my om te weet, en vir jou om uit te vind. Sal jy nou maar ry, Christopher. Jou meisie wag in die bib.”
“Laat sy wag. Ek vat jou nie na daardie mense toe nie. Jy smyt jou naam weg, om sommer by die vent in te trek.”
“Asof dit saak maak. Is ek dan nie maar net Malie se suster nie? En Makkie en Ossie se meisiekind? Boet se suster? Jy onthou mos tog dat hy ’n paar jaar terug sy enkel gebreek het toe hy vir die polisie vlug. Jy onthou tog Malie se voorkind, met die swak ogies, wat dalk die Osmans se bloed is, want ons het ’n blindemol-grootoom gehad?”
Toe kom die stilte, sodat hulle net langs mekaar kan sit. “Wat probeer jy doen.” Christopher vra dit nie, want na die laaste woord daal sy stem swaar afwaarts. ’n Vraag het ’n vraagteken agteraan, ’n oplig van toon, asof daar hoop is, verwagting op ’n antwoord.
“Ek … ek weet nie.” Een ding weet sy, en dis dat daar skielik besinning in hulle woordestorting gekom het.
“Ek sal jou sê wat jy probeer doen,” sê Christopher Ligthart. Hy merk asof deur ’n waas hoedat eentonig flitsende neonligte hulle beurtelings baai in rooi, blou, rooi. Hy sien die esoteriese gloed oor Elna se skoot skuif, waar haar hande in mekaar geklem is. “Ek sal jou sê, Elna, en moet waaragtig nie stry dat dit nie so is nie. Jy probeer ontken dat daar by ons ’n aanvoeling vir mekaar is. Nee, wag, ek het dit swak gestel. Jy probeer ons helse aangetrokkenheid tot mekaar verloën.”
“Praat namens jouself.”
“Jy weet goed dat dit ons albei se gevoel is. En gee vir my ’n beter woord as ‘helse’, dan gebruik ek dit. Solank dit sterker is. Maar daar is geen sterker woord voor nie. Dis ’n vuur, dis ’n lyding. Jy het gemaak of jy verontwaardig is daardie aand toe ek jou vasgegryp en wild gesoen het. Maar jy was elke oomblik mét my. Jy wou met jou hele lyf in my mond inklim.”
Sy praat nie. Net haar asem stoot in ligte, onderdrukte snikke.
“Toe maak jy of ek ’n wellusteling is,” vervolg hy. “Soos een wat die son met sand probeer toekrap wanneer dit opkom, om die hitte weg te praat.”
Sy praat steeds nie ’n woord nie. Dis net haar snikkerige asem.
Sodat hy oplaas die motor aanskakel en verder deur die verligte vroegaandstraat ry, waar mense en motors en beweging by die verkeersligte opdam.
“Elna, daar moet ’n manier wees.”
“Daar is nie,” adem sy op die gevoude hande in haar skoot.
Hy weet nie of sy praat van ondertrouery, van die mistieke gene in die chromosome in die sel-nukleus nie. Van dominant of resessief nie. Hy kan haar ’n lesing daaroor gee. Dis alles in sy kop. Wat hy nie geweet het nie, het hy reeds nageslaan. First cousins may be called consanguineous of the third degree. En die kans van een uit sestien for inheriting a pair of identical alleles. Of dink sy eerder aan die sosiale stigma, familieteenkanting? Sy ma veral?
“Waaraan dink jy?” pols hy. Dan weet hy. “Jy dink aan Phoebe?”
“Allereers, ja. As jy so ’n voortreflike mens kan kry, weet ek nie hoekom jy hoegenaamd met my sal sukkel nie. Julle sosiale posisie trotseer. Jou ma se gramskap op jou hals haal.”
“Biedêm my ma, sy het vir niemand gevra met wie sy moet trou nie.”
“Moet tog nie soos ’n dwaas praat nie,” sê sy intens. “Jy weet goed daar is geen manier nie. Nie vir ons nie.”
“En as ons nié familie was nie?” vra hy rats.
“Ek kan nie sê nie, want dis ’n hipotetiese stelling.”
“Dan is dit tóg die kern. Maar verdomp, ek en jy kan nogtans superieure kinders hê. Of glad nie. Hoekom móét ons reproduseer? Ons is nie stoetdiere nie. En ek wil jou hê, so brandend graag dat ek Everest kaalvoet daarvoor sal uitklim.”
“En dis wat jy eindelik sal oorhê: vriesbrand. Verbrande tone en vingers, veral. Passie met restriksie. Voorbehoude. Natuurwette systap. Die blote feit dat ons daaroor redeneer, Christopher … is dit nie ’n negatief nie?”
