vir Elaine sê nie. Buitendien, ek dink nie jy is reg nie. Haar prosa is fine.”
“En ek weet nie hoekom Elaine so om die seks dans nie. Noem die ding by die naam. Ons praat mos lankal nie meer van ‘forse manlikheid’ nie, dis ‘penis’! Ek dink dis tyd dat ons besef ons lesers is volwasse.”
“Elaine dáns so rondom die seks omdat sy dit so verkies. En of die lesers volwasse is of nie, is nie die punt nie. Elaine se boeke verkoop, wat beteken dat mense daarvan hou. Dis haar mark, en dis nie dieselfde mark as Diana s’n nie.”
Ek raak driftig. “Ek moet nou deur hierdie miljoen veranderings van jou sukkel om by die geldige goed uit te kom. As jy gehou het by spelling en grammatika, was my werk makliker.”
“O,” sê ek toe ek nog ’n verandering opmerk, “waar in jou lewe het jy gesien die proefleser verander die naam van ’n karakter? Wynand is nou Markus. Hoekom Markus?”
“Want dis is vir my so ’n mooi naam –”
“Ja, dit is,” sê ek en ruk myself dadelik reg, “maar Elaine het die naam met groot omsigtigheid gekies. En dis ook nie eintlik die punt nie. Die punt is dat jy nie haar name of haar teks mag verander nie. Nét spelfoute, nét tikfoute, nét grammatika-foute. Hier is ’n triljoen veranderings wat ek moet deurgaan! En dit moet Maandag na Sanette toe!”
“Ek voel nogal sterk oor my veranderings,” sê Audrey en stoot haar ken uit.
Ek voel my gesig warm word en blaai na bladsy drie.
“Hier staan ‘Dit was ’n dapper ding wat jy gedoen het, Monique’. Jy het dit verander na ‘’n kordate ding’. Hoe sê mens dit vir ’n vrou? Watse woord is ‘kordate’, Audrey?”
“Ek het nog altyd gedink Elaine kan baat by ’n Sinoniemwoorde-
boek –”
“Het jý my Sinoniemwoordeboek? Ek soek my die afgelope week al flou daarna!”
“Dis in my boonste laai.” Audrey trek haar laai oop en gee my woordeboek aan. Dit lyk of sy in trane gaan uitbars.
“Mieke, ek probeer jou net meer waarde gee vir die salaris wat jy my betaal,” sê sy sag.
“Dis glad nie ’n verskoning nie,” sê ek.
Ek gaan nie val vir hierdie soort manipulasie nie.
“Jy gee my genoeg waarde vir die salaris wat ek jou betaal. Dit sal my baie help as jy net by jou pligstaat hou.”
Audrey skud haar kop, kry ’n sigaret en haar aansteker van haar lessenaar af en snuif voordat sy by die deur uitstap.
Miskien is ek te hard op haar. Sy probeer regtig. Sy is net nie vreeslik effektief nie.
Ziggy daag na haar ontbytskof by Nuno’s by ons op, twee Woolies-sakke in die hand.
“Middagete.”
“Dankie, dis gaaf!” sê ek en vat die sakke by haar aan.
“Audrey se idee,” sê Ziggy. “Sy het nou-nou gebel en gesê ek moet vir jou iets lekkers bring.”
Ai. Nou begin ek regtig sleg voel. Ek ís te hard op Audrey, arme mens. Sy is reeds huis toe; ek sal môre vrede maak. Dis nou een ding van iemand se bestuurder wees: mens moet soms streng optree, en dis nie vir my maklik nie. Dit voel eintlik vrek wreed, veral omdat sy amper veertig jaar ouer is as ek. Ek skud my kop. Ek sal haar later SMS; netnou slaap sy nie vanaand nie.
“Kom,” sê ek vir Ziggy, “laat ek jou gou aan Helga gaan voorstel.”
Helga is in die kombuis, besig om ’n smoothie te maak.
“Helga, Ziggy.”
“Ziggy?” Helga lag en pomp Ziggy se hand op en af. “Wat ’n seldsame naam! Is dit kort vir iets?”
“Nee, so gedoop,” sê Ziggy en gaan sit by die tafel.
“Liewe land, jou ma klink of sy ’n absurde sin vir humor het!”
