hoop en verwagtinge so ineens vernietig kan word.
Radeloos sit Rista met pynbelaaide oë voor haar en uitstaar. Dit is vir haar voorwaar moeilik om tot ’n besluit te kom, want die enigste man met wie sy nog ooit so ’n hegte vriendskap gesluit het, staan op die drumpel om deur haar wat hy so liefhet, wreed gekwets te word.
Vir Rista was dit besonder swaar toe sy aan Johan moes erken dat sy vir hom niks meer as net ’n vriendin kan wees nie. Maar om dieselfde aan Pieter te beken, is vir haar ’n duisend maal meer pynigend. Sy kan nie begryp waarom sy so ’n teer gevoel vir Pieter koester nie – byna soos ’n moeder teenoor haar kind.
Met sy oë strak voor hom op die pad gerig, bestuur Pieter werktuiglik aangesien sy gedagtes op die oomblik geensins by die voertuig is nie. Hy konsentreer op gewigtiger sake as die bestuur van ’n motor. Indien Rista hom die jawoord gee, sal hy so gou moontlik ’n ander tikster moet vind vir sy kantoor. Sy vrou sal hy geensins toelaat om kantoorwerk te doen nie. Sy moet haar regmatige plek in sy huis as vrou – en ook eendag as moeder van sy kinders – inneem en volstaan.
Dan dink hy aan wat sy lot sal wees indien sy huweliksaanbod straks van die hand gewys word. Maar hy verseg ten ene male om aan so ’n moontlikheid te dink. Dit mag nie gebeur nie! Hy het haar veels te lief om haar nou te verloor. Sy, die enigste meisie wat hy nog ooit as lewensmaat begeer het.
Nee, dit mag nooit met hom gebeur nie. As Rista sy liefde van die hand wys, sal dit sy algehele ondergang beteken. Sy lewe sal geruïneer wees. Daar sal absoluut niks meer wees om voor te lewe nie, want in sy lewe sal hy tog nooit weer ’n meisie so liefkry soos vir haar nie. Sy is sy uitverkorene onder alle vroue.
In sy gedagtes verlore, sit hy weer en wonder wat hy die hele middag met homself sal aanvang sonder haar geselskap. Hy is so gewoond om haar dag na dag in sy teenwoordigheid te hê, want selfs gedurende naweke is hulle meestal bymekaar.
Na ’n uur se ry bereik hy eindelik die pragtige woning van die Van Zyls.
Pieter se moed begewe hom ook sommer dadelik toe hy merk dat hulle al voor die hek van Rista se tuiste is en dat die uur van skeiding weer aangebreek het.
Maar sy verkies dit nou so. Hy sal sommer hier in die motor afskeid neem van haar, tot om tienuur vanaand wanneer hy sal kom vir die antwoord wat sy aan hom verskuldig is.
8
Toe die son se laaste strale agter die gesigseinder verdwyn, stap Rista na dieselfde ou boom waar haar en Johan se lewenspaaie vier maande gelede uitmekaar gegaan het.
Soos Johan die aand met sy rug teen die boomstam aangeleun gesit het, gaan Rista nou ook sit, ten spyte van die koue aandlug wat deur haar trui dring.
Veel eerder sou sy wegvlug as om vanaand daardie onaangename gesprek met Pieter te hê.
Sy het al selfs die moontlikheid oorweeg om haar antwoord op skrif te stel en dit aan hom te oorhandig. Maar so iets sal bepaald lafhartig wees, en lafhartig is sy nie. Dit is net dat sy dit nie sal kan verdra om die pyn in sy oë te sien nie – die pyn wat sy maar alte goed besef haar woorde gaan meebring.
“Ag, Vader,” prewel sy, “waarom moet dit nou juis ék wees wat hom so moet folter? Hoe kan ek hom tog daardie pyn bespaar, hy wat my so liefhet? Sy liefde is so edel en opreg. Ek kan nie … nee, ek het nie die moed om hom so te pynig nie!”
Dan dink sy weer radeloos en verwytend: Waarom, o waarom moes ek ooit Pretoria toe kom en hom ontmoet? Het ek tog maar liewer tuis by Oumatjie gebly. Dan het nie een nou seergekry nie, want selfs vir my is dit pynigend om op sy vraag te antwoord.
Agtuur die aand vind Brenda haar nog net so teen die boomstam. Sy is hewig ontsteld om haar vriendinnetjie so laat in die koue nag buite te vind. Daar moet bepaald iets radikaals verkeerd wees met haar, dink Brenda angstig. Dit is mos nie Rista se geaardheid om sulke ongewone dinge te doen nie!
Soos Rista daar teen die boomstam aangeleun sit, lyk sy vir Brenda duidelik soos ’n kind wat straf gekry het.
