Dirna Ackermann

Stormpad na Vadersrust


Скачать книгу

sy gestrand was met ’n gebarste motorband. En sedertdien het hy die lig geword in die kleine Nina se oë.

      “Die kinders is al tuis,” merk Nelia op met meer geesdrif as wat sy die hele oggend geopenbaar het. Sy klim uit en stap na die voorstoep waar die driestuks verskyn.

      Michaela moet haar hart bewaar teen die bitterals wat dit bedreig. Hierdie Sondag stap al na middagete se kant toe en nog nie ’n enkele gram van daardie toegeneentheid is na háár kant toe gegooi nie.

      Sy wip haar skouers om die spanning te verlig, spreek haarself streng aan: Dis nou ook nie nodig om so fyngevoelig te wees nie, Michaela.

      Sy is seker haar ma voel maar nes sy: ongedurig en ontevrede. En dit alles sonder rede. Wel, die sonder rede is nou sy. Haar ma kry duidelik baie swaar in die versengende hitte. En buitendien maak Nina se engelgesiggie poetoepap van enigeen se emosies.

      Die oprit se geteerde oppervlak voel skoon sag onder Michaela se sole toe sy uitklim. Haar ma is baie erg oor klein Nina en sy kan nie help om te wonder hoe Nelia sal optree wanneer haar eie kleinkinders eendag daar is nie.

      “Maak gou, slow coach, dis erg hittig hier buite!” roep Pippie van die stoep se rigting. Michaela wapper-waai ’n slap hand in antwoord.

      Nelia sal vir haar kleinkinders baie lief wees, weet sy – solank die pa van daardie kleinkinders net nie Edward Burger is nie. Daardie man gaan jou nog trane besorg, Michaela. Sy mond en sy oë praat nie dieselfde taal nie, moes sy al meer as een keer aanhoor.

      Sy gaan buk om die immer halsstarrige garagedeur oop te beur toe ’n sterk, bruingebrande arm verby haar skouer kom. “Wag, laat ek help.”

      En daar wip die immer obstinate kontrepsie oop asof sy voortbestaan afhang van seepgladde samewerking. Hy kug. “E … sluit jy van binne of buite?”

      “Binne.” Hulle oë haak skaars voor sy haar kop laat sak.

      “Ek sal toemaak, jy kan net sluit.”

      “Dankie,” mompel sy en glip om die gespierde manslyf in jeans en ’n swart gholfhemp. ’n Vars geur soos dié in ’n vroegoggend-woud is ’n sinlike verleiding. Sy klap die Volksie se deur só hard toe dat die arme rammelkas kreun. Is sy nou gek? Sy het geen idee hoe dit vroegoggend in ’n woud ruik nie.

      Sy ry die skadugevulde garage binne. Sit dan minute net en staar na dansende stofdeeltjies in ’n sonstraal wat sy weg deur ’n skeurtjie in ’n dakplaat gevind het.

      Wát is dit aan Kayne Richardson wat haar so verkeerd opvryf? Sy is dan tog so lief vir die pragtige donkerkop Pepita Ramirez, en dit lyk asof hierdie mansmens haar oë laat blink.

      Pippie se ma, ’n buurvrou en vriendin van Nelia, is dood toe die twee dogters vyftien was, terwyl haar pa hulle reeds ses jaar vroeër ontval het. Met net ’n tante in Kanada, het Pippie by Michaela-hulle ingetrek. En so het hulle twee die traumas en dramas van adolessensie saam-saam deurgemaak. Verlief geraak op dieselfde skoolhelde, saam uitgegaan, saam gelag.

      Uiteindelik ook saam as kelnerinne by dieselfde restourant gewerk, Pepita om vir haar studie te help betaal en Michaela tot tyd en wyl sy iets beters kon kry. Toe Pepita ná ’n onbesonne nag saam met haar eerste groot liefde swanger raak, is daar ook baie saam gehuil, maar vandag lag die saamgeflanste gesinnetjie oor die lig en liefde wat daardie bondeltjie vreugde in hulle huis bring.

      Michaela onthou daardie tye. Met behulp van ’n klein erfenis wat haar ma aan haar nagelaat het, kon Pepita buitemuurs studeer, al het dit bloedsweet gekos met ’n baba tuis. Dit was lang ure by die restourant waar hulle gewerk het en soms nog langer nagte met ’n koliekbaba by die huis, maar ’n jaar gelede het Pippie as modeontwerper by ’n bruidsboetiek in die stad begin werk.

      “Net die eerste stap,” bly sy volhou. Sy droom daarvan om haar eie kinderklerereeks van stapel te stuur.

      Vir Michaela was verdere studie nie beskore nie, want geld was daar doodeenvoudig nie. En al was daar, sou haar ma nie tevrede gewees het met haar dogter se keuse nie. “Die kunste, Michaela, is net vir mense wat nie ’n ordentlike werk kan behou nie,” is elk van haar pogings in die kiem gesmoor.

