André le Roux

Kan ek maar aan jou selluliet vat?


Скачать книгу

of rotsklim, kan die fenieletielamien julle minder bang en heelwat nader aan mekaar laat voel … van opwinding. Trouens, enige aktiwiteit wat julle saam laat lag of bang maak (’n rillerfliek), wat jul liggame fisiologies opgekikker laat voel, gaan julle nader aan mekaar bring.

      Twee Kanadese sielkundiges, Donald Dutton en Arthur Aron, het dié effek reeds in 1974 op ’n hoë, smal, wankelrige hangbrug met lae handrelings bokant die Capilano-canyon in Vancouver getoets, die sogenaamde Capilano Suspension Bridge Experiment. Mans tussen 18 en 35, wat sonder vrouegeselskap en niksvermoedend oor die brug geloop het, is halfpad deur ’n aanvallige vrou voorgekeer met die verskoning dat sy navorsing oor mooi plekke doen. Elke man moes ’n paar vrae beantwoord en die aanvallige vrou het haar telefoonnommer vir hulle gegee “ingeval julle later vrae het”.

      Die hele storie is herhaal op ’n stewige, lae bruggie as kontrole. Geen fisiologiese opkikkering of opwinding nie.

      Mans wat die vrou op die wankelrige brug raakgeloop het, het haar aantrekliker gevind as dié op die stewige brug. Hulle was ontvankliker vir haar. Volgens die sielkundiges se interpretasie: Die man voel liggaamlik opgewerk, emosioneel wakker, maar weet nie hoekom nie. Dan sien hy ’n mooi vrou en dink: Daar’s die rede …

      Sowat die helfte van dié mans het die vrou later gebel, terwyl net twee uit die sestien mans op die stewige brug die moeite gedoen het.

      Dopamien.

      Die sielkundiges het die eksperiment voortgesit deur mense vir tien minute op een plek te laat draf, en ander te laat stilsit. Vir die drawwers was mooi mense op foto’s aantrekliker as vir die stilsitters.

      En ons weet ook oefening laat jou sexy voel …

      Nes ’n ywerige woelmuis.

      8. Dit raak net al hoe beter

      Die tweede en derde stadium van die liefde

      True love comes quietly, without banners or flashing lights. If you hear bells, get your ears checked.

      – Erich Segal

      En toe, op ’n dag, kom julle agter julle kan nie heeldag in mekaar se oë sit en kyk nie, die huur moet betaal word. Die romantiese fase, die verliefdheid, die wittebrood is verby.

      Volgens ’n Britse studie (2008) duur die wittebroodfase gemiddeld 31 maande en 25 dae. Dan skop die werklikheid in en julle begin voel julle word wedersyds nie meer so baie gewaardeer nie.

      Wat nou? Waar’s die dopamien?

      Toemaar, dis nog als daar. Net beter, want verliefdheid het liefde geword. (Of julle los mekaar, dit werk toe nie so lekker nie.) Die dopamien en serotonien het gestabiliseer terwyl die oksitosien en vasopressien styg. Julle sou gesukkel het om “normaal” te funksioneer as die verliefdheid vir ewig moes aanhou – al daardie hormone in die brein wat julle net op mekaar laat konsentreer, die res van die wêreld kan maar vergaan.

      Wel, die wêreld het nie vergaan nie en het ook nie vir julle gewag om by te kom nie, maar welkom terug met jul voete op die aarde. Julle is kalmer, sekerder van mekaar en julself.

      Die verhouding verdiep, foute en al (sy krom neus).

      Dis ’n groot stap vorentoe, want dit beteken die verliefdheid het nie oorgewaai nie. Julle weet nou liefde, koue water en kaas is nie meer genoeg nie. Julle begin realisties raak en dink aan die dag van môre.

      “Jou neus is so … manlik.”

      Die pienk lens het effens aangeslaan, maar julle sien mekaar steeds in ’n positiewe lig. Dis iets waarop julle ’n langtermynverhouding kan bou. Dis die tweede stadium van die liefde.

      Die eerste twee stadiums kan oorvleuel, maar dit oorvleuel al hoe minder hoe dieper julle die verhouding inbeweeg, tot net die derde stadium – en natuurlik die liefde self – oorbly.

      Dis die langtermynstadium: Nou is julle verbind tot mekaar. Oksitosien en vasopressien speel steeds ’n rol. Dit bind julle steeds ondanks verskille. Dis ’n wonderlike, tevrede gevoel van behoort.

