“Omdat jy nie in die Wes-Kaap is nie.”
“Nou wáár is ek dan?” kom dit vinnig. Die ou trap ’n ongelykheid in die slaghuisvloer net-net mis.
“Jy’s in die Karoo.”
“Nou wáár is die Wes-Kaap dan?”
“Daar van Worcester se kant af aan Kaap toe.”
Nuwe inligting.
Nou dink die ou harder. Wat gemaak met die nuwe inligting?
Worcester? dink hy.
“Nee,” sê hy. “Vir R800 ’n maand gaan ek wragtag nie Woester toe nie!”
4. Ek’s malverlief op jou!
Die eerste stadium van die liefde, oftewel die pienk-lens-effek
To be in love is merely to be in a state of perceptual anesthesia.
– H.L. Mencken
Gravitation is not responsible for people falling in love.
– Albert Einstein
Dit begin by daardie eerste kyk in mekaar se oë, die tweede kyk, en dan ’n groot glimlag. Jou oë gaan wyd oop – voor jy skaam afkyk. Jy skuil agter jou hand en giggel. Jy vat aan jou hare, streel met jou tong oor jou lippe (“kyk, hier is seksuele potensiaal,” volgens Joe Navarro, ’n gewese spesiale agent in teenintelligensie van die FBI en lyftaalkenner), en jy stoot jou borste subtiel uit. Jy strek jou nek (“kyk, ek is weerloos”). Jy draai jou heupe net effens in die man se rigting (“kyk, ek’s vrugbaar”).
En loer weer skalks na hom.
Jy’s besig om te flankeer.
Hy glimlag ook, strek en stoot ook sy bors uit, pof homself as ’t ware op, sy rug staan skoon krom. Sy handgebare is groot wanneer hy sy beursie uithaal. Hy vat aan sy ken. En beantwoord jou kyk. In ’n stadium lê julle jul hande oop voor julle (“kyk, ek is ongewapen, ek steek niks weg nie, jy kan my vertrou”).
Hy’s besig om terug te flankeer.
Jou maag maak ’n aangename draai en sy mond water, hy sluk. Jou hart klop vinniger, jou handpalms sweet. Jy voel so lig, jy kan opstyg, terselfdertyd lam. Jy gloei met ’n blos op jou wange. Hý wil sommer ou Beatles-liedjies sing.
Nou is julle besig om verlief te raak …
Jy het reeds ’n vae prentjie van hom in jou kop, jou “ideale” man. Natuurlik bestaan die ideale man, én die ideale vrou. Dis die een op wie jy verlief raak! Later is dit die een met wie jy trou al is dit dalk nie dieselfde een op wie jy die eerste keer verlief geraak het nie.
Wat daarna gebeur, is ’n ander storie …
Volgens navorsing kies jy ’n man wat soos jou pa lyk, en hy ’n vrou wat soos sy ma lyk. Of julle kies iemand wat na julself lyk, solank julle net nie té veel na mekaar lyk nie, anders is jul gene dalk te identies en jul kinders se immuunstelsel swakker. Julle wil gesonde kinders hê.
Wanneer vroue ovuleer, kies hulle mans met ’n manlike voorkoms (vierkantige gesig, reguit wenkbroue, dunner lippe). Andersins kies hulle mans met vrouliker (ronder) gelaatstrekke.
Julle soek nie na dieselfde kenmerke in mekaar nie: Hy kyk hoe vol jou lippe is (voller lippe, is bevind, laat ’n vrou jonger lyk), die grootte van jou mond, hoe lank en breed jou ken is. Jy kyk na die afstand tussen sy mond en wenkbroue, hoe lank sy gesig is, die afstand tussen sy oë, en die grootte van sy neus.
En persoonlikheid tel ook.
Die plaaslike webwerf Health24 publiseer jaarliks die Great South African Sex Survey. Die 2009-meningspeiling het 11 181 respondente gelok, oënskynlik verteenwoordigend van die 2,6 miljoen Suid-Afrikaanse, stedelike volwassenes van 20 jaar+ wat minstens R2 500 per maand verdien en minstens matriek het (voortaan net die Health24-meningspeiling genoem).
Volgens die meningspeiling word die meeste mans aangetrek deur ’n mooi lyf en voorkoms (het hulle enigiets anders verwag?), terwyl die meeste vroue val vir gesels, doodgewone conversation.
