’n vertroulike, byna skelm uitdrukking.
“Dis nou vir jou ’n interessante spul mense, dié MacLeans. Die ongeluk het hulle ook al bloots gery. Hulle oupa was ’n kolonel in die Argyll and Sutherland Highlanders en hy is sleg gewond in die Tweede Wêreldoorlog. Hy het eintlik ’n halwe man teruggekeer. Gelukkig het hy al ’n seun gehad, Roderick senior. Dié was nou vir jou ’n harde man. Die MacLean-mans was nog altyd almal besonder aantreklik, en sjarmant op die oppervlak, maar hard en ongenaakbaar. Die kolonel se arme vrou het glo by die trappe afgeval in een van die torings van die kasteel en haar nek gebreek. Mense het geskinder dat dit nie ’n ongeluk was nie. Hy is kort daarna self dood.”
“Hemel, dis vreeslik,” sê Marian geskok.
“Skinder die mense baie hier?” vra Morag.
“Almal wil altyd alles van ander weet. Ons is maar ’n klein bevolking, en die doen en late van die hoëlui interesseer almal. Daardie Iain MacLean is ook so roekeloos, ek hoop nie hy kom iets oor nie. Roderick moet alles aan die gang hou, maar Iain is die playboy. Ag, maar ek praat nou gans te veel. Kom ek gaan wys waar julle die motor kan kry. Ek verwag my kollega enige oomblik, maar ek wil nie die kantoor te lank onbeman laat nie.”
3
Marian en Morag vind die klein geel Morris Minor waar mevrou Fraser beduie het.
“Oulik, maar oud, baie oud,” merk Morag wrang op. “Eintlik bejaard.”
“Ek hoop dis regtig padwaardig,” mompel Marian, want sy sien roeskolle. Die voertuigie lyk beslis asof hy beter dae geken het.
“Ons kan nie ’n gegewe perd in die bek ruk nie,” sê Morag. “Ons kry dit mos verniet, en ons moet dankbaar wees.”
“In die bek kýk, niggie, en ons ís dankbaar. Ek het die sleutels, dus sal ek bestuur.”
Binne is die motor duidelik baie oud en die sitplekke is verslete, maar toe Marian die enjin aanskakel, vat dit gelukkig dadelik. Sy ry terug na die hotel en parkeer voor die ingang. Hulle gaan betaal hulle verblyf en kry hulle rugsakke, wat hulle op die agtersitplek inlaai, want die kattebak is te klein.
“Ek doop jou Katonkeltjie,” sê Morag toe sy inklim. “Iets soos jy het te veel persoonlikheid om anoniem te bly.”
Hulle ry by die dorp uit en neem eerste die pad na die noorde.
“Daardie klomp MacLeans klink maar na ’n vreemde lot, met duistere verledes,” merk Morag op. “Dit maak hulle natuurlik net meer fassinerend.”
“Inderdaad. Dit lyk asof hulle al baie tragedies beleef het. Dalk is dit hulle straf, tot in die derde of vierde geslag, vir die sonde van die Clearances.”
“Ag, ek wil nie nou aan lelike dinge dink nie. Is dié plek nie absoluut stunning nie? Die berge, heuwels, lochs en kus. Al die voëls. Die wilde glens, die heide, die varings. Dis so waterryk ook.”
Marian kyk vlugtig by die venster uit. “Die skoonheid van die omgewing moes dit vir die mense wat hier weggejaag is ’n dubbele verlies gemaak het. Verloor jou tuiste en verloor die skoonheid van dié landskap. O, die son verdwyn agter ’n wolk. Dit word sommer dadelik grou. Ek hoop die reën bly weg, want die pad is nie van die beste nie.”
Marian maneuvreer die dreunende klein motortjie oor die smal eenbaanpad en dink dat dit moeilik sal wees as ’n toerbus nou uit die teenoorgestelde rigting sou aankom. Daar is net plek vir een motor op dié pad.
By ’n hoë waterval, Eas Fors, een van die plekke wat mevrou Fraser aangedui het, hou hulle stil en kyk rond. Die wolke pak egter saam en dis koud. Hier is die bome krom en windverwaai.
Vervolgens ry hulle na die dorpie Dervaig. Mevrou Fraser het ’n mini-Stonehenge daar naby gemerk.
“By Dervaig was die ergste Clearances,” merk Marian op. “Dit spook seker hier.”
Hulle soek die afdraaipad na die klipstapels en kry dit naderhand, maar ry deur ’n denne- en sparrebos wat baie nat is, sodat die motortjie vreeslik spring en slinger.