      Ondertussen gebeur die lewe …

      Helen Fisher (2004) beskryf die drie stadiums van die liefde as:

      1. Wellus (libido)

      2. Aantrekkingskrag (romantiese liefde)

      3. Verbintenis of gehegtheid (attachment, langtermynliefde)

      In geen bepaalde volgorde nie, want die liefde, sê sy, kan in enigeen van dié drie stadiums begin. Die libido (seksdrang) sorg dat julle voortplant, maak nie saak met wie nie, terwyl romantiese liefde julle op net een maat laat fokus. Dan volg die langtermynverbintenis – as albei nog belangstel – om die kinders saam groot te maak.

      Let wel: Wellus is nie negatief nie. Die sinoniem is begeerte. Jy’s lus vir jou maat en soms lus vir iemand anders. Wat normaal is. Sonder die wellus sou julle waarskynlik nooit bymekaar uitgekom het nie.

      Desmond Morris het gereken alle nuwe verhoudings gaan deur twaalf stappe tot by seksuele intimiteit: a. Eers kyk julle na mekaar se lywe (“Eye to Body”), dan b. kyk julle mekaar in die oë (“Eye to Eye”), dan c. praat julle met mekaar (“Voice to Voice”), dan d. hou julle handjies vas (“Hand to Hand”), dan e. sit julle jul arms om mekaar se skouers (“Arm to Shoulder”), dan f. om die middellyf (“Arm to Waist”), dan g. soen julle (“Mouth to Mouth”), dan h. vat julle aan mekaar se koppe (“Arm to Head”), dan i. aan mekaar se lywe (“Hand to Body”), dan j. soen hy jou borste (“Mouth to Breast”), dan k. raak julle aan mekaar se geslagsdele (“Hand to Genitals”), en dan eers l. het julle seks (“Sexual Intercourse”).

      Moenie die proses aanjaag nie, en moenie stappe oorslaan nie, volgens Morris, anders gaan die verhouding nie op lang termyn hou nie. Die ruikery aan mekaar (bl. 26) is nie een van sy stappe nie.

      Fisher het voorts ook vier persoonlikheidstipes onderskei en elkeen verbind aan ’n hormoon:

      1. Ondersoeker (explorer) – dopamien

      2. Onderhandelaar (negotiator) – estrogeen

      3. Beheerder (director) – testosteroon

      4. Bouer (builder) – serotonien

      Die eerste soort, Ondersoekers, soek opwinding, neem risiko’s, is spontaan, impulsief, nuuskierig, kreatief en word aangetrek deur mense soos hulself, het Fisher dit verduidelik in ’n TV-onderhoud wat op Carte Blanche (M-Net, 2010) uitgesaai is. Dus dopamiengedrewe.

      Bouers is tradisioneel, versigtig maar nie vreesbevange nie, kalm, sosiaal, lojaal, konsensieus, religieus, meer konserwatief, familievas, sosiale netwerke is belangrik. Dus serotoniengedrewe. Hulle word ook aangetrek deur mense soos hulself.

      Die ander twee persoonlikheidstipes trek teenoorgesteldes aan. (Ander navorsers wil dit hê dat teenoorgesteldes mekaar nié aantrek nie, julle soek inderdaad dieselfde kenmerke in mekaar as wat julle in julself sien.)

      Beheerders, volgens Fisher, is analities, logies, sterk, beslis, gefokus, weet wat hulle wil hê en word aangetrek – en andersom – deur die Onderhandelaar. Laasgenoemde is emosioneel ekspressief, altruïsties, idealisties, sien die groter prentjie raak, is intuïtief, het goeie menseverhoudings, goeie verbale vaardighede.

      Liefde, sê Fisher, is “die belangrikste ding wat mense doen”.

      Breinskanderings in ’n studie (2004) het getoon in die vroeë stadiums van verliefdheid verskil die breine van mans en vroue. Mans se breine het meer aktiwiteit getoon in daardie deel verantwoordelik vir die visuele en vir ereksies. Vroue se breine was meer begaan oor geheue, wat Fisher laat dink het dis belangriker vir vroue om te onthou watter mans het oor ’n tydperk bewys hulle sal daar wees om te help kinders grootmaak.

      Nou begin die mites opstapel …

      Mite 2: Wanneer twee mense trou, word hulle een

      Though marriage makes man and wife one flesh,

      it leaves ’em still two fools.

      –