hou. Was dit nie vir die Clearances nie, was ons familie seker nou nog op Mull.”
“Was jy al ooit self op Mull?” vra hy en lig sy swaar wenkbroue.
“Nee, maar ek is van plan om binnekort soontoe te gaan.”
Hulle staar mekaar aan. Uiteindelik verbreek Emile taktvol die gespanne impasse.
“Ons wou eintlik na jou lesing oor skeepswrakke gaan luister, en my vriendin het jou boek daaroor gekoop. Toe lees sy daarin dat jy een van die MacLeans van Mull is.”
“Wil jy nog hê ek moet dit teken?” vra Iain MacLean met ’n skalkse glimlag. “Of is jy nou te kwaad vir my omdat ek ’n Glenbogan MacLean is?”
Marian voel dat sy vuurrooi bloos, maar sy ruk haar kop op en kyk hom vas in die oë. “Ja, teken dit, asseblief. Ek het jou nie bloot kom konfronteer nie. Jy is darem ’n bekende skrywer ook.”
Hy neem die boek en skryf voorin: Aan me. Sinclair, met apologie en ootmoed, Iain MacLean. Hy gee nie dadelik die boek terug nie, maar kyk Marian takserend aan.
“My familie, die Frasers, is ook deur jou familie van Mull af weggejaag,” sê Morag parmantig.
Hy draai na haar. “Om te dink dat ek na Suid-Afrika gekom het, so ver van Skotland, en hier vyande gevind het.”
“Ons is nie regtig vyande nie,” protesteer Morag blosend.
Die vrou by die skrywer lyk haastig en geïrriteerd. “Iain, hier is al weer ’n lang tou mense. Miskien kan jy later weer met dié dames en meneer gesels, as julle ’n probleem uit die verlede moet uitstryk.”
“My agent het gepraat, en haar woord is wet,” skerts hy. “Moenie weggaan nie. Ek praat met julle nadat ek al die boeke geteken het.” Hy draai weg na die volgende persoon.
Hulle gaan staan eenkant en wag. Marian hou die skrywer dop. Hy lyk beleefd en glimlag baie, gesels met mense, maar kyk nooit in haar rigting nie.
Watter indrukwekkende figuur is hy nie … Hoe sal hy lyk in ’n kilt? Die toonbeeld van ’n Highland laird? Hoe lyk die broer? Soos hy?
“Hy wil darem met ons – of liewer, met julle – praat,” merk Emile op. “Hy kon ons eenvoudig geïgnoreer het, of vir julle die koue skouer gegee het. Julle twee het hom sommer kaalkop aangeval!”
Marian antwoord nie. Emile klink afkeurend, asof hy dink sy was onbeskof. Wat sy seker was. Maar daardie aanval het sy namens haar familie gedoen. Die arm mense wat deur die selfvoldane, selfsugtige, ryk aristokrate gedwing is om hulle vaderland te verlaat en ’n heenkome ver oor die see te vind.
“Jy verstaan nie ons agtergrond nie, nè?” kap Morag hom minagtend. Sy kyk na Marian. “Dit was swaar vir ons mense om weggejaag te word, maar ons, hierdie geslag, is beslis beter daaraan toe as wat ons sou wees as ons mense daar gebly het. My pa het altyd gesê die oues gaan dood en die jonges eet brood.”
“Ons is seker beter daaraan toe, maar mens vergeet tog nie sulke onreg nie,” sê Marian.
Naderhand beur die skrywer deur die mense na hulle toe. Sy agent volg, maar sy lyk glad nie gediend daarmee dat hy soveel tyd aan hulle afstaan nie.
“Miskien moet julle julleself weer voorstel,” sê hy. “Julle weet ek is Iain MacLean, en hierdie is Sylvia Daly, my agent.”
“Ek is Marian Sinclair, en hierdie is my niggie Morag Fraser en my vriend Emile Rossouw.”
“Aangename kennis,” sê Emile. Hy skud hande met die skrywer en sy agent en Marian voel verplig om dit ook te doen. Iain MacLean se hand is groot en warm en vou hare heeltemal toe.
Morag lyk vir Marian heeltemal verbluf toe Iain MacLean haar hand skud.
“Ek vra weer eens om verskoning vir my familie se aandeel in die Clearances van die negentiende eeu.” Hy glimlag so mooi vir Marian dat sy amper skaam kry dat sy hom so aangeval het.
