ruik hy die onmiskenbare reuk van die gewonde – karbolsuur, sweet en bloed. Hy kyk na Miranda, slank en skielik so kwesbaar in swart, met haar dun middeltjie waarom sy hande maklik sou kon gaan. Nou is daardie glansende hare stemmig vasgemaak met ’n haarnet agter oor die krulle getrek.
Toe sy net na Ramirez se aanval by die casco aangery gekom het, het sy soos ’n wildewragtig gelyk: haar rok gekreukel, haar skouers kaal en daardie hare in lang, los lokke. Haar asem het so gejaag dat haar bors op en neer gedein het. Haar pragtige oë was wild, maar sy was vir hom nog nooit so begeerlik soos op daardie oomblik nie.
Nou het hy die oorweldigende begeerte om dié bykans ontembare meisie, wat so hartseer en verlore lyk, in sy arms te neem en te troos. Hierdie bedeesdheid van haar is weens skok, angs en hartseer, maar sy sal weer word soos sy was – gevul met onblusbare energie en lewenslus.
Vandag het sy donker kringe onder haar pragtige oë wat hom so uitdagend kan aankyk. Dit gryp hom aan die hart. Dis duidelik dat sy maar min slaap.
“Hoe gaan dit met hom?” vra hy sag.
“Nie goed nie,” antwoord Dolores met trane in haar oë.
“Ons kan net hoop hy sal oorleef.”
Die woorde kom sag uit Miranda se rooi mond, waarvan die onderlip net genoeg bewe dat hy dit kan sien. Hy ervaar ’n verskriklike begeerte om haar teen hom vas te druk en daardie bewing weg te soen.
Maar hy mag nie, want as hy nou ingee, is sy ouers se jare lange onderhandelinge met die aristokrasie in Spanje alles verniet. Dit sal sy moeder nooit oorleef nie. Die onbekende siekte wat sy so hard probeer om vir almal weg te steek, is besig om haar stadig te verteer, en hy wil nie tot haar pyn bydra nie.
Hy gaan na die bed en plaas sy hand op Raúl se voorkop. “My vriend, ons almal bid vir jou. Byt net vas.”
Toe Miranda dié woorde hoor, gaan die sluise oop en voordat sy dit kan keer, bars ’n rou snik uit haar bors.
Alejandro draai om, sy gesig ontsteld, en toe sy haar kom kry, gaan sy sterk arms om haar en snik sy teen sy breë bors. Hy hou haar vas totdat sy bedaar.
“Ek is jammer …” probeer sy verskoning maak. Hy los haar, maar sy kop is vooroor gebuig en hy kyk na haar met oë wat vreemd gloei.
“Enigeen kan treur,” sê hy sag. “Jy ook.”
Tot haar verbasing draai hy summier om en loop.
“As Alejandro nie aan daardie merrie van ’n Mercedes beloof was nie, het hy met jou getrou,” hoor sy Dolores meewarig sê.
Dit vererger net die pyn in haar hart, want die verlies van soveel word amper te veel om te dra.
Miranda is ook vol wraakgedagtes teenoor Ramirez en sy bende. Sy het ’n plan bedink en wag net tot die aandete om dit aan almal voor te lê.
Soos gewoonlik is die aandete bykans swierig in die groot eetkamer met sy swaar meubels, die silwer- eetgerei en duur porseleinware met die heraldiese wapen van die Conde Semillano de Oragon daarop. Almal behalwe Dolores, wat by Raúl wou bly, is daar in formele klere en Alejandro sit aan die hoof van die tafel soos die heerser van sy koninkryk.
Links van hom sit die hovaardige markiesin, regs is sy moeder, en langs haar sit Doña Maria Luísa, wat gedwing moes word om te kom eet. Oorkant haar is Miranda. Aan die ander punt van die tafel sit die pronkerige Marqués Fernando, wat soos sy suster uitermate deftig geklee is, asof hulle aan die wêreld wil toon dat hulle adellik en skatryk is.
Miranda hou nie van die manier waarop dié twee Spanjaarde na haar kyk nie. Mercedes kan haar oënskynlik nie verdra nie, en haar broer is opdringerig asof hy dink dat dit sy reg is.
Miranda wag net totdat die hoofdis bedien is en almal se wynglase weer vol is, toe skraap sy haar keel en kyk na Alejandro. Met geligte wenkbroue kyk hy terug.
“Het jy iets op die hart, Miranda?”
“Ek kan nie verstaan hoe julle mekaar sommer op die voornaam kan noem nie,” sê die markiesin. “In Spanje handhaaf ons die formaliteite.”
