’n trekkery is ’n groot storie.”
In die ou dae sou hy aangebied het om te help, dink sy. Nou voel hy seker hy is niks aan haar verskuldig nie, sy moet maar self aansukkel. Sy sál, neem sy haar voor. Sy is mos nie meer ’n tinktinkie met kanariespiere nie. As vroue gelyke regte wil hê, moet hulle leer om dieselfde dinge as mans te kan doen.
By haar motor maak Rheeder die deur oop en wag dat sy inklim. Dan leun hy onverwags deur die venster en trek met sy wysvinger ’n strepie oor haar wang. “Dit was goed om jou weer te sien.”
“Vir jou ook,” antwoord sy sag. Toe ry sy, voordat sy meer sê en ’n gek van haarself maak.
Eers toe die motor se enjin teen die afdraand snaaks begin dreun, kom sy agter sy sit droomverlore met haar hand teen haar wang gedruk, pleks van die ratte te verander. Sy skud ergerlik haar skouers. Ek hoop jy weet wat jy doen, raas sy met haarself. Selfs al het hy nie ’n vrou nie, stel Rheeder lankal nie meer in jou belang nie. Jy het hom afgesê, en hy is nie ’n vis wat twee keer aan dieselfde aas sal proe nie.
Tant Olga het gesê daar was van tyd tot tyd meisies. Hy was selfs ’n keer Mauritius toe saam met een van hulle. Fleur iemand … Hansen of iets, glo ’n fisioterapeut by dieselfde hospitaal as hy.
Dis net normaal dat Rheeder aanbeweeg het, so los jou wang en vergeet hom. Oor ’n maand trek jy uit en dan sien jy hom waarskynlik nooit weer nie. So, konsentreer liewer daarop om loopbaangerig te wees en ’n sukses van jou boekwinkel te maak.
4
Tinka neem haar eie raad ter harte. Die hele volgende dag werk sy saam met die skrynwerker om die laaste boekrakke in die winkel op te sit. Sy sou graag ’n kabinetmaker wou gekry het, maar die kwotasies wat sy ontvang het, was buite bereik van haar tjekboek. So ook die professionele verwers en loodgieters wat geadverteer het.
Haar buurman wat die pasteiwinkel langsaan het, het haar die idee gegee om platsakstudente in te span en hulle te betaal met ’n nominale kontantfooi, vooruitgedateerde krediet, twintig persent afslag op studiemateriaal en as bonus: ’n king-size hoenderpastei van Pete’s Pies, met slaptjips en ’n Coke – ’n plan wat soos ’n bom gewerk het.
Sy het ’n advertensie op die kampus se kennisgewingbord geplaas, en die daaropvolgende langnaweek het sy genoeg hande gehad om die mure ougoud te verf, haar naambord op te sit, ’n tweedehandse kluis en wasbak te installeer en te begin om die kratte vol boeke uit te pak – ou voorraad uit haar en Elizabeth Sutherland se winkel in Londen. Kosbare eerste of genommerde uitgawes, handgetekende en leergebinde eksemplare uit beperkte oplae wat hulle op vendusies, bankrotveilings of uit boedels bekom het. Elizabeth het ’n neus vir winskopies gehad en Tinka het al die fyner kunsies by haar oudvennoot geleer.
Hulle het by die Sorbonne in Parys ontmoet, waar Elizabeth dieselfde nagraadse kursus in kreatiewe skryfkuns geloop het as sy. Ondanks die groot ouderdomsverskil het hulle van die eerste dag af hegte vriendinne geword, wat mekaar oor en weer met werkstukke, opdragte en navorsing gehelp het.
Elizabeth het ’n boekwinkel in Marble Arch gehad, met ’n dakwoonstel wat oor die Teems uitkyk. Toe Tinka een werksvakansie by haar gaan kuier het, was dit asof sy ná ’n lang reis tuisgekom het … Daar het sy geleer wat die woord “bibliomaan” beteken: iemand met ’n fanatiese, obsessiewe liefde vir boeke.
Dit was amper soos ’n dwelm in haar bloed. Sy het dadelik geweet wat sy eendag in die lewe wil hê: ’n antieke boekwinkel soos Elizabeth’s, met die muwwe reuk van perkament, drukkersink en ou leer … ’n Geur lekkerder as Chanel, Estée Lauder of Yves Saint Laurent. Só hemels lekker, dit behoort gebottel te word.
Die naam Katinka’s sal nie werk nie, het sy besef. Haar winkel eendag sal Yesterday’s heet en glanstydskrifte, vakliteratuur, kunsboeke, selfhelpboeke en al die jongste treffers aanhou, maar spesialiseer in skaars versamelaarsuitgawes.
“ ’n Utopie vir ’n bibliomaan,” het Eugene dit opgesom.
Al vals noot was dat Elizabeth nie van hom gehou het nie. “Die koning het nie klere aan nie,” het sy verklaar.