      Ná ’n lang ruk by die restourant het sy werk gekry by die tydskrif Flair. Aanvanklik heeldag rondgehardloop vir ander se nukke en grille, maar geleidelik gevorder tot waar sy die indiensopleiding aanvaar het wat haar aangebied is.

      ’n Joernalis, het sy met Nelia se goedkeuring besluit, is wat sy gaan word. Maar soos Pepita droom sy tog ook groter. Dalk verslaggewer vir TV-nuus! Of wie weet, selfs eendag oorsee êrens? Dis nou tensy die blonde man in haar lewe haar vra om te trou.

      Michaela strek haar luierig in die bedompige kajuit en druk die deur oop. Bowenal wil sy ’n eie huis en kinders hê. ’n Huis met ’n pa wat vanaand van die werk af kom. Een wat trots sy kind se eerste verfbesmeerde kunspogings teen die yskas sal vasplak. Langs die sportveld sal staan en juig oor sy dogter se besonderse hokkie-aanleg. Haar trofeë sal uitstal en nie in die kas sal pak omdat sy vergeet het om hulle af te stof nie. Wat haar foto op sy lessenaar sal neersit, al is twee voortande afwesig.

      Michaela klim uit en gaap byna van die hitte. In haar is tog ’n gevoel van voldaanheid oor wat die rose van Loepstraat 77 al bereik het. Hulle het meer as een droogte en baie storms oorleef en staan vandag vol in die blom.

      Sy gaan haak die deur, wat intussen van buite toegedruk is, van binne vas. Hanteer die arme slot effe hardhandig. Nou skielik is daar ’n doring tussen die rose en sý het ’n probleem met daardie doring. ’n Yslike probleem.

      Goeie vergelyking, grimlag sy vir haarself. Sy gaan kry haar handsak en Bybel en slaan dié keer die arme Volla se deur dat die stofdeeltjies dwarrelend protes aanteken.

      Ja, haar probleem voel soos ’n ysberg – om dinge nou sommer Titanic-proporsies te laat aanneem. Die deel wat sigbaar is, lyk nou nie eintlik gevaarlik nie. Inteendeel. Maar die deel wat sy nie kan sien nie … dáár lê die ding!

      Kayne Richardson spel gevaar, al kan sy nog nie haar vinger druk op die aard daarvan nie. Dis net hierdie gevoel. Soos radar, of is dit nou eintlik onderwater-sonar? Saak nie maak nie, soos Pippie se ma altyd gesê het, die waarskuwingsklokke lui.

      Boonop kan sy vir die eerste keer in haar lewe nie dit wat pla met haar vriendin bespreek nie.

      Sý wat Michaela Beekman is, is blykbaar die enigste een wat deur hierdie spesifieke doring gepla word. Die ander vroue in die huis is tot oor hulle ore verlief, lyk dit, haar ma inkluis.

      En ten spyte van sy danige hulpvaardigheid weet sy die stekelrigheid is wederkerig. Vandat hulle mekaar die eerste keer in die oë gekyk het. Sy handdruk was ferm, die glimlag om sy mooi mond op die oog af eg, maar die momentele flikkervlam van antagonisme in sy swart blik was onteenseglik.

      Michaela gaan deur die garage die kombuis binne. Sy hoor die gelag in die eetkamer en glip ongesiens na haar kamer. Haar handsak en Bybel land op die bed, haar hoëhaksandale onder die bed en sy skud die bolla in haar nek los voor die spieël. Staan ’n oomblik na haar weerkaatsing en kyk.

      Lank en modelslank, het menige verkoopsdame al vir haar gesê. Te maer, dink sy, maar nie eens sjokoladekoek vir brekfis maak ’n verskil nie. Sy het probeer! Toegegee, sy het darem nooit ’n probleem om klere te kry nie.

      Moet haar pa se gene wees, want haar ma is donker, korterig en, nou ja, ronderig, maar vra gaan sy nie. Nie die moeite werd nie, het ervaring haar geleer. In die geheim het sy wel gesoek, en met die verloop van jare weer en weer gesoek, maar vergeefs. Sover sy kan agterkom, is daar nie eens ’n foto van hom in hierdie huis nie.

      Sy vroetel haar vingers deur die dik, blink stringe op haar skouers, ontknoop ’n kinkel hier en daar. Aarbeiblond, sê die haarkapper wat dit so nou en dan in toom moet hou, met ruiterlik erkende afguns. “Rooiblond” sal die woordeboek dit noem, maar volgens haar ma is dit rooi en klaar!

      Viooltjieblou noem Edward haar oë; pers is Pippie se oorwoë mening. Voeg daarby ’n vol, natuurlike rooipienk mond en poeierfyn sproete oor min of meer haar hele lyf en siedaar, ’n kleurkaart met ’n identiteitskrisis.

      Michaela