indink hoe die kantoor daar sal uitsien sonder Pieter se opgewekte persoonlikheid nie. Sy is hom al so gewoond met al sy sonderlinge maniertjies.
Ineens voel sy weer die warm trane in haar oë opwel. Maar nee, sy mag nie nou weer huil nie. Sy moet sterk bly. Dit is al manier waarop sy Pieter op die oomblik van hulp kan wees – deur sterk te wees en Jurie sy sake te help behartig.
10
Dis vieruur in die oggend. Die hele losieshuis is stil en in duisternis gehul. Net in een vertrek brand daar ’n lig – in die badkamer van die Myburghs waar Chris, wat pas van die hospitaal af gekom het, besig is om ’n warm bad te neem.
Snaaks dat hy nie juis moeg is nie, aangesien hy van twaalfuur af op die been is, staan Chris en dink onderwyl hy hom vinnig droogvryf.
Toe hy in sy slaapklere en japon geklee is, trek hy sy pantoffels aan en gaan na sy slaapkamer. Hy weet goed dat hy ’n termofles gevul met heerlike warm tee voor sy bed sal aantref, want nog nooit het die liewe, goeie Oumatjie daardie liefdesdaadjie van haar vergeet nie. Sy het hom nou al eintlik verwen daarmee.
Hy het pas sy tweede koppie tee gedrink toe hy die telefoon in sy kantoor hoor lui. Op pad daarheen loop hy en wonder wie dit nou kan wees wat ernstig siek is, want dis gewoonlik net die ernstig siekes wat hom hierdie tyd van die môre ontbied. Saaklik neem hy die gehoorstuk op en sê kalm: “Hallo.”
Dan hoor hy ’n dame wat op ’n effens hoë toon sê: “Kan ek met dokter Chris Myburgh praat, asseblief?”
“Dis hy wat praat.”
“O, hallo, Chris. Dis Brenda hier.”
“Goeiemôre, Brenda. Hoe gaan dit?”
“Sleg, Chris, hier het iets verskrikliks gebeur. Julle moet dadelik hierheen kom. Pieter was vannag in ’n motorongeluk en lê buite hoop hier in die hospitaal.”
“Wat praat jy, Brenda?” roep hy verbysterd uit en laat val byna die gehoorstuk uit sy hand.
“Dis ernstig, Chris. Sy toestand is kritiek.”
“Hoe en waar het die ongeluk plaasgevind, Brenda?”
“ ’n Lokomotief het in sy motor vasgery op die eerste oorweg naby Pretoria-Noord.”
“Maar hoe kan dit wees? Het daar dan iets met sy motor verkeerd gegaan?”
“Dit kan ek regtig nie sê nie, Chris. Ek is nog nie op hoogte van die besonderhede in verband met die ongeluk nie. Maar ek meen jy sal dit alles by die hospitaal kan vasstel. Hulle behoort te weet hoe die ongeluk gebeur het.”
“Dankie dat jy my gebel het, Brenda. Ons vertrek so gou moontlik. Ek sal jou binne ’n uur weer bel.”
“Goed, Chris.”
“Tot siens solank, hoor.”
“Tot siens, Chris.”
Toe Chris die deur van sy kantoor agter hom toetrek, verskyn daar ’n trek van uiterste kommer op sy gesig.
Toe hy voor die deur van sy ouers se slaapkamer staan, wonder hy ineens of hy hulle nou al van die ongeluk en van Pieter se toestand moet verwittig.
Na ’n paar sekondes se oorweging besluit hy om eers uit te vind hoe laat daar ’n vliegtuig Johannesburg toe vertrek en om eers Pretoria toe te skakel. Hy wil eers al die besonderhede weet voor hy sy ouers van die ongeluk vertel, want wat sal dit hom tog baat om hulle in hul slaap te steur? Op die oomblik kan hulle niks meer doen as wat hy reeds doen nie. Nee, laat hulle maar gerus nog ’n rukkie langer slaap. Hulle sal dit bepaald later nodig hê, besluit Chris.
Hy skakel eers die lughawe om te hoor hoe laat hulle ’n vliegtuig kan kry. Dan skakel hy Pretoria se Algemene Hospitaal. Hy praat persoonlik met die dokter wat Pieter behandel.
“Maar dis ongelooflik!” roep Chris etlike minute later geskok uit. “Ek kan dit nou eenmaal nie glo dat Pieter opsetlik so ’n gruwelike ding sou gaan aanvang nie!”
“Dit is tog so, dokter Myburgh.”
