Nadia de Kock

Heildronk op 'n gypsyromp


Скачать книгу

Ek is ook bly dat Kobus dit raakgesien het, dis nice.”

      Ek gaan sit en maak Outlook oop.

      “En sy vriend … ek het nou sy naam vergeet?”

      “Markus. Ja, hy was ook beïndruk, ek kon dit sien.”

      “Het hy ’n boek gekoop?”

      “Twee.”

      Twee?

      “Seker vir sy vrou. Ek hoop nie die ander een is vir sy PA nie,” sê ek en lag flou.

      “Hy’s nie getroud nie.”

      O. Dan het hy beslis ’n meisie. Of twee. Ek kyk na my Inboks. Sewe-en-twintig e-posse het sedert gister ingekom, waaronder twee manuskripte is. Ek scan vinnig deur die e-posse en kyk na wat ek kan weggooi (ek het in ’n stadium vir motiveringsnuusbriewe geregistreer en weet lankal nie meer waar om te deregistreer nie).

      Ek is nogal teleurgesteld; ek het gewonder of Markus my dalk sou e-pos om dankie te sê vir die bekendstelling. Ek meen, my e-posadres word voor in al Vianne se boeke gedruk. As hy wou, kon hy. Dalk het hy nog nie herstel van Diana se erotiese Heuningstroop-aanslag nie. Ek onderdruk my lag.

      “Môre, môre!”

      Dis Helga. Ek het haar nie hoor inkom nie.

      “O hallo, Helga,” sê ek en staan op.

      “Goeiemôre,” sê Audrey styf.

      “Hoe vorder die trek?” vra ek.

      Helga sit haar handsak op die kassie langs die perkoleerder neer.

      “Baie goed. Ek het klaar uitgepak.”

      “Wil jy koffie hê?”

      “O aarde, nee dankie! Ek het al klaar twee espresso’s in. Dit behoort my te hou tot elfuur toe.”

      Sy gee ’n skerp, kafeïen-aangedrewe laggie en kyk na die geraamde voorblaaie teen die studeerkamermure.

      “Dis nogal mooi,” sê sy en stap nader. “Is hierdie al jou voorblaaie?”

      “Jip, al tien.”

      Ek voel ’n bietjie trots, so trots as wat ’n quaint, ouwêreldse uitgewer van fiksie seker kán voel. Vianne se voorblaaie ís besonders, dit weet ek.

      Helga kyk na my. “Ek kan nie glo mense lees nog fiksie nie. Life is too short –”

      “Jy het so gesê –” val Audrey vir Helga in die rede.

      “Ja, dit is seker,” val ek op my beurt vir Audrey in die rede. Ek kyk kwaai na haar. Dis ék wat saam met Helga moet bly.

      Helga glimlag en kyk na Elaine se ’n Vrou soos Chaté.

      “Daardie voorblad is van Elaine Bruwer se ’n Vrou soos Chaté, wat ons April uitgegee het.”

      “Ontwerp jy self die voorblaaie?”

      “Nee, Billy, my vriend, neem die foto’s en dan lei hy Zia, sy assistent, met die ontwerp. Hy ken al die skrywers; elkeen kry dus haar eie Look and Feel.”

      “Hy ken nogal sy storie, moet ek sê.”

      “Ja, hy is goed.”

      “Billy is méér as goed,” laat Audrey van haar hoor.

      Helga stap na Vyftig is die nuwe dertig se voorblad.

      “Aarde. Wie is dié Calendar Girls?”

      Ek glimlag. Dit was Vianne se eerste boek, ’n bundel humoristiese verhale oor die menopouse. Ek kan nóú glimlag, maar die publikasieproses van daai bundel was traumaties. To put it mildly. Ses heethoofdige skrywers, een groentjie-uitgewer, een setter (die liewe Sanette) en arme Billy, wat die omslagfoto van die halfnaakte middeljariges, Suid-Afrika se weergawe van die Calendar Girls, geneem het. Dit het hom dae gevat.

      Dinge het later so mal begin word dat ek, onder geweldige druk van twee van die skrywers, vir Sanette gedwing het om korreksies direk op die finale stel proewe aan te bring terwyl ek en die skrywer langs haar sit. Ek was boonop laat en het die bygewerkte finale proewe een nag blitsvinnig – én nou by kerslig te danke aan City Power – geproeflees. Dis die volgende oggend drukker toe gestuur. Die gevolg? Die woord “aktiwiteite” kom drie keer in een verhaal voor as “aktiwitiete”.

