was proponent Coetzee nog nooit. Hy het hom juis so gehaas om vroeg tuis te wees sodat hy en Rista die middag stil kon gaan deurbring in die kloof wat digby die dorp geleë is. Hy het reeds so baie verlang na sy donkeroognooientjie. En dan is daar ook soveel wat hy vandag vertroulik met haar wou bespreek het. Daarom wou hy die middag in die kloof gaan deurbring het. Hy was van plan om vandag terloops uit te vind hoe sy oor hom voel, want die onsekerheid waarin hy dag na dag verkeer, begin hom nou erg prikkelbaar maak. Nou moet hy ineens vind dat al sy verwagtinge verydel is – dat omstandighede sy planne in die wiele gery het.
So ’n waaghalsige meisiemens, dink hy bekommerd en met ’n sekere mate van afkeer toe hy die motorenjin aansluit om na Ouma se losieshuis toe te ry. Hy moet by die ou dame gaan verneem oor Rista se vertrek en hoor wanneer sy weer tuis verwag word. Dat sy jou waarlik so ’n lang reis alleen per motor gaan aandurf!
Op pad na die losieshuis is sy gedagtes net by Rista en haar veiligheid. As sy nou maar dadelik met haar aankoms in Pretoria skakel, sal dit sy swaarbelaaide gemoed heelwat verlig. Maar nou is die vraag nog of sy wel sal kan skakel!
2
Die voordeur is toe. Geruisloos maak Johan dit oop en stap die groot, koel ontvangskamer binne. Die huis is doodstil. Die loseerders is by die werk. Net die onafgebroke getik … tik … tik van die groot huishorlosie en af en toe die gekletter van skottelgoed in die kombuis is vaagweg hoorbaar.
Johan stap kombuis toe waar hy meen om Ouma aan te tref.
Voor die stoof vind hy Ouma waar sy besig is om tertjies te bak en die hele kombuis is deurtrek met die heerlike geur daarvan. Van kindsbeen af is tertjies al Johan se geliefkoosde snoepery, veral soos Ouma dit altyd bak.
“Hoe lyk dit, kan ek Ouma nie help om die tertjies af te druk nie?” groet hy die ou dame wat gebukkend voor die oop oond staan.
Behendig steek sy eers die laaste pan tertjies in die oond, dan draai sy om en soengroet hom vriendelik.
Sy beskou Johan feitlik al as ’n eie kind. En hy is so tuis in haar huis asof dit sy eie is. As kinders was dit sy, Brenda en Rista se grootste plesier om vir haar die tertjies en soetkoekies af te druk, of anders het hy panne gesmeer terwyl Brenda en Rista vir haar eiers geklits het wanneer daar droëkoekies gebak is.
Die ou dame kyk hom glimlaggend aan en sê-vra: “Aarde, kind, en hoe dink jy gaan jou pak lyk van die meel wanneer jy klaar is? Nee, gaan sit jy maar gerus en gesels met my.” Terwyl sy ’n paar tertjies keurig op ’n bordjie rangskik en dit langs Johan op die tafel plaas, sê sy: “Mina, skink eers vir Johan ’n koppie lekker koffie. Die room is in die spens in die geel melkbeker, hoor!”
“Ja, toe, Mina, jy het lank laas vir my koffie met room gegee. Sterk koffie met baie room, hoor!” kom dit vriendelik van Johan wat feitlik voor Mina grootgeword het. Vandat hy Ouma ken, werk Mina al vir haar. “Ek het nie bedoel om Ouma te kom steur nie,” merk Johan verskonend op toe die ou dame regoor hom aan die ander kant van die tafel gaan sit.
“Jy steur my nie in die minste nie, my kind. Die oond is op die oomblik vol tertjies. Ek sit net so ’n wyle tot hulle gaar is,” verduidelik sy en vervolg weer: “Maar hoor, dis goed om jou terug op Kroondal te sien. Ons het jou nogal baie gemis, weet jy.”
Johan wonder of dit met Rista ook die geval was, of sy hom ook gemis het. Hoe verheug sal hy tog nie wees indien dit wel die geval is nie. Maar dan bring die ou dame hom terug aarde toe, want sy gedagtes het vir ’n oomblik baie ver in die toekoms rondgesweef.
“Jy weet natuurlik al dat Ristatjie gisteroggend weg is Pretoria toe om vir Brenda te gaan kuier?”
“Ja, Ouma, dis juis waarom ek hier is. Ek kan werklik nie begryp hoe Ouma kon toelaat dat Rista so ’n lang reis alleen aandurf nie. Sy kon mos met die trein gery het,” sê hy bekommerd en amper vererg teenoor Ouma wat skynbaar glad nie besorgd is oor Rista se veiligheid nie.
