André le Roux

Kan ek maar aan jou selluliet vat?


Скачать книгу

ná ’n rukkie … wat gebeur? Die effek neem af en die wenner maak dom finansiële besluite.

      Dus: Wanneer die aandelemark styg, styg die makelaars se testosteroonvlakke. Wanneer die mark val, styg net hul kortisoonvlakke, hulle raak gestres. En niemand kan rasionele besluite neem nie. (Kies dus vir jou ’n aandelemakelaar wat sy stresvlak kan beheer.)

      ’n Hoë testosteroonvlak is al in verband gebring met impulsiewe besluite, swak akademiese prestasie, en ongeduld, selfs psigopatie. In ’n studie in 2006 is bevind dit kan breinselle doodmaak.

      Daardie onaangename vent se testosteroonvlak is gewoonlik hoog. Jy gaan nie weet of sy testosteroonvlak “abnormaal” hoog is nie. Sê nou hy’s ’n psigopaat? Maar jy gaan jou nie steur aan wat mense sê nie (pienk-lens-effek). Kan hulle nie sien hy’s net die stil, sterk tipe nie?

      Sielkundiges sê jy moet dus dophou hoe ’n man mededingende situasies buite jul verhouding hanteer. Hy gaan dit binne die verhouding voortsit. En manlike oorheersing in ’n verhouding kan die magsbalans versteur en probleme skep. Dit word al hoe meer sosiaal onaanvaarbaar. Magsbalans in ’n verhouding is inderdaad bevorderlik vir harmonie. (Ook ’n wanbalans kan goed wees – jy moet alles doen en hy sit voor die TV, baie patriargaal – mits dit deur albei partye so aanvaar word.)

      Volgens ’n Britse studie (2009) het testosteroon dalk net ’n slegte reputasie dat dit aggressie aanhelp. Dis eintlik ’n “regverdige” hormoon wat eerder daarop ingestel is om ’n man se status te bevorder. Die navorsers het bevind mense tree aggressief op omdat hulle dínk dis weens testosteroon: Vróúe is ekstra testosteroon gegee en ’n kontrolegroep net plasebo. Hulle moes geld verdeel. Vroue met die ekstra testosteroon het die geld regverdiger verdeel. Die plasebo-groep was aggressiewer en het die geld deurgaans onregverdig verdeel.

      Die eerste groep vroue is direk gevra hoe testosteroon hul gedrag verander het. Die meeste het gesê dit het hulle aggressiewer en antisosiaal gemaak, maar dit was die plasebo-groep wat aggressief en onregverdig was. Testosteroon dra dus ’n persepsie van aggressie omdat almal weet dis ’n manlike hormoon en mans word met aggressie geassosieer.

      As jy testosteroon in aksie wil sien, gaan na ’n rugbywedstryd – en kyk na die pawiljoen. Vrouetoeskouers het inderdaad ook ’n bietjie testosteroon, maar mans het 40 tot 60 maal meer. En dit is so dat mans se seksdrang hoër as vroue s’n is, was nog altyd so gewees vanweë die testosteroon. (Mans het op hul beurt ook ’n bietjie estrogeen.)

      ’n Man se testosteroonvlak is op ’n hoogtepunt in sy adolessensie en vroeë volwasse jare. Sy ereksie is so sterk dit kan meubels verskuif (hoewel dit baie vreemd sal lyk). Seks gaan nooit weer so snaarstyf wees soos toe hy 20 was nie. Party bronne sê 18, ander 22. Dis wanneer ’n man se testosteroon op ’n hoogtepunt is. Terwyl ’n vrou se hoogtepunt eers hier rondom 30 kom.

      Jy’t in elk geval heelwat minder testosteroon nodig as hy om die lewe te geniet. By jou is daar ook estrogeen en progesteroon betrokke, tipies vroulike hormone. En eksperimente met testosteroonplakkers om Viagra vir vroue te vind is daarop gemik om jou sogenaamde hipoaktiewe seksuele-begeerte-steurnis (HSBS) te verbeter.

      “Ek’s nie lus nie, man!”

      Die definisie van HSBS is min of meer: ’n Gebrek aan of afwesigheid van seksuele fantasieë en begeerte om seks te hê oor ’n tydperk. Al hoe meer navorsing word gedoen oor sogenaamde flibanserien om Viagra vir vroue te vind. Dis ’n middel wat ontwikkel is teen depressie, waarvoor dit toe nie gewerk het nie. Maar toe kom hulle agter dit help vir vroue met ’n lae libido.

      Blykbaar sukkel 1 uit 10 vroue, selfs 1 uit 3, daarmee. Weer eens wissel die statistieke. ’n Vrou se seksdrang wissel vanselfsprekend na gelang van haar ouderdom, pre- of postmenopousaal.