Tinka was nie seker wat sy daarmee bedoel het nie en diep in haar hart was sy te bang om te vra, bang vir wat sy dalk sou hoor. Die krake in haar en haar held se verhouding het toe reeds begin wys, al wou sy dit nie raaksien nie.
Haar ouer vriendin het haar stelling met ’n aanhaling van een van die groot meesters verduidelik: “Daar is baie in Eugene Letoit se filosofieë wat goed en oorspronklik is. Ongelukkig is dit wat goed is, nie oorspronklik nie en dit wat oorspronklik is, nie goed nie.”
Dit was selfverklarend. Daarna het Tinka met nuwe oë na haar held en mentor begin kyk.
Elizabeth was ’n bron van mensekennis waaruit Tinka baie geput het. Europa het haar ook lewenswysheid en visie gegee, sodat sy geleidelik self begin agterkom het dat die wyshede wat Eugene oor eindelose glase rooiwyn uitgeryg het, meesal geleende clichés was. Aanvanklik het dit haar nie gepla dat hy soveel tyd saam met sy boheemse vriende en familie deurbring terwyl die wyn vryelik gevloei het nie, later het dit haar begin hinder en uiteindelik erg geïrriteer. Veral toe sy agtergekom het daar is vroumense by betrokke: blinkoogmeisies wat net soos sy vroeër aan Eugene se lippe gehang het en gedink het hy is wonderlik.
Al het sy kleivoete begin wys, was die heldeverering egter nog steeds daar, want dit was Eugene wat haar skryfdroom vlerke gegee het. Al het die seepbel gebars en die krake groter geword, het die vlammetjie van hul liefde hardnekkig bly flikker. Sy het haar blind gehou vir sy foute en aan haar droom bly klou.
Elizabeth het haar emosies probeer ontleed. “Jy praat baie oor jou pa, Tinka. Oor hoe dikwels hy weg was op sakebesoeke en dan tuisgekom het met ’n wavrag presente: speelgoed vir ’n dogtertjie veel jonger as jy en duur partytjierokke wat drie nommers te klein was, asof hy nie kon onthou hoe oud jy is nie. Maar jy wou nie presente hê nie, jy wou hóm hê – ’n pa van vlees en bloed wat nie altyd op pad was lughawe toe, vergaderings toe, konstruksieaanlegte toe nie. Omdat jy ’n vaderfiguur gemis het, het jy vir ’n ouer man geswig en jou gevoel vir jou pa op Eugene geprojekteer.”
Sy het heftig geprotesteer: “Eugene is ses en dertig, g’n oud genoeg om my pa te wees nie! En hy lyk totaal anders. My pa is donker en Eugene blond. My pa het nooit lang hare gehad nie. Hulle verskil hemelsbreed in geaardheid.”
“Op pad veertig toe is nie bloedjonk nie; hy is dertien jaar ouer as jy. En voorkoms het niks daarmee te doen nie, ook nie persoonlikheid nie. Jy soek nie ’n replika van jou pa nie, net ’n plaasvervanger wat vir jou lief is en vir jou tyd inruim.”
Sy het aanhou teëstribbel, nogtans het dit haar tot nadenke gestem. Eugene was nie meer so betrokke by haar soos op universiteit nie. Hy was afsydig en onbetrokke asof hy – soos haar pa – sy vriende belangriker geag het as vir haar. Hy was ook altyd op pad. Na ’n bistro, ’n brasserie, ’n sypaadjiekafee waar hy en sy wingerdbroers hulle dae omgekuier het.
“Dis breinflos. Ons gooi idees rond, ruil temas uit, plagieer mekaar se koppe,” het hy verduidelik. “Hieruit gaan ’n Nobelprys kom, jy sal sien!”
“En die meisies?” wou sy skepties weet. “Gooi julle dié ook rond en ruil hulle uit?”
Eers het hy haar aantygings afgelag. Maar geleidelik het dit al meer tot bittere rusies tussen hulle gelei. En hulle het uitmekaargedryf.
Aan die einde van haar kursus by die Sorbonne was daar niks wat haar teruggejaag het Suid-Afrika toe nie. Toe haar vriendin se aanbod van ’n vennootskap in Elizabeth’s kom, het Tinka nie geaarsel nie. Dit sou wonderlike ondervinding wees om eendag op terug te val as sy haar eie boekwinkel in Pretoria wou oopmaak.
Eugene het onwelkom gevoel in Elizabeth se teenwoordigheid en het selde kom kuier. En die enkele kere wat Tinka die boottrein oor die Engelse kanaal gehaal het vir Kersfees of ’n feesnaweek, het sy ontuis gevoel in die kommune saam met Eugene se boheemse familie. Die rooiwyn het haar sooibrand gegee en hulle grappe was nie vir haar snaaks nie.
En Eugene het verander. Een oomblik was hy liefdevol, dan weer aggressief en op die verdediging,