Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 5


Скачать книгу

tweede skok is soos die natrilling van ’n aardbewing: stiller, maar amper meer finaal. “Leef die kind dan?” vra Elna, hoewel haar stem net ’n skor fluistering is.

      “Ja. Was glo net oor die ses maande.”

      “O.” Dit bly nietemin ’n verre, vreemde gedagte. Sal lank daar moet bly, het Boet gesê. Dit gee grasie, maak die werklikheid ’n bietjie onwerkliker. “Wat is dit, ’n seuntjie of dogtertjie?”

      “Jissem, ek weet nou nie. Ek het nie vir Pa gevra nie.”

      “Ek sal kyk of ek huis toe kan kom, Boet. Sommer netnou. Wie is almal daar?”

      “Net ons. Pa en my vrou, Mien, en Malie en Sjert. En Berrie en Ria. En van die bure. Ek weet nie watse familie daar kan wees, en hoe om hulle op te spoor nie.”

      “Ek weet ook maar net van tannie Corlia … die Ligtharts.”

      “Ek wonder of Pa ooit aan hulle gedink het. Ek sê jou, die ouman is skoon van sy wysie af. Ma het mos maar alles gedoen en reggevat en so.”

      En so … ’n Goeie opsomming van Makkie se lewe.

      As Boet weg is, loop Elna na die kantoor van Neil Collins. Sy steur haar nie aan die blikke van die ander nie. Eintlik lyk sy seker verwese genoeg dat hulle kan raai iets is verkeerd. Maar sy het nou net een behoefte, en dit is om agter ’n geslote deur te kom.

      Sy druk dus die deur van Collins se kantoor styf agter haar toe. Hy kyk vreemd op, want sy doen dit so doelbewus. Dan sien hy die ontreddering op haar gesig en kom impulsief agter sy lessenaar uit, beweeg om na haar toe. “Wat is dit, Elna?” wil hy besorg weet.

      “Ek het nou net gehoor my moeder is onverwags oorlede, meneer Collins,” stort dit uit.

      Die opregte meegevoel wat onmiddellik in sy oë spring sonder dat hy ’n woord hoef te sê, oorweldig haar. Sy knak. Die skouers wat sy altyd so regop hou, maak ’n boggeltjie, en sy druk haar gesig in haar hande vas. Sy maak klein geluidjies, minder as snikke.

      Dis eerder soos die gejammer van ’n klein hond wat koud kry, dink Neil Collins, ’n Mag buite homself dryf hom om sy arm om haar weerlose skouers te plaas. Asof vanself kom haar kop teen sy nek tot ruste, en sy gee vrye teuels aan die trane.

      Sy huil asof sy nie net oor hierdie nuus huil nie, dink Neil half ontsteld. Dis ’n dieper droefheid wat sy hier staan en uithuil, ’n deurlopender leed, en hy weet nie wat om te doen om haar te help nie. Reëlmatig streel hy oor haar rug, hou haar liggies teen hom vas.

      Dis Elna wat eerste tot besinning kom. Met skrik en skaamte kom sy agter dat sy die vertroosting helend gevind het, dat sy dit graag sou laat voortduur. “Ek is jammer,” sê sy. Sy vroetel om ’n snesie, maar aanvaar ten slotte die wit sakdoek wat hy haar aanbied. “Sal dit vir my moontlik wees om huis toe te gaan, meneer Collins?”

      “Natuurlik, natuurlik. Hoe kan jy nog vra?” Enigiets, dink hy half koorsagtig, enigiets wat hy vir haar kan doen. “Vat soveel dae soos nodig, ek verwag dit van jou.”

      “Ek het die briewe klaar getik wat u wou laat uitgaan. U kan dit net teken.”

      “Vergeet nou van alles hier. Behalwe van my, want ek wil hê jy moet elke oomblik onthou dat ek opreg jammer voel oor jou verlies.”

      Sy knik. Die onverhoedse, intieme samesyn het hulle onkant gevang. Daar is ’n groot bevreemding tussen hulle, maar terselfdertyd ’n nuwe, huiwerende aanvoeling. Hulle staan teenoor mekaar as man en vrou. En dis veel, veel anders, en veel meer as net ’n baas en sy werknemer.

      “Sal ek jou wegbring, Elna? Dis darem iets prakties wat ek kan doen.”

      “U het ’n afspraak oor tien minute.”

      “Ek kan vir Loubser of Hector vra om jou te vat.”

      “Dis heeltemal onnodig. Ek bel net ’n huurmotor.”

      “Ek vra vir skakelbord om een te bel.”