Ten slotte is dit tog aan Phoebe van Duifhuis wat sy dink met ’n stil, gedrae leed. Daar is die manier waarop sy na Christopher gekyk het, met al die aanbidding van al die vroue van al die eeue vir al die mans van hulle allerharte.
En daar is oom John wat wag dat sy ’n pot dambord met hom speel, en tante se roksoom, en die instinktiewe hunkering in Johnny se harde, eerbiedige hande.
En Ossie Osman wat Sedersingel 16 toe gegaan het om geld te leen, wat anders? En Corlia Ligthart wat op ’n vroegaand in die laatwinter haar skoon wit motortjie parkeer voor ’n vervalle tuinhekkie, om te vra dat Elna haar tog nie sal opdring nie.
“Ek wil ook uitklim,” sê Christopher koppig as hy, op Elna se aanwysings, voor die huisie in Spruitstraat stilgehou het. “Ek wil sien wat hier aangaan. Ek wil kyk hoe jy hier woon.”
“Nee,” belet sy. “Dis net om jou te verlekker as jy sien hoe laag ek mik, nie waar nie? Bly weg. Ek sal alleen ingaan.”
“Trou dan met die vent,” roep hy swaar, gedemp. “Word heeltemal onbereikbaar vir my, dan weet ek dit ten minste.”
“Jy weet buitendien.” Sy dra sorg om nie te na aan hom te kom en sodoende ’n aanraking te ontlok nie. “En sal ek my van jou laat voorsê? Jy sal nie vir my vra of jy met Phoebe van Duifhuis moet trou nie. Maar as jy my wel vra, sal ek sê jy moet.”
“Dankie,” sê hy bars. “Dankie vir niks.”
“Dankie vir die ete, en die wegbring.”
“Dis niks … loop nou, loop,” dwing hy haar, maar wil soos ’n vrou snik toe haar gestalte by die hekkie invlug, die stoepie betree … toe ’n voordeurtjie oopgaan, en ’n tantetjie staan in die ligstreep, en sy hou haar hande uit, en die voordeurtjie gaan agter hulle toe soos ’n dekseltjie op ’n klankdigte kissie vol soet geheimpies.
As hy wegry, trap Christopher se groot voet in die gemaklike skoen die petrolpedaal dieper weg as wat geoorloof is. Nou moes ek deur die lug kon klief, dink hy. Sy het mos gesê dat dit adolessente drome is, hmf. Ons sal sien. Ek sal klaarmaak en ek sal blindedermpies uithaal en babatjies (met onberispelike gene) vang, en kantlangs sal ek my privaat vlieglisensie kry en haar eendag gaan oplaai en met haar vlieg oor stad en vlakte, tot binne-in blessit kammaland.
Hy weet hy is oorspanne, onredelik. Mettertyd besin hy en ry stadig deur die hoofstraat. Verby die plek waar hy netnou stilgehou het, waar hy die rooi en blou gloed oor Elna se gevoude hande sien spoel het, waar haar warmte na hom uitgereik het soos een keer, vroeër, toe hy swakker daarteen bestand was, onverhoeds oorval is deur die ongekende bedwelming.
Hy gaan nie by die huis aan nie, maar ry reguit verby, kampus en biblioteek toe.
As hy by die hoofingang instap, slaan die atmosfeer hom van voor soos ’n skeidende muur. Hy het tevergeefs gekom. Hoe sal hy vanaand een enkele feit in sy brein kan knoop? Hy het nie eers ’n pen of notaboek by hom nie … sal maar by Phoebe moet leen. Sy is altyd voorbereid, nie net op akademiese eise nie, maar sommer net lewensparaat.
Hy vind haar op die eerste verdieping by die tafeltjie waar hulle altyd sit, om die hoekie tussen die hoë rye swyende boeke wat alles weet, maar niks vanself verklap nie.
Was hy langer weg as wat nodig was? wonder hy vasgekeer as Phoebe hom deurdringend aankyk. Of lyk hy deur die blare?
“Jy het niks by jou nie,” fluister sy hom toe, asof dit ’n oortreding kan wees.
Hy knik. “Dit was eintlik nie vanaand my plan om te kom nie,” bely hy. Sy fluistering kom swaarder as hare, asof dit binne vasgegroei was, koraal teen rots.
“Dan laat staan ons dit,” glimlag sy hom begrypend toe.
Sy pak dadelik op, stadig en sekuur. Hy weet wat dit haar kos, en waardeer dit.
Hy dra haar tas, sluit sy leë hand om hare wanneer hulle buite kom. Sy kom ietwat swaarmoedig voor,