Скачать книгу

se maag en keel trek saam en sy wil opgooi, naar geskrik.

      “Ek moet badkamer toe gaan,” kreun sy en hardloop na die toilet.

      Sy was haar hande en gesig by die wasbak en die bloed van die aanvaller spoel pienk weg in die water. Sy wil weer braak wanneer sy daarna kyk, want sy het met al haar krag daardie skêrtjie na die man se gesig gesteek. Dalk het sy nog ’n oog getref. Naarheid kolk tot in haar keel en sy sluk dit af.

      “Kan ek jou help?” roep Minnie by die toe deur.

      “Nee! Nee, dankie. Ek was eers.”

      Sy drink water om die naar af te sluk en was weer haar gesig en hande, met baie seep. In die spieël is sy doodsbleek, maar sy sien kneusplekke op haar nek en haar wange. Haar hele lyf bewe en sy voel koorsig. Sy pluk haar geskeurde nagrok uit. Toe gaan staan sy onder die warm stort en skrop haarself. Sy kan nie onder die water uitkom nie. Die badkamer is naderhand vol stoom.

      “Olivia, die polieste is hier,” hoor sy Minnie roep. Sy moet haarself afdroog, maar haar lyf sidder en haar tande klapper.

      Sy trek vinnig ’n langbroek en hemp aan. Minnie kom in, met ’n rok onderstebo aangetrek. In normale omstandighede kon dit snaaks gewees het, maar Olivia is te getraumatiseer om nou enigiets snaaks te vind.

      “Kan jy met die polieste praat?” vra Minnie besorg. “Jou hare is nat. En jy bewe soos ’n hond wat pak gekry het.”

      “Ja, ek moet.” Olivia steek haar voete in sandale en gaan na die voordeur.

      Daar is ’n wit vrouekonstabel en ’n swart sersant. Albei kyk na haar met die soort reaksie waaraan sy in haar lewe gewoond geraak het. Asof sy ’n frats is. Asof sy skeel is en hulle nie weet na watter oog om te kyk nie. Want haar regteroog is blou en die ander een groen.

      “Ons hoor hier was ’n inbraak, dame,” sê die sersant. “En dat u aangeval is. Ek kan sien dat u hardhandig behandel is.”

      “Hy wou my verkrag, maar hy het dit gelukkig nie reggekry nie.” Sy kyk na die vrouekonstabel. “Ek het hom met my naelskêrtjie in die gesig gesteek en toe vlug hy. Ek het ook hard gegil.” Sy bewe nog steeds en haar tande klapper, maar darem minder as net ná die aanval. Sy haal diep asem om haarself te probeer kalmeer.

      “Ek het gehoor, toe kom kyk ek,” sê Minnie.

      “Minnie het met ’n besem ingestorm, maar toe het die aanvaller reeds ontsnap. Hy het die venster oopgebreek.”

      “Is hier nie diefwering en alarms nie?” vra die sersant afkeurend.

      “N … nee. Ek het gedink dis nog veilig hier.”

      “Dis nêrens veilig nie, dame,” sê die vrouekonstabel. Sy sit haar arm om Olivia se skouers. “Kom sit in die sitkamer en gee ons u verklaring. Ek kan sien u het vreeslik groot geskrik.”

      “Dit was baie dom van my om nie die plek te beveilig in dié dae wanneer ons misdaad so hand uitruk nie,” beken Olivia beskroomd.

      Sy moet haarself dwing om taamlik kalm te praat en vir hulle alles in detail te vertel.

      “Ek stuur ons berader na u,” sê die sersant. “Ek gaan net gou roep op die radio.”

      Nadat die man uit is, praat Olivia met meer vrymoedigheid met die vrouekonstabel, wat haar simpatiek aankyk. “Dis verskriklik dat iemand ’n mens sommer so kan kom aanval in jou huis. Sê nou hy het my verkrag? Tien teen een is hy MIV-positief.”

      “Hierdie makwerekwere het almal aids,” beweer Minnie.

      “Dis nie te sê dit was een van die immigrante nie, Minnie,” sê Olivia. “Dit kon enigeen gewees het. Almal waarsku my dat Muizenberg ’n dodgy plek raak, met al die immigrante en armoede en ek wou al dié huis verkoop, maar ek kon nie. Ek en my ma het hier gewoon en nadat sy dood is, het ek maar net aangehou om hier te woon.”

