Pieter is ’n eienaardige mens, dink Rista. In sy teenwoordigheid verveel die tyd ’n mens nooit. Daarvoor sorg hy altyd terdeë, dink sy toe hulle stadig die rantjie afklim na die waterval. Die klippe is egter so glad dat Rista bykans haar balans verloor en kennis maak met die harde oppervlakte van ’n groot, plat klip.
Pieter gryp haar egter betyds aan die arm en red haar sodoende van ’n onaangenaamheid. “Jy is baie onverskillig, Rista,” betig hy haar sag. “As ek darem nie aldag my oog oor jou hou nie, was jy seker lankal ’n lyk.”
“Haai, Pieter, só erg is dit darem seker nie, jong,” glimlag sy noudat die ergste skok verby is.
“Nou ja, onthou, jy is nie ’n akrobaat nie. En moet asseblief in die vervolg nie weer probeer akrobatiese streke op ’n plat bruin klip uithaal nie, hoor!”
“Goed, ek sal dit nie weer probeer nie,” glimlag sy.
“Kyk, hier is ons al by die waterval,” sê Pieter toe hulle om ’n draai kom.
“O, maar dis pragtig!” roep sy bewonderend uit terwyl sy met opgehoue asem daarna staar en staar.
Die fyn druppeltjies wat soos silwer mis in die middagson glinster, hou vir die meisie ’n besondere bekoring in. Selfs die gedreun van die vallende waters klink vir haar soos veraf musiek.
Sy gaan sit op die naaste rotsblok aan die waterkant. Haar swart krulhare blink soos ’n kraai se vlerk in die koesterende strale van die son, maar Rista is onbewus van die aandag wat haar pragtige hare uitlok.
Geklee in ’n netjiese langbroek en ’n vrolike geblomde bloes, lyk sy soos ’n prentjie uit ’n boek waar sy nou gemaklik op die randjie van die rotsblok sit.
Vir etlike oomblikke staan Pieter hom en verlustig in die mooi toneeltjie. Sy is vir hom soos ’n rotsgodin – net veel mooier, want sy is nie hard en koud nie. Sy is ’n lewendige wese met warm rooi bloed wat deur haar are vloei, ’n meisie op wie enige man kan trots voel.
Met ’n hart wat oorloop van liefde, neem Pieter later sy plek langs haar op die punt van die rots in.
Op die oomblik sit hy en drome weef om ’n lewe met haar as lewensmaat aan sy sy. Net die gedagte daaraan dat hy na ’n besige dag so ’n allerbekoorlike vrou sal hê wat tuis op hom wag, laat sy hart vinniger klop van geluk.
Dat Rista ’n man se tuiste warm en huislik sal hou, val nie te betwyfel nie. Sy sal vir enigeen ’n ware moeder en huisvrou uitmaak. Daarvan is hy oortuig.
Langsaam stap hulle later in die rigting van Pieter se motor wat onder ’n groot, skaduryke boom geparkeer staan. Toe hulle die motor bereik, vly Pieter hom behaaglik op sy rug op die reisdeken neer wat hy en Rista vroeër onder die boom oopgegooi het. Dan gaan Rista ook sit met haar rug teen hom aangeleun en haar hande om haar knieë gevou.
Vir etlike minute het nie een ’n woord te sê nie. Die stilte van die natuur om hulle heen en die veraf gebabbel van jong mense en kinders werk kalmerend op albei in.
“Die stilte van die natuur is rustig en aangenaam,” merk Rista tevrede op.
“Ja, dis heerlik om soms van die stadsgewoel weg te vlug na so ’n rustige plek.” Dan raak hy ineens ernstig, plaas sy arm liefdevol om haar slanke middellyfie en druk haar effens stywer teen hom vas. “Luister, Rista, ek wil vandag ernstig met jou praat. Dis nou al ’n geruime tyd dat ek hierdie saak wil aanroer, maar ek kon ongelukkig nog nooit die geleentheid daarvoor vind nie. En juis noudat die tyd haas aanbreek dat jy teruggaan Kroondal toe, is dit vir my ’n saak van erns en wil ek dit graag vandag nog uitpraat. So ’n gulde geleentheid soos vandag sal ek seker nie gou weer vind nie.”
“Goed, praat maar, Pieter, ek luister.”
“Sal jy met my trou, Rista?” Dan kyk hy haar smekend, afwagtend aan terwyl hy in spanning op haar antwoord wag.
Op die oomblik het Rista geen antwoord nie. En selfs toe die strekking van sy woorde tot haar deurdring, antwoord sy hom nog nie.
Voor haar geestesoog sien sy weer die onplesierigheid die aand met Johan. Met skrik besef sy dat al die onaangenaamheid van nie so lank gelede nie besig is om op dieselfde wyse herhaal te word.
