Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 5


Скачать книгу

nie.

      Waarom is hy tog so swaartillend? Hy voel soos altyd wanneer hy disseksie gedoen het, wanneer hy die koue vlees wat tot onlangs mens was, uiteen moes kerf. Ja, hy voel asof hy self gedissekteer is, tot op die been gestroop, sy hart blootgelê.

      “Sal ons ’n koppie koffie by ons huis gaan drink?” nooi Phoebe.

      “Ja. Ja, dis goed.” Hy was lank laas by die Van Duifhuise. Dit is asof hy onbewustelik skerm, asof hy nie te sterk emosioneel betrokke wil raak by hierdie gesin nie. Tog vind hy dit onvermydelik dat hy nader aan hulle sal beweeg. Hulle ouers is hegte vriende. Hulle is egte mense, eg in hulle vriendskap, eg in hulle oortuigings.

      En in hulle aanspraak sal hulle ook eg wees, nadat jy morele verpligtinge jeens hulle opgebou het.

      Die Van Duifhuise woon in ’n ou huis wat gerestoureer is. Dit adem ’n Victoriaanse statigheid, beleë soos die inwoners self. Hulle is mense vir oudhede. Elke meubelstuk in hulle huis is antiek, en dan nie net sommer na willekeur of volgens gier aangeskaf nie. Professor Van Duifhuis het ’n deeglike studie gemaak van die oorsprong van elke stuk. Geen volvloermat vir hulle nie, eerder glansende geelhoutvloere, deeglik opgeknap nadat hulle hier ingetrek het.

      “Ek was lanklaas by julle,” merk Christopher op nadat hy agter Phoebe by die voordeur stilgehou het.

      “Ja, my pa het al na jou gevra. Ag, ek kon mos nou sommer my ma se kar in die garage getrek het.”

      “Gee, ek doen dit vir jou.”

      Sy oorhandig die motorsleutel en, byna jaloers op die moontlikheid van afsondering, klim sy saam met hom in. Hy ry om die huis, die leë helfte van die oopstaande dubbelgarage binne. Asof afgespreek, sit hulle ’n wyle stil langs mekaar. Sy het hom haar hand gebied, en hy hou dit styf vas. Sonder opwinding, maar ook sonder vreemdheid. Sy het ’n sterk, vaste hand. ’n Hand wat sal kan streel as dit verwag word, wat pligsgetrou die wieg sal skommel, wat eendag in tevrede rus gevou sal word.

      “Ons ouers is goeie vriende,” sê sy. Hy kry die indruk dat sy meer as dit wou sê, dat hierdie woorde ’n blote aanloop is.

      “Ja,” gee hy toe. “Dis ’n mooi vriendskap.” Dis waar wat hy sê. Winnie van Duifhuis het vir sy ma al baie beteken deur haar beleënheid, haar sterk persoonlikheid wat geen kompromieë duld nie. Indien sy ma dalk aanvanklik gespanne was oor die moontlikheid dat Winnie van haar eenvoudige agtergrond kan uitvind, sou sy mettertyd besef het dat daar vir hierdie vrou nie agterpaadjies is nie. Waar sy loop, loop sy reguit, en sy beoordeel ’n ander mens volgens sy ware aard.

      Miskien is dit daarom dat Corlia se krampagtige wegkeer van haar familie deesdae ook getemper is. Miskien, ja, is dit daarom dat sy vriendelik met Elna durf wees.

      Elna … dit voel soos eeue sedert hy haar afgelaai het, terwyl dit skaars ’n halfuur is. Hy dwing haar weg uit sy gedagtes.

      “My pa,” sê Phoebe, “sien in jou pa die toekomstige rektor.”

      “Rektor?” Hy lag. “My pa sal maar alte geëerd wees om jou pa op te volg as dekaan … as hy eendag aftree, bygesê.” Hy het verlangs gehoor, seker by Klaas, dat Van Duifhuis nie te gesond is nie.

      “Ek dink nie my pa sal aftree nie,” sê sy vreemd. Hy sien haar sterk profiel in die onseker lig wat van die straat se kant af by die oop garagedeur inskyn. Dus kyk sy nie reguit na hom nie. Waarom praat sy so huiwerend, ontwykend? Hy het dan juis verstaan dat haar pa wil probeer om vroeg af te tree.

      “Ons word almal oud,” verklaar hy in ’n toon van barmhartigheid. Phoebe is die jongste kind; haar pa is op pad na bejaardheid.

      “Hy sal seker maar in die tuig sterf,” sê sy.

      “Hoekom sê jy so?” Hy kan nie help om effens te skrik nie. Sy klink so morbied.

      “Ek wou jou dit lankal sê, Christopher, maar om die een of ander rede wou die tyd net nie ryp word nie. Dit was nog steeds of jy gesinsvertroulikheid ontwyk. Ek verbeel my dalk.”

