en Ana is besig om Raúl se gesig af te vee.
Miranda is geskok om te sien dat haar vader se hele bolyf vol bloed is. Sy hardloop vorentoe en gryp sy hand.
“H … hulle het my in die … lyf ge … geskiet …” prewel hy en in die lamplig is sy gesig vertrek van pyn. “Miranda … jy moet sterk wees … patróna wees … jou moeder kan nie. As Raúl nie oorleef nie … laat die priester kom … laaste sakrament …”
“O genade,” prewel sy en kyk deur haar trane na Alejandro. “Hy klink of hy sterwend is.”
Alejandro lyk so somber dat sy weet hy dink ook so. “Ek sal die vinnigste ruiter stuur vir die priester,” fluister hy en gaan uit.
Vervaard vlieg sy om. “Raúl …” Sy haas haar na waar hy lê.
“Hy is deur die bobeen en arm geskiet, Doña Miranda,” verduidelik Ana, wat die bloed met lappe probeer stelp.
“Raúl,” roep Miranda. “Raúl!”
Hy maak sy oë oop en kreun van pyn. Dit lyk asof hy nie op haar kan fokus nie.
Sy begin bevele gee vir verbande, warm water en sponse, en hardloop van die een na die ander. Heeltyd is sy bewus daarvan dat Alejandro help, dat hy daar is, en sy is goddank bly.
Toe die dag breek, is sy uitgeput en paniekerig, want dit lyk asof Don Ramon skaars asemhaal. Bebloede lappe en rooi water word gedurig uitgedra en skones ingebring. Sy het die wonde verpleeg en verbind, maar die bloed bly syfer deur. Alejandro het gehelp om die koeël uit Raúl se bobeen te haal en nou lyk haar broer asof hy koors ontwikkel.
“Die priester en Doña Maria Luísa is hier,” hoor sy Alejandro se stem.
Sy kyk om van waar sy by haar vader kniel en hoor haar moeder gil. Agter haar is ’n man in swart – Vader José. Alejandro se sterk hande lig haar op sodat haar moeder en die priester by haar vader kan kom.
“Dis tyd vir die laaste sakrament,” sê die priester. “Don Ramon is gereed om te gaan. Julle kan niks meer vir hom doen nie.”
Die priester se voordrag weerklink deur die vertrek, wat skielik doodstil is behalwe vir Doña Maria Luísa se sagte gesnik. Die priester seën haar vader, wat net kan prewel. Miranda voel lam en verward. Sy was lief vir haar vader, al was hy so streng. Dit raak haar diep toe hy sy laaste asem uitblaas.
Nadat Don Ramon weggeneem is om uitgelê te word, bepaal Miranda haar aandag by Raúl. Sy gaan kniel langs hom en streel sy wang. Hierdie broer van haar het sy só lief. Elke kreun wat hy gee, sny deur haar murg en sy bid dat hy net nie ook moet doodgaan nie.
“Ons moet Raúl na my estancia neem, waar hy behoorlik versorg kan word en waar dit tans veiliger is as hier,” hoor sy ’n rukkie later Alejandro se stem agter haar. “Ek het ’n perdekar laat inspan. Jy en jou moeder moet ook voorlopig by ons bly.”
Miranda staan moeisaam op en sy sterk hand stut haar.
“Wat van my vader?”
“Ons sal jou vader oormôre kom begrawe.”
“Neem vir Raúl. Ek en my moeder bly hier tot die begrafnis verby is. Ons moet baie dinge reël. Ons moet ook kerse brand en by my vader waak.”
Die gewoonte wat hulle het om hulle doodskiste in gereedheid te hou, voel skielik vir haar reg, al het sy altyd daarmee gespot.
“Goed, dit is die konvensie, selfs in hierdie gevaarlike tye,” stem Alejandro in. “Maar dan stuur ek bykomende wagte om julle op te pas.”
Miranda is dankbaar om uiteindelik veilig in Alejandro se huis te wees. Die afgelope paar dae het soos ’n nagmerrie verbygegaan.
Sy en haar moeder het by haar vader se lyk gewaak. Al die regte rites is gevolg. Hulle gaucho’s het ’n erewag gevorm en gehelp om die kis te dra na die klein begraafplaas by die sipresse, waar die graffies van die twee babaseuntjies wat tussen haar en Raúl gebore is hulle vader ingewag het.