“Is jy vertroud met die rede waarom hy dit gedoen het, dokter?”
“Wel, ek het uit ’n betroubare bron verneem dat dit ’n liefdesteleurstelling is wat hom tot die daad gedryf het.”
“Maar dis verskriklik!” antwoord Chris weer verbysterd. Alles klink vir hom ongelooflik. Op die oomblik weet hy nie wat om daarvan te dink nie. Dan skakel hy weer Pretoria toe om Brenda en Jurie van hul koms in kennis te stel.
Chris staar verslae na sy horlosie en merk dat dit reeds sesuur is. Hy besluit om sy ouers te gaan vertel van die ongeluk en van Pieter se toestand.
Ja, hy sal niks sê van die liefdesteleurstelling nie. Hy sal hulle net van die ongeluk vertel. Met die dame wat verantwoordelik is vir Pieter se ongeluk, sal hy egter self afreken. Net ’n goedkoop flerrie sal ’n eerlike man soos Pieter op haar verlief maak en hom dan wegstuur wanneer hy sy rol uitgespeel het en sy vir hom moeg is, redeneer Chris en sweer wraak teen die meisie wat sy lieflingbroer so verlei het en hom soveel pyn besorg het.
Nadat hy aangetrek het, gaan hy na sy ouers se slaapkamer en klop saggies aan die deur. Hy hoor sy vader se stem wat hom binnenooi.
Na die gewone môregroet gaan sit Chris op die bed aan sy moeder se kant. Die stroewe trek op sy andersins aantreklike gesig maak die ouerpaar se gedagtes gou gaande en laat hulle bekommerd na hom opkyk.
Dan is dit sy moeder wat eerste praat: “Wat makeer, Chris? Jy lyk so of jy slegte tyding ontvang het, kind.”
“Ek het, my ou moedertjie. Julle twee moet vanoggend sterk wees, want die tyding wat ek vir julle bring is nie aangenaam nie … Pieter was verlede nag met sy motor in ’n ongeluk en sy toetand is sorgwekkend. Ons sal binne enkele ure moet vertrek. Ek het reeds vir ons plekke bespreek op die vliegtuig wat vanoggend vertrek.”
“Ag, Chris, wat vertel jy ons, my kind?” roep sy moeder verslae uit en bars in trane uit.
Sy vader aanvaar die nuus egter stil en gelate sonder om een woord te uiter. Maar Chris, wat al sy lewe lank so na aan sy vader leef, weet dat hy diep gewond is.
Hy kry sy ouers innig jammer, aangesien hy goed besef wat hierdie nuus vir hulle moet beteken, hulle wat so lief is vir hulle enigste twee spruite.
Dan is dit weer sy vader wat sag praat nadat Chris hom gehelp het om aan te trek. “Jy moet tog vir Oumatjie ook gaan verwittig van hierdie treurspel, my kind.”
Toe Ouma die nuus verneem, haas sy haar dadelik na die moeder. Sy kan wel begryp hoe die ouerpaar vanoggend moet voel, aangesien sy self daardie beker al geledig het die tyd toe ook sy haar enigste kind en sy vrou moes afgee aan ’n afgryslike dood.
Selfs in Ouma se losieshuis verloop die ontbyt daardie môre in stilte. Almal is bewus van die tragedie wat hom die vorige nag in Pretoria afgespeel het en in hoe ’n mate die nuus die Myburgh-gesin moes getref het.
Met haar arms simpatiek om mevrou Myburgh se skouers, vergesel Ouma die vrou na die wagtende taxi wat die gesin na die lughawe moet neem.
11
Toe Rista by Pieter se lessenaar verbystap na die brandkas om vir Jurie die nodige lêers uit te haal, skiet haar oë opnuut vol trane. Die lessenaar lyk vir haar te verlate en leeg sonder die altyd opgewekte, netjies geklede Pieter daaragter. Net eergister het hy ewe opgeruimd op daardie selfde stoel agter sy lessenaar gesit.
Met ’n sakdoekie vee sy die trane haastig weg. Sy sluit die brandkas oop, onbewus daarvan dat Jurie haar met innige jammerte staan en betrag.
Jurie staan en wonder of Rista ooit hierdie tragiese treurspel te bowe sal kom indien Pieter dalk moet sterf. In sy hart bid hy vurig dat sy liewe vriend se lewe tog gespaar moet bly, ook ter wille van haar.
Met ses lêers voor hom, neem Jurie later agter Pieter se deftige lessenaar plaas terwyl Rista met haar tikwerk voortgaan. Maar nie een van die