Pluimprinse
Malene Breytenbach
Tafelberg
The boast of heraldry, the pomp of power,
And all that beauty, all that wealth e’er gave,
Awaits alike th’ inevitable hour:-
The paths of glory lead but to the grave.
(Thomas Gray: Elegy written in a country church-yard)
Proloog
Lank, lank gelede het ’n San-jagter in die veld geloop. Om hom was berge, maar waar hy in die vallei geloop het, was net barre klipgrond. Hy was honger en dors, want hy het lank gejag en niks gevind nie. Toe sien hy in die verte twee vreemde voëls. Hulle was baie groot, met lang nekke en bene. Hy het nader gesluip.
Die San was sulke goeie jagters dat hulle hulself bykans onsigbaar kon maak. Die twee voëls het niks agtergekom nie, want hulle was dom, en al was hulle oë so groot, kon hulle nie gevaar sien aankom nie.
Toe sien die jagter eiers op die grond lê. Dit was die grootste eiers wat hy nog ooit gesien het. Hy wou twee van hulle hê. Een om sy honger te stil, en een om vir sy mense te neem. Hy het nader gekruip.
Die vaal voël het gaan sit op die eiers en die San-jagter het besef dit is die wyfie wat hulle wil uitbroei. Die voël met die pragtige wit en swart veredos wat om haar loop en waghou het, was die mannetjie.
As hy hulle met sy gifpyle sou skiet, sou hulle dood wees. Dan kon hy van die mannetjie se pragtige lang pluime uittrek en van die eiers neem wat die wyfie gelê het. Daar was te veel eiers om te dra, maar in sy velsak kon hy twee inpas.
Die voëls het egter so gelukkig gelyk en hulle yslike oë het sulke lang wimpers gehad dat hy byna met hulle deernis kon hê. Hy het besef, as hy die wyfie ook doodmaak, sal sy nooit haar eiers kan uitbroei nie.
Sodra die wyfie opstaan, want dit moet sy die een of ander tyd doen, sal hy nael en twee eiers gryp, het hy besluit. Hy het geduldig gewag. Toe die son sak, het die wyfie inderdaad opgestaan en die jagter het vorentoe gepring. Hy het probeer om die eiers te gryp, maar kon dit nie regkry nie, want die mannetjie het op hom toegesak en een geweldige skop na hom gemik.
Die jagter was egter te rats vir hom. Hy het die skop ontduik en snel soos die wind weggehardloop. Die voël het hom ’n ent ver agtervolg, maar later teruggegaan om sy wyfie verder te bewaak.
Die jagter het weer nader gesluip en gesien dat die mannetjie nou ’n beurt neem om op die eiers te gaan sit. Die wyfie het gewei. Sy het ál verder weggedwaal. Dit is toe dat die jagter die mannetjie met sy gifpyl skiet, en nadat hy dood omgeval het, het die jagter twee eiers gegryp en boonop ’n handvol van die voël se mooiste pluime uitgepluk om vir sy mense te gaan wys.
Hy was al ’n veilige ent weg met sy buit toe die wyfie die tragedie agterkom en ten hemele weeklaag. Sy het hom sien weghol en hom agternagesit. Hy het gehardloop vir al wat hy werd was, maar hy het haar hoor uitroep: “Mensekind, jy het my man doodgemaak. Jy het ook twee van my kinders gesteel, en daarom sal jou soort vervloek wees. As jy my kinders eet, sal jou soort uitsterf op hierdie vlaktes, maar ons sal oorleef.”
Die jagter het die vloek gehoor en dit het hom geweldig ontstel. Hy was spyt dat hy die mannetjie doodgemaak het, maar dit was gedane sake. Die honger het aan hom geknaag. Hy het agter ’n bult om gedraf en in ’n leegtetjie gaan sit waar hy veilig gevoel het. Toe kon hy die een eier uitsuig. Eers toe hy behoorlik vol en dik van lyf was, het hy teruggekeer na sy mense met die ander eier en die pluime, maar ook met die vloek op sy gewete.
Sedertdien dwaal die gees van daardie eerste volstruis oor die vlaktes van die Klein-Karoo en hy roep om wraak. Daarom moet hy gedurig met offerandes en geskenke gepaai word.
1
Olivia droom van dreigende gevaar, maar sy weet nie waar dit vandaan kom nie en sy is uitgelewer. Met ’n uitroep wat sterf op haar lippe skrik sy wakker.
Iets het haar wakker gemaak, en dit was nie die nagmerrie nie. Sy lê eers stil om te probeer bepaal wat dit was. Dit is stikdonker, maar namate haar oë gewoond raak aan die donker, kan sy sien dat haar gordyne wapper. Die vertrek is yskoud.
