Susanna M Lingua

Susanna M Lingua-keur 15


Скачать книгу

losieshuis geparkeer staan. Hy moet Rista so gou moontlik spreek en self van haar verneem of sy jare lange drome en verwagtinge enige waarheid bevat.

      Toe hy by die huis kom, tref hy sy moeder en vader in die sitkamer aan waar hulle gesellig hulle elfuurtee sit en geniet.

      “Kom sit, Johan. Jy sal seker ook ’n koppie tee drink,” sê sy moeder besorg.

      Johan staan en vroetel met sy pyp in sy baadjiesak terwyl hy swyend na die teegerei op die tafeltjie staar. Dan sê hy ingedagte: “Dankie, Ma, ek het pas tertjies en koffie by Ouma geniet.”

      “Nou ja, uit dan met wat jy te sê het, kêrel,” kom dit moedig van sy vader wat met ’n kennersoog reeds sy seun se afgetrokke houding bespeur het en deeglik bewus is daarvan dat hy iets vertrouliks aan hulle wil meedeel.

      “Hoe weet Pa dat ek wel iets op die hart het?” verneem hy met ’n glimlaggie, maar tog effens verward. Sy vader het die wind nou skoon uit sy seile geneem met sy onverwagte opmerking.

      “Jy is nie verniet my seun nie, Johan. Ek ken elke trekkie, elke rustelose beweginkie van jou al op die punte van my vingers. Vertel ons maar gerus wat dit is.”

      “Gits, Pa het my nou so skielik oorval, my nou letterlik in ’n hoekie gedryf. Op die oomblik weet ek nie waar om te begin nie,” lag hy verleë. Dan klop hy sy pyp liggies in die haard uit om so sy verleentheid te verberg.

      Plaend voeg sy vader hom weer toe: “Wou jy miskien ouers gevra het, Johan?” Toe hy sy seun se verleentheid bespeur, sê hy: “Hoe lyk dit dan vir my ek het die spyker op die kop geslaan, ou seun?”

      “Gedeeltelik nogal, Pa. Wanneer ek eers terug is van Pretoria af, mag dit straks werklik die geval blyk te wees. Maar julle begryp natuurlik dat ek Rista eers om haar hand moet gaan vra voor ek dit so ver kan bring om ouers te vra. En dit is juis wat ek aan Ma en Pa wou verduidelik het – dat ek Rista wil gaan vra om my vrou te word.”

      “My seun, dit sal nie eens vir jou nodig wees om ouers te vra nie, want jy het reeds ons goedkeuring. Ons wens jou alle heil en seën toe. Dit sal vir ons ’n heuglike dag wees die dag as jy en Ristatjie in die huwelik bevestig word.”

      “Dankie, Pa. Ek besef lankal dat Rista julle goedkeuring wegdra as lewensmaat vir my. En dankie vir julle seënwense. Ek sal dit beslis nodig hê,” sê hy opreg dankbaar.

      “Wat is jou plan … wanneer wil jy Pretoria toe gaan, Johan?”

      “Sodra Ma vir my ’n tas gepak het, Pa,” sê hy en stap na sy moeder wat nog langs die teetafeltjie sit, plaas sy hande liggies op haar skouers en sê sag, pleitend: “My ou moedertjie gee mos nie om wanneer haar lastige seun haar so pla nie, nè?” Dan plaas hy ’n soen op haar bruin kroontjie waarin die silwer drade ook al effens sigbaar is.

      “Wanneer wil jy ry, my kind?”

      “Onmiddellik, Ma. Sodra my tas gereed is.”

      3

      Die pragtige, moderne siersteenhuis met sy rooi teëldak en groot vensters staan verskuil agter reuse-jakarandabome wat op die oomblik oorlaai is met ligpers bloeisels.

      Geklee in ’n keurige, bont somersrokkie, lê Rista uitgestrek op die koel gras onder die lawende skaduwee van die grootste ou jakaranda.

      Diep versonke in haar gedagtes lê sy op Brenda en wag, wat nou enige oomblik haar verskyning sal maak met hulle middagete. Van waar Rista op die gras lê, kan sy niks van die verkeer in die straat hoor nie. Sy en Brenda het vir hulle ’n goed verskuilde plekkie uitgesoek waar hulle ongestoord kan sit en gesels.

      Sy lê en wonder wat Oumatjie op dié oomblik doen. Sy verlang seker al klaar na haar dogter. Oumatjie kan mos nie verdra dat haar dogtertjie van die huis af moet wees nie.

      Vaagweg hoor Rista mense van die huis se kant af aangestap kom, maar sy kan hulle stemme nog nie onderskei nie.

