“Tik en boekhou is al wat ek kan doen, omdat ek nie juis vir enigiets opgelei is nie.”
“Wel, as dit die geval is, is alles in die haak. Ons kan nog oor die salaris praat. Nou is die vraag nog net of jy bereid is om die pos te aanvaar. Jy gaan my tog seker nie teleurstel nie, juffrou. Ek weet werklik nie of ek gou ’n plaasvervanger sal vind nie, want tot dusver het daar nog nie eens een kom aansoek doen om die betrekking nie.”
“Wat my betref, meneer Myburgh, is jou betrekking net so goed soos enige ander. Dus sal ek my op die eerste van volgende maand in jou kantoor aanmeld. Ek hoop net dat jy my werk bevredigend sal vind. Jy begryp natuurlik dat ek nog nooit voorheen in ’n kantoor gewerk het nie en dat ek dus geen ondervinding het nie. Maar ek belowe darem om my bes te doen.”
“Daaraan twyfel ek nie ’n oomblik nie, juffrou. Daar sal natuurlik die een en ander wees waarmee jy nie vertroud is nie, maar jy sal gou daaraan gewoond raak. Dit is nie so vreeslik moeilik nie.” Hy druk die sigaretstompie in die asbakkie op die tafel dood. Dan neem hy weer langs Rista op die bank plaas. “Wel, juffrou, aangesien ons van volgende maand af gaan saamwerk, kan ons maar net so wel al begin vriende word. Dit sal tog uiters onaangenaam wees om op kantoor soos twee vreemdelinge in mekaar se teenwoordigheid te wees. Dink jy nie self so nie?”
“Ja, dit sal nogal ongesellig wees,” glimlag sy toegewend. Hy kom vir haar voor as ’n goeie werkgewer, glad nie die soort wat heeldag opgeblaas agter ’n dik sigaar sit met sy hakke op die lessenaar gestut, net oorgehaal om fout te vind nie. Nee wat, ons sal goed oor die weg kom, besluit sy in haar enigheid.
“Gaaf,” hoor sy Pieter dan weer sê. “As jy dan met my saamstem, stel ek voor dat ons mekaar in die vervolg op ons name noem. Solank ons mekaar die heeltyd ‘juffrou’ en ‘meneer’ sal nie een van ons regtig gemaklik en tuis voel in die ander een se teenwoordigheid nie. En dit is wat ek graag wil verhoed, Rista. Ek wil hê ons moet nog groot vriende word.”
Sonder enige waarskuwing gaan die middeldeur skielik oop en Brenda kom by die eetkamer in. Asof hy reeds jare al daaraan gewoond is om ’n skinkbord te dra, volg Jurie kort op haar hakke met ’n skinkbord wat vier koppies koffie en ’n bord met versnaperinge bevat.
Hy bedien eers die twee dames en dan sy vriend, Pieter. Nadat hy almal behoorlik oorlaai het met eetgoed, help hy homself en gaan dan langs sy vrou op die leuning van haar stoel sit.
“En toe,” vra Jurie vir Pieter, “hoe ver het jy toe met Rista en die werkprobleem gevorder?”
“Gits, Jurie,” begin Pieter luimig, “hoe sal ek nou sê, man? Dit was natuurlik ’n hele konsternasie en byna het dit nog op ’n tweegeveg ook uitgeloop. Sy was vasbeslote om nie kop te gee nie, en so ook ek. Maar sy het darem later ingestem om haar op die eerste van volgende maand in my kantoor te kom aanmeld. Nou is die vraag egter nog of sy haar in die môre gaan aanmeld of wel in die middag.” Toe hy merk dat die twee dames hulle gesprek geniet, gaan hy voort: “Maar ek moes haar nou letterlik smeek, soebat, pleit – ag, ek weet nie meer wat nog alles nie. Uiteindelik val dit my by van die raad wat jy my vroeër gegee het. En jou waarlik, ou Jurie, toe ek haar belowe dat ek vir haar so goed sal wees soos haar eie oupa nooit vir haar kan wees nie, stem sy sowaar tot my grootste verbasing onmiddellik in.”
Die twee dames lag lakker. Pieter sit hulle geamuseerd en aanstaar asof hulle die snaaksste verskynsels is wat hy nog ooit op aarde gesien het, terwyl Jurie hulle sydelings glimlaggend betrag.
“Ja-nee, as jy darem in so ’n stryd geslaag het, ou vriend, is die Kaap voorwaar Hollands,” kom dit veelseggend van Jurie wat goed besef hoe geheg sy vrou aan Rista is en hoe verheug sy moet wees noudat Pieter Rista se verblyf by hulle moontlik gemaak het. Hy sal die eerste jaar van hulle huwelik darem nie vergeet nie. Brenda het byna meer getreur oor haar vriendin as oor haar eie moeder. Hoeveel kere het hy haar nie daardie tyd betrap met rooi gehuilde oë nie, en net hy het geweet dat dit na Rista was wat sy so verlang het. As ou Pieter nou maar net sy kaarte mooi speel, sit Jurie heimlik en dink.
