Ouma.”
“Wil jy?” vra sy en lyk verbaas. “Dan gaan ek elke dag vir jou stories vertel sodat jy ’n geskiedenis en ’n verlede kan hê. Sodat jy weer een van ons kan word.”
Olivia kry die indruk dat haar ouma haar besoek nie juis as tydelik beskou nie.
“Speel jy klavier?” vra haar ouma.
“Ja, Mamma het my tot op gevorderde vlak laat lesse neem, want sy het gehoop dat ek dalk oupagrootjie Piotr se aansienlike talent geërf het. Ag, maar ek het kwalik so ’n virtuoos soos hy geword. Eintlik het ek dit die afgelope tyd verwaarloos.”
“Ja, maestro Piotr Fedorowitsj Ussakov was ’n wêreldklas- pianis. Sy vleuelklavier wat my moeder nog vir hom gekoop het, staan in die musiekkamer en jou oupa se viool is nog daar. Jy moet asseblief vir my klavier speel. Die klavier was te lank stil.”
“Ek het nie bladmusiek nie, maar ek veronderstel hier is nog?”
“Hier is baie ou goed. Sý bladmusiek is nog hier; myne en jou moeder s’n ook. Makliker goed as syne. Kom ek gaan wys jou die musiekkamer en die foto’s van my moeder en die maestro.”
In die musiekkamer wat eintlik so groot soos ’n klein saaltjie is, staan die yslike Grand-klavier, ’n musiekstaander, twee stoeltjies en ’n viool in sy kassie wat oud en verweer is. Daar is ook ’n kas met glasdeure, waarin daar netjiese stapels musiek is, en ’n paar rye stoele vir ’n klein gehoor.
“Hier het die maestro soms konserte gehou vir ’n uitgesoekte gehoor wanneer hy tuis was,” vertel haar ouma.
Olivia is ingenome. “Hier is baie bladmusiek. Ek gaan dit deurkyk en weer oefen. Klavierspeel is terapeuties. Dit sal ’n belewenis wees om op die ou konsertpianis se klavier te kan speel. Weet Ouma, ek het geen idee hoe hy of my oumagrootjie gelyk het nie. ”
“Daar is my moeder-hulle,” sê haar ouma en neem haar om na ’n portret van haar oumagrootjie Sarah en haar Russiese man te kyk wat teen die muur hang.
“Sy was sowaar mooi,” sug Olivia, en kyk na die vrou se fynbesnede gesig, hoë hals en pêrels, gekartelde, donker hare en groot, donker oë.
“Ja, en jy trek nogal op haar,” sê haar ouma. “Buiten die oë.”
Olivia kyk lank na die vrou en herken in haar haar eie reguit neus, hoë wangbene, vol lippe en spitserige ken, maar sy weet sy sal nooit so koninklik soos Sarah kan lyk nie. Iets wat Sarah uitsonderlik gemaak het, ontbreek by haar. ’n Soort waardigheid. Trots. Iets wat die moderne mens te maklik verloor.
“Oupagrootjie lyk ouer as sy, maar hy is ook ’n aantreklike man, met daardie swart hare, snor en sterk ken. Ek was nog altyd so gefassineer deur wat Mamma my van hom vertel het. Dat hy ’n wonderlike pianis was wat op konserttoere in Suid-Afrika en oorsee gegaan het. Ook dat hy uit die Russiese aristokrasie gestam het en een van die sogenaamde emigrés was.”
“Ja, die Ussakovs het paleise in Sint Petersburg en Moskou en ’n landgoed in die Kaukasus gehad, maar hulle moes voor die Bolsjewiste uitvlug en hulle het alles verloor. Sy familie is dood, sy vrou en seun ook. Hy het my moeder ontmoet toe sy in Kaapstad was en daar na een van sy uitvoerings gaan luister het. Hy was ’n Christen wat behoort het aan die Russies-Ortodokse Kerk. Dit het my oupa geweldig geskok dat sy dogter juis met ’n Rus, die mense wat die Jode so in die pogroms doodgemaak het, wou trou. Arme oupa Chaim, sy mooi dogter het hom die een skok ná die ander toegedien, maar wanneer ’n mens so mooi is soos wat sy was, dan is die versoekings groter en jy trek mans se aandag, of jy nou wil of nie. Dieselfde het met jou arme, mooie moeder gebeur.” Sy skraap haar keel en vee een ooghoek met ’n voorvinger af.
“Ouma is dus net half-Joods.”
Haar ouma sug en kyk weg. “Al trou ’n mens met iemand van ’n ander geloof, is jy Joods as jou moeder Joods is. Jy is dus ’n Jodin, al is jou vader nie Joods nie.”
“Sover ek weet, was Oupa heelwat ouer as Ouma.”
