Dirna Ackermann

Stormpad na Vadersrust


Скачать книгу

jy kan my maar gerus op my naam noem.” Tik-tik dan met haar servet teen haar mondhoeke voor sy vra: “Waar woon jou ouers?”

      “My pa is oorlede toe ek baie jonk was, maar my ma en stiefpa woon tussen George en Mosselbaai aan die Tuinroete.”

      “Nog mousse vir enigiemand?” beduie Nelia met die bak in die hand, maar dis net sy wat ’n laaste skeppie neem terwyl Pepita trots opmerk: “Kayne se stiefpa is die bekende gholfspeler Darius Jordaan.” Sy glimlag speels vir hom. “Of dan Jordan, soos die wêreldpers hom noem …”

      Nelia se lepel met die happie mousse kletter teen die poedingbakkie se rand. Sjokolade saai in skokbruin spatsels oor die spierwit tafeldoek. Sy snak na asem en vou vooroor.

      “Ma!” Michaela gaan buk vinnig oor haar terwyl Kayne aan die ander kant langs haar stoel hurk en die slap pols tussen sy vingers vat.

      “Haar polsslag is geweldig vinnig,” sê hy.

      “Kry ’n dokter!” beveel Michaela die verskrikte Pippie.

      Maar Nelia beur orent, keer met ’n bewende hand. “Nee, dis nie nodig …” Sy haal diep en sidderend asem voor sy kan verder gaan: “Dis g’n nodig om met ’n dokter te lol nie. Gee my net ’n bietjie water.”

      Dis eers minute later wat sy die ander kan oortuig dat sy nie mediese hulp benodig nie. Met Kayne se ondersteuning kom sy uiteindelik orent. Steeds wasbleek leun sy swaar teen hom. “Dis maar net my hoë bloeddruk …”

      “Hoë bloeddruk is nie iets om mee te speel nie, mevrou. Laat my toe om jou na die hospitaal se noodafdeling te neem. Hulle kan net seker maak of alles in orde is.”

      “Nee, nee!” keer Nelia. Sy vat haar dogter se arm vas en trek heeltemal weg van Kayne, sodat hy half verras agteruit tree.

      “Micha kan my kamer toe help, en ek sal my pille sluk en gaan lê.” Sy kyk na die witgeskrikte Pippie. “Sal jy omgee om op te ruim? Micha kan jou nou kom help.”

      Dit lyk nie eens of sy Pepita se “Natuurlik, tannie” hoor nie, want sy stoot byna haar dogter by die vertrek uit.

      Teen die tyd dat Michaela haar ma in die bed gesit, die kamer op bevel donker gemaak en die deur toegetrek het, bewe sy van skok en frustrasie. Nelia Beekman bly onomwonde seker dat sy op dees aarde niks makeer nie. Sy het mos pille gedrink, al wat sy nou vra is om – asseblief! – net alleen gelaat te word om te rus.

      Pepita sit by die kombuistafel met ’n beker voor haar. Sy staan op en skink vir Michaela ook koffie uit die perkoleerder toe sy binnekom. “Ek het gedink jy sal dalk lus wees. Hoe gaan dit nou?”

      “Dankie, dis net wat ek nodig het.” Michaela sak vermoeid in ’n stoel neer. “Sy slaap, maar ek het my as af geskrik. Dis die ergste wat dit nog was.”

      “Ja,” sug Pippie. “Wat sou gebeur het?”

      “Sy lyk al dae lank nie lekker nie, en die hitte tap haar. Seker maar dit.”

      “Ek het gesien sy lyk moeg, ja. Maar Miekiemuis, jy sal ’n plan moet maak en haar by die spesialis kry.”

      “Hoe? Jy ken haar. As sy nie wil nie …”

      Michaela sluk-sluk aan die geurige swart brousel en sug behaaglik. “Kom ons praat oor iets anders.” Sy ontspan agteroor. “Waar’s die hero?”

      Pippie beskou haar oor die rand van die beker, swart wenkbroue vraend geboog. “Waarom hou jy nie van hom –”

      “Wie sê ek hou nie van –”

      “Komaan!” val Pippie Michaela nou weer in die rede. “Ek’s nie dom nie, en ek het oë. Jy weet …” Sy skommelskud haar beker, haar groengoue oë met die donkerder randjie op die inhoud gerig. “As ek nie van beter geweet het nie, sou ek nogal kon dink julle twee is aangetrokke tot –”

      “Pepita Ramirez!” Michaela se beker land hard op die tafel en sy klad ’n druppel droog met haar vinger. “Pippie Langkous! Jy weet ek sal nooit –”

      “Ho!” Pippie hou albei hande omhoog en die beker kantel. Sy sit dit vinnig neer. “Ek’s jammer!” Sy stoot haar beker eenkant toe. “Kayne het net gou gehelp met die skoonmaak, toe is hy weg. Hy vertrek vanmiddag nog George toe. Hy gaan huis toe vir ’n paar dae – daar is glo sake wat dringend sy aandag nodig het.”

