die horlosie twaalfuur slaan, staan Jurie op en gee die lêers weer vir Rista. “Ek sal nou moet gaan, Rista. Eenuur moet ek die Myburghs by die lughawe gaan ontmoet. As jy vandag nie lus voel vir werk nie, sluit maar gerus die kantoor en gaan huis toe. Ek sal jou nie in die minste kwalik neem nie, want selfs ek is nie by magte om vandag op enigiets te konsentreer nie.”
“Goed, Jurie, ek wil net hierdie werkie afhandel en dan nog die vier afskrifte van daardie kontrak maak, dan sal ek maar toesluit en huis toe gaan.”
Nadat Rista die laaste vel uit die drukker verwyder het, merk sy dat dit reeds halfvyf is. Dan besluit sy om ook maar huis toe te gaan, ofskoon dit nog ’n halfuur voor sluitingstyd is.
Nou sal sy net genoeg tyd hê om haar te verklee voor ete en dan hospitaal toe te gaan om Pieter te gaan besoek. Sy hoop net dat Jurie nie straks vergeet het dat hy haar en Brenda vanaand hospitaal toe moet neem nie. Wel, as hy sewe-uur nog nie tuis is nie, sal ek en Brenda maar alleen moet gaan, besluit Rista toe sy die deur van haar motor agter haar toeklap en vinnig wegtrek. Ek moet Pieter vanaand sien. Ek wil met my eie oë sien hoe dit met hom gaan.
Tuis staan Brenda reeds op haar en wag. “Vanaand is ek en jy alleen, ou maatjie,” verduidelik sy aan Rista toe sy merk hoe laasgenoemde na die tafel staar wat net vir twee gedek is. “Jurie het gebel om te sê dat hy onmoontlik voor agtuur tuis kan wees, aangesien hy die Myburghs sewe-uur eers by hul blyplek wil besorg. Dus, ons twee sal maar alleen moet gaan. Dit sal hopeloos te laat wees as ons op Jurie moet wag.”
“Ja, ek dink ook so,” kom dit instemmend van Rista.
“Nou goed, gaan verklee solank. Ek sal in die tussentyd vir ons opskep, dan kan ons gaan sodra ons klaar geëet het.”
Sewe-uur op die kop is die twee vroue gereed om te vertrek.
By die hospitaal aangekom, moet Brenda eers vra in watter kamer Pieter opgeneem is.
Vir Rista is dit hartroerend om Pieter so bleek en stil te sien met al die wit verbande om sy kop en arm.
Soos Jurie vroeër die oggend, gaan ook sy voor die smal bed sit, neem Pieter se gesonde hand in hare en druk dit teer teen haar wang. Met haar een hand streel sy liggies oor sy wang terwyl die trane vrylik oor haar wange rol.
Dis vir haar uiters pynigend om te dink dat hy haar liewer gehad het as selfs sy eie lewe, dat hy liewer dood wou wees as om die lewe deur te gaan sonder haar.
“O, as hy tog maar net gesond word,” kreun sy dit saggies uit, “sal ek alles in my vermoë doen om hom weer gelukkig te maak. Ek sal my lewe opoffer vir sy geluk.” Dan vee sy die trane af wat op Pieter se hand gedrup het.
Brenda sit swyend teenoor Rista aan die ander kant van die bed. Vir haar is dit net so pynigend om die opgewekte Pieter in ’n bewustelose toestand te aanskou. Hy wat so aktief en vol grappe was.
Na ’n halfuur moet Brenda en Rista vertrek om agtuur tuis te wees wanneer Jurie terugkeer van die Myburghs af.
Tuis gaan Rista sommer dadelik bed toe. Die gebeure van die vorige nag, en daarmee saam heeldag se werk op kantoor, het haar totaal uitgeput en sy raak byna onmiddellik aan die slaap.
Eers ’n dag na die aankoms van sy ouers en broer herwin Pieter sy bewussyn. In sy ylhoofdige toestand is die eerste woorde wat oor sy koorsige lippe kom ’n aanhoudende geroep na Rista.
Sy ouers en broer herken hy nie een nie, selfs nie vir Jurie wat saam met die Myburgh-gesin langs sy bed staan nie.
Gelukkig dat Jurie teenwoordig is, want hy ontbied Rista dadelik hospitaal toe.
Sy het nou skoon die bewerasie van angs by die gedagte dat sy weer eens met Pieter gaan praat. Net die wete dat hy eerste na haar verneem het, bring opnuut trane in haar oë.
Toe sy in die lang gang van die hospitaal afstap, voel haar gemoed so vol dat sy telkens moet sluk om die knop uit haar keel te kry. En toe sy eindelik die privaat kamer bereik, is haar oë weer so mistig van die trane dat sy die verpleegster langs Pieter se bed byna nie eens raaksien nie.
