ontgaan Celèste ook nie en die situasie raak vir haar al hoe interessanter. Noudat De Bordeaux nie meer op La Montagne is nie, begin daar eindelik dinge gebeur.
Hierdie keer gaan luister sy doelbewus by die biblioteekdeur af. Sy besef maar alte goed dat sy nie ’n minuut langer hier sal mag bly as sy betrap word nie, maar elke bietjie inligting wat sy kán versamel, mag dalk help. Dit kan vir monsieur De Bordeaux van baie groot belang wees.
Die gesprek stel haar effens teleur. Die mans praat oor die wynbedryf en oor die vooruitsig van ’n goeie oes die volgende jaar. Sy het net begin dink dat dit ’n gewone sosiale besoek is, toe Louis de la Roque sê: “U het nie gekom om oor die weer en die oes te praat nie, monsieur Tredoux.”
Celèste druk haar oor teen die sleutelgat.
“Non,” antwoord Tredoux na ’n kort aarseling. “Ek wil praat oor iets wat aan my behoort en wat nog hier is.”
De la Roque lag saggies. “ ’n Leersak?” wil hy weet. “En wat beplan u om daarmee te doen?”
“Daar is beswarende inligting daarin oor my, monsieur. Ek wil dit tot elke prys vernietig.”
“ ’n Baie goeie plan! Niks sal my groter vreugde verskaf as om dit vernietig te sien nie. Die probleem is net dat niemand iets van die sak af weet nie. Dit het eenvoudig spoorloos verdwyn.”
“Dis nie waar nie,” sê Madeleine skielik.” Ek weet dat dit hier in die huis moet wees. Het julle al die bediendes ondervra?”
“Hulle weet ook niks,” antwoord Emile. “Ek het al in hulle kamers gesoek, maar daar is werklik niks.”
“Daardie twee vrouens is geslepe, monsieur,” sê Madeleine en Celèste haat haar daarvoor. “U moet hulle nie onderskat nie. Soek gerus op die mees onwaarskynlikste plekke. U behoort dit te kry. Miskien sal ’n bietjie oorreding nodig wees … as u weet wat ek bedoel.” Sy lag sag en ’n koue rilling gaan langs Celèste se ruggraat af.
“Dit sal ’n groot plesier wees om die sak vir u te kry, mademoiselle,” antwoord Emile vrolik. “Dit sal nie moeilik gaan om hulle te … e …oorreed nie.”
Celèste draai vinnig om en drafstap na die kombuis. Sy het heeltemal genoeg gehoor. Dis net hier waar hulle hulle met haar vindingrykheid gaan misgis.
“Ek wil ’n skerp mes, ’n dik naald en gare hê, Jeanne,” sê sy dringend.
“En wat wil jy dáármee maak?”
“Ek kan nie nou verduidelik nie.”
Jeanne oorhandig die artikels aan Celèste en kyk haar kopskuddend agterna toe sy wegdraf na haar slaapkamer. Sy het nie die vaagste benul wat Celèste in die mou voer nie.
In haar kamer maak Celèste seker dat niemand agter haar in die gang afkom nie. Dan haal sy die leersak uit sy wegsteekplek en gaan op die bed sit. Met die mes begin sy die onderkant van die sak lossny sodat sy die inhoud kan uithaal.
Sonder om na die dokumente te kyk, prop sy hulle onder haar kopkussing in en begin met bewerige hande die opening weer netjies toewerk. Sy vee die dik gare ’n paar maal deur die stof op die vloer om dit ook oud te laat lyk soos die res van die gare waarmee die sak toegewerk is.
Stekie vir stekie maak sy die opening toe terwyl sy deurentyd haar ore gespits hou vir enige beweging in die gang. Sy skrik toe sy die Tredouxs se koets voor die voordeur hoor stilhou. Sy hoor hulle stemme op die voorstoep en hoe hulle en die twee De la Roques mekaar groet. Dan vertrek die koets weer.
Celèste heg die gare stewig af. Haar hande bewe so dat sy haar ’n paar maal met die naald raaksteek, maar sy voel dit nie eens nie. Dan gaan bêre sy die sak weer onder die los plank en prop die dokumente voor by haar hals in. Sy kan net nie nou aan enige ander wegsteekplek dink nie.
Sy is skaars daarmee klaar of die deur gaan oop en Emile en sy pa stap die kamer binne.