Sy hoor net die gedreun van die see. Verbeel sy haar of is daar ’n vreemde sweetreuk in haar kamer? Haar reuksintuig is besonder skerp, maar haar lyf speel haar dalk parte. Sy lê stokstyf, haar hart klop in haar keel en haar mond is kurkdroog.
Sy wéét sy moet opstaan en die venster gaan toemaak. Maar sy is seker sy het dit toegemaak voordat sy gaan slaap het. Sy voel-voel in die donker na haar selfoon op die bedkassie, maar kry dit nie. Waar ís dit tog? Sy sit dit altyd binne bereik neer. Olivia hoor ’n skuifelgeluid. Behoorlik benoud trek sy so stil soos sy kan die bedkassie se laai oop. Haar vingers sluit om die koue staal van haar naelskêrtjie. Dit is net die bure se kat, troos sy haarself. Maar die reuk bly hang in die kamer, word selfs sterker. Sy kan skaars haar asemhaling beheer en kom agter dit is hortend van vrees. Sal Minnie hoor as sy skree?
Daar is iemand in die huis. Dit weet sy nou. Sy is te bang om op te staan, uit die slaapkamer te gaan, in die gang af, na die kamer waar Minnie slaap. Sy moet haar waarsku. Haar verbeelding hol met haar weg, en sy dink aan alles wat sy in die hof gehoor het in mense se huise gebeur. Sy weet eenvoudig te veel van wat mense aan mekaar kan doen.
Olivia wil net haar voet van die bed afswaai toe ’n groot, donker figuur langs die bed verskyn. Alles gebeur te vinnig. ’n Hand probeer haar mond toedruk en sy word teruggestamp teen die kussings. Vingers kneus haar wange. Die beddegoed word afgeruk en ’n hand ruk en pluk aan haar nagklere.
Rasend van angs begin sy slaan en skop, en vergeet vir eers skoon van die naelskêrtjie. Sy worstel verwoed, maar die persoon is te sterk vir haar. Olivia ruik sy sweet en hoor hom hyg. Haar een hand slaan na sy gesig en sy kom agter hy het ’n klapmus oor sy kop. Sy hoor hoe haar nagrok skeur en voel hoe hy haar broekie probeer aftrek. Heeltyd hoor sy hom hyg en vloek.
Sy gil deurdringend, maar hy klap haar so hard teen die wang dat haar kop ruk. Dit brand soos vuur. Hy is besig om haar bene van mekaar te dwing, maar sy sit haar teë. Sy gil weer. Staalvingers sluit om haar keel. Sy word versmoor en voel hom teen haar onderlyf. Verwoed steek sy met die naelskêrtjie na die gesig agter die klapmus.
Daar is ’n gedempte gil en die staalvingers los haar keel. Sy snak na asem en is eers te bedwelm om te reageer, maar toe die swaar lyf van haar afrol, trek sy haar longe vol lug en gil weer so hard soos sy kan. Terselfdertyd skop sy na hom. Sy hoor hom vloek. Hy spring weg en strompel oor die vloer, bereik die venster en klim uit.
Iemand skree by die deur en die lig gaan aan. Minnie, haar huishoudster, staan daar met ’n besem, verskrik en slegs geklee in ’n onderrok.
“Wat het gebeur?” skree Minnie.
Olivia hou haar arms om haar knieë asof sy wil toemaak wat so wreed oopgeforseer is. Sy hoes. “In … bre … ker …” kry sy met moeite uit. “Die venster …”
Minnie hardloop na die venster. “Dis gebreek.”
Hoe kon sy so vas geslaap het dat sy dit nie gehoor het nie?
Die wit van Minnie se oë wys om die irisse en sy is halfhisteries. “Het hy jou … jou … seergemaak?”
“Gewurg … ek het hom met ’n s … skêr gesteek. Gaan b … bel die p … polisie …”
Minnie hardloop uit na die foon in die gang en Olivia hoor haar bel. Minnie praat onsamehangend en moet die adres herhaal.
Olivia sit in ’n opgekrulde bondeltjie en kreun. Sy besef sy het nog die skêrtjie in haar hand en gooi dit neer. Haar hand is nat van bloed wat sy gewalg aan die duvet afsmeer. Sy voel onteer en besoedel. Wat as die aanvaller MIV-positief was of reeds vigs gehad het?
Minnie kom teruggehardloop en hou haar vas. Sy troos en klik haar tong, maar sy bewe net so erg soos Olivia, wat aan haar vasklou.
“Ek het s … so geskrik. Hy was in my k … kamer. Die venster w … was oop … Hy wou … hy wou my …”
“Sjjt