het jy van die plek gehoor?” wil hy weet.
Sy draai weg en soek haar motorsleutels. “Iewers is ’n misverstand. Jou ma het gesê sy weet van ’n geskikte woonstel wat my sal pas, maar sy het blykbaar deurmekaar geraak en die verkeerde adres vir my gegee. Jammer as ek gepla het. Ek sal jou nie langer ophou nie.”
Sy wenkbroue trek in ’n frons saam. “My má? Het jy met haar gepraat? Hoekom?”
Teen haar sin is Tinka op die verdediging. “Ons het deur die jare kontak behou, en toe ek terugkom in Suid-Afrika, het ek gedink dis goeie maniere om haar te bel om te groet.”
“Sy het my nie gesê dat jy terug is nie. Kuier jy net of is dit permanent?”
Wat het dit met hom te doen?
“Permanent,” antwoord sy kortaf.
“En my ma het vir jou gesê ek het ’n woonstel om te verhuur?”
Sy wil nie tant Olga by haar seun in die moeilikheid kry nie. “Dit het toevallig ter sprake gekom toe ek gekla het ek sukkel met huisvesting.”
“Sonder om te sê die woonstel behoort aan my?”
Hy klink skepties en Tinka is verontwaardig. “Natuurlik! Dink jy ek sou hierheen gekom het as ek geweet het dis jou adres?”
Hy bekyk haar op en af en sy frons verdiep terwyl hy nadenkend oor sy ken vryf. “Nóú verstaan ek hoekom sy so getorring het dat ek stiptelik sesuur hier moet wees as die ‘dametjie’ kom … Sy het haar eie duistere agenda gehad.”
Tinka is lief vir sy ma. In die tyd toe sy en Rheeder uitgegaan het, was tant Olga vir haar die ma wat sy kleintyd verloor het. ’n Ma, ’n vriendin, ’n maat. Naweke wanneer sy by hulle op die plaas by Dullstroom gekuier het, het hulle twee ure om gesels, saam in die kombuis gebak en gebrou en by vlooimarkte rondgesnuffel op soek na ou skilderye en boeke. Toe die verhouding tussen haar en Rheeder verbreek is, was sy ma verslae en hartseer, maar sy het by Tinka se besluit berus en haar nie verwyt of probeer beïnvloed nie. Haar deur het steeds oopgestaan en hulle vriendskap het heg gebly.
Nou wonder Tinka egter of tant Olga regtig daarin berus het dat haar en Rheeder se paaie geskei het. Het sy Cupido probeer speel en die situasie uitgebuit, gehoop dat dinge tussen hulle dalk weer sal regkom noudat Eugene uit die prentjie is? Sy voel sommer gegrief oor die ongemaklike situasie waarin tant Olga haar geplaas het.
“So jý is die arme platsak ‘dametjie’ wat kastig op straat sit, wat kamma so desperaat is vir ’n heenkome?” sê Rheeder sarkasties.
Hy hoef dit nie in te vryf nie … “Jou ma het dit goed bedoel,” antwoord sy verdedigend.
“Julle twee was altyd kop in een mus as dit by konkel kom.”
Waar kom hy daaraan? Sy vervies haar. “Ag, strooi! Ek erken dat ek blyplek soek, ja, maar ek was g’n besig om te konkel nie. Hoekom sou ek? Om wat te bereik?”
Hy lyk nie oortuig nie. “Met julle vroumense weet mens nooit.”
Hy bekyk haar ondersoekend. “Ek dag Parys was so wonderlik, jou droom wat waar geword het. Hoekom was jy dan skaars ’n jaar daar voor jy padgegee het Londen toe?”
Sy ma het hom seker op die hoogte gehou … maar hy het genoeg belang gestel om die tye en datums te onthou. Tinka weet nie of sy vies of gevlei voel nie.
“En nou is jy sak en pak terug … Hoekom?”
Sy wens hy wil ophou karring. Tant Olga ken net die basiese feite, maar sy sidder by die gedagte dat Rheeder die volle storie sal uitvind. Dit was pynlik genoeg om by haar pa te bieg dat hy reg was, sy vergifnis te vra omdat sy halsoorkop en verkeerd was. Maar Rheeder sal haar eerder verwyt as vergewe. Sy eerste woorde sal wees: “Ek het jou toeka se tyd mos gewaarsku, maar jy het gedink ek is kleinsielig. En dat jy beter weet as ek en jou pa en al die ander mense wat jou gewaarsku het jy is te liggelowig.”