Sy kyk asvaal van die skrik na hulle en sluk hard. Wat beplan hulle? wonder sy paniekerig toe hulle stadig nader kom. Daar is ’n lelike grynslag op Jacques de la Roque se gesig. Hy kom voor haar staan.
“Jy wil nie seerkry nie, wil jy?” vra hy in ’n fluweelsagte stem.
Sy retireer ’n tree. “Non …”
Sy oë blink soos krale.
Iewers in die huis hoor Celèste vir Jeanne gil van pyn en dan besef sy dat hierdie twee geen goeie bedoelings met haar het nie.
7
Celèste kyk verskrik van Emile na sy pa en wonder wie nog in die huis is van wie sy nie weet nie. Wie is daar by die stomme Jeanne en wat doen hy met haar?
“Wat … wat wil julle van my hê?” vra sy hees.
“Die leersak, liefie,” antwoord Emile met ’n grynslag. “Jy weet tog dis wat ons soek. Waar het jy dit versteek?”
Sy sluk hard. “Ek … ek weet nie waarvan julle praat nie.”
Emile en sy pa kyk na mekaar en dan knik die ouer man skaars merkbaar.
Emile se plathand brand teen haar wang en sy steier terug van die geweld daarvan.
“Jou skurk!” sis sy terwyl trane haar oë vul. “Wie gee jou die reg om my te klap!”
Emile lag onbekommerd. “Die leersak is vir my baie belangriker as jou gevoelens. Waar het jy dit versteek?”
“Ek het jou mos gesê dat ek dit nie het nie!” skreeu sy.
Emile gee haar nog ’n paar taai klappe om haar tot ander insigte te bring, maar Celèste byt net op haar tande. Madeleine Tredoux het haar en Armand de Bordeaux verraai, dink sy grimmig. Niemand behalwe monsieur Etienne le Blanc sal daardie sak kry nie. Sy sal dit met haar lewe verdedig, al is dit net om Madeleine se duiwelsplanne in die wiele te ry. Net vanaand nog gaan sy ’n beter wegsteekplek vir die dokumente kry.
“Monsieur Emile het reeds my kamer deursoek,” sê sy bewend. “Hy weet dat ek niks hier by my het nie! Hoekom gaan soek julle nie op ’n ander plek nie! Ek weet niks van die sak af nie!”
Louis de la Roque kyk met ’n diep, ontevrede frons na die meisie.
“Jy is taai, mademoiselle, maar nie taai genoeg nie. Ons sal die sak gaan soek en as ons dit nie kry nie, kom ons terug. Dan sal Emile nie weer so genadig met jou wees nie.”
Celèste raak liggies met haar hand aan haar wang. Dis opgehewe en gevoelig, maar sy vertrek nie ’n spiertjie nie.
“Die sak is nie in die huis nie … ek weet nie hoekom julle dink dat dit nog hier is nie. Monsieur De Bordeaux sou dit nooit net hier laat rondlê het nie. Dit is tog te belangrik.”
“Hoe weet jy die sak is nie meer in die huis nie?” wil Louis de la Roque weet terwyl hy Celèste skerp betrag.
“Ek raai maar net, monsieur … Ek is net ’n bediende in die huis. Monsieur le comte het my nooit in sy vertroue geneem nie.”
Celèste probeer om sy agterdog weg te praat, maar sy weet dat sy nie daarin slaag nie. Madeleine het reeds die saadjie gesaai en die twee De la Roques sal nie ophou voordat hulle die sak het nie.
“Ek kan met ’n stok aanvoel dat jy lieg,” sê Louis de la Roque. Hy beduie aan Emile dat hulle haar eers alleen moet los.
By die deur draai hy weer na haar en sê: “Dink maar ’n bietjie na oor jou leuens, mademoiselle. Nog meer van hulle sal jou suur bekom. Ek is nie ’n man met baie geduld nie.” Hy maak die deur agter hom toe en Celèste hoor die sleutel aan die buitekant in die slot draai.
Sy gaan op die rand van die bed sit. Sy het nie die vaagste benul wat sy nou moet doen nie. Al is die sak leeg, moet sy nogtans sorg dat dit by monsieur Le Blanc uitkom. Sy besef ook dat sy die sak beswaarlik langer sal kan bewaar.
Daar is skielik ’n geluid buite die deur en Celèste kyk vinnig op. Is hulle dan só gou terug?
“Celèste!”