“Miskien moet julle op Glenbogan kom kuier,” gaan hy voort. “Dan sal ons probeer vergoed vir die ellendes van die verlede. Ek het hierna ’n toer met baie lesings, en dan is dit winter. Kom in die lente of somer. In die herfs word dit al baie koud – ons kry dan stormwinde uit die Noordpool.”
Marian is nou ook oorbluf. “Ek … wel … ons wou nog altyd graag Mull besoek het, maar miskien moet ons so iets eers behoorlik beplan.”
“Kom dan volgende jaar. Ek is die grootste deel van die jaar in Edinburg, as ek nie op reis is nie. Ek bring hoogstens ses maande per jaar op Mull deur. Ons kry in elk geval altyd toeriste by die kasteel, maar ek vermy hulle. Ons het ook al films daar laat skiet, want die ou kasteel is duur om te onderhou en dit bring groot inkomste in. Het julle Red Isle gesien? Dis deels op Glenbogan geskiet en is gebaseer op my broer Roderick se historiese roman oor Bonnie Prince Charlie en die Hooglanders se opstand teen die Engelse kroon.”
“Ek weet van die film,” sê Marian, “maar ek het dit nie gesien nie.”
“Sal julle ons asseblief nou verskoon?” vra Sylvia Daly, wat haastig lyk. “Ons het ander afsprake en Iain is vol bespreek.”
“Natuurlik,” sê Emile. “Totsiens, mejuffrou Daly, meneer MacLean.”
Tot Marian se verbasing neem Iain MacLean haar hand in albei syne. “Kom na Mull, dalk sal dit helend wees. Raak ontslae van jou vooroordele. Totsiens.”
“Totsiens,” prewel sy.
Hy neem Morag se hande ook en kyk diep in haar oë. “Kom sit die tragedies van die verlede agter jou, mejuffrou Fraser.”
Marian kom agter dat ’n klomp mense hulle aanstaar. Hulle het die hele petalje aanskou en is natuurlik nuuskierig oor die aandag wat Marian-hulle gekry het.
Sy kyk Iain MacLean ingedagte agterna. Sy donker kop steek bo die ander mense uit, en toe is hy weg.
Sy staan daar met die vreemdste gevoel dat sy nou verplig is om so gou as moontlik na Mull te gaan. Iain MacLean was nie eens kwaad nie. Hy het haar en Morag se aanval so menslik gehanteer, so simpatiek. Tog lyk hy allermins na ’n swakkeling wat hom sommer sal laat slegsê.
“Kom af van jou wolk, Marian, die man het verkas,” hoor sy Emile bitsig sê, en sy besef hy is jaloers.
“Ek is terug op die aarde,” reageer sy koel. “Kom ons gaan drink iets.”
Iain MacLean glimlag wrang toe hy van hulle af wegstap. Sowat van aggressie het hy lanklaas beleef. Die meisie is nog besonder mooi daarby met haar kastaiingbruin hare en oë grys soos die Noordsee. Die grys oë het geblits – koue blitse, as so iets moontlik is. Die man is seker haar spesiale vriend. Sy lyftaal het gespreek van beskerming en besitlikheid.
Die lewendige rooikop is oulik, maar nie so mooi soos die ander een nie. Om te dink dat hy nou hier in Suid-Afrika mense moet teëkom wat die MacLeans se familieskandes ophaal en hom daaroor verwyt. Die sondes van die vaders rus vir hulle op die skouers van die nageslag.
Hy skud sy skouers ergerlik. Dit het selfbeheersing gekos om hulle nie voor al daardie starende mense kort te vat nie.
“Vertel my meer van dié Clearances waarvan julle twee Iain MacLean beskuldig het,” vra Emile toe hulle met stomende koppies cappuccino by ’n restourantjie sit. Hy laat sy derde pakkie suiker deur die skuim sak en proe behaaglik aan die koffie.
“Dis iets wat altyd ’n emosionele saak sal bly vir die mense van die eilande en die Hooglande,” sê Marian. “Ons mense het geboer op Glenbogan en daar was ’n groot gemeenskap. Toe ontdek die landlords dat Cheviot-skape goed aard op die eilande en dat daar groot geld te maak was. Die destydse laird was getroud met ’n Engelse gravin, en hulle sê sý het hom beïnvloed om sy ongewenste huurboere of pagters en masse uit te dryf. Die arme mense het langs die kus gaan woon en probeer lewe van visvang en die maak van wier-as vir glasblasery. Of hulle het per skip na Glasgow gegaan, waar hulle in die slums beland het, of anders is hulle oorsee na Amerika, Kanada, Australië en selfs Suid-Afrika. My oupa het my vertel dat daar slegs ruïnes oorgebly