Malene Breytenbach

Hertog van die Pampas


Скачать книгу

nie daaraan nie.

      Ná ’n gelade stilte probeer Miranda hom weer oorhaal. “Jy kan vir my van jou gaucho’s ook leen sodat ek ’n sterk geleide het.”

      Hy huiwer, maar lyk nie inskiklik nie.

      “Jy kan, my seun,” sê Doña Natalia. “Sy behoort veilig te wees, as sy net gou maak en nie langs die pad vertoef nie.”

      Miranda kyk stip na hom. “Alejandro, ek móét eenvoudig gaan. Ons het nie ’n keuse nie.”

      Baie teësinnig knik hy naderhand. “Ek sal halfpad saamgaan. En as jy terugkeer, stuur jy ’n boodskapper vooruit dat ons jou kan ontmoet.”

      “Ek belowe. Ek sal vinnig gaan en terugkom, sodat die gaucho’s kan terugkeer na die estancias.”

      Alejandro knik, en daarmee is die plan beklink.

      Miranda treur oor haar vader en is angstig oor haar broer. Dis moeilik om Raúl te los, want sy is vreeslik bekommerd oor hom, maar hulle estancia, hulle hele bestaan, word bedreig. Ramirez sal hulle ruïneer – hy het dit al halfpad reggekry. Hoe gaan hulle ooit herstel as sy nie self iets daadwerkliks doen nie?

      Dis in elk geval ook vir haar ’n pyniging om te moet sit en aanskou hoe die markiesin met verliefde skaapoë na Alejandro kyk en natuurlik gretig wag vir die amptelike aankondiging van hulle verlowing. En dis vir Miranda swaar om haar eie gevoelens weg te steek as sy gedurig vir Alejandro sien. Hy laat steeds haar hart op loop gaan en haar lyf word week van verlange. Om saam met hom onder een dak te wees en hom van naderby en heeltyd te aanskou, laat verdiep net haar gevoel vir hom. Dit maak die aanvaarding dat sy hom gaan verloor des te moeiliker en pynliker.

      Alejandro ry langs Miranda voor die muilwa met die bagasie. Carmen sit langs die drywer, en om hulle is ’n klein, swaargewapende geleide.

      Sy kyk onderlangs na hom op sy groot swart hings, sy blink stewels in die stiebeuels en ’n opgerolde sweep en geweer aan sy saal vasgemaak, en haar hart trek met ’n punt na hom. Onder die breërandhoed met silwerbeslag is sy gesig egter ernstig en bekommerd.

      “Ek hou nie daarvan dat jy so alleen reis nie,” grom hy.

      “Ek is nie alleen met dié groot geleide nie,” herinner sy hom met ’n glimlag. “Niemand sal dit waag om ons aan te val nie.”

      Hy frons egter nog steeds. Dié meisie is vurig en onverskrokke, maar gans te mooi om alleen te reis, selfs met ’n duenna by haar, dink hy. Selfs as sy ooglopend rou. Mans kyk begerend na haar – hy let dit lank reeds op en dit irriteer hom meer as wat hy wil erken.

      Hier is sy nou in swart rydrag en haar slanke, regop figuur vang die oog. Hy sien hoe loer die gaucho’s na haar. Natuurlik sal hulle haar beskerm, maar hulle is ook net van vlees en bloed en kan nie help om haar te bewonder nie. As sy verpligtinge teenoor almal onder sy dak en veral teenoor Mercedes hom nie so vasgehou het nie, sou hy nooit vir Miranda alleen laat gaan het nie. Hy sou haar eenvoudig al die pad vergesel het, want om haar terug te hou, is onmoontlik. Sy het ’n wil van haar eie en hy respekteer dit heimlik.

      Sy is in elk geval so mooi, en haar saak is so treurig en kritiek dat sy die president se hart sekerlik sal laat vermurwe. Hy hoop net die man sit nog stewig in die saal en dat sy heerskappy nie reeds wankel soos Mercedes se siniese, ultra-monargistiese broer beweer het nie. Dit sou beteken dat die president nie beheer oor die leër het nie. Ramirez se aanhangers word by die dag meer, en dit voorspel niks goeds vir die ryk estancia-eienaars nie, want daar is sprake dat van hulle die president “gekoop” het. Alejandro het ’n hekel aan omkopery, maar in dié land is korrupsie al net so endemies soos in die Spaanse regering. Vir sommige mense loop niks reg as hulle nie die wiele met geld olie nie.

      Te gou bereik hulle die afdraaipad na die hoofstad, en Alejandro dink aan die Indiane wat met hul donkies en gesinne trek, die enkele rytuig en die paar ruiters wat hulle op pad teëgekom het. Dit het veilig gelyk. Ramirez is seker in die berge met sy gesteelde perde en beeste. Hy verwag dalk ook weerwraak en berei hom voor op ’n teenaanval.

