ry hy deur die oggendstraat. Die dag het ’n vlekkelose geboorte gehad, soos trouens elke dag. Die dag self kan dit sekerlik nie verhelp dat mense hom met vuil vingers betas en hulle vingerafdrukke laat nie.
Hy blaas vermoeid sy asem uit.
Dis nie ’n geval dat sy huwelikskrisis vir Neil Collins onaangeraak laat nie. Dis nie dat hy ongevoelig jeens Rosanna is nie. Soms roer daar nog vergete gevoelens in hom, soms klop die liefde nog aan die deur van sy hart. Agterdeur, bygesê. Dis net dat hy deur die jare die weg van die minste weerstand gekies het.
Eintlik ly hy diep en eg onder die vervreemding. Hy is nie in wese ’n buffel nie. En hy is nie blind vir die feit dat Rosanna op haar eie manier ly nie. Om skynbaar oppervlakkig te ly, is nie noodwendig minder intens nie. ’n Mens presteer, juig of ly volgens die mate van diepte waaroor jy beskik. En solank jou emosies bodem raak, het dit bestaansreg.
Neil se motor ryg in tussen honderde ander, sodat hy net nog ’n weerlose liggaam binne ’n metaalskulp word. Hy laat hom nie sterk genoeg geld nie. Probeer altyd die ander kantoormense ontwyk. Hy sou eintlik blasé tussen hulle kon deurwandel en hulle beleefdheidsbetuiginge ontvang. Maar sy persoonlike probleme knou hom, keer hom weg van volle kontak. Met die verstand kon hy vorder tot hier, maar hy sal nooit met arendsvlerke kan uitstyg tensy hy volkome balans op persoonlike vlak vind nie.
So dink Neil, terwyl hy ’n rukkie voor die ander by die kantoor arriveer. Dit is sy gewoonte, soos hy ook smiddae heel laaste vertrek. Dikwels werk hy tot laat saans. Hy is nie een wat in ’n kroeg of klub gaan lê nie. Hy is nie een van die boys nie. Sy werk is sy stokperdjie, aangesien hy dit nie van sy huwelik kan sê nie. En geen kind hol hom met uitgestrekte armpies tegemoet nie.
Met ’n aangename skok bevind hy hom op hierdie môre saam met Elna Osman in die hyser. Sy is net so vroeg soos hy. Durf hy hoop dat sy doelbewus haar aankoms met syne probeer laat saamval?
“Jy ook ’n slegte nag gehad?” wil hy weet.
Dit lyk of die skoot in die donker volkome raak was, want ’n verleë trekkie pluk aan haar mond. Daar is ’n paar ander, vreemde mense saam met hulle, want hierdie stel hysers bedien ’n groot gebouekompleks. Dus kan hy nie veel meer kwytraak nie. Maar hy sorg dat hy naby haar staan, en hy soek die ontwykende geur van haar parfuum. Dit wat hy gister in die restaurant met haar probeer bespreek het. Sy het dit summier stopgesit. En skynbaar die parfuum ook, want hy gewaar die geur vanoggend glad nie. Dus het hy haar afgeskrik. Sy verkwalik hom dat hy so eie was, sy wys hom tereg.
Haar ronde, fluwelige oë lyk suf. Daar is selfs skaduwees onder, as hy hom nie misgis nie. Hy wil nie te opsigtelik na haar kyk nie. Sy het ’n tweestuk aan, en haar hare is in haar nek vasgebind, anders as ander dae. Is dit argeloosheid? Het daar iets met haar gebeur? Of wil sy bloot saaklik lyk, om te keer dat hy weer persoonlik raak? Hy wil graag so dink. Ja, hy wil graag glo dat hy haar geraak het, en dat sy dit wil weerlê.
Hy wens dat sy iets wil sê, enigiets, wat sy gevoel sal eggo. Iets soos: “Dis ’n storie of ek gisternag aan die slaap kon raak” of “Ek weet nie wat voel ek vanmôre so kaduks nie”. Eintlik weet hy bitter min van haar af. Eintlik weet almal min van haar af. Hy het haar al daarvan verdink dat sy haar lyf robot hou. Dan, soms, straal daar ’n onverwagte menslikheid van haar uit, wat jou agterlaat met die besef dat julle kontak gemaak het, kortstondig miskien, maar onmiskenbaar.
“Dit lyk my ons is die enigste twee vroegopstaners op kantoor,” sê hy sag.
“Die oggendstond het mos glo goud in die mond, meneer.”
Net die enkele sin met afgesaagde bewoording, maar sy het dit vir hóm gesê. Hy probeer dink watter verborge betekenis dalk daarin verhul kan wees. ’n Vrou met ooglede wat van maskara druip, kyk met skerper aandag na hulle. Neil weet wat sy dink: een van daardie gevalle … ’n kantoorvryery, vroeg in die môre voor die ander kom.
