André le Roux

Kan ek maar aan jou selluliet vat?


Скачать книгу

sien), kan julle die tweede toets dop sodra julle jul monde oopmaak.

      In so ’n hoë estrogeen-stemmetjie kom dit: “Ek hou nie van pizza nie.”

      “Hoe bedoel jy jy hou nie van pizza nie?” (Diep stem.)

      “Pizza gee my sooibrand.”

      “En braaivleis?”

      “Braaivleis laat my hik.”

      “Rugby?”

      “Is barbaars.”

      Die brein is doodstil, niks gebeur nie, die hormone hiberneer of fibrilleer soos ’n ongesonde hart. Maar as julle albei hou van wat julle sien en hoor, kan julle aangaan na ruik en voel …

      “Jy’t so ’n pragtige mond, ek wil aan jou lippe hang! Jy’s seker nie van hier rond nie? Pofadder, kan jy nou meer? Ek’t ’n tante Joan wat daar woon. Sy’s baie ryk, ’n stuk of ses plase in die omgewing.” (As jy nog nie weggehardloop het nie …)

      Om te spog met ’n ryk tante is een van die swakste aanlê-sinne. Die beste een is aangewys op ’n wetenskapfees in Skotland (2006): “Waarvan hou jy op jou pizza?” Dit gee julle kans om oor iets te gesels.

      Toevallig het ’n Amerikaanse neuroloog (2005) bevind die geur van kaas-pizza verbeter die bloedvloei na ’n man se penis met 5%, springmielies met botter op met 9%, en laventel en pampoentert albei met 40%. Laasgenoemde twee geure laat ’n vrou ook nie koud nie, maar die geur van drop of liquorice saam met die geur van komkommer (omdat dit fallies is?) laat meer bloed na haar vagina vloei. Drop doen dit ook vir ’n man (13%), en gekombineer met die geur van oliebolle verbeter dit tot 32%.

      “Ek ruik doughnuts!”

      Die hormone begin bruis, tintel en tuimel.

      “Wat gebeur met my? Ek het nog nooit so gevoel nie!”

      “Ek ook nie!”

      Adrenalien sit jou hart op loop, verhoog jou bloeddruk en sit ’n blos op jou wange. Dit maak jou so “wakker”, dit voel of jy aan adrenaliensport deelneem. Jy konsentreer goed, jou korttermyngeheue verbeter dadelik, jy’s doelgerig – maar kan nie slaap nie. Jou eetlus neem ook af. In dié stadium is koue water en ’n stukkie kaas ’n volledige ete. Of julle voer mekaar stukkies pizza of tjips.

      Kos speel inderdaad ’n belangrike rol in ’n vryery. Sodra hy jou uitneem vir ete en hy betaal, weet jy hy’s besig om jou die hof te maak, sê Fisher. Dus: Kos in ruil vir seks (courtship feeding), en dit maak sin. Deur vir jou kos te koop probeer hy wys hy het die vermoë om vir jou, en later vir die kinders, te sorg.

      Alles gebeur in die regterkant van jou brein en in die middel, waar die liefde lê, maar julle sien hoe mooi die ander een is aan die linkerkant van die brein.

      Julle is vol energie en sien kans vir enigiets. Julle skrik nie vir ’n risiko nie. Of julle 16 of 60 is, maak nie saak nie, julle besluit om by Gouritsrivier te gaan rekspring, al het julle nog nooit eens by die woonstel se drie voordeurtrappies afgespring nie. Die liefde het daardie deel in die amigdala van die brein waar vrees ontspring eenvoudig stilgemaak.

      “Weg is ons!”

      Julle fokus net op mekaar, kan aan niks anders dink nie. Fisher glo hierdie fokus is nodig sodat die man nie sy “mating energy” vermors op vroue in die algemeen nie. Hy konsentreer op een vrou, en dis jy.

      Jy’s sy dopamien en hy joune.

      Dié neuro-oordragstof sorg vir daardie uit-jou-vel-uit-gevoel. Die najaag daarvan lei ook tot verslawing en die drang na sekere kossoorte of soetgoed soos sjokolade. ’n Breinskandering met funksionele magnetiese resonansie-beelding (fMRI) sal toon meer bloed vloei na daardie gedeeltes van jou brein wat die meeste dopamienreseptore het, soos in die breinstam. Sou die dopamiensentrum in jou breinstam elektries gestimuleer word, sal dit intense plesier verskaf, soortgelyk aan ’n orgasme. Dopamien is die rede hoekom julle altyd terugkom vir nog seks. (Die stelling dat ’n man seks op die brein het, is dalk nie ver van die waarheid nie.)