Tot Miranda se verbasing kyk Alejandro spottend na die markiesin. “Ons is in Argentinië, ver van die koninklike hof, U Hoogheid, en ek ken Miranda vandat sy ’n baba was.”
Die markiesin se doodsbleek gelaat kry ’n kleurtjie wat Miranda aan ergerlikheid toeskryf, maar sy trek net haar lippe dun en praat nie terug nie. Sy is duidelik geleer om haar toekomstige man te eerbiedig, dink Miranda minagtend.
“Ek kan nie net hier sit en dinge so laat verbygaan nie,” sê sy vir Alejandro. “Daardie Ramirez en sy klomp boewe moet gestraf word. Ek het aan ’n oplossing vir ons probleme gedink. Vader se suster, Doña Mariangéla de García, se oorlede man het ’n hoë pos in die regering beklee. Sy moet ingelig word dat Vader dood is, maar afgesien daarvan kan sy heel waarskynlik vir my ’n oudiënsie by president Branco reël. Ek gaan hom vra om troepe uit te stuur om daardie banditti vas te trek.”
Sy hoor hoe almal tegelyk uitroep.
“Jy kan nie alleen gaan nie, en jou broer is te siek om jou te vergesel,” sê haar moeder met iets van haar ou vuur, want sedert haar man se dood praat sy maar min. “Jy sal my dwing om in my toestand saam te gaan.”
“Moeder, ek sal vir Carmen saamneem, en van ons gaucho’s om ons op te pas.”
“Ek dag daardie diktator van julle is besig om uitgewerk te word,” merk die markies snedig op. “ ’n President is mos nie iemand wat die mag erf soos ’n koning nie. Wil dié Ramirez hom nie juis uit die kussings lig nie? Hier in julle deel van die wêreld verrys daar mos die een aanspraakmaker na die ander.”
Miranda kyk geskok na hom en toe na Alejandro. “Is dit waar dat die president se bewind tot ’n val gaan kom?”
Alejandro lyk geïrriteerd. “Sover ek weet, is president Branco nog stewig aan die stuur. Die regeringstroepe is reeds hier en daar slaags met Ramirez se ondersteuners, maar dis nog nie ’n volskaalse oorlog nie. Hulle sal dalk bereid wees om te help. Ek sal saam met Miranda gaan.”
“Maar jy kan nie weggaan nie!” protesteer sy moeder heftig. “Daardie Ramirez is hier by ons. As hy ons bure kon aanval, is ons dalk volgende. Ons het jou hier nodig.”
“Dis waar,” stem Miranda saam. “Jy kan nie hier weggaan nie. In elk geval nie op die oomblik nie.”
Alejandro sit sy hande palms ondertoe op die tafel weerskante van sy bord. “Dis nie vir jou veilig om deur ’n gebied te gaan waar die banditti maklik kan toeslaan nie. Dit kan ek nie toelaat nie.”
Sy kyk hom uitdagend aan. “Dankie dat jy oor my begaan is, Alejandro, maar al is jy ons weldoener en vriend, het jy geen gesag oor my nie. Ek gaan, en klaar.”
Hy kyk haar gebelg aan. “Iemand moet na jou veiligheid omsien as die mans van jou familie nie daar is om dit te doen nie.”
“Wel, dit ís dalk ’n goeie idee om na Doña Mariangéla te gaan,” sê Doña Maria Luísa huiwerig. “Hoe anders kan ons haar laat weet van Don Ramon se dood? Sy sal ons mos baie kwalik neem as ons haar niks laat weet het nie en sy vind dit eers lank na die tyd uit. En sonder hulp sal ons daardie Ramirez nooit van ons rûe afkry nie.”
Alejandro kyk na Miranda asof hy wonder of hy sy uitspraak moet heroorweeg.
Die kil stem van die markiesin klink op: “Laat haar gaan, Don Alejandro. Sy lyk tog vir my na iemand wat haar eie kop volg.”
Miranda kyk na haar en merk die vrou se venynige uitdrukking. Wat het sy teen haar, behalwe dat sy op haar neersien? En wat weet sy in elk geval van haar?
“U het reeds ’n mening oor my gevorm, sien ek,” sê Miranda sarkasties. “Al ken ons mekaar skaars en het ons nog nie eens een gesprek gehad nie.”
Alejandro se gesig lyk soos donderweer. “Moenie inmeng nie, asseblief, Doña Mercedes,” sê hy kil. “En onder my dak laat ek ook nie my vriende beledig nie. Miranda is besig om aan ons almal se veiligheid te dink,