      “Besigheid?”

      “Ek weet nie eintlik nie. Sake met sy pa, het hy gesê.”

      Hulle sit ’n ruk in stilte, elk versonke in haar eie gedagtes, tot Michaela skielik opspring. “Krismiskat! Ek het byna vergeet. Ma het twee tantes genooi vir tee. Ek sal hulle op die een of ander manier in die hande moet kry.”

      Sy gaan spoel haar beker uit. “Ek sal ook vir Edward moet bel. Ons sou saam met vriende uitgegaan het, maar ek kan Ma tog nie alleen laat nie.” Sy keer die beker om op die droograk. “Ek gaan net gou my selfoon soek.”

      Pippie se beker land langs hare en hulle stap saam uit.

      “Ek is jammer ek los jou alleen, maar ek het klaar ander planne gemaak. Sodra Nina wakker is, gaan ons … e … ek bedoel … ek … e …” Sy struikel oor haar woorde én die gangmat, sodat Michaela na haar moet gryp.

      “Julle gaan e …?” frons sy.

      “Ek gaan Nina by ’n maatjie aflaai en dan gaan ek saam met … ’n nuwe vriendin koffie drink.”

      Michaela staar na die gloed op haar maat se wange. Sy wil net daarna verwys toe Pippie vinnig groet en byna op ’n drafstap na haar kamer verdwyn.

      Kruisbeen in die middel van haar bed, selfoon in die een hand en die jongste gemeentebulletin in die ander, plooi Michaela se voorkop steeds in onbegrip. Haar liefste suster-vriendin se gedrag is, om die minste te sê, verdag. Sy staar nikssiende na die papier in haar hand terwyl Pepita se aantyging skielik soos ’n pingpong-balletjie in haar kop rondbons.

      Sý en Kayne … Michaela giggel senuagtig, blaai deur die bulletin. Hoe gouer sy die tantes kontak, hoe gouer kan sy Edward se stem hoor, sy kalmte aanvoel.

      Here, bid sy klankloos terwyl sy skakel, verander tog my ma se hart teenoor hom. Hý is die man vir my.

      2

      “Maar Ma, jy’s steeds asbleek. Ek dink nie dis net bloeddruk nie. Buitendien, Ma weet hierdie was nie die eerste keer dat jy so ’n aanval –”

      “Michaela, ek het my pille gedrink en basta nou! Eet jou pap klaar dat jy jou ry kan kry. Dis Maandag, en jy weet jy moet nog petrol ingooi.”

      Nelia skink vir haar koffie uit die perkoleerder en stap yskas toe vir melk. Sy is gereed vir haar werk as ontvangsklerk by ’n plaaslike skoonheid-en-haarsalon, en soos elke ander weekdag kan jy haar deur ’n ring trek.

      Michaela hap haar laaste bietjie muesli staan-staan en gaan spoel die bakkie uit, sit dit in die droograk. “Nou oukei dan,” brom sy, skielik moeg om te voel asof sy haar kop teen ’n klipmuur stamp.

      “Ek sal later bel om te hoor hoe dit gaan. En,” sy sluk vinnig ’n glas lemoensap, “ek sal dalk ’n bietjie laat wees. Ek ontmoet Edward ná werk vir ’n vinnige koffie, omdat hy vanaand ’n direksiefunksie bywoon.”

      Die noem van Edward se naam kry geen reaksie nie. Michaela kyk fronsend na haar ma, wat net by die kombuisvenster uitstaar. Maar voor sy haar mond kan oopmaak om nogmaals haar kommer uit te spreek, kry sy ’n half afwesige glimlag en ’n wapper van die hand wat beduie sy moet spore maak.

      “Tatta,” gaan piksoen sy haar ma se wang. Sy merk die doodsklem van haar vingers om die koffiebeker, maar besluit om dit daar te laat. Die horlosie beduie in elk geval sy gaan laat wees as sy nie dadelik laat spaander nie. Buitendien, wat kan sy nog sê wat nie reeds tien maal deur haarself en Pippie gesê is nie? Voor haar vertrek om Nina by die kleuterskool af te laai op pad na haar werk, het Pepita ook nog vir oulaas gepleit, maar puur verniet.

      Die