Dan hoor sy hoe hy sag en aanhoudend na haar roep.
Vinnig beweeg sy na die bed, buk vooroor en soen hom liggies op sy een brandende wang, terwyl sy met albei haar hande aan sy een hand vasklem.
“Ek het gekom, Pieter,” sê sy met droefheid in haar stem. “Dis Rista wat met jou praat.” Dan streel sy hom saggies oor sy regterwang en sê weer: “Pieter, kan jy my hoor? Dis Rista wat met jou praat, Pieter.”
Stadig gaan sy moeë oë oop en hy kyk haar ’n wyle aan asof hy haar ook nie herken nie – maar net ’n wyle, want dan plooi daar meteens ’n flou glimlaggie om sy lippe terwyl hy swakkies sê: “Ek is so bly jy het gekom, my liefling … Ek het so oneindig baie na jou verlang … Jy moenie weer weggaan nie, skat, jy moet hier by my bly … Sal jy, my liefling?”
“Ek sal, Pieter. Maar maak jou oë toe en rus.”
Na tien minute verval Pieter in ’n rustige slaap, tevrede in die wete dat Rista by hom is. En nog steeds sit Rista voor sy bed met oë wat dof is van trane.
Stadig sak haar donker kop af totdat dit voor hom op die bed rus. Toe bars sy eindelik in sagte snikke uit om uiting te gee aan haar oorstelpte gemoed.
Dit is vir Rista se oorlaaide gemoed te veel dat hy haar soos ’n kind soebat om hom tog nie alleen te laat nie. O, Pieter, roep haar hart verdrietig uit, ek sal jou nooit weer alleen laat nie, my dierbare vriend, nooit weer nie!
Byna ’n halfuur lank sit sy saggies by sy bed en huil. So tref Jurie en die Myburghs haar aan.
Met die eerste oogopslag merk Chris dat sy broer rustig slaap. Hy is Rista innig dankbaar daarvoor, want hy besef dat dit net haar teenwoordigheid is wat Pieter daardie rus verskaf.
Saggies neem Jurie die wenende meisie aan die arm en lei haar na haar motor.
Gedwee stap sy langs hom sonder om ag te slaan op die Myburghs wat hulle vergesel.
Toe hulle die motor bereik, help Jurie haar in asof sy ’n klein dogtertjie is, maak dan die deur toe en sê aan Chris: “Ou Chris, een van ons twee sal Rista se motor moet bestuur. Soos jy self sien, is sy op die oomblik in geen toestand om ’n voertuig te bestuur nie.”
“Goed, Jurie, ek sal die juffrou se motor bestuur. Dit lyk my sy trek haar Pieter se toestand vreeslik aan.”
“Ja, man, dis te begrype. Hulle was altyd sulke groot maats.”
“Wel, as julle gereed is, kan ons maar gaan. Gee my net die motor se sleutel, Jurie. Jy kan voor ry, ek sal jou volg.”
“Ek het nie die sleutel nie, Chris. Jy sal dit maar by Rista moet kry, ou maat.”
Met ’n ligte tred stap Chris na Rista se motor, maak die deur oop en klim langs haar in.
Met haar kop agteroor geleun en haar oë gesluit, hou Rista die sleutel na Chris uit, menende dat dit Jurie is.
’n Wyle rus Chris se oë liefkosend op haar skone gelaat. Dan vou hy die klein wit handjie wat die sleutel na hom uithou in sy eie en sê besorg: “Luister, Rista, ek besef dat jy bitter jammer voel vir Pieter, maar jy moet jou regtig nie so oorgee aan jou verdriet nie. Jy maak jou net siek daardeur en Pieter sal jou vriendskap nog baie nodig hê.”
Met ’n skok maak Rista haar oë oop en kom orent. Droom sy? Die stem is mos nie Jurie s’n nie!
Verbaas staar sy die man langs haar aan en stamel dan effens verleë: “O, ekskuus! Ek het my misgis. Ek het gedink dat Jurie my motor gaan …”
“Alles reg, Rista. Ek neem aan dat jy ’n hoofpyn het, daarom het jy jou oë gesluit,” val hy haar sag in die rede, los dan haar hand en neem die sleutel.
Chris voel aangenaam verras noudat hy ook met die skone Rista kennis gemaak het. Wat hy hier voor hom sien, oortref daardie foto in Ouma se losieshuis ver. Dit laat eintlik sy hart vir die eerste keer in sy lewe woes in hom te kere gaan, want ’n beeldskoner vrou het hy nog nooit met sy twee oë aanskou