      Dís die aand dat ek Margarita’s leer drink het. Die aand toe tweeduisend boeke, met sesduidend aktiwitiete in, by Vianne aangekom het. (Terloops, dit is ook hoe dit gekom het dat ek Audrey as PA aangestel het; sy is een van die ses se ouer suster. Sy kom nie meer met haar pensioen uit nie, het die skrywer my vertel, en sy is heeltemal te trots om Kobus, haar seun, vir geldelike hulp te vra.)

      Maar ek het my les met die aktiwitiete geleer, prosesse in plek gesit en dit slaafs begin navolg. Die resultaat is Vianne se beautiful boeke.

      Helga skud haar kop. “Hulle het nogal guts om so op die voorblad te verskyn.” Sy stap na die volgende voorblad toe.

      “Daardie een is Pippa s’n,” beduie ek.

      “Ek hou daarvan,” sê sy en staan vir ’n rukkie na die omslag met al die voete op en kyk.

      Billy se omslae ís amazing. Hy slaag baie goed daarin om die Vianne-skrywers se persoonlikhede vas te vang; op die omslag van ’n Vrou soos Chaté is ’n foto van die slanke rugkant van ’n vrou in ’n konserwatiewe korporatiewe tweestuk, maar haar skoene is supersexy, wat Elaine se koketterige streep weergee. Ek vermoed die model was een van die girls wat agter Billy aantou.

      Diana, met haar passie vir die lyflike, én vir ingevoerde Franse lekkernye soos pâté de foie gras en Bollinger, se omslae spreek van sensuele plesiertjies. Op háár omslae is daar altyd pêrels, kant, fluweel en baie ontblote vel. En as ’n mens fyn kyk, sal jy die Chinese simbool vir vreugde iewers raaksien: ’n glimps van ’n tatoeëermerk onder ’n sandaalbandjie, as dowwe versiering op ’n glas wyn iewers in die agtergrond, in ’n wolkformasie vasgevang. Ek besef skielik dat ek nou, ná Leady, nie meer so entoesiasties voel oor die Chinese simbool nie.

      Amelia Joubert was selfs vir Billy ’n uitdaging. Sy wou hom obviously nie ontmoet nie; sy wou nie eers oor die foon met hom gesels nie. Arme man. Hy moes op die ou end van my indruk-

       ke – en my voete – gebruik maak. (Min het hy geweet dat hy toe wél met Amelia Joubert te doen het.) Die boekomslag was ’n wenner: ’n reeks foto’s van een vrou se mooi voete, warmpienk naellak op die maer, wit tone, elke paar voete op die voorgrond in een of ander wêreldstad. Die laaste foto, onder in die regterkantste hoek, is van ’n paar voete in skaapvelpantoffels voor ’n vuur. Pippa het by die huis kom rus vind. Vir die oomblik.

      “Haai, wag,” sê Helga en draai om. “Ek kan nie heeldag hier staan en ginnegaap nie, ek moet aan die werk spring, moet my CV opdateer en begin uitstuur, ’n paar agentskappe bel. Sien julle later!”

      Wanneer sy uit is, sê Audrey: “ ’n Regte merrie.”

      “Sjuut, Audrey,” sis ek.

      Die huis het plankvloere en hoë staalplafonne, klank trek nogal.

      “Sy sal fine wees.”

      “Ja, wel. Ek verstaan steeds nie hoekom jy nou ’n huismaat soek nie. Jy het vir drie jaar op jou eie gebly.”

      Drie maande se huur vooruit, plus ’n deposito. Dit moet die salaris wat ek myself betaal tydelik aanvul. Maar ek sê dit nie vir Audrey nie. Ek trek die twee pakke proewe nader.

      Tien minute later staan my hare regop.

      “Audrey, kom gou hier.” Sy staan op, kom staan langs my en loer bo-oor haar bril na die proewe op my lessenaar.

      “Kyk hier,” sê ek en beduie na die tweede bladsy van Audrey se stel. Dit is deurtrek met korreksies. Op Elaine s’n is daar omtrent geen korreksies nie.

      “Ek het jou gevra om net na die spelfoute, tikfoute en grammatika-foute te kyk.”

      Audrey