Ag, Vader, bid sy sag, smekend in haar binneste. Hoe is dit moontlik dat ek gedurigdeur almal wat my liefhet met pyn en smart moet vergeld? O, waarom kan ek hom tog nie ook liefhê nie? Of is ek miskien die soort vrou wat nooit ’n man se liefde kan beantwoord nie – nooit die liefde vir ’n man diep in my binneste sal voel opvlam nie?
Dan hoor sy Pieter weer sê: “Jy weet tog dat ek jou innig liefhet, Rista. Dit is nie eens nodig dat ek jou dit vertel nie. Van die eerste dag wat ek jou ontmoet het, het ek besef dat jy my hele hart in jou twee klein handjies hou, dat dit heeltemal in jou vermoë is om my hart te verbly of te vernietig.”
Vir etlike sekondes staar sy by sy gesig verby na ’n paar groen grassprietjies wat duidelik tekens van lewe toon. Ja, na die koue winter kom daar altyd weer nuwe lewe in die natuur. Maar sal daar ooit weer nuwe lewe kom in hierdie man se hart nadat sy hom haar eerlike antwoord gegee het? O, waarom moet dit tog so wees? kerm dit in haar binneste.
Dan staar sy met oë wat dof is van pyn in Pieter s’n, wat haar vol afwagting aankyk.
“Waarom huiwer jy om my vraag te beantwoord, liefling van my hart?” vra hy teer en met ’n sagte stem. Dan druk hy haar styf aan sy bors. En terwyl sy lippe hare hongerig soek, fluister hy weer sag: “Jy is my nie ongeneë nie, my skat. Sê tog nou maar jy sal my vroutjie word. Ek kan die spanning nie langer verduur nie, liefste.”
“Pieter, jy moet my ’n kans gee om hieroor te dink. Jou vraag is so onverwags … ek is totaal onvoorbereid. Gee my kans tot vanaand. Vanaand om tienuur gee ek jou my antwoord.”
“My liefling, hoe kan jy sê dat my vraag jou onverwags getref het? Jy wil tog nie voorgee dat jy al die maande onbewus was van my liefde vir jou nie?”
“O, Pieter, jy begryp nie. Dis so moeilik om te verklaar. Jy mag miskien twyfel as ek sê dat ek wel onbewus was van jou liefde vir my, maar dit is die reine waarheid. Ek het nooit kon droom dat jy my werklik so liefhet nie. Ek het ons verhouding as bloot vriendskaplik beskou. Jy moet my ’n kans gee om hieroor te dink, Pieter.”
“Dan sal ek natuurlik maar teen my sin moet wag op jou antwoord,” merk hy teleurgesteld op. “Maar ek verseker jou ek gaan nie ’n minuut langer wag as tienuur vanaand nie!”
“Dankie, Pieter, ek verwag ook nie sulke geduld van jou nie. Ek verseker jou dat ek jou geduld nie op die proef sal stel nie,” glimlag sy flou. “Sal jy my nie nou maar huis toe neem nie, Pieter? Ek wil graag alleen wees om oor jou vraag na te dink.”
Dan druk hy haar weer eens hartstogtelik aan sy bors en sê duidelik teleurgesteld: “Dit is dan nog so vroeg, skat. Waarom moet ons al weer so gou van mekaar geskei wees? Ek sal nooit die lang ure tot om tienuur vanaand alleen kan verduur nie. Sonder jou sal die ure vir my gewis soos jare verbysleep. Bly nog net een enkele ou uurtjie by my – so, in my arms.”
“Asseblief, Pieter, ek moet tyd hê om te dink. Ek hou nie van ’n haastige besluit nie. Laat ons liewer nou teruggaan.”
Op pad huis toe is albei stil. Rista vrees die uitwerking wat haar antwoord op Pieter mag hê. Dit is vir haar duidelik dat hierdie opgewekte man langs haar haar hartstogtelik liefhet en dat haar antwoord hom diep gaan tref. Hy beskik nie oor Johan se kalm selfbeheersing nie. Die gedagte aan sy swak senuwees en die verwoesting daarvan wat haar antwoord mag veroorsaak, laat haar byna besluit om maar sy huweliksaanbod te aanvaar.
Maar nee, sy moet eerlik wees met hom. Sy durf hom nie onder ’n verkeerde indruk laat nie. Hy is té edel en opreg. Sy mag nie oneerlik teenoor hom handel deur hom onder die indruk te plaas dat sy haar uit liefde met hom in die eg verbind, wanneer haar gevoel vir hom uitsluitlik uit vriendskap en jammerte bestaan nie.
Nee, sy sal hulle albei ’n verskriklike onreg aandoen deur so op te tree. Sy mag nie. Sy moet openlik aan hom beken dat sy nie die liefde vir hom koester wat hy van sy aanstaande bruid sou verwag