“Dat sommige mense ’n teleurstelling van so ’n aard darem so te harte kan neem, is werklik onbegryplik.”
“Ja, nie almal kan so ’n terugslag verwerk nie.”
“Wel, ek hoop meneer Myburgh se beserings is nie van ’n té ernstige aard nie.”
Met daardie woorde staan die konstabel op om te vertrek. Hy kan merk dat Jurie haastig is om na sy ongelukkige vriend te gaan wat in die hospitaal lê en wie se kanse om die lewe te behou uiters gering is.
Nadat die konstabel weg is, trek Jurie haastig aan onderwyl Brenda besig is om ’n oproep na Kroondal te maak om Pieter se familie van die ongeluk in kennis te stel.
9
Jurie het nog nooit in sy lewe so vinnig gejaag soos vanoggend nie. Gelukkig is daar min verkeer op straat. Minute later draai hy by die hoofingang van die hospitaal in.
Vanoggend verloop alles veels te stadig na Jurie se sin, want hy moet byna ’n halfuur wag voordat hy die geneesheer in verband met Pieter se toestand kan spreek. Gelukkig is die geneesheer ’n ou universiteitsvriend van hom en Pieter, anders sou hy sekerlik nie vir Pieter kon besoek nie.
Eindelik bereik hulle die privaat kamer waar Pieter roerloos op die smal bed lê. Sy kop en linkerarm is heeltemal toe onder wit verbande en sy gesig sien daar wasbleek uit weens bloedverlies. Maar origens lyk dit net asof hy in ’n diep slaap verkeer.
Jurie gaan voor die bed op ’n stoel sit en neem die bleek, gesonde hand van sy vriend in sy eie. Hy voel asof hy aanhoudend kan bid, die Here aanhoudend kan smeek om tog hierdie lewe te spaar, om hierdie vriend wat vir hom soveel in sy lewe beteken het, tog nie van hom weg te neem nie.
Om die altyd opgewekte Pieter so stil en bleek te sien, pynig Jurie tot in die diepste van sy wese.
Dan gaan hy oor in stille gebed, met sy dierbare vriend se kragtelose hand nog steeds vasgeklem in sy eie sterk en gesonde hand.
Toe die dagbreek stadig nader kruip en die donker skaduwees van die swart nag verdryf, sit Jurie nog steeds met sy kop gebuig in gebed terwyl sy oë nat is van die trane.
Klokslag sesuur kom ’n verpleegster die kamer saggies binne en versoek Jurie vriendelik om die kamer te verlaat. “Jy kan meneer Myburgh enige tyd gedurende die dag weer kom besoek, meneer Van Zyl,” sê sy simpatiek.
“Dankie, suster, ek sal seker weer kom,” glimlag hy effens flou.
Nadat Jurie nog ’n paar vrae aan die suster gestel het en sy plegtig belowe het om hom dadelik te bel sodra Pieter sy bewussyn herwin, groet hy haar en verlaat die hospitaal.
Tuis wag Brenda en Rista angstig op hom. Rista is die meeste van die tyd in trane. Branda het net moeite om die meisie te kalmeer. Toe Jurie se motor voor die deur stilhou, is sowel Brenda as Rista by om te verneem hoe dit met Pieter gesteld is. Maar die stroewe trek op Jurie se gesig laat hulle dadelik terugdeins.
Jurie lê ’n simpatieke hand op Rista se skouers toe hy merk dat die trane al weer vrylik oor haar wange begin vloei en hy sê aangedaan: “Rista, dit gaan baie sleg met Pieter, maar ons moet sterk wees. Dit is al manier waarop ons hom van hulp kan wees – deur sterk te wees en vir hom te bid, want net die Almagtige Vader kan hom nou uit die kloue van die dood red. Die dokters staan magteloos.”
“O, Jurie, dit kan nie waar wees nie. Pieter kan nie nou al sterf nie! Ag, die Here moet my genadig wees, want dit is my skuld. Ek sê julle, dit is alles my skuld! Ek het hom gisteraand na sy dood gestuur,” kerm sy jammerlik.
Brenda kan Jurie net radeloos aanstaar en met haar oë om hulp smeek, want selfs sy weet nie wat om vir Rista te sê nie.
“Luister, Ristatjie,” sê Jurie sag en besorg: “die weë van die Here is soms onbegryplik. Wat verlede nag met Pieter gebeur het, was ook maar die wil van die Here. En ek wil nie weer hoor dat jy jouself daaroor verwyt nie. Hoe dink jy sal Pieter voel as hy moet weet dat jy jouself verantwoordelik hou vir wat met hom gebeur het? Nee, kindjie, jy moet so iets nooit weer sê nie.”