Sy sak op haar knieë langs Rista neer, plaas haar arms beskermend om haar vriendinnetjie en sag, simpatiek vra sy: “Ag, ou maatjie, is daar iets wat ek vir jou kan doen?”
“Dankie, Brenda, maar op die oomblik kan jy vir my niks doen nie. Dis ’n saak waarmee niemand my kan help nie.”
In haar stem is daar trane en dit ontgaan Brenda se oor nie. Vir die soveelste keer wonder sy wat met die fynbesnaarde Rista gebeur het om haar so te ontstel. Dan sê sy moederlik besorg: “Kom, maatjie, jy kan onmoontlik langer hier buite in die koue vertoef. Laat my toe om jou huis toe te neem, jy is al byna verkluim. In die sitkamer waar dit warm is, kan jy my alles vertel wat gebeur het, indien jy daaroor wil praat.”
In die sitkamer voor die kaggel sit Jurie en koerant lees toe Brenda en Rista die vertrek binnekom. Een kyk na sy vrou se stroewe gesig laat hom gou begryp dat daar fout is met haar vriendin.
Haastig staan hy op en plaas nog twee stoele langs syne sonder om enige vrae te stel. Ook hy voel nou bekommerd oor Rista, want dat sy hewig ontsteld is, ly geen twyfel nie.
Waar Rista nou teenoor Jurie sit, lyk sy vir hom so verwese dat sy hart ineenkrimp van jammerte vir haar.
Dan begin Rista eindelik praat terwyl sy weemoedig na die gloeiende kole staar. “Ek weet nie hoe om julle te vertel nie … dis vir my uiters moeilik!” Sy swyg ’n wyle asof sy besig is om ’n besluit te neem en gaan dan op ’n sagte, weemoedige toon voort: “Ek moet Pieter se liefde van die hand wys. Hy het my vanmiddag gevra om met hom te trou … en tienuur vanaand moet ek hom antwoord.”
Dan sit sy weer etlike sekondes strak voor haar en uitstaar. “Julle twee verag my seker al omdat ek al die mans se liefde van die hand wys. Maar ek kan julle verseker dat ek nie in die minste daarop uit is om hulle op my verlief te maak net om hulle met ’n voldane gevoel weg te stuur nie. Dit was nog telkens vir my ’n pynigende situasie …”
“Luister, Rista, jy moet nooit weer sulke gedagtes oor ons koester nie,” val Jurie haar sag in die rede.
Sy sug. “Ag, Jurie, ek voel soms of ek myself kan haat. Die Vader weet, ek weet nie wat om vanaand vir Pieter te sê nie. Ek sal nooit die teleurstelling op sy gesig kan verduur nie. Waarom moet dit nou juis ék wees wat hom hierdie pyn moet besorg? Pieter sal my dit nooit kan vergewe nie!”
“Luister, maatjie, ek weet Pieter sal verskriklik teleurgesteld wees, want hy het jou ontsettend lief. Maar wat ek ook weet, is dat Pieter baie verstandig is. Hy sal verstaan. ’n Mens het tog immers geen beheer oor die drange van jou hart nie.”
Terwyl Brenda vir hulle gaan tee maak, gaan Rista haarself opknap, want so kan sy tog nie voor Pieter verskyn nie.
Toe sy die kam deur haar krulle trek, dink sy weer hoe graag Pieter altyd met haar krulle speel. Selfs op kantoor is dit al sy gewoonte om spelend met ’n haarkrulletjie om sy vinger agter haar te staan terwyl sy besig is om te tik.
Ja, hulle was nog altyd sulke groot maats en nou moet sy hom ook prysgee, want na dese sal hy haar ook vermy, soos Johan en al die ander. ’n Vriendskap met haar bring net teleurstelling mee.
Saggies trek Rista haar slaapkamerdeur agter haar toe. Dan kyk sy op haar horlosie. Dis kwart voor tien. Pieter sal nou enige oomblik opdaag.
Nadat sy twee pilletjies saam met haar tee gedrink het, voel sy kalmer. Dan hoor sy die voordeurklokkie skril en dringend lui en weet onmiddellik dat dit Pieter is.
Na ’n opgewekte “Goeienaand”, word sy koue hande speels in Rista se nek gedruk. Dan neem hy vir hom ’n stoel en plaas dit langs hare terwyl hy nog steeds in dieselfde luim sê: “Brr, maar dis deksels koud, mense. Ek is byna verkluim.”
Almal skater dit uit van die lag en die atmosfeer is skielik vrolik. Waar Pieter binnetree, neem bedruktheid van enige aard gewoonlik die wyk.
Nadat Pieter ook met ’n koppie warm tee bedien is, neem Brenda en Jurie afskeid van die twee jong mense.
“Ou mense behoort op so ’n koue aand vroeg bed toe te gaan,”