kom kuier.
Dit was nie net hy nie, selfs haar pa kon nie tot haar deurdring nie. Dit was asof sy ’n obsessie gehad het, asof sy deur die skepsel gehipnotiseer was. Om sin in haar kop te probeer praat het nie gehelp nie. Hy het probeer en haar pa ook. Albei het hulle teen ’n klipmuur vasgeloop, terwyl sy al verder van hulle weggedryf het. Sy het in ’n kommune saam met Letoit en ’n groep vrydenkers gaan bly wat hulleself as postmodernistiese kunstenaars beskou het.
Tinka het haar kursus in skeppende literatuur cum laude geslaag. In haar honneursjaar het sy met ’n novelle gebaseer op die komplekse liefdesverhouding tussen die digters Sylvia Plath en Ted Hughes ’n beurs gewen van die Societé Française, om vir ’n jaar by die Sorbonne die werke van klassieke meesters te bestudeer. Letoit het familie in Frankryk gehad en sou haar vergesel. Saam sou hulle die Louvre verken, Montmartre en die Notre Dame, en aan die voete sit van meesters soos Jean-Jacques Rousseau, Victor Hugo, Voltaire en Emile Zola.
Dit was die kans van ’n leeftyd. Tinka het op die wolke gesweef en wou na geen raad, waarskuwings of ’n skewe woord oor haar held luister nie. Dis wat die breuk tussen haar en haar pa veroorsaak het: die feit dat hy Letoit as ’n gebruiker beskou het, ’n mísbruiker en ’n manipuleerder.
Rheeder het erger name gebruik: ’n Don Juan, roué en libertyn wat haar hart gaan breek. Name en woorde wat op dowe ore geval het. Sy het geglo hy is jaloers, daarom dat hy die arme, onskuldige Eugene voortdurend gekritiseer het. Sy en Eugene sou hulle almal verkeerd bewys. Hulle gaan idillies gelukkig wees, mekaar inspireer en tot groot hoogtes aanvuur.
Die verskyning van Tinka se droom was die beëindiging van Rheeder s’n. Hy wou met alle geweld agternagaan om haar teen seerkry te beskerm. Sy finale eksamen vir internskap was op hande en hy was platsak, maar hy was bereid om sy kar te verkoop en later ’n her te skryf.
Tinka wou hom egter nie hê nie. Blindederms en galblase was minder romanties as die Champs-Elysées en die Eiffeltoring. Dit het sy duidelik vir hom uitgespel: op ’n bankie langs die Apiesrivier, elke keer wat hy gebel het, en oplaas in ’n lang verduidelikende brief wat verklaar het dat haar gevoel vir hom dood is en dat hy nie vir haar moet wag nie.
3
Rheeder maak die kombuisvenster toe en neem die sleutels wat op die eetkamertafel lê.
“Kom, ek gaan maak vir ons koffie, dan praat ons oor die woonstel.”
Tinka volg hom gedwee verby die jakarandas, die swembad en oor die patio. Hy kyk vlugtig na haar motor en sy wens dit was ’n blinknuwe model wat van welvarendheid getuig, maar hierdie verrinneweerde ou rammelkassie was die beste wat sy kon bekostig. Haar pa het ’n bankrotboedel en ’n swaar skuldlas nagelaat, en sy moes haar spaargeld gebruik om dit te delg. Selfs die huis het ’n derde verband op gehad, sodat dié op ’n veiling verkoop moes word, saam met al die meubels.
By sy voordeur staan Rheeder opsy sodat sy eerste kan instap. Tinka onthou hy het altyd goeie maniere gehad. Hy is nie die geduldigste man op aarde nie, maar al was hy soms woedend kwaad, het hy steeds hoflik gebly. Die enigste eienskap wat hy en Eugene gemeen gehad het.
“Sit,” sê Rheeder in die sitkamer. “Koffie?”
“Asseblief.”
“Sterk, met warm melk?”
Sy glimlag effens. “Jy het ’n goeie geheue.”
Op pad kombuis toe gaan staan hy. “Ongelukkig, ja.”
Sy snap die skimp. “Ek het dit vriendelik bedoel, as ’n kompliment. Dis nie nodig dat jy dit as ’n opening sien om weer die verlede op te rakel nie.”
’n Enigmatiese glimlaggie speel om sy mond en hy stap die gang af sonder ’n verdere woord.
