voel nog steeds baie sleg,” sê ek, onseker oor hoe om te reageer.
“Glad nie nodig nie.”
“O.”
Ek maak my oë toe, haal ’n keer diep asem en spring in.
“Diana, Gerrit sê my jy is amper klaar met ’n vierde manuskrip?”
“O, dit! Ag nee wat, ek het sommer gepraat. Dis nog ver van klaar af.”
Ek wil verlig voel, maar die klein stemmetjie in my kop sê ek moenie.
“Is jy seker? Ek meen, ek het gedink dis bietjie vinnig na Heuningstroop.” Dan korrigeer ek myself. “Ek weet jy skryf vinnig, maar dis darem baie vinnig … nié dat ek dink dis heeltemal onmoontlik vir jou nie …”
Oukei, dis genoeg. Stop nou.
Diana verseker my dat die manuskrip nog baie werk nodig het. Nadat ons die bekendstelling nog bepraat het, lui ek af.
Miskien moet ek eers gou loer na die manuskripte wat ingekom het voordat ek weer die proewe takel. Die eerste een is ’n klomp reisverhale van ’n vrou wat die wêreld platgetoer het. Ek is aanvanklik opgewonde, maar dit verdwyn ná die eerste twee bladsye. Die vrou beskryf die omgewing en besienswaardighede in volledige, vervelige detail. Dit kon dalk gewerk het as sy na nuwe, meer onbekende wêrelddele toe gegaan het, maar die Eiffeltoring is die Eiffeltoring is die Eiffeltoring. Toe sy die pryse vir kaartjies begin lys, maak ek die dokument toe. Ek sal haar later antwoord.
Die tweede manuskrip, Gereeld soos klokslag, is baie meer belowend. Terrible titel (klink soos ’n advertensie vir All Bran Flakes) maar dis maklik om te verander.
Die liggaam ruk nie meer nie. Superintendent Wallie Strydom kom regop. “Kry Forensies uit,” sê hy vir Lammie Badenhorst, wat op die koue sementvloer hurk, ’n sakdoek voor haar mond.
Gereeld soos klokslag is ’n speurverhaal. En dit lyk na ’n goeie een. Ek lees verder en met elke bladsy raak ek meer opgewonde. Hier is ’n manuskrip met meriete. Hier is die tweede Deon Meyer! Vianne het ’n wenner, uiteindelik!
Ná die eerste twintig bladsye dwing ek myself om op te hou lees. Ek kyk weer na die skrywer se e-pos. Hy is ene Rudi Schweizer en dit is sy debuut. Ek wil bitter graag verder lees, maar maak die manuskrip toe. Wilderose se proewe is nou prioriteit.
Ek maak die twee stelle by die merkers oop. My oë begin byna dadelik weer oormekaar kyk. Hoe spel mens ‘onmiddellik’? Ek weet dis twee d’s, maar twee l’e maak nie sin nie; onmiddel-lik? Elaine sê dis een l, Audrey sê twee. Dat ek, as uitgewer, nou iets so stupid moet naslaan! Ek maak my boonste laai oop om die woordeboek uit te haal.
Dit lê bo-op die Sarie van Desember 2007. Die een met Antonie se Sakevrou van die Jaar op die voorblad. Ek behoort dit weg te gooi; ek is só oor hom.
Antonie Markgraaff was ’n fout, ’n reusefout. Ek en hy het omtrent ’n jaar lank uitgegaan, twee jaar gelede, net nadat ek weer van die UK af gekom het en net voordat ek Vianne oopgemaak het. Hy was ’n vangs, dis waar. Hy was hy in sy finale jaar as kliniese assistent in plastiese chirurgie, aantreklik, great sin vir humor. Hy wou met slagoffers van motorongelukke werk – wat hom meer spesiaal in my oë gemaak het. Maar een aand in die bed het hy alles bederf. Hy sou vir my ’n uitsondering maak, het hy gesê: “Ek gaan ’n amper perfekte prentjie meer perfek maak. Ek gaan vir jou boobs gee vir Valentine’s.”
Eers dog ek hy spot net. My boobs is ’n teer puntjie. Ek dra nou wel net ’n 34A, maar ek het al girls gesien met kleiner boobs as ek (nie baie nie, maar darem). Toe kom ek agter hy is doodernstig. Die fool.
Behalwe vir die boob-ding het Antonie my hart good and solid gebreek. Ek meen, ek het dit nooit sien kom nie.
“Daar is iemand anders, Mieke.”
O, die gehate woorde!
