Ettie Bierman

Die paradysman


Скачать книгу

het sy aangekondig: “Ek tree af. Almal dink ek is ’n ronde, vet, afgeleefde ou vrou en dis nie waar nie. Dis omdat daar ’n boek binne-in my is dat my midderif so uitbult. Daardie boek gaan nou geskryf word! En ek is g’n afgeleef nie. Catherine Cooksen het op dieselfde laat leeftyd begin skryf en Agatha Christie het op tágtig nog speurrillers soos ’n worsmasjien uitgeryg. Wat baat daardie kursus by die Sorbonne as ek niks daarmee máák nie? Nou is ’n goeie tyd om te begin!”

      Elizabeth se aftrede het saamgeval met Brittanje se koudste winter in twintig jaar. Tinka het chroniese brongitis ontwikkel en haar hande en voete het permanent gevries gevoel. Dit was November, sy was siek en sy het na Koos du Plessis se “Helder Somerkersfees” verlang. Huis toe verlang … Haar pa het oor die foon en in sy briewe depressief geklink.

      Toe kom die vliegtuigongeluk … en ’n tuiskoms veel anders as wat sy haar voorgestel het.

      Hoe het sy gister vir Rheeder gesê? Die lewe loop sy eie draaie …

      Sy sug terwyl sy met ’n terpentynlap verfspatsels van haar nuwe boekrakke afvryf. Daarna hang sy die geel-en-wit ruitjiesgordyn op om die winkel se mikroskopiese kombuisie af te skort.

      “Mooi,” sê ’n diep basstem agter haar.

      Sy hoef nie om te kyk nie. Niemand anders klink soos ’n groot, wollerige beer wat ’n rasper ingesluk het nie. Sy is altyd lus en druk hom tot hy “Uhgg-uhgg!” sê, soos die teddiebeer wat haar pa vir haar van oorsee af gebring het toe sy elf was.

      “Pastei?” bied haar buurman aan en oorhandig ’n papiersakkie.

      “Oe, dankie! Ek’s rasend honger. So besig gewees dat ek vergeet het om te eet. Bedoel jy die kombuisgordyn?”

      “Eintlik jy … Maar dis ook mooi. Die plek lyk soos besigheid. Hoekom maak jy nie sommer vanmiddag al oop nie?”

      Sy lag terwyl sy ’n ry boeke onder die Outobiografieë-bordjie rangskik. “Ek wag nog vir ’n besending skryfbehoeftes, en vanmiddag moet ek trek. My bokse en tasse en goed staan gestoor in die hotel se pakkamer.”

      “Trek? Na daardie cottage waarvan jou aanstaande skoonma gepraat het?”

      “Eks-skoonma,” korrigeer sy.

      “Wat aan jou eks-verloofde behoort?”

      “Eks-kêrel! Dit was sommer net studentelawwigheid, ons was nie ernstig nie. Dit sou nie tussen ons gewerk het nie. Ons belangstellings was te uiteenlopend en ons het gedurig gestry. Soos nou nog steeds. Ons kan nie twee woorde met mekaar praat sonder om te baklei nie. Hy is ’n nare, moedswillige vent en ek is bly ek is van hom ontslae.”

      Methinks the lady protests too much, dink Pete by sigselwers, maar hy sê dit nie. Dis soos tamatiesous op chips om ’n buurvrou te hê wat soos Demi Moore lyk. Hy wil niks doen om sy saak by haar te benadeel nie.

      “Hoe gaan jy die klomp bokse en goed trek?”

      “Met my motor aanry. Twee of drie trips, dan’s ek klaar.”

      “Ons kan dit in een trip met my bakkie doen. Jy weet ek help graag.”

      Sy gee hom ’n druk. “Jy’s ’n skattebol! Ek skuld jou tonne … Sodra ek begin geld maak, koop ek vir jou die grootste kreef of biefstuk wat ek kan opspoor.”

      “Sit dit op papier,” eis hy.

      Sy speel saam, rek haar oë. “Alles wat ek jou skuld?”

      “Nee, net die kreef, plus ’n fliek ná die tyd.”

      “Twee flieks,” belowe sy.

      Pete se fris beerarms maak korte mette van die berg bokse en skilderye en tasse. Hy vind die privaatingang in Mispelrylaan en trek die stertkant van die bakkie teen die voordeur, sodat hulle maklik kan aflaai.