      ’n Meningspeiling in Londen (2003) het getoon 40% van vroue het HSBS, maar vir net 25% van daardie vroue was dit ’n probleem. Die res het nie omgegee nie, of hulle het eenvoudig daarby aangepas.

      ’n Man se testosteroon kan gemeet word in minute: Sit ’n man in ’n vertrek saam met ’n vrou wat hy nog nie vantevore ontmoet het nie, selfs al vind hy haar nie juis aantreklik nie, en in net 4,9 minute skiet sy testosteroonvlak gemiddeld met 8% op, volgens Hollandse navorsing (2008). In daardie 4,9 minute het die man se skouers skielik netjies agteroor gestrek, hy staan mooi regop, maag in, en hy beduie met sy hande. (Seker om sy punt te bewys.)

      Ander navorsers meen die styging van testosteroon in ’n man se speeksel wanneer hy ’n aantreklike vrou sien – sy mond begin letterlik water (bl. 24) – is vanweë natuurlike feromone.

      Gelukkig is ’n snaarstywe ereksie – wat meubels en berge kan versit – nie nodig vir bevredigende seks nie. Styf is goed genoeg, maar dan moet dit behoorlik styf wees. Die wêreldwye Pfizer Global Better Sex Survey (GBSS, 2006) het ’n verband agtergekom tussen die hardheid van ’n ereksie en bevredigende seks – hoe stywer hoe beter vir man én vrou. (Pfizer is die farmaseutiese maatskappy wat onder meer Viagra maak.)

      En volgens 91% van mans en 85% van vroue in die studie, wêreldwyd, is goeie seks noodsaaklik vir ’n goeie verhouding.

      Mite 11: Mans dink elke 7 sekondes aan seks

      Wie’t getel?

      Natuurlik dink hy elke dag aan seks, dikwels meer as een keer, soms heeldag lank in sy jeukerige adolessentejare met ’n oordosis testosteroon en drome oor sy Afrikaans-onderwyseres.

      Maar elke 7 sekondes?

      Dis voltyds!

      Dié 7-sekonde-mite – waar dit vandaan kom, weet niemand nie – is inderdaad deur navorsing verkeerd bewys. Volgens die Kinsey-instituut in Amerika (genoem na die beroemde seksnavorser Alfred Kinsey en sy span, wat baanbrekerswerk in die 1940’s en 50’s gedoen het), dink meer as 50% van mans elke dag aan seks, meer as 40% ’n paar keer per week of per maand, en 4% een keer per maand of minder.

      Die plaaslike Health24-meningspeiling van 2009 het getoon die meeste mans (65,8%) dink elke dag aan seks terwyl die grootste groep vroue (41,8%) elke week daaraan dink.

      Dis ook bevind 91% van mans het seksuele fantasieë, gewoonlik oor seks met hul eie maat of met ’n vorige maat. Trouens, navorsing in 2004 het getoon mans se seksuele fantasieë draai dikwels om die plesier en bevrediging van hul eie maat.

      (En jy’t gedink hy sit en bespiegel in sy kop oor die buurvrou?)

      11. Wat steek dan nou hier kop uit?

      Só werk ’n ereksie

      I wonder why men get serious at all. They have this delicate, long thing hanging outside their bodies which goes up and down by its own will. If I were a man I would always be laughing at myself.

      – Yoko Ono

      Die boodskap kom reguit van sy brein af en skiet deur na die senuwees in sy pelvis: Jy hou van wat jy sien, sê sy brein, maak jou gereed vir genot. Sonder hierdie breinboodskap, en testosteroon, sal daar nie ’n ereksie wees nie.

      Daar is twee soorte.

      1. ’n Refleks-ereksie gebeur onwillekeurig wanneer die penis aangeraak of gestimuleer word. Senuwees in die onderste gedeelte van sy rugmurg is betrokke. Dit gebeur ook wanneer ’n man slaap, drie tot vyf keer per nag. Daar word bespiegel ’n vol blaas kan die oorsaak wees. Hy kan selfs ejakuleer, die sogenaamde “wet dream” of nagtelike ejakulasie, wat veral vanaf puberteit algemeen gebeur vanweë verhoogde hormoonvlakke – met die bekommernis dat sy ma dit gaan agterkom aan sy nagklere. Hy self kom dit eers agter wanneer hy wakker word. (Jy kan ook nagtelik ejakuleer wanneer onwillekeurige vaginale lubrikasie in jou slaap plaasvind.)

      2. Die sogenaamde psigogeniese ereksie is ’n reaksie op erotiese of emosionele stimulasie en vind plaas in die limbiese stelsel.

      Salpeteroksied word afgeskei (pure perd), wat die gladdespiere in die drie sponsagtige penisbuise of -kamers (met erektiele weefsel) laat ontspan sodat die buise oopgaan. Die eerste twee buise is die corpora cavernosa en die derde een die corpus spongiosum. Die corpora cavernosa lê weerskante van die corpus spongiosum met die uretra in die middel. Wanneer