Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 5


Скачать книгу

en sy hoor hom opstaan en regmaak vir sy skofwerk. Sy hoor hom die garagedeur oopstoot en sy fiets uithaal, want hy spaar graag sy motor. Dan dink sy: dit kon net sowel my pa gewees het, of Boet.

      Nee, dink sy dan, en draai onrustig om in haar geleende bed. Nee, nee. Daar is ’n ander lewe. Met ’n man wat saans inkom met ’n tas in sy hand, wat soggens uittrek met die swaard van sy brein en iets, enigiets saam met haar belewe wat nie bloot om bestaansnood gaan nie.

      Christopher, dink Elna as sy die knoppie druk en wag op die hyserdeur wat sal oopgaan om haar ondertoe te voer. Sy sal haar moet roer om betyds by die bushalte te kom. Sy het haar tyd tot op sekondes leer uitwerk.

      Christopher Ligthart het vanmiddag teen haar verbygery, en saam met hom in die motor was ’n poel van stilte en opwinding; in die glimlag om sy mond was ’n wêreld van kultuur en diepte.

      Maar die bees het my daardie aand laat voel of ek optelgoed is, onthou sy met ’n ruk in haar asem wanneer die hyserdeure agter haar toegly. Sy vind haar weerkaatsing in die wandspieël asof vanuit ’n ander wêreld, kyk bevreemd.

      Ek lyk tog … ek lyk soos een van hulle, vereenselwig sy haar ademloos met die gesiglose massa wat beter daaraan toe is as sy. Ek kon net sowel ’n klasmaat van Christopher gewees het, wat met ’n tas in die hand sorgeloos aansuiker en skertsend gesels oor Plato en die Renaissance, Picasso en bloedplasma.

      Sy kyk op haar horlosie en versnel haar pas. Johnny wou haar op- en aflaai, maar sy het daarteen vasgeskop. Dit sou beteken dat hy sy goed opgepaste en uitgespaarde kar elke dag moet gebruik. Dis opsigtelik ’n ou model, hoewel nie oud genoeg om klassiek te wees nie. Ironies, hoe waardes kan verskil. Sy, wat eintlik nooit iets beters geken het nie, wil uitsoek. Arme Johnny – hy wou hierdie offer vir haar bring.

      Sy hoor by Johnny dat Boet getroud is. Sy wil nie eers weet met wie nie. Die een of ander tyd sal sy wel uitvind. Die een of ander tyd, ja, wanneer sy ook sal gaan uitvind hoe dit met haar ma gesteld is. En ’n geldjie sal gee. Net nie dadelik nie. Wat dit betref, is die huis van die Ponters ’n oase. Daar is ten minste altyd netheid, gepaard met die deurwintering van gelowige lewens en naastediens.

      Elna blik vinnig op haar horlosie toe sy op die sypaadjie voor die gebou staan. Nou is die vergalste verkeerslig ook nog teen haar. As sy nie binne drie minute …

      Haar gedagtes word summier onderbreek toe ’n motor langs haar teen die randsteen optrek. Een blik oortuig haar dat dit vir haar is dat hy stilgehou het.

      Onmoontlik, is haar eerste gedagte. Dis tog onmoontlik dat sy en Christopher mekaar twee keer op ’n gewone dag raakloop. Die waarheid registreer feitlik net so onmiddellik by haar: toe hy haar vanmiddag sien loop, langs ’n ander man nogal, het hy weer van haar onthou. Soos ’n onderbroke gedagte wat jy voortsit wanneer dit vir jou geleë is. Hy het spesiaal vanmiddag weer gery, weer vir haar uitgekyk, spesiaal gewag. Dalk is sy manlike kompetisiedrang wakker geskud.

      “Kan ek jou oplaai?” vra hy beleef. Dan, as sy huiwer: “Dit sal veilig wees, ja. Is dit wat jy wou vra?”

      “Nee. Maar dankie vir die versekering, in elk geval.”

      Toe sy langs hom sit, besef sy hoe futiel die oplaai is. Waarheen sal sy hom laat ry? Dalk ry hy met haar na haar ma-hulle toe.

      “Ek bly nou op ’n ander plek,” sê sy gedemp toe hy wegtrek.

      “Ek weet.” Hy kyk nie na haar nie.

      “O?”

      “Ja, my ma het my gesê. Sy was daar, het toe by Malie gehoor.”

      Elna voel na kreun. Hoe sou Malie dit tog meegedeel het?

      “Maar ek neem jou nie dadelik soontoe nie. Of verwag hulle jou op ’n sekere tyd?”

