Danie Marais

Al is die maan 'n misverstand


Скачать книгу

align="center">

      Die siener

      Die siener verstaan soos ’n hond –

      met sy neus

      trap sag in die bloedspoor van môre.

      Hy glo die swaelreën sonder ophou

      ontsyfer die verkeer

      hou die krioelende miere dop

      in die sierskrif aan die muur.

      Hy lees die tekens in die jongste modes:

      Die toekoms is epidemie.

      Hy moet haar stop.

      Al die ander

      is vreemdelinge

      toegespin in haar tv-arms

      haar vergesigte.

      Hy is alleen.

      En die hou

      kom altyd van agter.

      Dit is telkens

      te laat.

      Waar die siener val

      kom ’n biblioteek op.

      Geen plan B nie

      As jy gedigte of stories wil skryf –

      die soort wat gate in mense oopraak –

      vermy dan die oë van die verstandiges.

      Verstandiges sien dinge soos dit is,

      maar wanhoop nie daaroor nie –

      bestuur dit bloot.

      Om jou saaklik

      deur húlle skerp oë te sien

      is dodelik.

      Jy sal nie hul afgemete medelye

      kan verduur nie.

      As jy verstandig wil wees,

      vermy die biblioteek.

      Netnou krap ’n storie of gedig jou oop

      en jy soek rasend,

      ’n stomme lewe lank,

      na die antwoord

      op die bot punt

      van jou verleppende tong.

      Jy vra hoe ons eerste soen was

      En ek sê met jou mond het jy

      aan my geraak

      soos ’n sad song

      aan ’n dronkverdrietige snaar.

      In een sagte akkoord het jy

      my eenman-piesangrepubliek

      omvergewerp.

      Met jou lang vingers oor my rug het jy

      sewe maer magtelose jare

      uit my lewe gestreel

      soos ’n mens ’n kreukel

      uit ’n hemp stryk.

      “Maar die grootste hiervan was die hoop”*[1]

      Ná middagete en ’n bier

      het ek gaan loop regdeur ’n somerdag in Londen –

      daar was baie mense, rooi busse en padtekens,

      maar ek was los voor

      in my kortbroek en sandale,

      ’n wip in my stap

      en die rooi ligte het hulle groen geskrik

      die stoptekens het gesê “Ry!”

      Al die waarskuwingstekens was vir ander bedoel.

      warning! scaffold is alarmed

      het rooi letters my vermaan.

      “Take it easy, Mr Scaffold,” het ek gereken.

      “Don’t be alarmed now, darling.”

      Want kyk, daar’s ’n meisie met sewe letters

      in haar naam

      en sy sê sy hou van my, Mr Scaffold,

      sy sê sy soek my en ek glo haar

      en loop aan onder staande toejuiging

      van lamppale,

      middeldeur die somer;

      die Japannese toeriste langs die Teems

      wat vir my glimlag

      voor hulle met duur kameras behang

      omdraai

      en my agterna staar.

      By Westminster Bridge

      het ek gestop, my ingegrawe

      met ’n pint donker gedokterde bier –

      Big Ben soos ’n Lucky Strike in my lawwe bek

      en ’n wêreldstad soos wolke

      af, af met die rivier …

      Ná daai pint moes ek my skateboard-luim

      straataf, tipsy en somerlangs ry

      om te wag vir haar

      in al die straatkafeetjies,

      die duisend restaurante

      en donker pub-hoekies,

      die kouebier-terrasse

      waar die blou lug lawaai

      en elke slag

      het sy oorkant my

      agter haar verstaanbril kom sit –

      heimat in haar handsak

      in haar glimlag die groot miskien.

      En ek, ek was eensklaps Elvis,

      Time Man of the Year,

      Lucky Luke en Han Solo –

      “fell into the cauldron when I was a baby”.

      Bliksem, sy sit net en smile vir my

      op die foto in my hand

      en ek ís die Pink Panther, Aragorn, son of Arathorn,

      die uitverkore volk, die oop pad

      en die ewige lewe.

      Asseblief II

      Dis drie-uur, Sondagoggend –

      Mary Coughlan se Tired and Emotional hang

      soos sigaretrook en herinnering

      in die lug om my.

      Gregor sit-lê oopmond en slaap

      in ’n swart stoel

      skuins oorkant my,

      maar jy is ver weg

      as ek koorsagtig probeer

      om die toekoms te sien

      in die sewe wasige letters van jou naam

      soos iemand wat ’n kleur probeer hoor

      of ’n klank wil proe

      soos ’n baba in sy wieg wonder

      oor die betekenis van nagwind in die blare.

      Onthou, Marais, niks was ooit soos jy gedink het

      dit gaan wees nie –

      jou laaste liefde het jou

      “Alles Schlechte!” toegewens

      voor sy vir altyd