’n tafel langs die venster wat op die hawe en die liggies in die water uitkyk, groot en fris, onmiskenbaar met sy ligte borselkop en breë skouers. Hy wuif en sy stap nader.
“Jy lyk opvreetlik, soos altyd,” grinnik hy wolfagtig. “Kom sit. Ek hou van daardie rok. Dit sit so ... nommerpas.”
Clare vervies haar heimlik, want hy laat dit klink asof sy spesiaal die mooi swart rok aangetrek het omdat dit haar figuur vlei en sy hom wou beïndruk.
“This old rag?” spot sy. “Ek was nie seker hoe informeel ek moes lyk nie.”
Vanaand het hy duur slenterdrag aan, ’n duur goue polshorlosie, en dit lyk asof hy ’n patina van welvarendheid gekry het. Voorheen was hy soldaat in murg en been, maar altyd ’n astrante vleier, op wie meisies wat nie van beter geweet het nie maklik verlief geraak het.
Hy bestel eers vir hulle wyn en sy kyk na die spyskaart. Dis die soort wat nie pryse aandui nie, want as jy dit nie kan bekostig nie, kom jy nie hierheen nie. Die glase sou ’n halfliter wyn op ’n slag kon vat, maar net die bodem word bedek. Spies kies ook goeie wyn, asof hy ’n kenner is.
“Ek drink nie net bier en hardehout nie,” spot hy. “Kom ons bestel eers, dan gesels ons, want hulle kan soms blerrie lank vat om die konkoksies te bring wat hulle hier opdis. Dis gewoonlik meer versiering as substansie, maar dan bestel jy maar net nog. Ek het mos die aptyt van ’n leeu.”
Vir kos én vroumense, dink Clare, en steek haar glimlag agter die spyskaart weg. Nick het altyd gesê dat Spies ’n rowwe diamant met ’n paar flaws is, maar hy het tog baie van hom gehou.
Nadat die kelner die wyn gebring en hul bestellings geneem het, vou Spies sy hande voor hom op die tafel saam en leun plegtig vorentoe.
“Nou ja, girlie, vertel my presies wat jy in gedagte gehad het wat Sierra Leone betref.”
“Ek wil vir Nick gaan soek, al moet ek tot by die diamantvelde gaan. Ek wil vlieg na Freetown, en van daar na die binneland na waar hy laas was, dit wil sê na Bo.”
“Weet jy hoe onveilig daardie land is, en hoe moeilik dit is om van een plek na ’n ander te gaan? Mense gaan toer nie sommer daar nie. Polities is daardie plek ’n helse gemors.”
“Spies, ek hét navorsing gedoen oor die huidige politieke situasie in Sierra Leone. Ek is nie dom en onkundig oor Afrika se gevare nie. Ek is ook nie bang nie. Ek het vir die BBC en Argus Africa in verskeie Afrikalande gewerk, soos jy weet. Niks is vir my nuut of totaal onbekend nie. Ek kan my voorstel hoe dit daar gaan en hoe dit lyk, maar ek het geen keuse as om self na Nick te gaan soek nie. Daar is niemand wat ek kan stuur nie.”
Hy kyk haar skewekop aan en grinnik. Sowaar, hy is die volmaakte voorbeeld van die macho huursoldaat wat homself verryk het, dink sy. Hy het goeie eienskappe. Sy weet hy is ondernemend, onverskrokke, waaghalsig en energiek, en hy het basies ’n goeie hart agter daardie taai fasade. Sy swak eienskappe is egter dat hy ’n vrypostige vrouejagter is en dat hy so strydlustig en beterweterig is. By hom moet jy net heeltyd keer vir jou wickets, en dit irriteer haar grensloos.
“Ek weet jy’s ’n tawwe tina,” spot hy. “Maar hierdie keer wil jy wragtig in ’n bynes gaan infoeter. Dis nog altyd vir my so ironies dat die twee Afrikalande waarheen vrygemaakte slawe teruggebring is, Sierra Leone en Liberië, sulke arm, konflikgeteisterde lande bly. Die eerste slawe is van Sierra Leone af oorsee vervoer om op die eilande langs die kus van die VSA en op die plantasies van South Carolina en Georgia te werk. Toe bring die Britte laat in die agtiende eeu die vrygestelde slawe terug na Sierra Leone. Hulle het dit die ‘Province of Freedom’ genoem. Die inheemse bevolking van Sierra Leone het die eerste terugkerende slawe omtrent almal uitgemoor. Nog duisende is teruggebring, en hulle het Freetown gestig, wat een van Brittanje se kolonies in Wes-Afrika geword het. Die vrygestelde slawe is Krio genoem, Kriole, en hulle nageslag praat nog steeds Krio, wat ’n soort Engelse dialek is. Ek kan dit ’n bietjie praat. Freetown is die verkeerde naam vir daai plek, want daar was nooit vryheid of vrede nie. Ná onafhanklikheid in 1961 en die eerste verkiesing, het die dinges éérs gespat. Uhuru het gekom en die eindelose blerrie oorloë, bloedbaddens, gulsigheid en korrupsie. Die pawpaw strike alewig die fan.”