      Binne-in die woonstel gee hy ’n wolwefluit. “ ’n Stuk van Monaco! Hierdie aanstaande dude van jou het baie pitte.”

      Tinka klap met haar hand op die ontbytblad. “Eks-dude!”

      “Wat werk hy?”

      “Hy haal galblase en blindederms uit. Vergeet van hom.” Sy kyk Pete takserend aan. “Foei tog, is jy gedaan en uitgeput?”

      Sy kry die reaksie waarop sy gehoop het.

      Pete bult sy spiere. “Van wat? ’n Paar ou boksies aandra? Ek is nie van jellie gemaak nie. Wat is daar wat ek nog vir jou kan doen?”

      “Wel, siende dat jy so gaaf is om aan te bied … Sal jy gou die paar ou prentjies ophang?”

      Pete gee nie om om gebruik te word nie. Hy wil graag hê dat sy mooi buurvrou hom meer as net ’n kreef skuld. Hy staan op ’n stoel, besig om die Constable-afdruk te hang wat Tinka vir hom aangee, toe Rheeder daar instap met ’n gesig soos ’n donderwolk.

      Hy steek vas en sy oë vernou. Hande op die heupe staan hy en wag tot hulle klaar is. Hy ignoreer Pete en kyk stug na Tinka. “Ek het vroeër vanmiddag gekom om te help, maar jy was nie hier nie.”

      Sy gee hom ’n breë glimlag. “Dankie, dit was onnodig. Pete en ek het reggekom.”

      “Pete?” herhaal hy stroef.

      Pete staan nader en steek sy hand uit. “Van Pete’s Pies, the best in the West!”

      “Naand,” groet Rheeder kortaf.

      “Die dude wat die blase en derms uitslag?” skimp Pete.

      Tinka is seker dit was moedswillig. Sy voel hoe sy bloos. “Dokter Rheeder Vermooten,” stel sy hom teësinnig voor.

      Pete kom staan besitlik langs haar. “Nice plekkie wat jy hier het, dok.”

      Rheeder verwerdig hom nie om te antwoord nie en draai na Tinka. “Ek sal later die wasser kom vervang.”

      “Wasser? Watse wasser waar?” vra Pete dadelik.

      Tinka sien ’n situasie kom en omseil dit. “Ek gaan nie vanaand enige van die kombuiskrane gebruik nie; ek sal sorg dat hulle styf toegedraai bly. Ek merk dis al laat … Sjoe, ek’s kapoet en wil so gou moontlik in die bed klim.”

      Sy het gehoop die twee manne snap die skimp, maar hulle bly staan.

      “Nou ja …” sê sy met ’n onderdrukte gaap en gee ’n tree in die voordeur se rigting. “Nogmaals dankie vir julle hulp.”

      “Het jy lakens en komberse?” vra Rheeder.

      “Sy kan by my kry,” bied Pete aan.

      “Ek sal môre my bokse uitpak, intussen gebruik ek ’n slaapsak,” keer Tinka vriendelik maar ferm. “Ai, ek is regtig uit op my voete …”

      “En kos?” gooi Pete sy stuiwer in.

      “Ek is nie honger nie.”

      “Ek kan vir ons takeaways gaan koop?”

      “Dis nie nodig nie.”

      “Dis nie moeite nie.”

      “My huis is nader,” bied Rheeder aan. “Daar’s volop kos.”

      “Ek wil niks hê nie, dankie.”

      Tinka verwens hulle albei. Uiteindelik stap sy aan die voorpunt, uit by die deur, met die twee manne sleepvoet agterna. Sy loop tot by Pete se bakkie.

      “As ek nie nou in die bed kom nie, val ek om. Nogmaals dankie vir die leen van jou spiere en jou bakkie, buurman. Sien jou môreoggend?”

      Dis so finaal, arme Pete kan aan niks dink om sy vertrek mee uit te stel nie. Hy klim onwillig in en klap die deur toe, maar draai nie die aansitter nie.

      “Het jy vergeet waar die hek is?” verneem Rheeder koelweg.

      Pete gluur hom aan. Met die wegtrek ry hy aspris oor ’n stuk grasperk, voor hy met ’n gebrul van die stukkende uitlaatpyp by die hek uit verdwyn.

      “Nie die beste