Olivia hou hulle met deernis dop. Dis die soort kindertjies wat deur pa’s, broers en ander mans mishandel word, dink sy. Kleintjies wat weggelok en verkrag word en heel moontlik doodgemaak word. Sy vee oor haar gesig. Wanneer gaan sy ophou om in terme van wreedheid en misdaad te dink? Dinge spook te veel by haar. So erg dat sy bang geword het vir mans en wat hulle aan ’n mens kan doen.
Sy gaan koop vir elkeen van die kleintjies ’n koeksister. Gee sy geld, neem iemand dit dalk by hulle af en gaan koop drank of tik daarmee. Hulle verbaasde en vreugdevolle gesiggies roer haar hart en sy kyk eers glimlaggend hoe hulle lag en hap dat die sous spat, voordat sy verder stap. Sy wil na die museum met die toring gaan kyk.
Die outydse winkels langs die straat, met stoepe met ysterpilare en broekiekant-versierings, verkoop volstruisprodukte – ’n oordaad van eiers, liggeelkaal én beverf met allerhande tonele. Daar is geen twyfel dat hierdie die volstruishoofstad van die land is nie, dink sy. In ’n winkelvenster is daar talle volstruisleerprodukte, handsakke en baadjies, skoene en gelooide velle, uitgestal. ’n Oorvloed van die leer wat dadelik aan die knoppies daarop uitgeken kan word. Knoppies waar daar eers vere was.
Daar is verskeie kunsuitstallings in Baron van Rheedestraat. Die meeste lyk amateuragtig en trek haar nie juis aan nie. Maar sy steek vas voor ’n galery waar die naam Michel le Riche voor op ’n bord geadverteer word. Dit is ongetwyfeld die beeldhouer van wie haar ouma gepraat het. Die gevaarlike buurman. Nuuskierigheid oorval haar. Sy móét sien hoe hy lyk en of hy werklik talentvol is.
Sy is die enigste persoon daar. Die beelde wissel van groot tot klein en getuig wel van talent. Van beeld na beeld beweeg sy en voor ’n klein bronsbeeldjie van twee volstruise wat lyk asof hulle dans, gaan staan sy botstil. Dit is die enigste realistiese werk in die galery en dit is met soveel grasie en skoonheid uitgebeeld dat sy verstom is. Lank staan sy dit en bewonder. Naderhand is dit vir haar asof die twee groot voëls werklik in grasieuse balletpassies beweeg.
Sy ruik meteens iemand naby haar en draai om. ’n Forsgeboude man met ’n hoekige gesig, swaar wenkbroue bo grysblou oë en deurmekaar blonde hare kyk priemend na haar. Sy skat hom omtrent haar ouderdom, of dalk ouer. Hy is nie konvensioneel mooi nie, maar manlik. Sy swart T-hemp beklemtoon ’n breë bors en gespierde arms met groot hande. Aan groot voete onder ’n driekwartbroek en gespierde kuite is leersandale. Hy kyk bykans verontwaardig na haar. Olivia besef sy moes hom onbeskof aangestaar het.
“Vind jy die volstruise interessant?” vra hy spottend. “Jy het so lank daarna staan en kyk.”
Sy moet haar verleentheid wegsteek. “Ja, absoluut. Dit is iets uitsonderliks en die volstruise is lewensgetrou uitgebeeld, meneer Le Riche,” raai sy wie hy is. “Ek neem aan jy is die beeldhouer?”
“Ja, ek is Michel le Riche.”
Hy reageer nie soos mense gewoonlik op haar oë reageer nie; kyk nie van een na die ander en lyk geskok nie. Hy steek een groot hand uit en sy skud dit. Dit voel grof, eelterig, soos van iemand wat met sy hande werk. Abel, die eerste man aan wie sy durf raak het sedert die aanval, se hand het ook so gevoel. Wanneer sy aan ’n man raak, moet sy haar senuagtigheid onderdruk.
“Ek is Olivia Bailey. Aangename kennis. Jy is waarlik talentvol.”
“Dankie. Laat ek jou vertel waaroor dié stuk gaan. Die volstruismannetjie dans vir die wyfie en hoop sy aanvaar hom as haar lewensmaat. Wanneer dit slaag, paar hulle en lê sy eiers. Die beeld was ’n opdrag en ek moes die paringsdans so lewensgetrou moontlik uitbeeld.”
Hy staan so naby aan haar dat Olivia ’n rilling deur haar voel gaan. Sy wil nie wys dat sy grootte en krag haar intimideer nie, maar sy staan tru.
“Ek was op die punt om vir my koffie te maak. Gaan jy ook drink?”
