darem nie eers die tjips en pizza fyngekou nie.) Dan, in tye van kosskaarste, “soen” die primaat haar kind om hom te troos en gerus te stel. Nes ’n ma vandag haar kind se nerfaf knie soen om te troos. En wanneer jy jou vinger raak slaan, bring jy dit dadelik na jou mond toe.
Só ontstaan soen: Nie meer om te voer of te troos nie, maar as liefdesbetuiging, of groet. Dis egter meer as net lippe op lippe. Boonop soen mans en vroue nie om dieselfde redes nie …
Soene tussen verliefdes is ’n intense ervaring, die begin van voorspel. Maar as ’n eerste soen misluk, volgens ’n Amerikaanse meningspeiling (2007), is dit ook die einde van ’n verhouding nog voor dit begin het. As hy nie eens kan soen nie, hoe wil hy vry? En wat help dit as sy soene nie fladderinge veroorsaak waar dit moet nie?
Volgens die meningspeiling was daar nie soseer iets “verkeerd” met die soen nie, dit het net nie “reg” gevoel nie.
Intieme soene is immers uiters persoonlik en lok emosies uit. Dit sê baie oor hoe julle oor mekaar voel, of julle naby aan mekaar voel of nie so naby nie. Dit jaag jou polsslag, bloeddruk en asemhaling op, jou pupille verklein, en vanweë die begeerte wat dit opwek, dink jy nie meer so reguit nie.
Die lippe is as ’t ware gemaak vir soen: Dis die plek op jou liggaam waar die vel die heel dunste is met ’n sterk konsentrasie van senuweepunte, wat dit ook gevoelig maak. Dit stuur fisieke en emosionele boodskappe van jou lippe, tong en wangholtes na jou brein met allerhande inligting oor reuke, smake, temperatuur en die liggaam se gereedheid vir seks. Vyf gesigsenuwees is betrokke by ’n soen, party bronne sê tot 34.
Navorsers reken julle soen en lek en vry voor seks juis om die ander een se ware reuk verby al die moderne parfuums en lekkerruikgoed te bepaal. Só ruik julle mekaar uit om meer oor die ander persoon se feromone (immuunstelsel) te wete te kom. Praat van persoonlik: Die tong (smaak) en neus (reuk) is fisiek immers baie na aan mekaar tydens die liefdespel van fellatio (L. fellare = suig) en cunnilingus (L. cunnus = vulva, lingere = lek).
Daarteenoor is daar wetenskaplikes wat reken as julle bloot genoeg tyd saam deurbring, sal julle wel mekaar se ware reuk kry, parfuum of nie.
Wanneer julle soen, speel die brein saam: Oksitosien (binding) verhoog en kortisoon of kortisol (streshormoon) verlaag. Dis wat Amerikaanse navorsers (2007) verwag het om te vind toe hulle studente enersyds laat soen en andersyds laat handjies vashou het terwyl hulle net gesels. Toe werk dit nie heeltemal so nie, maar dit het wel die belangrikheid van voorspel vir vroue bevestig …
Hulle het bevind oksitosien styg by die mans, maar verlaag by die vroue. Hul afleiding was dat vroue meer as net ’n soen nodig het om emosioneel te bind of gereed te wees vir seks. Vroue het ’n veilige en meer romantiese atmosfeer nodig as die kliniese laboratorium waar die toetse gedoen is.
Kortisoon het wel by die mans én vroue verlaag. Soen verlig dus inderdaad stres vir almal. Dit verlaag ook cholesterol!
’n Mens kon hulle gesê het mans het in die eerste plek nie ’n soen nodig om gereed te wees nie. ’n Passievolle soen is vir ’n man ’n middel tot ’n doel, anders sou hy jou mos maar net gesoengroet het, dan nie? (A kiss is the upper persuasion for a lower invasion. – Anoniem.) Terwyl jy ingestel is op die emosionele binding om seker te maak hy hardloop nie weg ná die seks en kom nooit weer terug om die kinders te help grootmaak nie.
Daar’s testosteroon in ’n man se speeksel, en die antropoloog Helen Fisher glo die man probeer dit oordra om die vrou ontvankliker vir seks te maak.
Daarom hou mans van diep, nat soene.
Wanneer mense soen, kantel die meeste hul koppe na regs, nes die minnaars maak in Rodin se klassieke beeldhouwerk Die Soen.
Dit het niks met regshandig of linkshandig te doen nie, volgens ’n Duitse sielkundige. Hy’t mense wat op openbare pleine soen, dopgehou en agtergekom meer as die helfte van die soeners draai hul koppe na regs. Tot 80% doen dit, het ander navorsers bevind. (Soen-navorsing het selfs ’n naam: filematologie.)
