hê iemand moet ons skiet of in hegtenis neem?”
Sy druk die kamera terug in haar sak, maar neem haar rebels voor dat sy wel gaan foto’s neem, want sy moet vir die wêreld wys hoe dit hier lyk. Stokstyf van spanning kyk sy hoe die oewer naderkom, hoe baie mense daar is en hoe sleg die omgewing vertoon. Die geboue in die stad is soos geboue in ander Afrika-stede: die meeste is in die koloniale tyd gebou en lyk bouvallig.
Die boot meer by ’n kaai vas. Jakes bly sit terwyl Clare en die ander twee mans uitklim.
“Ek pas die boot op, anders steel iemand dit,” sê Jakes toe sy vraend na hom kyk. “Moenie te groot skrik nie.”
Clare se maagsenuwees trek op ’n knop.
~ 3 ~
In Freetown kry Obed vir hulle ’n skedonk van ’n taxi wat lyk asof dit nog skaars kan loop. Maar hy ken skynbaar die eienaar, ’n maer man in verflenterde klere wat baie gretig lyk om ’n geldjie te verdien. Spies het voorgestel dat hulle eerste na die Connaught-hospitaal gaan.
“Obed het my vertel dat die MSF sedert die staatsgreep drie jaar gelede met oorloggevalle by die Connaught-hospitaal werk. Daar is agt klinieke en een mobiele kliniek in Freetown. Dalk is jou broer by een van hulle.”
“Ek hou duim vas.” Nee, sy bid nog strykdeur dat sy vir Nick en Louis sal opspoor, hoewel sy twyfel of hulle in die hoofstad sal wees.
Weermagvoertuie en voertuie van die Verenigde Nasies ry in die strate. Die VN-soldate het die kenmerkende blou barette op, maar daar is nie baie van hulle nie. Die stad is ’n mengelmoes van mense wat meesal versukkeld lyk, en swaar gewapende soldate. Haar moed sak in haar skoene toe sy dit aanskou.
“Ek het meer VN-vredestroepe verwag,” sê Clare toe Spies haar agter in die taxi laat klim en langs haar kom sit.
“Hier wás baie meer, maar hulle is meesal weg,” sê Obed. “Die meeste Britte ook, maar daar is nog van hulle hier. Die troepe van ECOMOG, wat meesal uit Nigeriërs bestaan, en troepe van Guinee is ook hier. Keniane ook.”
Dis ’n onaangename rit deur die vuil, chaotiese strate, met die drywer wat kort-kort toet en mense wat deur die verkeer vleg en goed probeer smous. Uiteindelik arriveer hulle by die hospitaal. Dit lyk oud en stewig, maar het opknapping dringend nodig. Die verf dop van die mure af en die tuine is erg verwaarloos.
“Ek en jy sal ingaan en vra, maar Obed sal hier by ons taxi bly om hom op te pas, anders verdwyn hy dalk,” sê Spies.
Oral in die tuine sit en lê mense in skadukolle en Clare is geskok om te sien hoe sleg hulle lyk. Hulle gaan by die voordeur in, nie na die Noodgevalle-afdeling nie, maar hier is ook oral mense, wat met hulpelose, lydende of nuuskierige oë na hulle kyk. Die lug is dik van hitte en reuke, onder meer van ontsmettingsmiddels.
Die personeel by ontvangs lyk almal gestres, asof hulle te veel mense se probleme moet hanteer. Spies gaan na een groot swart man in ’n vuil wit jas.
“Good day, Sir. Ons is op soek na dokters van die Médecins sans Frontières.”
Die man kyk van hom na Clare en sy let op dat hy baie moeg lyk, asof hy ’n baie lang skof agter die rug het.
“Ek is een, maar ek gaan nou van diens af,” sê hy op Engels, maar met ’n Franse aksent. “Waarmee kan ek help?”
“Ek soek my broer, dokter Nick Rutland, en dokter Louis du Plessis,” sê Clare.
Die dokter frons en sy hou asem op. Hy staan en dink met een vinger teen sy ken.
“Van waar kom jy dan nou?” vra hy.
“Van Suid-Afrika.”
“Ek ken vir dokter Rutland, maar nie goed nie, eintlik net vaagweg, en ek het hom lanklaas gesien. Ek glo nie hy is hier nie. Ons mense is mos versprei deur die land. Dokter Du Plessis is wel hier in Freetown. Hy is mos ’n