“Dankie, dit sal lekker wees.” Sy kan nie juis weier nie en buitendien is sy nuuskierig oor dié Le Riche.
“Kom na die kantoor, daar agter die glasvenster,” nooi hy.
Hy skink vir hulle van die koffie wat staan en perkoleer. Dit ruik heerlik. Daarna kyk hy haar stip en deurtastend aan terwyl hulle koffie drink. Die man ontsenu haar. Dit is moeilik om hom direk in die oë te kyk.
“Ek is juis besig met ’n marmerbeeld van daardie bronsbeeld waarna jy so lank gestaan en kyk het,” vertel hy haar. “My ma het dié lewensgrootte bestel vir die portaal van ons plaashuis. Ons gaan dit aan die einde van die fees onthul, terwyl mense van die pers nog saamgetrek is op Oudtshoorn en ons die maksimum dekking kan kry.”
“Jy het natuurlik met volstruise grootgeword. Dié dat jy hulle so goed kan uitbeeld.”
“Ja, ek ken volstruise. Daar is vir my iets mistieks omtrent die volstruis.”
“Waarom?”
“Dié voël het die vermoë om deur voor- en teëspoed te oorleef. Daar is ’n oerkrag in hom wat die mens heel dikwels kortkom. Die mens misbruik en mishandel hom nog al die jare. My ma is baie bygelowig en sy glo daar is ’n volstruisgees wat versoen en gunstig gestem moet word.” Hy lag. “As dié gees teen jou gedraai het, sal jy nie floreer nie. Jy moet eer betoon om weer sy guns te wen. Dis nou nie dat ons van die volstruis ’n afgod maak nie, maar die San het.”
Olivia is verbaas en geamuseer. Hy sien dit en gaan met ’n skewe glimlaggie voort.
“Pluime en vere is nog altyd van die lewende voël gepluk soos mens vrugte van ’n boom sou afpluk, maand ná maand en jaar ná jaar, en dan word daar gewag dat nuwes weer in die plek daarvan groei. Met gereelde tussenposes word die hele stert, vlerke en bors van volwasse voëls – eintlik ook van onvolwasse voëls wat slegs maande oud is – gepluk. Die volstruis staan in ’n plukboks met ’n kous oor sy kop wat hom blind en hulpeloos maak. Die penvere word gelos sodat bloed nie in die vere wat geknip word, kom nie. Twee maande later word dit ook uitgetrek.”
“Foeitog, jy maak dat ek die arme volstruise regtig jammer kry.”
“As kind op die plaas het ek gaan kyk, veral wanneer die vere gesorteer en gekleur word. Al verseker almal ’n mens dat die volstruis geen pyn voel nie, kon ek dit nooit glo nie. Waarom het baie van die voëls dan so woes gespartel? My oupa en pa het beweer dat dit is soos om naels te knip, maar ek glo dat die spiere en senuwees en weefsel pyn voel. Hoeveel pyn het ons nie oor tweehonderd jaar die arme volstruise aangedoen nie?”
“Ek kan ook nie glo dat vere oes so pynloos is soos skape skeer nie.” Sy dink aan die hobbeltjies op volstruisvel en ril.
“Vir die meeste mense is volstruise bloot geldverdieners en hulle sal my uitlag as hulle moet weet hoe ek werklik oor die arme voëls voel.”
“Dit wys dat jy ’n goeie hart het.”
Hy grinnik. “As jy so sê. Jy het seker vir die fees gekom. Waar kom jy vandaan?”
“Van Muizenberg af.”
“Waar jy wat doen vir ’n lewe?”
“Ek was ’n senior joernalis by die Cape Times, in Kaapstad, maar ek het elke dag van Muizenberg af ingery.”
“Is dit dan verlede tyd?”
“Ja, ek het bedank. Ek probeer my batterye herlaai en dit gaan my seker ’n ruk neem.”
“Is jy alleen by die fees?”
“Ja.”
Sy sien hy kyk na haar kaal ringvinger. Hy sal seker wonder of sy geskei of ’n weduwee is. “Eintlik kuier ek ’n rukkie by my ouma, wat hier op Oudtshoorn woon.”
“Wie is jou ouma?”
Sy huiwer voor sy hom vertel. “Mevrou Rebekah Shimansky en sy woon in Courland House.”
Hy staar haar verstom aan. “Is jy tog nie hulle dogter, Lea, se kind nie?”
“Ja, ek is.”
“Hoe gaan dit met jou ma?”
“Sy is dood.”
“Ek is jammer om dit te hoor. Ek bly langs jou ouma,