“Ag, Johan, sy het nou verkies om self te ry. Ek kan darem ook nie altyd teen haar wense beswaar maak nie, kind. Ek dink tog jy bekommer jou verniet oor Ristatjie. Sy is heeltemal in staat om na haarself te kyk,” verduidelik Ouma in die hoop om Johan te oortuig dat Rista veilig in Pretoria aangeland het.
“Wel, ek hoop van harte so, Ouma,” sê hy. “Wanneer verwag jy Rista terug, Ouma?”
“So oor twee maande, Johan. Natuurlik nadat al hierdie gewerskaf en bouery aan die huis eers op ’n end is. Jy weet mos ons Ristatjie hou nie van so ’n gedrang om haar nie.”
“Wie gaan Sondae in Rista se plek orrel speel, Ouma?”
“Wel, jou moeder het aangebied om haar plek te vul tot tyd en wyl sy terug is, my kind.”
“Ek hoor Ouma bou aan vir dokter Myburgh en sy ouers. Wanneer verwag Ouma hulle?” verneem hy weer toe hy die koppie koffie optel waar Mina dit langs hom op die tafel geplaas het. Hy merk dat Ouma vanmôre lus voel vir gesels. En wanneer Ouma die dag lus het vir gesels, kom mens nie maklik van haar af weg nie. Dus sal hy haar maar met vrae bestook in plaas daarvan dat sý dit doen.
“Wel, hulle wil graag oor twee maande intrek. Ek hoop net dat hierdie gewerskaf dan al op ’n end is, want die gemors buite van stene en sement is genoeg om enigeen rasend te maak. G’n wonder ou Ristatjie het daarvoor gevlug nie.” Na etlike sekondes sê sy weer: “Ek hoop nie jy ontvang ’n beroep voor Ristatjie se een en twintigste verjaardag nie, Johan, want sien, ek wil graag vir haar ’n partytjie …”
“Wanneer verjaar sy nou weer, Ouma?” val hy haar effens uit die veld geslaan in die rede. Dat hy jou waarlik so ’n belangrike gebeurtenis kon vergeet.
“Eers oor vyf maande,” hoor hy die ou dame sê.
“Ek is bevrees teen daardie tyd is ek lankal weg, Ouma, aangesien ek reeds ’n beroep ontvang het en binne ’n maand moet vertrek.”
Die ou dame wens hom geluk en spreek ook haar seënwense uit. Sy onthou nog so goed hoe hulle as kinders gewoonlik kerk gespeel het. Dan was Rista en Brenda die gemeente en hy die predikant. En hoe waardig was sy houding nie toe al toe hy so met ’n oop boek voor hulle tweetjies op ’n stoel gestaan het wat as preekstoel moes dien nie. Nee, Johan sal voorwaar ’n waardige leraar wees. Een wat hom hart en siel in sy groot taak sal werp sonder om ’n oomblik daarvoor terug te deins.
“Verskoon my, Johan,” sê Ouma later. “Ek het dit totaal uit die oog verloor dat ’n predikant nie dans nie.”
Johan merk haar verleentheid en stel haar gerus deur te sê: “Wel, ek sou beslis nie gedans het nie, Ouma, want soos sake staan kan ek nie eens dans nie, behalwe ’n outydse wals natuurlik. Maar ek sou darem ook nie dat die dansery my daarvan weerhou het om Rista te kom gelukwens nie.”
Na ’n wyle sê hy egter weer, duidelik teleurgesteld: “Nou sal ek Rista nie eens sien voor my vertrek nie. Of ek moet haar agternasit, wat ek baie lus het om te doen. Ek wou haar juis so dringend spreek voor my vertrek.” Die laaste sin het hy meer aan homself gerig as aan die ou dame.
“Dis nogal nie ’n slegte plan nie, Johan,” merk sy bedaard op. Sy kan so half en half gis waarom hy Rista nou ewe skielik so dringend wil spreek. Sy het verwag dat dit sal gebeur sodra hy ’n beroep ontvang, want wat beteken ’n pastorie sonder ’n predikantsvrou? “Ja, en wat ek jou nou wou vertel het, Johan,” sê sy. “Jy weet natuurlik nog nie dat dokter Myburgh se ou vader ook ’n geneesheer is nie, ’n afgetrede geneesheer.”
“Nee, Ouma.”
“Nou ja, hy kom glo eintlik saam om gesondheidsredes, daarom wil hulle vir eers loseer. Indien die Kaap se klimaat hom geval, sal hulle blykbaar later self hier huis opsit. Hulle kom mos ook van Pretoria af.”
“So. Wat makeer die ou oom nogal, Ouma?”
“Gits, kind, ek verstaan hy ly glo al jare aan chroniese brongitis.” En met hierdie woorde staan sy op om na die tertjies in die oond te gaan kyk.
Johan plaas die leë koppie op die tafel en staan dan op. Hy het klaar besluit om sommer vandag nog Pretoria toe te vertrek. Hy