Tog nie dit nie, dink Neil Collins in die noute. ’n Wellustige werkgewer wat sy jonger vroulike werknemers in ’n posisie plaas, letterlik en figuurlik. Hoewel hulle seker nie meer as tien, twaalf jaar verskil nie, is Elna se jeug so fris en ongerep dat dit hom afgetakel laat voel. Rosanna het die beste van my gekry, dink hy spytig. En wat het sy daarmee gedoen?
Sy het sy jeug, sy ideale, gepluk soos ’n ryp vrug. Sy het mondevol daarvan afgehap, gekou, uitgespoeg. Van preservering was daar nie sprake nie.
Hulle is halfpad deur die oggend toe Elna ontvangstoonbank toe geroep word, waar daar glo iemand is om haar te sien.
Elna probeer haar beheer toe sy gewaar wie op haar wag. Een wilde oomblik het sy aan Christopher gedink. Hy, die diep, polsende ene, wat gisteraand in hartstogtelikste taal haar voete onder haar uitgeslaan het.
Maar dis Boet Osman, haar broer, wat skeef teen die toonbank leun.
Tot haar verligting lyk hy nogal netjies, sonder baadjie en met ’n das by ’n wit hemp. Die das se breedte is verkeerd en die hemp se wit is verdof, maar nogtans. Hy is mos glo getroud, onthou sy bevreemd. Dalk is die vrou beter as wat ’n mens dink, dalk hef sy vir Boet ’n bietjie op.
“Môre, Boet.” Sy het om die toonbank gekom sodat hulle effens weg kan beweeg, en lei hom om by een van die lae, ronde ontvangstafeltjies plaas te neem. As hy geld wil leen, sal sy tog maar kyk wat sy kan doen, en so vinnig en onopgemerk moontlik. “Hoe gaan dit? Jy is mos glo getroud. Geluk.”
“Dankie. Ja-nee, my nek is ook nou in die strop.”
Sy wag op verwyte oor haar huisverlatery, maar daar kom niks. Boet lyk in ’n sekere sin oorbluf. Sy kan dit nie mooi plaas nie.
“Ek het al probeer bel, maar daar was fout met die foon. Hoe gaan dit by die huis?” vra sy pligshalwe.
“Nee wat, sleg, Elna jong. Ma is mos vanmôre drie-uur heen.” Hy vroetel ’n sakdoek uit sy broeksak te voorskyn en druk dit teen sy oë, waar trane soos dorings sit.
Die skrik skeur deur haar. Ma? Die vrou met die … met die jas wat sy op die uitverkoping, sewe jaar terug, en die hare wat … Maaa?
“Boet, waarvan praat jy?”
“Het jy dan nie geweet Ma is hospitaal toe nie?”
“Hoe moes ek geweet het as niemand my gesê het nie?”
“Hoe moes ons jou gesê het as jy niks meer met ons uit te waai wil hê nie?”
“Jy weet dis nie so nie, dis … maar wat sê jy van Ma?”
“Ma is dood, Elna. Moet ek dit vir jou uitspelle? Ek het haar nou net in die lykshuis gaan uitken.”
“Maar wat het gebeur?” Sy voel hoe ’n lamheid in haar ledemate kom lê, en in haar ingewande is daar ’n naar, onvaste fladdering soos van ’n swerm duiwe wat verskrik uiteengespat het.
“Ag, die kleintjie wou mos van die begin af kom en kom, en toe kom dit nou. Toe was daar bloeding, of iets. Ek weet nie. Pa het maar met die dokter gepraat, ek het hom nie gevra nie. Sy moes ook so lank daar by die hospitaal wag voor sy geholpe is.”
Dit kan nie wees nie, dink Elna. Sy sit daar, by skrik verby. ’n Groot wesenloosheid vervul haar. Kan dit wees dat daar nie eers ’n afskeidsgroet was nie? Dit was tog haar moeder. Verwyt groei vinnig aan, verstrengelend soos bobbejaantou in ’n donker, broeiende woud. Sy kon immers gaan kyk het hoe dit met haar ma gaan. Maar sy was so afkerig van Sjert en Malie se intrekkery daar dat sy nie naby wou kom nie. As sy geweet het, het sy ingegryp en haar ma na ’n private hospitaal geneem, wat die koste ook al was, sy sou ’n persoonlike lening maak en dit afbetaal.
Teenoor haar sit Boet, en sy normale stuitigheid is vanmôre lamgelê deur ’n oorbluftheid buite woorde, ’n ruwe mansverdriet. “Jy sal maar moet haak met die begrafnis, Elna. En al die ander onkoste. Die begrafnisboekie is wel opbetaal, maar daar’s hier ’n ekstra en daar ’n ekstra.”
“Ja, natuurlik tog,” sê Elna. Sy probeer uitreken hoeveel maande ver haar ma se swangerskap was, maar haar gedagtes stok. Dit is asof daar nou net ’n groot holte is waar haar brein moes wees.
Dan,