Tinka gebruik die kans om in die sitkamer rond te kyk. Dis netjies en smaakvol, maar kaal. Strak en ongesellig. Sy mis ’n paar helderkleurige kussings op die leerbank, ’n sagte leeslamp en ornamente of potplante. Daar is een skildery teen die muur – ’n Adriaan Boshoff, as sy haar nie misgis nie – maar dit hang simmetries, presies in die middel van die muur. Asof dit uit plig gehang is eerder as plesier.
Sy soek na foto’s op die muureenheid se rakke, maar daar is net boeke en CD’s – al die rye netjies in gelid en onpersoonlik. Nêrens is ’n vrouehand te bespeur in ’n tafellappie, ’n paar tydskrifte of ’n pot met blomme nie. Rheeder se vrou is óf ’n sersantmajoor óf ’n kliniese tegnikus. Welkome afwisseling is Griet, wat bo verwagting in die huis toegelaat word. Sy maak haar tuis op die mat by Tinka se voete en gee haar hand ’n lek.
Tinka vryf haar ore. “Hoe lyk jou nooi?” vis sy uit. “Mooi of lelik? Vet of maer? Gaaf of kwaai?”
Die hond stel egter meer in die voorkoms van die vlooi belang wat sy op haar stert ontdek het.
Rheeder kom in met twee bekers koffie waaruit stoom trek. “Met wie praat jy?”
“Met jou vrou. Sy het ingeloer om my te groet,” antwoord sy sedig.
“Het my vrou ingeloer?” herhaal hy.
“Ja, ons het lekker gesels.”
Hy laat hom nie uitlok nie. Hy gaan sit in die stoel oorkant haar, neem ’n sluk koffie en kyk oor die beker se rand na haar met ’n uitdrukking op sy gesig wat sy nie kan ontleed nie.
Griet flap haar ore en snuffel nog ’n paar vlooie op haar ribbekas uit. Sy kort ’n bad en ’n goeie borsel, dink Tinka.
“Wanneer kom die babas?” verneem sy.
Sy weet nie waaraan Rheeder gedink het nie, maar sy hand ruk en hy stort kokende koffie oor sy broek.
“Dêmmit!”
“Oe, dit brand seker. Kan ek help?” bied sy aan.
“Hoe?” Hy vryf onbeholpe oor sy skoot en kyk vreemd na haar.
Sy besef ook die koffie het op ’n ongemaklike plek gestort en sy sal liewer nie waag om dit te probeer droogvryf nie. Sy onderdruk ’n lag en vra vroom: “Deur ’n lap in die kombuis te gaan haal? En sommer te kyk of die aartappels en pampoen nie dalk brand nie.”
Hy dink nie dis snaaks nie. Hy pluk sy sakdoek uit en vee sy broek droog. “Watse babas het jy bedoel?”
Sy frons, en dán eers kliek sy … Dis snaakser as netnou se koffie oor sy skoot. Haar giggel borrel oor in ’n skaterlag.
Hy lyk agterdogtig. “Wat is die grap?”
“Jy.” Sy neem ’n mond vol koffie. “Wat het jy gedink?”
Hy hou hom dom. “Waarvan?”
“Van die babas. Het jy gedink dis na joune en jou vrou s’n wat ek so voorbarig uitvra?”
Sy wange kry ’n kleur en hy lyk verleë. “Natuurlik nie. Natuurlik het ek geweet dis Magriet s’n wat jy bedoel.”
Tinka besluit om hom nie verder te treiter nie. “Má Griet … Slim van jou. Jy was altyd goed met woordspelings, ek onthou dit.”
Rheeder ontspan effens. Hy kelk sy hande om sy koffiebeker terwyl hy haar onderlangs dophou. Sy is drie jaar ouer as toe hy haar laas gesien het, en drie keer mooier. Met ’n tien keer erger uitwerking op sy hormone as toe hy destyds by die bib rondgehang het. Dêmmit en verbrands! En hy het gedink hy is oor haar en sy is geskiedenis …
Wat het hom besiel om te sê sy kan die woonstel kry? Hy was mal; hy weet mos dis seerkry soek. Net sodra hy nuwe drome begin droom, smyt sy hom weer oorboord vir ’n ander ou. ’n Ander casanova … Waar is die vent in elk geval? Hy wil nie weet nie en hy sal nie vra nie, neem hy hom voor.
Hy dwing sy gedagtes in ’n ander rigting. “Ek het in die koerant van die vliegtuigongeluk gelees, en van jou pa se dood. Ek is jammer.”
“Dankie.”
“Ons twee het goed klaargekom.”
“Julle het, ja.”