      Dit laat jou ook emosies soos vreugde, hartseer en toegeneentheid of lieftalligheid ervaar. Dit maak dat ’n vrou versorgend optree teenoor haar kinders, en dit skep uitgelatenheid (playfulness). Mense wat met ’n genetiese defek gebore is en te min dopamienreseptore het, verloor later hul spelerigheid en lus vir die lewe omdat hulle nie meer die gewone plesiertjies van die lewe geniet nie. Dan gryp hulle na alkohol, dobbel of die soetgoed …

      Dopamien styg juigend tydens seks (woelmuise s’n styg met 50%) en serotonien val, hoewel dit ook ’n goedvoel-oordragstof is. Laasgenoemde speel ’n rol in depressie en het te doen met jou bui, eetlus, slaap, geheue, seks. (Vroue het sewe keer minder serotonien as mans.)

      Dopamien en serotonien is gemoeid met emosies en verskeie middels kan albei verhoog of verlaag. Dopamien is die basis van baie psigiatriese medikasie.

      Navorsers (1999) het bevind wanneer serotonien tydens seks val – met tot 40% – val dit tot op die vlak wat aangetref word in mense met obsessief-kompulsiewe versteuring. Medikasie wat die werking van serotonien beïnvloed, soos Prozac, word gebruik om toestande soos dié en depressie te behandel.

      Die liefde is ’n obsessie, diagnoseerbaar. Enigeen kan sien julle het “die skoot hoog deur”.

      Maar dopamien is sterker as serotonien. (’n Hoë dopamienvlak speel ’n rol in seksuele fetisje en ook skisofrenie.) Trouens, alle middels of gewoontes wat verslawend is, soos dwelms en dobbel, verhoog die dopamien in jou brein. Jy raak inderwaarheid verslaaf aan die styging van dopamien.

      Selfs net ’n foto van jou maat laat dopamien styg. Mense loop nie verniet rond met foto’s van hul geliefdes in handsakke, beursies, op selfone of rekenaarskerms nie.

      “Ek’s malverlief op jou, my Woelmuis, ek’s verslaaf aan jou!”

      Hy wil op die dak klim en vir jou viool speel, die resultaat van die dopamien en ook noradrenalien. Wat nie baie rasioneel is nie, want hy kan in die eerste plek nie viool speel nie.

      Julle doen irrasionele dinge.

      Julle lag baie.

      Julle plaas mekaar op ’n troontjie. Julle kan niks verkeerds doen of sê in mekaar se oë nie. Julle is sienderoë blind. Eers jare later sal jy sê: “Ek sien nou eers hoe krom jou neus eintlik is.”

      Paartjies wat deur ’n rooskleurige bril na mekaar kyk – die sogenaamde pienk-lens-effek – is baie meer tevrede met mekaar, ook later in hul verhouding. Dit sal jul verhouding dus op die lang duur goed doen as julle die pienk-lens-effek so lank moontlik kan behou.

      Dit kan natuurlik ook andersom gebeur: Dat julle éérs tevrede is met mekaar en daarom deur ’n rooskleurige bril na mekaar kyk. Wat belangrik is, is die rooskleurigheid. En die hormone wat help, is oksitosien, vasopressien en endorfien, laasgenoemde die liggaam se natuurlike pynstiller.

      Oksitosien word saam met dopamien afgeskei tydens seks, wat ’n emosionele band help vorm. Hoe meer seks, hoe meer oksitosien en hoe sterker die binding. Sonder oksitosien sou julle in die eerste plek nie op mekaar verlief geraak het nie. Dis ook bekend as die troetel- of liefdeshormoon, nes dopamien ook bekend staan.

      Nou’s daar (onromantiese!) wetenskaplikes wat sê oksitosien gaan nie eintlik oor emosionele binding nie. Dit veroorsaak die spiersametrekkings tydens orgasme om die man se sperm voort te dryf, en ’n vrou se kontraksies tydens geboorte. Hul sterkste argument: Mense het seks sonder om te “bind”, hulle beweeg eenvoudig aan.

      Buitendien: Soos jul binding binne die verhouding sterker word, verflou die vasopressien en oksitosien. Maar hoe langer die verliefde stadium (romantiese fase), hoe sterker jul langtermynbinding.

      Julle gesels deurnag en deel emosionele goed wat julle nog nooit met iemand anders gedeel het nie, en julle voel veilig daarmee. Liefde laat jou pupille vergroot, wat jou oë aantrekliker maak. (Is dit hoekom julle so in mekaar se oë sit en kyk?)

      Om weg van mekaar te wees, selfs vir kort rukkies, is pynlik. Siek van verlange. Die liefde is so lekker, dit maak eintlik seer.