Vir ’n halfuur is Jurie só verdiep in sy eie gedagtes dat hy totaal onbewus is van wat die ander drie om hom sit en gesels. Hy is dus aangenaam verras om te hoor dat Rista en Pieter mekaar reeds op hulle voorname noem. Nee, wag, besluit hy, Pieter ken sy storie.
Dan hoor hy Pieter weer sê terwyl hy opstaan en na sy horlosie kyk: “Mense, ek het die aandjie baie geniet, maar ek moet nou regtig gaan. Dis al verskriklik laat en ek moet môreoggend ’n uiters ingewikkelde saak in die hof verdedig.”
“Wel, jy moet gou weer kom kuier, Pieter,” nooi Jurie hom terwyl hy ook opstaan van die stoel se leuning.
“En wat makeer julle dat julle nie ook vir my kom kuier nie?”
“Kyk, Pieter, ek het jou reeds gesê dat my vrou …”
“Luister, Jurie,” val hy hom goedig in die rede, “Brenda is nog glad nie ’n invalide nie, hoor. En dis verniet dat jy my dit wil probeer wysmaak net omdat ek ’n ongetroude kêrel is en veronderstel is om niks van sulke vroulike sake af te weet nie. Ek is seker die ritjie Waterkloof toe sal Brenda die wêreld se goed doen. Probeer dit gerus.”
“Ons sal vir seker kom kuier, Pieter.”
Hy bedank sy gasvrou vir die genoeglike aandjie en groet die twee dames voordat hy saam met Jurie die vertrek verlaat.
5
In die deftige kantoor met sy stinkhoutlessenaar, sagte tapyte en skilderye sit Pieter agter sy lessenaar. Hy het vanmôre vroeër gekom as ander oggende. Nou sit hy op Rista en wag.
Dis tien voor nege. Dan hoor hy ’n sagte kloppie aan sy kantoordeur. “Binne!” roep hy uit.
Geruisloos gaan die deur oop. In die oop deur staan Rista. Sy is geklee in ’n donkerrooi baadjiepak wat fraai afsteek teen haar raafswart krulle en besonderse roomwit vel.
Haastig staan Pieter op van waar hy die afgelope halfuur al sit, groet haar vriendelik en sê duidelik verlig: “Ek is bly jy het gekom, Rista. Reken, ek was nogal bevrees jy kom straks nie!”
“O, het jy gedink ek sal my eers in die namiddag kom aanmeld?” glimlag sy plaend.
“Wel, om die waarheid te sê, ek het gedink jy gaan glad nie kom nie.”
“En wat het jou so laat dink, Pieter? Is ek laat?”
“Glad nie. Jy is nogal stiptelik. Dis net … wel, julle vroumense kan so gou en op so ’n ongeleë tydstip van opinie verander dat ’n mens nie juis op julle kan peil trek nie.”
“Jou kennis aangaande die vroulike geslag is maar beroerd, Pieter. As een jou ’n streep getrek het, kan jy tog nie teenoor almal wantrouig wees nie. Of verwag jy miskien dat al wat vroumens is moet boet vir een se sondes?”
“Glad nie. Vergeet gerus wat ek gesê het, Rista. Ek het dit darem werklik nie so erg bedoel nie. Ek was maar net ongeduldig om jou weer te sien, om te weet dat jy regtig in my kantoor is en dat ek jou voortaan elke dag by my sal hê.” Dan merk hy dat hy te veel gesê het en verander gou die gesprek deur te vervolg: “Maar kom, ek wil jou graag al die kantore gaan wys.”
Al geselsend verlaat hulle sy kantoor.
Eers neem Pieter haar na ’n klein kamertjie waar die mure feitlik net uit rakke bestaan en waar al die ou lêers gehou word.
Dan neem hy haar weer na die aangrensende kantoor waar haar lessenaar staan en wat langs sy eie geleë is, met ’n glasdeur wat die twee kantore verbind.
Op die hoek van haar lessenaar is daar ’n stapel lêers en langs die rekenaar staan die telefoon. Op die vensterbank pryk twee weelderige groen varings wat ’n bietjie kleur aan die vertrek verleen. Dan is daar ook ’n rusbank en twee gemakstoele wat besaai lê met tydskrifte. In die een hoek staan ’n klein kabinet wat veronderstel is om die tydskrifte te huisves.
In ’n paar oomblikke neem Rista die wanorde waar en besluit om gedurende die etensuur die vertrek ’n bietjie op te knap. Dat die kliënte nog nie verdwaal geraak