      Die konstabel skud haar kop in ongeloof, asof sy nie kan glo dat Olivia so roekeloos kan wees nie.

      Die sersant kom weer in. “Ons berader kom binnekort. Nou dink ek moet ons u slaapkamer en die omgewing ondersoek. Die speurders kom ook. Kan u ons wys waar die aanval plaasgevind het, asseblief?”

      Olivia neem hulle na haar slaapkamer waar hulle die venster, bed en vloer ondersoek. Die sersant kry die skêrtjie op die vloer. Hy tel dit baie versigtig op en hou dit in die lug.

      “Ek het hom daarmee gesteek, toe los hy,” verduidelik Olivia. Sy kyk met afgryse na die bloedstrepe op die duvet waar sy haar hand afgevee het. Die polisie bekyk dit ook.

      “Die verdagte het toegang deur die venster gekry en het waarskynlik nie geweet dat u hier is nie,” sê die konstabel. “Hy is beseer. Ons sal hom nog kry.”

      Olivia hoor sirenes buite en ’n hond wat blaf.

      “Ons sal buite soek,” sê die sersant. Hy sit die skêrtjie versigtig op die bedkassie neer. “Die speurders sal dié wil sien.”

      Die voordeurklokkie lui en Minnie gaan uit om oop te maak. Sy kom in met ’n lywige vrou.

      “Goeienaand, ek is kaptein Neethling, die berader,” sê sy en kyk Olivia nuuskierig, ondersoekend simpatiek aan.

      “Ek is die slagoffer, Olivia Bailey,” sê Olivia wrang.

      Kaptein Neethling glimlag. “Kom ons gaan praat terwyl die beamptes rondkyk.” Sy kyk na Minnie. “Gaan maak vir ons lekker soet tee vir die skok, my ou girl.”

      Sy gesels met Olivia en dit laat haar heelwat beter voel. Minnie bring tee, maar Olivia se hande bewe so toe sy die koppie vashou, dat sy nie kan drink nie.

      “U moet miskien met ’n sielkundige gaan praat,” sê kaptein Neethling. “Ek kan vir u name gee.”

      “Dankie, ons het by die werk sielkundiges wat ons kan help. Ek werk by ’n koerant. Hierdie soort goed is iets wat ons elke dag beleef.”

      Die berader sit ’n hand op Olivia se arm. “Neem af by die werk, gaan na familie of vriende waar u veilig sal voel, en moenie huiwer om ’n sielkundige te gaan sien nie. Ek kan u hospitaal toe neem vir ’n ondersoek.”

      “Nee dankie, ek sal môre na my dokter gaan. Ek het kalmeerpille … my werk is stresvol, met baie druk en spertye,” maak sy verskoning. “Ek sal van die pille drink.”

      “Watse werk doen u?”

      “Ek is ’n senior joernalis by die Cape Times, maar voorheen was ek die misdaadverslaggewer. Ek het genoeg te hore gekom van moorde, verkragtings, huismoles en die donker kant van die lewe.”

      “Klink of dit tyd is om vir jou ’n ander job te kry,” stel die berader voor.

      Olivia glimlag wrang. “Ek dink ek word nou verplig om te doen wat almal vir my sê en dit is om hierdie huis te verhuur of te verkoop. Dit voel vir my ek kan nie hier bly nie. My persoonlike ruimte is verkrag. Dalk voel ek môre anders. Maar ek het my vannag byna doodgeskrik. Ek is bang ek sal die aanval heeltyd herleef. Ek sal bang wees daardie man kom terug of iemand anders probeer dieselfde.”

      “Vat ’n break. Gaan weg op vakansie. Gaan bly by vriende of familie. Kry afstand hiervan.”

      “Ja, ek sal daaroor dink. Baie dankie vir die gesels. Dit laat ’n mens beter voel. Ek moet seker dankbaar wees dat ek nie verkrag of vermoor is nie.”

      Dit klink vir Olivia asof ’n skare mense haar huis deursoek. Die speurders het opgedaag; buite blaf ’n polisiehond. Voor haar hek staan voertuie met flitsende blou ligte.

      Die speurder kom in met ’n plastieksakkie waarin die skêrtjie blink. “U het die verdagte hiermee gesteek, verneem ek?”

      “Ja.”

      “Ek neem dit saam. As ons die verdagte vang, sal dit natuurlik as bewysstuk in die hof dien.”

      Olivia weet nie of sy wil hê hulle moet die aanvaller vang nie. Dan moet sy hom in