      Jy verbeel jou nie, dink hy, en dis ’n gedagte wat aan smart grens. Dit omskryf eintlik sy ganse dilemma, van een ding reg te weet en dieselfde ding verkeerd te wil doen.

      “My pa het kanker, Christopher.”

      Nou skrik hy regtig. Onmiddellik, ook, kom die selfveragting. Dat hy, medikus-in-wording, so onoplettend kon wees. Die feit slaan hom harder as wat hy moontlik geag het. “Wat …” Hy sluk die res van sy woorde weg.

      “Jy sal beter weet, Christopher. Daar is skynbaar meer as een soort leukemie. Met een soort kan ’n mens jare loop, kan jy nie? Nou ja, dis al jare wat hy …”

      Hy sluk weer, weerhou hom van kommentaar. “Dat ek nou nie …” mompel hy. Feite skiet sy kop te binne, medies juiste feite uit indrukwekkende handboeke, maar nutteloos ten opsigte van sy persoonlike versuim. Maar hy het haar pa ook so lank laas gesien.

      “Dis nie jou skuld dat jy nie geweet het nie. Trouens, min mense het geweet. Dalk jou pa. Maar ek voel nou ek het onderskraging nodig, van iemand soos jy wat nie net die kennis het nie, maar ook die begrip.”

      “Het ek?” Daar is ’n rou randjie aan sy stem. Het hy werklik? Hy het nog nooit ontoereikender gevoel nie, in kennis sowel as in aanvoeling.

      “Dit is nou vir my asof hy haastig raak, Christopher. Oor alles aangaande die ouer kinders en veral my en Mamma, wil hy sekerheid hê. Jy kan maar enige laai van hom ooptrek, alles lê netjies en gesorteer, hetsy klere of papiere.”

      “Dis begryplik,” sê hy magteloos. Hy dink hoe moeg die man moet voel, hoe vatbaar vir infeksie hy moet wees, noudat die leukemiese selle die liggaamsweefsel begin infiltreer en die gesonde selle uitwoeker.

      “Ek het maar net gedink jy moet weet, Christopher.”

      “Ja. Dankie dat jy my gesê het. Ek is tog betrokke by julle.”

      Sy laat hom nie daarop uitbrei nie, asof die fyn uitgerekte draad deur oorspanning kan afknap.

      Hulle loop huis toe, hulle hande nog in mekaar. Die grootmense ontvang hulle bly. Nou verstaan Christopher beter, nou is hy spyt omdat hy Phoebe so dikwels saans uit die huis weggeneem het sonder om deur hulle jeugdige teenwoordigheid ’n smeerseltjie genade oor die bleek horison te smeer.

      Ruben van Duifhuis het soms al skaak gespeel met Christopher – en ’n uitstekende speler is hy, wat die jonger man so maklik die loef afgesteek het dat dié steeks geword het om te speel.

      “ ’n Potjie skaak, oom Ruben?” vra hy. Hy verstaan nou meer van die man se innige genot in sy meesterskap. Natuurlik moet dit kompensasie bied om iemand anders skaakmat te sit as jy weet dat daar iewers vorentoe ’n hoër troef op jou wag.

      Hulle kerkvastheid maak opeens vir Christopher ook waarlik sin. Hy verstaan meer van hulle rype aanvaarding, wat hy voorheen dikwels as ’n gebrek aan lewensdrif gesien het. Hulle is ietwat swaartillend, dis waar, maar hy besef nou dat dit nie dieselfde as vreugdeloosheid is nie.

      “Nie vanaand nie, Christo.” Dis Ruben se spesiale aanspreekvorm vir Christopher Ligthart. “Ons oumense gesels maar. Kry jy en Phoebe vir julle iets lekkers te ete of drinke.”

      Hulle gehoorsaam, en mettertyd sit elkeen met ’n melkdrankie. Die Van Duifhuise is geheelonthouers, maar hulle maak geen demonstrasie daarvan nie.

      “Ek dag julle gaan in die biblioteek werk,” sê-vra die ouer man.

      “Phoebe wou,” erken Christopher. “Maar ek is bevrees sy het nie veel ondersteuning van my kant ontvang nie.”

      “Aag, nou ja. Baie geleerdheid bring raserny. Staan dit nie so geskryf nie?” Hy swyg ’n rukkie, teug aan die drankie. “En die lewe saam is so kort, so kort.”

      Almal swyg.

      Langs Christopher sit Phoebe, en haar knie druk liggies teen syne. Hulle deel die riempiesbankie wat ’n koeëlmerk uit die Anglo-Boereoorlog dra.

      Die besoeker vind niks om te sê nie. Niks, in elk geval, wat beduidend en die