Vermoedelik het dit te doen met laterale breinfunksies soos spraak en ruimtelike waarneming, wat vasgelê word in die baarmoeder. Sowat 80% van ma’s wat borsvoed, links- óf regshandig, hou hul baba in hul linkerarm vas, wat beteken die baba moet sy kop regs draai om haar bors by te kom. Die Duitse sielkundige vermoed dis hoekom julle jul koppe na regs draai wanneer julle soen – om gekoester en veilig te voel.
Wat beteken as julle na links soen, is jul verhouding dalk nie so warm en liefdevol nie, het ander navorsers afgelei.
Toe sê Ierse navorsers (2006) dit werk glad nie so nie. Hulle het bevind 77% van mense kantel ook hul koppe na regs wanneer hulle ’n pop soen, en byna ewe veel mense (80%) in Belfast het ook hul koppe na regs gedraai wanneer hulle mekaar soen. Die gevolgtrekking: Om jou kop na regs te kantel wanneer jy soen, is ’n motoriese voorkeur, nie ’n emosionele een nie.
Solank een van julle nou nie regs mik en die ander een links nie. Dan gaan julle beslis koppe stamp …
◊◊◊
Vroue, 92% van hulle, onthou die eerste keer toe hulle hul eie skoene gekoop het baie beter as hul eerste soen, volgens Britse navorsing (2009), en 96% sê hulle is spyt oor daardie paar skoene wat hulle weggegooi het.
En Britse mans (2008) onthou hul eerste motor beter as hul eerste soen – 25% van hulle het die motor ’n naam gegee, en meer as ’n derde het seks op die agtersitplek gehad.
Baie motories.
7. Soos sjokolade vir verliefdes
Die sjokolade-effek of PEA-teorie
After about 20 years of marriage I’m finally starting to scratch the surface of that one (what women want). And I think the answer lies somewhere between conversation and chocolate.
– Mel Gibson
Soene, blomme en sjokolade.
Dis asof mans nog altyd instinktief geweet het dis die sjokolade wat jou hart gaan sag maak. Die soene en blomme is romanties, maar dis die sjokolade wat julle nader aan mekaar gaan bring. Dis verleidelik.
Antieke kulture het sjokolade (die kakaoboontjie) as ’n seksstimulant beskou.
Die neuro-oordragstof in jou brein wat hierby betrokke is, is fenieletielamien, een van dopamien se baie “helpers” en ook bekend as die liefdesdwelm, nes oksitosien die liefdeshormoon is. En dis dieselfde bestanddeel waaraan sjokolade ryk is, wat aanleiding gegee het tot die sogenaamde Chocolate Theory of Love, kortweg die PEA-teorie (phenylethylamine).
Dié teorie het in die tagtigs ontstaan toe ’n Amerikaanse sielkundige, Michael Liebowitz, ’n boek gepubliseer het genaamd The Chemistry of Love. Hy het in ’n onderhoud daaroor met The New York Times terloops opgemerk dat sjokolade baie fenieletielamien bevat, en dat mense dalk sjokolade eet om romanties te voel. (Hulle gryp immers na sjokolade wanneer hulle hartseer voel of afgesê word.) Die NYT-artikel hieroor is die wêreld ingestuur en die teorie het – enigsins oordrewe – ontstaan.
Die teorie is getoets, maar die bevinding was nie juis dramaties nie. Blykbaar “verdamp” die fenieletielamien as ’t ware voor dit jou brein bereik.
Sjokolade dien wel as trooskos. Amerikaanse neuroloë het bevind (1996) sjokolade bevat bestanddele soos anandamied, ’n neuro-oordragstof in die brein, wat dieselfde uitwerking het as dagga, maar daar’s te min daarvan om jou “hoog” te maak.
Wetenskaplikes weet wel fenieletielamien laat die dopamienvlak in jou brein styg, en dopamien, weet ons ook, laat jou plesierig voel. Dit laat jou bloeddruk en bloedsuiker ook vir ’n rukkie styg en verminder stres. Tydens orgasme bereik die fenieletielamien-afskeiding ook ’n vrolike hoogtepunt, hoewel dit ’n oninspirerende, kleurlose vloeistof by kamertemperatuur is, wat ’n bietjie na vis ruik en jou vel kan irriteer. Fenieletielamien is boonop die voorloper van dopamien, adrenalien en noradrenalien.
Depressielyers en mense met aandaggebreksindroom (AGS) het min daarvan, terwyl die natuurlike vlak hoog is by skisofrenie.
Dis teenwoordig in wyn, bier en sekere