      Terwyl hy dit doen, kry Elna haar handsak. Met ’n kort verduideliking aan die ander, gaan sy uit om by die uitgang te wag. Sy wil tog geen bohaai hê nie. Dis erg genoeg dat sy haar selfbeheersing so verloor het dat sy op Neil Collins se skouer huil.

      Maar probeer soos sy wil, kan sy dit nie as misplaas of wederregtelik sien nie. Op daardie oomblik was dit so logies en natuurlik, asof die holte teen sy nek net vir haar kop gemaak is, sy hande vir troos, sy wit sakdoek vir haar trane.

      Toe die huurmotor voor haar ouerhuis stilhou, registreer twee dinge by Elna. Die eerste is dat Christopher Ligthart se motor voor die hekkie staan. Die tweede is dat Malie se lomp seuntjie naby die hekkie speel. Wat ’n eienaardige manier van speel het hy, soos ’n blindemolletjie, kop-in-die-grond. Hy tuur na haar soos ’n wilde diertjie wat op die loer is. Sy dwing haar om sy koppie in die verbygaan vlugtig te streel.

      Die spatseltjies kleur wat die kappertjies maak, troos haar onnoemlik. Al het sy dan die huis verlaat, sy het tog voor haar ma se dood vir ’n paar blommetjies gesorg.

      Hoe goed lyk die huis, dink sy verder in eietroos. Haar harde arbeid daaraan was nie tevergeefs nie, en dit was ook nie net vir Sjert en Malie nie. Dit was vir die toeloop tydens haar ma se dood en begrafnis. Sy moes tog ’n voorgevoel gehad het.

      As sy by die voordeur wil ingaan, kom sy trompop te staan voor Christopher wat juis op pad uit is. Hy kyk na haar en sy na hom, asof hulle mekaar nie net gisteraand in die spoelende kleurwisseling van ’n neonlig gesien het nie.

      “Ek was juis op pad om jou te gaan haal,” sê Christopher, en sy hand vou sterk en warm om haar boarm.

      10

      Eers as Elna in haar ouers se slaapkamerdeur staan en die leë dubbelbed sien, glo sy waaragtig. Sy het tog maar vir Makkie onthou soos sy haar laas gesien het: daglank in die bed, op doktersbevel. Dit, die leë plek, oortuig haar meer van die finaliteit van haar ma se heengaan as wat Malie se luidrugtige geween kan doen.

      Malie lê behoorlik teen Sjert en huil hom amper onderstebo. Sjert moet sy staan ken. Die huilery, so vind Elna, het sedert haar aankoms vererger. Dis dus as ’n soort aanklag bedoel.

      Ook Boet se vroutjie, Mien, is daar. Met ’n slap, koue handjie ontmoet sy vir Elna, wat nie anders kan as ’n soort patos voel nie. Johnny het vertel sy was in ’n kinderhuis omdat haar ma dood is en haar pa nie alleen vir die kinders kon sorg nie. Dit lyk dan ook of sy benou word deur die droefheid en geween. Dalk was Makkie haar enigste kans op ’n soort moederfiguur. Dit blyk nogal dat sý die een is wat Makkie se foonboekie beetgehad en die Ligtharts gebel het.

      Ossie sit sigaret na sigaret en rook sonder om ’n woord te praat. Anders as gewoonlik is die stompies in die asbak nie tot teen die kurk gerook voor dit doodgedruk is nie, merk Elna. Daar is ’n snaakse, versteende huiltrek om sy mond. Berrie is nêrens te sien nie, en Ria 1ê op haar bed met ’n boek en ’n bord kleinkoekies, ’n ongekende weelde.

      Christopher het weer in die stoel langs Ossie neergesak, en sy blik volg Elna toe sy kamer toe gaan en terugkom. “My ma is in die kombuis,” sê hy, asof hy agterkom hoe vreemd sy in haar eie ouerhuis voel.

      In die kombuis is Corlia weliswaar aan ’t koffie maak, want ’n gedurige stroompie bure en bekendes beweeg deur die huis. Hulle bring iets te ete, wat Ria se bord kleinkoekies verklaar, en hulle praat in gemoffelde stemme, hou Ossie se hand lank vas en snuif aangedaan te midde van allerlei laventel- en tabakreuke.

      “Jy moet opstaan en sterk wees ter wille van die kind van julle liefde,” sê een tannie huilend aan Ossie. Elna herken haar as die buurvrou wat so ’n rusie met Makkie gehad het oor ’n geleende eierklitser.

      Haar woorde herinner nietemin vir Elna skerp aan die baba wat die lewe behou het. “Het tannie Corlia gehoor dat die baba lewe?” vra sy in die kombuis, waar Corlia haar vas en warm gedruk het om te simpatiseer.

      Corlia word bleek. “Nee,” fluister sy geskok.

      “Op ses maande. In die broeikas.”

      “Dis