      Hulle … wat bedoel hy? Wat het Malie nog alles vertel? Verseker dat sy, Elna, “by haar kêrel” bly. Dit klink na ’n yslike stigma as ’n mens nie alles weet nie.

      Sy vra nie waarheen hy ry nie. ’n Vreemde willoosheid het haar oorweldig, asof sy net op hierdie klein, gekoesterde kolletjie wil sit en sit. Laat hom maar die leiding neem. Laat iemand net een keer die besluite neem sonder dat sy deur skemer hoef te struikel. Instinktief weet sy dat hy van voorneme is om sy hande ten alle koste tuis te hou.

      Vanmiddag vertrou sy hom. Sy voel ’n gees van goedgesindheid by hom aan, van beskerming amper. Asof hy waarlik wil goedmaak en niks wil ontsien nie.

      “Sal dit jou pas om vanaand by ons te eet, Elna? Jy kan jou mense daarvandaan bel. Het hulle ’n telefoon?”

      “Ja, maar … ek weet nie …”

      “Wat weet jy nie? Wat op die spyskaart is nie?” skerts hy, by wie ’n ligte toon nooit juis maklik kom nie.

      “Jou ma verwag my nie, daarvan is ek seker.”

      “Liewe land, jy sal nie sê ons is familie nie. Familie vat tog alles soos dit kom.”

      “Ek weet nie, Christopher, ek en jou ma …”

      “Dan wil ek net vir jou sê: my ma soek jou spesiaal om jou uit te nooi na die uwe se verjaardag. Dis hoekom sy by julle huis was.”

      “Jy gee my eintlik nie ’n keuse nie. Baie dankie, dan. Maar laat ons net saggies op jou ma afklim, sodat sy haar nie doodskrik nie.”

      “Goed. Deur die kombuisvenster?”

      Sy lag, en hy dink daaraan hoe goed dit is dat sy saam met hom lag oor ’n brokkie lawwigheid. Hy dink daaraan hoe goed dit is dat die son skyn op mense, op strate, en hoe goed haar asem hier langs hom is.

      Hy hoor dit nie, haar asem, maar voel dit: deinend, deinend …

      Sy moet net nie uitvind dat hy waarlik gespanne voel oor hulle aankoms tuis nie. Natuurlik vermoed Corlia niks. Natuurlik sal sy stomverbaas wees. As sy dit tog maar net nie wys nie.

      Hy het hierdie ganse middag doelloos rondgedool. Hy wou skryfbehoeftes in die stad koop, en het bewustelik sy pad gekies om voor haar werksgebou verby te ry. Dit was teen twee-uur, na die etebreuk. Dit doen hy meermale: om daardie spesifieke straat te kies. Tog kon hy nog nie voorheen daarin slaag om Elna raak te sien nie.

      En toe, vanmiddag. Hy sou impulsief langs haar kon stilhou, as die verkeer dit toegelaat het. En as sy nie in die geselskap van iemand anders was nie. ’n Man. Ouer as sy, met die kenmerkende grys slape en die snyerspak van die suksesvolle man.

      Dit, haar verskyning sowel as die geselskap waarin sy was, het hom dwalende gehou, die ganse middag. Hy het sy tyd omgetreusel tot skuins voor vyf, en toe vir Elna voor die gebou gaan wag.

      Nee, sy moenie uitvind dat die spanning soos ’n senuweekabel in hom loop ter wille van hulle aankoms by Sedersingel 16 nie.

      Sy moet hierdie uur van hulle saamwees ook goed vind.

      7

      Corlia Ligthart is geskool in die kuns om haar emosies te beheer. Sy het baie oefening daarin gehad, sedert die dae toe sy net Struisie Simons was. En al maak sy soms naïewe foute, soos met Elna ’n paar maande gelede, bedoel sy nooit werklik kwaad nie.

      Aldus roer sy geen ooglid toe Christopher met Elna Osman tuis aankom nie. Die verbasing in haar binneste maak haar ewenwel eintlik kortasem.

      “Dis ’n verrassing,” sê sy vriendelik en soen vir Elna, met ’n drukkie daarby.

      “Ek het haar in die stad raakgeloop, en toe daaraan gedink dat Ma haar nog wil uitnooi vir my verjaardag.”

      “Dit is dan nou sommer klaar gedoen,” sê Corlia. “Maar jy eet tog seker vanaand by ons?”

      “Ongenooide gaste hoort agter die deur,” gooi Elna wal.

      “Nee wat, dit geld nie vir familie nie. Dis so ’n mooi dag, ek het juis gedink ons eet vanaand sommer in die tuin.”

      “Mag ek net die telefoon gebruik, asseblief, tannie Corlia?” wil Elna weet.

      “In