Maar die eienskap wat mans verlief sal maak, is “mind and conversation”, terwyl vroue verlief raak op ’n “sielsmaat” en daarna soek na “mind and conversation”. Dan tel voorkoms en ’n mooi lyf min vir ’n man, onderskeidelik 7% en 5,8%. Vir vroue tel voorkoms en ’n mooi manlike lyf nog minder: net 2,2% en 1,6% onderskeidelik.
Mans het ook ’n paar ander eienskappe genoem wat hulle in die vrou soek waarop hulle verlief sal raak: nuuskierigheid, ’n sin vir avontuur, intelligensie, sin vir humor, houding, karakter en persoonlikheid, asook fisieke eienskappe soos mooi oë, hande, voete, hare, ’n glimlag, mooi tande en, seker vanselfsprekend, mooi borste en boude.
Vroue het ook genoem: ’n vonk, ’n “vibrasie” of aura, ’n glinstering in die oog, die manier waarop die man beweeg, die kontoere van sy arms, sy passie, ’n glimlag, intelligensie, kreatiwiteit, selfversekerdheid, charisma. Die man moet ook skoon wees en lekker ruik. Hy moet “klas” hê, met goeie maniere. Jy kyk na sy hare, sy (sterk) gesig, sy hande, stem, tande, lippe en boude.
Vroue kyk nogals graag na ’n man se boude.
Daar’s sowaar nog: volwassenheid, beskeidenheid, geloof, hoë morele waardes, respek, opregtheid, en hy moet goed met mense oor die weg kom. En, natuurlik, hy moet van diere hou.
Vir ander vroue is dit: arrogansie, houding, status en ’n cocky sin vir humor.
Vroue soek nie min nie …
Die gemene deler in bostaande, naas fisieke eienskappe, is intelligensie. ’n Switserse studie (2010) het bevind verhoudings werk beter as die vrou ’n bietjie slimmer as die man is. Blykbaar is jul kanse 20% beter om gelukkig te wees as die vrou 27% slimmer is, volgens die navorsing aan die Geneefse Sakeskool. (Hulle sê selfs jy moet ’n graad hê en hy nie.) Daarby moet hy verkieslik vyf jaar ouer as jy wees, en julle moet uit dieselfde kulturele agtergrond kom.
Weer eens soek julle ’n man soos Pa, ’n vrou soos Ma. Gedeelde belangstellings, waardes en daardie gedeelde kulturele agtergrond sal help, hoewel dit nie bepalend is nie.
Die Amerikaanse gedragswetenskaplikes Stephen Emlen en Peter Buston (2003) het byna 1 000 studente tussen 18 en 24 gevra watter eienskappe belangrik is in ’n langtermynmaat en ook in hulself. Die tien eienskappe wat die studente in volgorde van belangrikheid moes plaas, was a. geld, b. fisieke aantreklikheid, c. getrouheid, d. ouerskapvaardighede, e. sosiale status, f. gesondheid, g. of hulle kinders wil hê, h. toegewydheid aan jou, i. ambisie, en j. sterkte van familiebande.
Geld, status of fisieke aantreklikheid was nie boaan die studente se lysie nie. Aantreklikheid was net belangrik vir mense wat hulself ook as aantreklik beskou het. Die belangrikste eienskappe was a. goeie ouerskapvaardighede, b. toegewydheid en c. seksuele getrouheid. Dié eienskappe was eweneens die belangrikste in hulself.
Liefde is wel ’n sintuiglike ervaring. Jy a. sien dit eers, dan b. hoor jy dit wanneer julle begin gesels, dan c. ruik julle mekaar, en dan d. voel julle dit – letterlik en figuurlik – wanneer julle aan mekaar begin vat.
Britse navorsing (2010) het getoon ’n man wat ’n langtermynverhouding soek, maak meer oogkontak. Hy kyk langer na jou gesig as na jou lyf. Maar as sy oë aanmekaar na jou lyf afdwaal, stel hy dalk net belang in ’n kortstondige aandjie uit (of in).
Oog-taal, noem die Amerikaanse antropoloog en gedragswetenskaplike Helen Fisher dit. Soos toe julle met mekaar begin flankeer het.
Jul arms raak ook “losser” om die ander persoon in te laat, te wys jy’s welkom, voeg Joe Navarro by.
Al hierdie verliefdheid en lyftaal gebeur in die brein. As die brein nie vonke afgee en sterre laat verskiet nie gaan julle nie twee keer na mekaar kyk nie.
Dit begin by sy testosteroon en jou estrogeen. Die liefde is vol chemie en onkeerbare hormone, nie logika nie. Sonder hormone is dit nie moontlik om verlief te raak nie,