Dan neem hulle al drie op die rusbank in die sitkamer plaas.
“O, Jurie, as die Here tog maar net sy lewe spaar, sal ek selfs met hom trou as ek hom daardeur gelukkig kan maak. Ek sal enigiets doen om hom weer gelukkig te sien …”
“Daaroor kan jy later met Pieter praat, Ristatjie,” val hy haar sag in die rede, want hy besef maar te goed in hoe ’n verskriklike stryd sy gewikkel is. “Op die oomblik moet ons sterk wees en bid dat die Here hom vir ons spaar … Kom, drink eers jou tee, dan voel jy weer beter. Ek laat jou geensins toe om Pieter te gaan besoek voor jy nie ’n bietjie meer krag in daardie liggaam van jou het nie. Droog nou af die trane en drink jou tee.” Hy wend hom na Brenda en vra: “Het jy toe Kroondal toe gebel?”
“Ja, Jurie. Pieter se ouers en broer sal eenuur hier wees. Hulle kom per vliegtuig.”
“Gaaf, ek sal hulle by die lughawe gaan ontmoet en dan sommer na die hospitaal toe neem. Ek hoop net Pieter het teen daardie tyd al sy bewussyn herwin.”
Solank Jurie in die badkamer besig is om te bad en te skeer, is Brenda en Rista in die kombuis besig om ontbyt voor te berei.
Rista is stil en afgetrokke. Alles wat sy vanoggend doen, verrig sy werktuiglik. Sy kan haar gedagtes by niks anders bepaal as die ongelukkige Pieter in die hospitaal nie. Van die konstabel het sy vanoggend self verneem dat Pieter sy motor opsetlik op die oorweg in die pad van die aankomende lokomotief geparkeer het.
Nou eers kan sy begryp waarom sy verlede nag so bevrees was, feitlik gelê en wag het op iets om te gebeur. Dit was natuurlik ’n voorgevoel van die afgryslike ongeluk. Dit moes omstreeks daardie tyd van die oggend plaasgevind het.
Sy voel innig jammer vir Pieter se familie, want hoe ’n skok moes dit nie vir hulle gewees het om dié skrikwekkende tyding so vroeg in die môre te ontvang nie! Sy kan haar voorstel hoe vreeslik dit vir sy moeder moes gewees het, aangesien sy net die tweelingseuns het. Nou verkeer die een in die kloue van die dood.
O, Vader, moet hom tog nie wegneem nie. Spaar sy lewe vir sy dierbares, bid sy sag en weemoedig in haar hart.
Aan die ontbyttafel is Rista nie lus vir die heerlike gereg wat haar vriendin voor haar plaas nie. Maar ter wille van Brenda en Jurie wat so besorg is oor haar, wend sy ’n poging aan om te eet. Sy kry egter nouliks iets afgesluk.
Die maaltyd verloop in stilte, want elkeen se gedagtes is by Pieter en sy toestand wat onveranderd bly.
Dan verbreek Jurie later die stilte deur te sê: “Hoe lyk dit, Rista, sal jy vanoggend saam met my na Pieter se kantoor toe kan gaan?”
“Ja, Jurie, dis die minste wat ek nog vir hom kan doen. Gaan jy solank sy praktyk waarneem?”
“Dis my voorneme, ja. Ek hoop net dat ek in staat sal wees om albei praktyke waar te neem. Maar met jou hulp en bystand behoort ek dit te kan doen.”
“My arme man, jy sal jou mos doodwerk,” kom dit besorg van Brenda. “Weet jy hoe uitgebrei Pieter se praktyk werklik is?”
“Ja, my vrou, ek is deeglik bewus daarvan. Maar die Here sal my krag gee om sowel sy sake as myne te behartig. Ons mag nie Pieter se kantoor sluit nie. Ek en Rista moet sake aan die gang hou. Ek sal self sy sake in die hof gaan behartig en Rista moet die kantoorwerk behartig soos altyd, tot tyd en wyl ons ’n bekwame persoon vind om haar plek te vul.”
“Ek sal vandag ’n advertensie in die koerant plaas vir ’n tikster, my man. Ons mag Ristatjie nie langer as die einde van die maand hier hou nie. Ouma sal baie kwaad wees vir ons.”
“Ja, dis regtig jammer dat Rista nou moet gaan, juis noudat sy so goed op die hoogte is van Pieter se sake. Dit is altyd so ’n beslommernis om ’n nuwe sekretaresse te leer.”
“Moenie bekommerd wees nie, Jurie. Ek sal sorg dat sy eers goed op die hoogte is van alles wat van haar verwag word voor ek die kantoor verlaat. Ek sal julle nie in die steek laat nie, Jurie. Nie noudat Pieter in die hospitaal is en