sê jy
skielik wawyd wakker.
“Ek ken al daai Kaapse hospitale van binne –
Karl Bremer, Tygerberg, Panorama.
My ma het in almal gelê tot sy
in Tygerberg se kankersaal oorlede is.
Ek onthou daai hospitaalbesoeke ná skool
asof ek gister nog in standerd 4 was.”
Jy vertel van destyds,
van die tyd van die foto’s
wat jy so versigtig
saam met ’n paar briefies en knipsels
in ’n Cadbury’s Black Magic-boksie bewaar.
Wanneer jy vertel, sien jy goed wat ek nie kan sien nie.
Ek oorweeg dit om die onderwerp te verander,
maar te laat –
ek is ingesuig.
“Jou ma is redelik vinnig oorlede, nè?”
Ek hou op om jou voetsool te streel.
“In Maart-April ’87 is longkanker by haar gediagnoseer,
en op die 11de van die 11de daai jaar is sy weg.”
“So, sy was net nege maande siek?”
“Ja, so lank soos ’n vrou swanger is,
maar as ’n mens elf is,
voel dit soos jarre.”
“Het jy ooit in die hospitaal vermoed
daar is nog gevoelens tussen jou ma en pa?
Hulle was mos al vyf jaar geskei.”
Ek dink aan my eie egskeiding,
hoe dit sou wees as ons kinders gehad het;
die dood.
“Partykeer
as my pa ons vir ’n naweek kom oplaai,
het ek my so iets verbeel.
Miskien net wensdenkery …
Maar die dag toe my pa so vroeg
by die nasorgsentrum was,
toe ek hom so klein
voor die saaldeur sien staan het,
het ek geweet sy’s dood.”
Ek laat ’n vinger sag
op en af oor jou arm gly.
“Haar dood was aan die begin net
so onwerklik.” Jou stem nou vol ou huil.
“Sy was net 39 en haar hele klerekas
het nog geruik na haar.
Hoe kan ’n mens dood wees
as jou klere nog na jou ruik?”
Toe jy jou gesig na my toe draai
herken ek duidelik jou ma.
Dis warm, en ek ruik jou
in die fyn haartjies
teen jou nek.
Buite is dit pers Oktober.
Ma
Ek moes geweet het, Ma,
geweet het
’n mens kan nie wegkom nie,
nooit
van jou eie stem,
van Afrikaans,
of verlange,
of die suburbs,
of niks nie.
Maar ek het probeer.
Ek het gehardloop,
gefokkof,
heen en weer,
Duitsland, rock bottom, en terug;
was elektries van hoop,
vrot van ambisie,
maar die lewe is sekuur
en die hart, Ma, is ’n sagte teiken.
Ek moet met jou praat, Ma,
want die tyd versand
en alles lek weg na verderf.
Jy moet my vergewe, Ma,
want ek weet nie altyd wat ek doen nie.
Ek is nie goed met my hande of geld of aanvaarding nie.
Ek het jou liefde soms in die gesig geskop –
oor ek die almagtige stilte nooit kon bykom nie,
oor ek in volle beheer van my eie verleentheid moes wees,
oor niks anders binne bereik was nie.
Ek het jou liefde met klippe gegooi, Ma,
maar jy het vir my gekyk soos die see.
Jy weet maar te goed,
hoe ek voor jou betoog en my hande in die lug gooi
soos ’n ortodokse Jood voor die Klaagmuur
elke keer dat ’n droom in my skoot kom vrek.
Wat gaan ek alles aanrig,
as jou liefde gaan lê?
Soms droom ek
hoe jy jou rug op my draai
om dood te gaan, Ma;
hoe jy my
soos ’n sleep, Ma, agter jou aan
skeur.
Bismarck en die tuinman
Hier waar ek lê
in lou badwater
voel ek hoe die somerhitte druk.
Ek sweet
onder my gewaste papnat hare.
Die sonbesies buite
klink soos ’n sameswering;
herinner my
aan my kuiers by Leon met die groot ore
toe ek 11 was –
Leon, die enkelkind in die groot huis
met ’n swembad en ’n tennisbaan
en al die jongste plate en ’n ouma
wat altyd tuis was
om koekies en koeldrank aan te dra
vir ons wat na Wham of Michael Jackson luister.
Op die tennisbaan
het Leon my gemaklik geklop,
maar toe ek eendag ’n stel wen,
het hy sy raket op die grond gegooi
en binne toe gehardloop.
Op die vuurwarm tennisbaan
het ek onseker agtergebly –
die kombuis se sifdeur wat agter Leon toeklap;
die sonbesies wat te kere gaan.
Bismarck die rottweiler –
’n knorrige, opvlieënde bliksem –
het tussen my en die agterdeur kom staan.
Vir Bismarck was ek bitter bang.
Hy’t eenkeer na my gehap.