      “Dis hier waar jy moet omdraai,” sê Miranda.

      Dis vir hom amper te moeilik om haar te laat gaan en hy wens hy kan haar beter beskerm.

      “Julle moet Doña Miranda baie mooi oppas, anders kry julle met my te doen,” waarsku hy sy gaucho’s.

      In ’n koor belowe hulle om haar met hulle lewe te beskerm.

      Hy ry tot by haar en kyk af na die dapper gesiggie, wat sy trots oplig om hom te oortuig sy is nie bang nie. Hoe mooi is sy nie in die helder sonlig nie. Hy wens hy kan haar op haar mond soen, maar hy neem net haar hand in die sagte leerhandskoentjie en soen die pols waar die are klop.

      “Veilig ry, en moenie tyd verspeel nie. Stuur iemand met ’n boodskap as jy my nodig kry.”

      Miranda voel steeds sy lippe se skroeiing op haar vel toe hy haar hand los en die verraderlike hitte stu weer ongevraag in haar op.

      “Pas asseblief vir Raúl mooi op,” sê sy vir oulaas, en toe druk sy haar hakke in die perd se lieste.

      Sy kan nie weer na Alejandro kyk nie, maar sy voel hoe hy haar agternakyk. ’n Ent weg draai sy effens om en kyk oor haar skouer. Hy staan steeds daar met sy vier gaucho’s, maar hulle word al kleiner soos sy aanry.

      Sy kyk weer voor haar en toe sy ’n rukkie later omkyk, steek die heuwel hulle weg en dink sy hulle moes reeds omgedraai het. As sy nie so ’n belangrike doel voor oë gehad het nie, het sy nou verlate gevoel. Jy is verspot, vermaan sy haarself, want om haar is die swaargewapende mans, en Carmen op die muilwa.

      “Julle moet met ’n koets ry, dis veiliger as op ’n perd en dit skep ’n beter indruk,” het haar moeder gesê, maar sy het geweier.

      “As ons vinnig moet wees, is perde veel beter,” het sy volgehou.

      Haar oë soek oor die horison. Sy sien geen banditti op perde wat hulle dophou nie, maar haar rug kriewel en dit voel asof oë hulle van alle kante dophou.

      Diego, die leier van Alejandro se gaucho’s, kom ry langs haar. “Señorita, ek sien u kyk rond. Ek wil u nie skrikmaak nie, maar ons word dopgehou.”

      “Ek kry ook die gevoel.”

      “Ek glo nie hulle sal aanval nie, want ons is goed gewapen en ’n hele klomp. Hulle weet ons sal ons verdedig, en vir een wa met kiste klere en ’n bietjie geld sal hulle dalk nie hulle lewe waag nie.”

      Miranda knik en glimlag dapper vir hom. Hy lyk vreesloos en bruingebrand, met ’n pikswart snor en woeste hare onder sy breërandhoed. Al die mans, van haar eie estancia en Alejandro s’n, lyk kwaai en taai en sy weet dat hulle baie onafhanklik, trots en sterk is. Dis die tradisie waarin sy en Alejandro grootgeword het, en wat Mercedes en haar broer nie ken nie, dink sy meewarig.

      Al die mans dra die tipiese gaucho-klere: ’n poncho, lospassende broek en breërandhoed. Almal het boleadoras, leerswepe, groot messe en gewere, alles mooi versier. Hulle perde, wat hulle belangrikste besitting is, is net so gehard soos hulle.

      “Ek is nie senuagtig nie, Diego,” verseker sy die gaucho, want sy wil aan dié geharde mans toon dat sy net so dapper soos hulle kan wees.

      Hy grinnik met wit tande onder sy swart snor. “Si, Señorita.” Maar toe sê hy ernstig: “Ons is jammer oor Don Ramon, en ons bid dat Señor Raúl sal herstel.”

      “Dankie, Diego. My broer is in die hande van God. As dit Sy wil is, sal hy lewe. Intussen sal ek sy plek probeer vol staan en die wraak neem wat hy sou geneem het. Daardie Ramirez gaan boet.”

      “Ek wonder of die president-diktator sy troepe sal stuur om ons te help,” sê Diego met ’n frons. “Anders moet ons maar self veg. Ramirez word al sterker soos misnoegde arm mense by hom aansluit. Daar is baie wat die paar honderd eienaars van estancias beny en hulle wil beroof van hulle grond en besittings.”

      Miranda kyk onrustig na hom. Die markies het daarop gesinspeel, en nou staaf hierdie man uit die gewone mense wat weet wat op voetsoolvlak aangaan sy bewerings.

      “Ramirez