Met die bedreiging van Ramirez so naby, kon hulle nie wyd en syd boodskappers uitstuur om die ander vooraanstaande families te laat weet dat een van die groot estancia-patróns dood is nie. Dié wat vir die verlowingsbal gekom het, is meesal huis toe. Net ’n klein aantal het dit gewaag om die begrafnis by te woon.
Die ses dooie banditti is in ’n massagraf begrawe en die priester het vir hulle ook gebid. Die gewondes is deur hulle makkers weggevoer en sy was dankbaar dat sy nie verplig was om dié gespuis ook te verpleeg nie.
Die pragtige tuine om hulle casco is verniel deur die banditti, en dis vol perde- en mensespore. Sy sal dit laat opknap sodra die ergste krisis met Raúl verby is, dink Miranda weeïg. Haar vader was so trots op sy tuine en sy perde.
“As Ramirez-hulle begin het om op groot skaal perde te steel, beplan hulle een of ander offensief,” het Alejandro haar gewaarsku. “Ons moet julle estancia eers beveilig voordat julle kan terugkeer.”
Hy was so adamant dat sy en haar moeder na sy huis saamkom dat sy nie kon teëpraat nie. Nou sit sy hier by haar broer in die kamer wat Alejandro aan hom toegewys het, geklee in ’n swart tabberd. Sy en Dolores maak beurte om by die koorsige Raúl te waak.
Tot Miranda se verbasing is haar moeder, wat altyd so sterk en doelgerig gelyk het, skoon verpletter ná haar vader se dood. Al wat sy kan doen, is op ’n bondel sit en treur. Sy wil nie eens afgaan eetsaal toe nie en die kos wat vir haar gebring word, raak sy skaars aan.
Miranda besef dat sy die sterk een sal moet wees – sy kan nie ook in ’n stoel gaan sit en rou nie. Die woorde wat haar vader vir haar geprewel het net voor sy dood, verstaan sy nou. Hy wou hê sy moet die leisels oorneem, want hy het geweet sy is sterk en haar moeder nie.
Wat sy ook nou besef, is dat Dolores veel meer vir Raúl omgee as wat sy, Miranda, ooit vermoed het, want sy verpleeg hom met die toewyding van liefde en angs.
3
“Miranda, Alejandro is terug by die huis,” sê Dolores toe sy inkom. “Hy het jou mense in die werk gesteek om by julle casco op te ruim.”
“Ek is regtig dankbaar. Hier sit ek in twee geskeur. Ek wil daar wees, maar ek wil ook hier by Raúl wees. Ek is bang om weg te gaan en as ek terugkom dalk te sien …”
Sy skraap haar keel en sien dat Dolores haar hande wring.
“Ek sou my lewe gee om syne te spaar.” Haar oë blink van ongestorte trane.
Miranda knik. “Ek weet, ek het dit agtergekom. Maar jy is in dieselfde posisie as Alejandro. Julle mag nie op crillo’s soos ons verlief raak nie, of hoe?”
Sy kan die seer nie uit haar stem hou nie.
“Ag, Miranda, ons is al van kleins af vriende. Ek het baie met Moeder en Vader gestry oor hulle keuses vir ons huweliksmaats, maar ek kon eenvoudig nie hond haaraf maak nie. Moeder is ná Vader se dood selfs nog meer onwrikbaar. Daar is een ding wat ek as ’n tydelike begenadiging beskou, en dis dat die aanval op julle estancia gemaak het dat Alejandro nie formeel verloof geraak het nie.”
Miranda kyk haar vriendin onbegrypend aan. “Maar sy is tog laat kom om …?”
“Ja, sy en haar broer is hier, maar die verlowing is nog nie amptelik nie – Alejandro het nog nie die ring aan Mercedes se vinger gesteek nie. Ek wens hy doen dit nooit nie. Ek kan haar nie verdra nie. Sy is koud en hooghartig. Hoe kan sy hom ooit gelukkig maak?”
’n Snaakse sensasie trek deur Miranda. Dis deels skok, deels verligting, deels hoop.
“Alejandro sê die verlowing moet wag tot al die krisisse verby is.”
“Regtig?” Miranda voel weer die verraderlike hoop in haar hart opvlam.
“Hy is besig om te beplan hoe om julle perde terug te kry. Hulle sal die banditti moet aanval, maar ons het nie genoeg mense om dit sommerso te waag nie. Ons moet mense van elders kry om te help. Ramirez is só slinks. Hy is seker al by die berge, en Alejandro sê