“Ja, twaalf jaar ouer, dié dat hy lankal dood is. Ek het Isaac Shimansky ontmoet by die Levitsky’s en toe raak hy verlief op my. Sy moeder Miriam, wat eers ’n Levitsky was, was van kleins af my moeder se beste vriendin. Ek was nie van plan om te trou nie, maar hy wou my nie uitlos nie. Ek sal jou later alles daarvan vertel. Speel eers vir my iets, asseblief.”
Sy kyk afwagtend na Olivia wat voor die klavier gaan sit en dit oopmaak. Die ivoorklawers is gelerig. Met een hand druk sy op die note en die klank wat opstyg, is diep en ryk. Sy het die Russiese pianis se gene geërf, glo sy. Sonder musiek kan sy nie lewe nie. Eerste probeer sy Beethoven se Für Elise speel en dit kry sy darem taamlik goed reg. Haar ouma se gesig is droomverlore. Die laaste note sterf weg en haar ouma sug.
“Ai, dit was tog so mooi.”
“Dit klink asof die klavier onlangs gestem is, Ouma.”
“O ja, ek het iemand wat dit elke jaar kom stem. Om dié klavier te verwaarloos, sou ’n sonde wees. Die maestro sal hier spook as dit gebeur. Ek het self ook op my dag taamlik goed gespeel, maar nou is daar rumatiek in my vingers. Jy kan ook goed speel, hoor ek.”
“So-so; ek het nie naastenby my oupagrootjie se talent nie.”
“Nadat my moeder en hy teruggekeer het na Oudtshoorn, na dié ou huis, omdat my oupa dood is en sy dit geërf het, het hulle baie gereis sodat hy elders kon gaan konserte gee. Hy sou nie hier kon stil lewe op die platteland nie. Sy talent was te groot. Ek het hom maar min gesien.”
“Het hulle Ouma darem soms saamgeneem wanneer hy op konsertreise gegaan het?”
“Soms, maar meesal het ek gebly by my goewernante, Miss Anna Gregory, en die bediendes. Ons het nog van die laaste wit bediendes op Oudtshoorn gehad. Daarna het Sarie en Abel hier kom werk.
“Jy weet, ek kan nog helder sien hoe die maestro voor hierdie klavier gesit het. Hy het nie sag gespeel nie, maar hard. Dit het weergalm. Ek is seker die hele Oudtshoorn kon hom hoor speel. Hy het in ’n ander wêreld verdwyn, waar nie eens my moeder kon kom nie. Jy weet, hy het die grond aanbid waarop haar voete geloop het, maar hy kon baie temperamenteel en moeilik wees. ’n Regte kunstenaar. Ek was maar lugtig vir hom, want hy was streng en het nie gehou van lawaai nie. Hy was groot en het reusehande met lang vingers gehad. Aan een vinger was altyd ’n ring met ’n familiewapen. Sy hele lyf het saamgespeel wanneer hy voor die klavier sit. Wanneer hy klaar was, het dit gelyk asof die musiek nog sy kop en hart gevul het en hy moeilik kon terugkom aarde toe. O, hy het ’n reusetalent gehad.”
“Ek wens ek kon hom geken het. Ek begeer regtig om Rusland toe te gaan om sy spore te probeer volg. Ek het probeer om sy herkoms na te vors, maar nie veel gekry nie.”
Haar ouma se glimlag lyk vir haar bewoë.
Olivia maak die klavier toe en staan op. “Behoort Stonehaven langsaan nog aan die Le Riches, Ouma? Mamma het my van hulle vertel en ek moet sê, hulle fassineer my ook.”
“Hier is nog steeds ’n Le Riche langsaan wat ’n beeldhouer is. Stonehaven was die Le Riches se dorpshuis. Van die ryk mense in die distrik het benewens hulle plaashuise, ook dorpshuise gehad. Maar ek dink dit behoort nou aan hom. Hy bly daar met net bediendes wat van die plaas af gebring is, en soms bly daar ’n loseerder of twee by hom. Michel is nie ’n slegte man nie, maar pasop vir hom.”
“Waarom, Ouma?” vra Olivia geamuseerd en dadelik nuuskierig.
“Dis ’n lang storie wat ek jou met verdrag sal vertel. Ons familie was nog altyd versigtig vir daardie Le Riches. Van die dae toe Bartel le Riche met jou oumagrootjie Sarah gelol het.”
“Ouma moet my meer daarvan vertel. Mamma het net gesê dit was ’n rampsalige liefde en dat dit nooit tussen oumagrootjie en Bartel le Riche kon uitgewerk het nie. Oumagrootjie het in elk geval ’n man van veel hoër kwaliteit as hy gekry.”
“Later sal ek jou nog álles vertel. Skandes, skades, die lot. Ek gaan nou weer na my draadloos luister. Kyk gerus rond soveel soos jy wil. Dis nou jou huis ook en jy moet tuis raak.”
Olivia