      Seker maar weer een van Brenda se menigte vriendinne, besluit sy en laat haar kop liggies op haar gevoude arms sak. Die reuk van gras en klam grond styg behaaglik in haar neus op. Dit laat haar terugdink aan haar kinderjare en die plaas waar sy grootgeword het.

      Op die oomblik voel Rista betreklik lomerig van Pretoria se hitte wat dreig om haar aan die slaap te sus.

      Ek sal inderdaad aan hierdie hitte moet gewoond raak indien ek hier wil bly, dink sy half aan die slaap.

      Meteens word die stemme al duideliker. Sy kom orent. Op dieselfde oomblik kom Brenda en die lang, skraal gestalte van Johan onder die bome te voorskyn.

      Versigtig plaas Johan die skinkbord met die teegerei op die naaste tafeltjie. Dan stap hy opgetoë na Rista wat nou ook opgestaan het.

      Hartlik en bly groet hy haar met ’n broederlike soen. Dan verneem hy belangstellend na haar welstand.

      Rista is aangenaam verras om hom te sien. Hy is werklik die laaste mens wat sy op die oomblik in Pretoria verwag het.

      Johan sien die verrassing wat sy koms veroorsaak duidelik op haar gesig. Dit doen sy hart goed om te sien dat sy tog verheug is om hom weer te sien.

      “So,” voeg sy hom skertsend toe, “dan het proponent Coetzee ook eindelik besluit om Pretoria te besoek.”

      “Kyk, meisie, in die vervolg spreek jy my asseblief aan as dominee Coetzee, hoor!” voeg hy haar in dieselfde luim toe onderwyl hy ondeund in haar donker oë glimlag. “Ek is hier vir sake, nie om Pretoria self te besoek nie.” Vir etlike sekondes staar hy haar swyend aan met ’n blik wat verlangend op haar fynbesnede gesiggie rus. Hy het so verskriklik na hierdie klein mensie verlang. Sy hou sy hele hart in haar twee klein handjies en hy wonder of sy dit ooit besef. Dan sê hy saaklik en kalm: “Kom, nooientjie, die tee word koud.”

      Al geselsend beweeg hulle na waar Brenda reeds besig is om die tee te skink. Hulle gaan sit langs mekaar op ’n bankie regoor Brenda terwyl hulle die teeskinkery swyend gadeslaan.

      “En jy sê die end van die maand moet jy vertrek, Johan?” verbreek sy suster die stilte wat ’n oomblik om hulle gehang het.

      “Ja, sus, dan sal jy jou boetie nie weer gou sien nie, tensy julle natuurlik vir my kom kuier.” Dan sê hy weer plaend en met ’n ondeunde blik op Rista gerig: “Maar ek dink tog ek moet Ristatjie saamkarwei om vir my te gaan huishou. Wie gaan vir my knope aan my hemde werk, vir my kos kook, vir my … nou ja … wel, dit nou daar gelaat, wie gaan vir my al hierdie ou werkies doen?”

      Rista sê laggend: “Ja-nee, jy is nou werklik in ’n nare verknorsing.”

      “Hoe lyk dit, meisie?” gaan Johan in dieselfde luim voort. “Is jy darem al in staat tot sulke ou werkies, of sal ek jou dit eers moet leer?”

      “Johan, jy is baie snaaks, nè? En astrant,” lag sy. “Jy sal my eers moet leer. En dan moet jy goed begryp dat ek nie vir ’n paar rand per maand sal werk nie. O nee, jy sal my darem ’n ordentlike bedrag moet betaal.”

      “Wel, ek gee nou nie juis om om jou ’n ordentlike salaris te betaal nie, maar dan wil ek natuurlik uitstekende werk hê. Jy moet goed begryp dat jy vir die onderrig ook sal moet betaal indien ek jou eers die werk moet leer.”

      “H’m, ek moet sê dit klink heel redelik,” lag sy.

      “Nou goed, dan is dit so afgespreek. Die eerste drie maande betaal ek jou niks, omdat dit die tydperk sal wees waarin ek jou moet touwys maak. En die eerste ding wat jy natuurlik sal moet aanleer, is dat wanneer jy vir my ’n knoop aanwerk, jy asseblief ’n knewel van ’n knoop aan die punt van die garing moet maak. Anders sien ek gevaar dat die hele knoopaanwerkery telkens herhaal sal moet word.”

      “Nee, maar ek wil dit so hê,” glimlag sy spottend. “Ek gee nogal glad nie om om selfs ’n rots aan die end van die garing vas te maak in plaas van net ’n knoop nie.”

      “Gaaf, dan verstaan ons mekaar op daardie gebied. Maar ek moet sê dat daar nog heelwat vir jou te leer is. Ek wonder selfs of jy alles in drie maande sal leer, want ek is nogal ’n besonder