Clare het hom laat uitwei sonder om hom te onderbreek. Die wyn word eers geskink en hulle drink ’n paar slukke in stilte. Clare is bewus daarvan dat Spies haar dophou en ontleed. Sy maak nie oogkontak nie.
Dan gaan hy voort: “Die Revolutionary United Front, gelei deur Foday Sankoh, is gesteun deur daardie rampokker Charles Taylor van Liberië, waar daar ook ’n bloedige burgeroorlog is. Uit hulle basisse in Sierra Leone het die RUF op massiewe skaal mense aangeval, vermink en ontvoer. Hulle het van kinders soldate gemaak. Teen 1995 het hulle die diamantryke oostelike provinsie beheer en was hulle al bý Freetown. Die regering was verplig om Executive Outcomes se dienste te koop om hulle weg te kry. Ons het moderne kommunikasietoerusting gehad, ons eie helikopters, voertuie en goed opgeleide soldate wat uit die ou Suid-Afrika se Spesmagte gewerf is. Dit het ons net ’n maand geneem om die RUF fighters weg te boender.
“Toe kon die demokraties verkose president, Ahmad Kabbah, die Abidjan-ooreenkoms sluit. Daar was ’n skietstilstand en die RUF moes ontbind. Maar wat gebeur toe? Die RUF weier om hul wapens neer te lê. Eintlik wou al die leërs nie regtig vrede hê nie, want hulle wou alles en almal plunder. Albei die regering en die RUF het die gefrustreerde werklose jeug gewerf, die sogenaamde rarray boys en die san-san wat onwettig diamante gemyn het. Mense sonder opvoeding of vooruitsigte, behalwe as hulle roof en moor en hulleself só verryk.”
Clare luister woordeloos en teug aan haar wyn.
“Nadat Executive Outcomes blerrie goeie werk gedoen het, is ons gedwing om in 1998 te ontbind. President Kabbah is in 1997 deur ’n militêre junta uitgesmyt. Hulle het die RUF genooi om met die regering saam te smelt. Toe is die junta weer omvergewerp deur die mag van die Nigeries geleide Economic Community of West African States Monitoring Group, ECOMOG, en Kabbah is weer in 1998 aangestel. Die RUF het in Januarie 1999 wéér die regering probeer omverwerp en tot in Freetown gevorder, waar duisende mense uitgemoor is. Die ECOMOG-magte het hulle daarna weer verdryf. Dis heen en weer al die tyd. President Kabbah en die RUF-leier Sankoh het verlede jaar die Lomé-vredesverdrag geteken. Sankoh is visepresident gemaak, die RUF word deel van die regering, en die Verenigde Nasies stuur vredesmagte. Die RUF verbreek wéér die verdrag, val die UNAMSIL-personeel aan, vat hulle wapens, hou hulle gyselaar. Die VN-mense is nie eens in die diamantmyngebiede toegelaat nie. Britse intervensie probeer die situasie red, maar daar is steeds chaos in Sierra Leone, en nou wil jý soontoe gaan.”
Hy gaan my nie afsit of afraai nie, dink Clare opstandig. Sy kyk hom waterpas in die oë.
“Ek weet dat die Britte ingegryp het, dat Sankoh in Mei vanjaar gevange geneem is en dat daar pas ’n nuwe wapenstilstand in Abuja geteken is. Ek is darem nie heeltemal roekeloos en onkundig nie, Spies. Ek weet ook dat dit ’n tropiese land is, dat die temperatuur en humiditeit konstant hoog is, en dat malaria daar endemies is. Maar die reënseisoen is nou in November verby, daarom is dit nou die tyd om te gaan.”
Spies grinnik. “Huiswerkies gedoen, nè? As die harmattan, die noordoostewind, in die droë seisoen waai, bring dit weer stof. Sierra Leone was nog altyd bekend as ‘the white man’s grave’. Jy sal jou inentings en malariapilletjies moet kry voor jy gaan, maar jy beweer mos jy ken Afrika goed, al was jy nog nie in Sierra Leone nie.”
“Jý het daar oorleef.”
Hy lag spottend. “Daar’s nie ’n vergelyking nie. Ek is veel taaier as ’n tingerige ou dingetjie soos jy. Dis ’n vrek gevaarlike plek daai. Die RUF is nie heeltemal ontwapen, gedemobiliseer en geïntegreer nie. Al teken hulle kastig vredesverdrae, word een rampokker eenvoudig deur ’n ander – en soms ’n erger een – vervang.”
Clare voel hoe ’n ergerlike blos haar wange warm maak. Waarom moet mans soos Spies altyd maak asof hulle so superieur en vroue so swak is?
“Kyk, Spies, ek weier om hande gevou te sit en wonder wat van Nick geword het. Jy moet my nie onderskat nie.”
“Jô-jô,” is al wat hy sê, voordat hy sy glas ledig.