“Daar voor staan dit, in die ooptetjie,” roep Morag en wys met haar vinger.
Hulle ry tot naby. Sy lees in die brosjure. “Dié goed is veronderstel om drie duisend vyf honderd jaar oud te wees en hier is maar net twee regop klippe. Dis nie naastenby my idee van ’n Stonehenge nie.”
Hulle klim weer uit en loop rond, maar dit begin saggies reën en hulle klim terug in die motor.
“Ag nee, ek hoop die weer gaan ons nie in die steek laat nie,” kla Morag. “Dis so mooi hier, maar dit kan so miserabel raak as dit onweer is. Die plek sal die ene modder en mis wees.”
Hoe verder hulle ry, hoe harder reën dit. Marian klou aan die stuurwiel vas om die motor in die pad te hou. Die ruitveërs is nie baie doeltreffend nie en die deur aan Morag se kant lek, sodat sy haar voete vies uit die pad moet hou.
“Ek moet probeer voet in die hoek sit dat ons die kasteel gou bereik,” sê Marian. “Ons moet maar anderdag as die weer verbeter het na die Glengorm-kasteel gaan kyk. Ek het nie volle vertroue in dié karretjie nie. Hy laat ons dalk in die steek.”
“Asseblief, Katonkeltjie, moenie vir ons ou tweetjies in die steek laat nie,” bid Morag met haar hande bymekaar.
Marian lag, maar op daardie oomblik kom ’n rooi voertuig van voor af oor die bult en jaag op hulle af. Morag gil, en Marian probeer die motor uit die pad kry, maar dit gly.
“Padvark!” roep sy, en sien net hoe die rooi motor wegraak in die truspieël, asof hy nie eens gesien het dat hy hulle skoon van die pad af gery het nie.
Hulle het net ’n ent verder aangesukkel toe die Morris se enjin meteens vrek. Oor en oor probeer Marian dit aan die gang kry, maar dit huil net, en naderhand is dit stil.
“Liewe hemel, hier sit ons, en Donald se gegewe perd wil nie verder nie,” sê sy moedeloos.
Morag se oë is groot. “Moet ek probeer stoot?”
“Nee, dis koud en nat. Ek wil nie hê jy moet longontsteking kry nie. Ons is mense uit Afrika, onthou. Nie gewoond aan dié klimaat nie. Ons moet maar wag totdat iemand verbykom en ons hopelik help.”
“Ag ja, nou dink ek aan daardie lekker sop van gisteraand. Die enigste eetplek voor Glenbogan is die Calgary Hotel, maar daarvan kan ons vergeet.”
Sy hou ’n vinger in die lug. “Wag, ek het mos gedoen wat my pa my aangeraai het om te doen: hou altyd ’n heupflessie vol whisky by jou vir noodgevalle.” Sy lag en vroetel in haar sak, haal die silwer flessie te voorskyn en bied vir Marian aan.
“Dis bietjie vroeg in die dag vir suip, maar dit sal ons verwarm,” sê Marian. “Ek kry klaar vreeslik koud. Ons wou mos in die herfs kom, en nie in die somer toe ons nog die ceilidhs en die Hooglandspele kon gaan kyk het nie. Ek wil lankal sien hoe een van dié fris Hooglanders toss the caber.”
Sy neem ’n groot sluk en die weldadige hitte sprei deur haar. Morag neem die flessie en sluk ook.
“Moedersmelk, lewensredder – die naasbeste ding aan ’n St Bernard-hond met ’n kraffie brandewyn om sy nek wat jou in die sneeu kom red. Haai! Daar’s nog ’n voertuig.”
Sy gee vir Marian die flessie, spring uit en waai met albei arms. Die groot grys Land-Rover ry stadig verby, maar toe hou dit stil, ry agteruit en parkeer langs die pad.
Marian trek haar kappie oor haar kop en klim ook uit. Die bestuurder van die ander voertuig het uitgeklim en kom nader. Dis ’n baie groot man in ’n parka, met stewels aan sy voete. Hy het ook sy kappie oor sy kop.
“Hallo!” roep sy. “Dankie dat jy stilgehou het. Ons motor het gaan staan.”
Hy kom tot by haar en haar hele lyf word lam toe sy die gesig onder die kappie herken, die blougrys oë wat haar deurborend aankyk.
“Ek sien so. Nie juis ’n betroubare motor vir Mull se paaie nie. Waar kom vreemdelinge