Dit was 2006 se Sakevrou van die Jaar. ’n Dinamiese, ryk vrou met ’n besigheidsempire wat by die dag uitgebrei het. (Sy was waarskynlik op ander gebiede ook so vooruitstrewend!) Sy was drie jaar ouer as Antonie.
Alles om my het swart geword toe ek sy woorde hoor. Ek het gedink ek gaan flou word. Hy het nadergetree en sy arms om my probeer sit, maar ek het uit sy omhelsing gedraai, my kop dronk en my hart bonsend in my borskas.
Toe het ek hom met my vuis geslaan. Net so. ’n Woedende regterhaakhou op sy bo-arm. Ek weet nie wie van ons die grootste geskrik het nie. Antonie het uitgestorm en ek het op die bed gaan sit. Die trane het eers later gekom, net voor sonop.
’n Dag later het hy gebel, maar ek het nie my foon geantwoord nie. Hy het ’n boodskap gelaat: “Praat met my! Ek is bekommerd oor jou.” Ek het hom nie teruggebel nie.
Twee dae later was daar ’n lang e-pos. Hy was regtig jammer. Hy en die vrou het mekaar al lank geken en toe hy sy oë uitvee, was hy verlief op haar. Hulle het ’n verhouding begin en dit geheim gehou. Nou voel hy nie meer om die verhouding geheim te hou nie en buitendien, baie mense het hulle saam gesien. “Ek wou jou nooit seermaak nie, Mieke, ek gee regtig baie om vir jou.” Bla, bla, bla. Vlieg in jou moer in, het ek gedink en die e-pos delete.
Partykeer kry ek skaam oor die vuishou. Dis nie baie vroulik nie, is dit? Ander kere dink ek ek moes vir sy ken gemik het (en ’n uitklophou geplant het). Ziggy sê dit was net ’n knee-jerk reaksie; ek moenie te veel daaroor tob nie.
Anyway, Antonie is geskiedenis. Ek moet regtig die Sarie met sy verfoeilike Sakevrou op weggooi! Ek maak die woordeboek oop. Audrey was reg, onmiddellik het twee l’e.
Die marteling van die bekrapte proewe met mekaar vergelyk, maak my gou honger. Ek het nie eers agtergekom dat die tyd so vinnig verbygegaan het nie. Dit is al ná nege. Ek skuif die twee pakke eenkant en stap na Helga se kamer toe. Die deur is toe en ek klop sag.
“Binne!”
“Haai, sal ek Mr Delivery vir ons bel?”
Helga lê op haar bed, ’n dik boek in die hand.
“Nee, dankie. Ek sal sommer ’n slaai eet. Ek het ’n paar goed by Woolies gekry. Die reëling is mos dat ons elkeen vir onsself sorg, nie waar nie? Ek het so aangeneem, aangesien ek nog nie jou skedule gekry het nie.” Sy kom regop.
Ek huiwer ’n oomblik. “O ja. Ek moet die skedule print.”
Ek moet eintlik nog ’n skedule opstel voor ek kan dink aan print, maar ek kan dit nie vir haar sê nie. Sy sal glad nie van my ongestruktureerde ingesteldheid jeens kos-en-skottelgoed-skedules hou nie.
“Ek het net gedink ek was nogal lus vir junk food. Burgers of iets. Ek is besig om proewe deur te gaan en is lus vir iets met stysel in.”
“Dankie. Maar ek sal hou by die slaai.” Sy lag en vryf oor haar plat magie. “Ek is nou amptelik ’n werksoeker. Mens moet goed lyk.”
“Ja, mens moet. Dis belangrik.” Ek sal liewers niks oor my Fizzers en ander eetgewoontes sê nie.
“Wat lees jy?” Ek kyk na die boek in haar hand.
Helga lig die boek op en wys vir my die voorblad.
“In die voetspore van Machiavelli: 40 wette. Dis strategieë om die korporatiewe leer blitsvinnig uit te klim. Nogal in Afrikaans! Ken jy vir Machiavelli?”
“Nie regtig nie. Ek het al gehoor van hom.”
“Briljante politikus, meesterlike strateeg. Party mense dink Machiavelli is geslepe; ek dink hy is geniaal in sy meedoënloosheid.”
Liewe hemel. “Laat ek sien?” vra ek nuuskierig.
Ek moet darem ook weet wanneer my nuwe huismaat ’n Machiavellian wet op my probeer toepas.
Ek maak die boek oop en kyk na die inhoudsopgawe.
“Moenie jou vriende vertrou nie. Vermorsel jou vyand met een dodelike slag,” lees ek. “Sjoe.”
“Ek weet! Briljant, nè? Die corporate wêreld is dog eat dog en ’n mens moet voorbereid wees.”