Helga skud haar kop gemaak-verwonderd heen en weer.
“Nie regtig nie. Sy was ’n David Bowie-dissipel en toe ek gebore is, was hierdie naam die logiese keuse. Ek is na Ziggy Stardust vernoem.”
“Hoe vreemd,” sê Helga.
“Nie regtig nie,” sê Ziggy en kyk na my.
“Mieke, as ek nie vinnig ’n job kry wat beter betaal nie, gaan ek moet terugtrek na my ma toe. Ek sidder.” Sy ril.
Helga staan nader.
“Gee vir my jou CV, dan jazz ek dit vir jou op. Mens moet die korrekte terme gebruik; CV-speak, jy weet.”
Ziggy kyk na Helga en sê versigtig: “Ek het myne verloor toe ek van die UK af teruggekom het. Onthou jy, Mieke?” Sy haal haar oë nie van Helga af nie.
“Ja,” sê ek maar, al onthou ek niks daarvan nie. Ek gaan sit langs Ziggy. Dit voel of ons onder kruisverhoor geneem gaan word.
“As wat is jy opgelei?” vra Helga en kom sit by ons.
“Nie vir iets spesifieks nie. Ek kan omtrent enigiets doen.”
“O? Wat hét jy al gedoen?”
“Wel,” Ziggy begin nadink oor haar loopbaan, “ek was vir ses maande ’n teller by ABSA, maar toe kon ek dit nie meer uithou nie. Bietjie in catering gewerk en toe by Junk Mail telefone geantwoord en small ads neergeskryf. Maar ek het dit ook gehaat. In ’n stadium was ek ’n model vir kunsstudente by Wits. Dis toe ek nog maer was. En ek het al mense se honde vir wandelings geneem. En heeltyd gewaitress.”
“Is ABSA die enigste … korporatíewe werk wat jy gedoen het?”
Ek kan sien Helga sukkel om haar verbasing weg te steek.
“Nee! Ek was op ’n Working Holiday-visa in die UK en het in Glasgow vir ’n Sky call centre gewerk. Tel dit?”
“Ja!” Helga raak opgewonde; sy het nou iets om mee te werk. “Vir hoe lank?”
“Nie baie lank nie; ek het gou bored geraak.” Ziggy grinnik en kyk na my. “Toe probeer ek die tyd omkry deur verskillende aksente op geïrriteerde inbellers uit te probeer. Pools was my beste: ‘Hello, Sky, you calling for help, yes?’, en nadat die inbeller sy probleem verduidelik het, vra ek: ‘Whats its means?’ en dán, wanneer die inbeller uiteindelik skree dat hy met iemand wil praat wat Engels behoorlik magtig is, vra ek in ’n soet stemmetjie: ‘You are not happy with Sky, no?’ En toe laat hulle my gaan. ’n Baas het ingeluister en gesê ek het nie by die scripts gehou nie.”
Ek proes. “Jy het dit nooit vir my gesê nie!”
“Ek het ’n goeie Nederlandse aksent ook –”
“Ziggy!” Helga is geskok. “ ’n Mens se loopbaan is uiters belangrik. Ek kan nie glo dat jy so ligsinnig daarmee omgaan nie.”
“Hei,” skram Ziggy, “ek is net agt-en-twintig. Daar’s nog baie tyd.”
“Ek is ook agt-en-twintig!” sê Helga. “En ek is amper bo-aan die korporatiewe leer; ek het baie bereik. Agt-en-twintig is nie so jonk nie.”
Helga net agt-en-twintig? Nou is ék geskok. Ek het gedink sy is ouer; sy is so … so gefokus.
“Maar,” sê Helga en sit haar hand op Ziggy se arm, “moenie bekommerd wees nie. Ek sal jou reg … e … jou CV regruk.” Sy staan op. “Ek gaan haal gou ’n boek …”
“Regruk?” vra Ziggy toe Helga by die deur uitstap. “Mieke, jy moet haar kennis gee. Sy gaan ons mal maak.”
Vyfuur gee ek tydelik moed op met die proewe. Ek skuif die twee pakke eenkant toe en doen wat ek vanoggend al moes doen. Ek bel vir Diana.
“Hoe vorder Gerrit se broer met die bank se poot?”
“Hy