Sy onthou sy het dit teen sy kop geslinger dat hy besitlik en jaloers is, dat hy Eugene swartsmeer omdat hy haar nie geluk saam met ’n ander man gun nie. Sy is skaamkwaad en haar reaksie kom skerper uit as wat sy bedoel het.
“Ek het beslis nie teruggekom om agter jou aan te loop nie – as dit is wat jy dink! Ek het dit drie jaar gelede duidelik uitgespel dat ek hoegenaamd nie belang stel nie.”
“Jy het, ja,” stem hy saam. “Vyf keer. Persoonlik, per telefoon én per brief, sodat daar geen misverstand kon wees oor die feit dat jy my op my oor uitgesmyt het nie.”
Só gestel klink dit koelbloedig. “Jy maak dit erger as wat dit was. Ek het tien keer verduidelik en gesê ek is jammer.”
“Jammer?” Hy snuif minagtend. “Ons het ’n verhouding gehad, Tinka. Verbrands ernstig! En jy dink een enkele woordjie – net ’n simpel ‘jammer’ – toor als reg?”
“Ek kon stilgebly en net eenvoudig my tasse gepak het,” herinner sy hom. “Dit sou makliker gewees het. Maar ek het moeite gedoen dat jy moes verstaan dis nie persoonlik nie, dis nie jou skuld of jý wat tekort geskiet het nie. Dat dit om meer gegaan het as net ’n ander man wat ek verkies het, dat daar buitefaktore was – omstandighede waaroor ek nie beheer gehad het nie en waarvan ek self ook die slagoffer was.”
“ ’n Onsamehangende gegorrel waarvan niemand kop of stert kon uitmaak nie. Ek was mal oor jou, Tinka, tot oor my ore verlief, en ek het gedink jy voel dieselfde oor my. Maar blykbaar was ek ’n gek in ’n droomwêreld. Dit was nogal ’n skok toe die borrel bars en ek met ’n pletterslag terugkom aarde toe.”
“Ons was jonk, studente … sentimenteel verlief. Te jonk om te weet wat ons wil hê.”
“Jý miskien. Ek was oud genoeg om presies te weet wat ek wil hê, en dit was jy. En jy het dit geweet, want ek het dit vir jou gesê. Ek het jou gevra om te trou, Tinka, of het jy dit gerieflikheidshalwe vergeet?”
Sy byt senuweeagtig op haar onderlip en verwens tant Olga van harte. Sy soek na die hond, hopend hy kan as afleiding dien, maar dié lê omgekantel in die son en het vrede met haar en sy baas se liefdesprobleme.
“Dit was ’n grap,” maak sy dit ligweg af. “ ’n Lawwe, studentikose geterg daardie aand toe julle die intervarsity gewen het en jy vol bier was.”
“Ek was g’n!” stry hy verontwaardig.
“Jy was! Julle het ‘kastele’ en ‘leeuplesier’ en ek weet nie wát als gedrink nie. Dit was ’n lawwe jol waar niemand ernstig was nie.”
“Behalwe ek,” hou hy koppig vol.
“Met ’n bierblik se ringetjie wat jy aan my vinger gesteek het?”
“Dis al wat ek byderhand gehad het, tot ek vir jou ’n behoorlike verloofring kon koop.”
“Franco het ’n hele sák vol blikringe bymekaargemaak vir al die meisies op die pawiljoen wat vir hom gecheer het. Joe wou met alle geweld ’n skootdanser huur, en jy wou trou. Dit was sommer rugbykoors omdat julle gewen het. Niemand het iemand ernstig opgeneem nie.”
Sy gesig is stroef. “Jy het ’n kort geheue, en jy plooi die omstandighede om jou te pas.”
“Nie ek nie, jý!”
Hy vryf moeg met sy hand oor die agterkant van sy nek. “Ek het ’n lang dag in die teater gehad en ek het beter dinge om te doen as om hier soos ’n kind te staan en stry. Wat verby is, is verby. Kom ons los die ou koeie in die sloot. Jy kan die woonstel kry as jy dit wil hê, ek gee nie om nie.”
Hy staan opsy en stoot die voordeur wyer oop. “Kom in, dan praat ons verder.”
Die koeie sal ’n manier vind om self weer uit te klim, weet sy. Die verlede is te rou dat sy en Rheeder normaalweg kan praat. Dit sal net weer in ’n argument ontaard waarin sy die vark in die verhaal is.
Sy bly op die stoep staan. “Nee, dankie. Ek wil nie inkom nie en ek soek nie gunste en gawes nie.”
“Ek bied